foto’s Cyril Klopper
Roetes wat roep

Sowat 50 km noordoos van Vryheid in KwaZulu-Natal lê die Bivanedam van 700 ha in ’n smal kloof. Dié besproeiingsdam is kort ná die aanbreek van die millennium voltooi en behoort aan die Impala-waterverbruikersvereniging.

Rondom die dam loop vyf hoofroetes deur die gelyknamige natuurreservaat wat jy met ’n sagte veldryvoertuig of ’n gewone tweewielaangedrewe bakkie kan baasraak.

Roete nr. 1 neem jou van die hoofhek na Bivanedam se hoofkamp. Nr. 2 tot 5 vurk uit die hoofroete en neem jou na verskeie 4x4-, quad- en staproetes. Om te keer dat veldryvoertuie per ongeluk op ’n quadroete beland, word die 4x4-roetes deur F-padtekens aangewys. Roete F1 tot F2 lê in die suide van die Bivanedam- natuurreservaat terwyl F3 tot F6 wes geleë is.

Al die F-roetes vereis viertrek met laestrekratte – hier gaan jy nié regkom met ’n sagte veldryer of 4x2 nie.

GRASKOP. Die Naauwkloofroete is nie uitermate uitdagend nie, en dit bied pragtige uitsigte van die grasbedekte heuwels af. Die Manzaanrivierkruising kan rateltaai raak as dit onlangs gereën het.

Oefenlopie eerste

Takel eerste die makker Naauwkloof-roete (F2). Neem roete nr. 6 vir sowat 500 m van die hoofroete af totdat jy ’n F2-padteken aantref. Draai hier links en volg ’n pragtige tweespoorpaadjie deur ’n beboste kloof.

Ongeveer 700 m verder is ’n kruising in die pad. Draai links en volg nóg ’n kloof teen ’n heuwel uit. Dis ’n matige klim van 800 m bo seespieël tot 960 m bo seespieël oor ’n totale afstand van 2,3 km. Daar is geen uitermate taai hindernisse nie, maar jy gaan hier en daar moet oorskakel na 4x4-hoëstrekratte en dalk ’n ewenaarslot inhaak as die klippe los getrap is deur vorige besoekers se voertuie.

Ná 2,3 km bereik jy die eindpunt bo-op ’n rantjie met ’n pragtige uitsig oor die oostelike deel van die reservaat. Hier steek bergaalwyne met rooi blomme uit plate heuphoogte tamboekiegras.

Nadat jy na hartelus foto’s geneem het, moet jy weer af, terug tot by die kruising waar jy vroeër links gedraai het. As jy hier reguitaan hou, ry jy teen ’n grasbedekte heuwel uit.

Bo-op die heuwel moet jy omdraai en terugkeer na die kruising. Daar is dus geen rede om teen die heuwel uit te ry nie, behalwe dat jy beloon word met nóg pragtige uitsigte oor die reservaat. Die roete duur sowat ’n uur as jy nie talm nie en bied ’n voorsmaak van wat verderaan vir jou voorlê.

En dan, hardebaard...

Nadat jy van die heuwel by die kruising af teruggekeer het, kan jy links óf regs draai, want albei paaie loop terug na roete nr. 6.

Nou moet jy jou oë gespits hou vir die F3-bordjie. Sowat 100 m nadat jy die F3- roete begin ry het, gaan jy die Manzaanrivier oorsteek. As die watervlak laag is, kan jy ’n duidelike lyn oor die spoelklippe volg, maar as die water sterk loop, moet jy maar voel-voel deurry en hoop jy bots nie teen ’n rots of beland in ’n diep gat nie.

Anderkant die Manzaanrivier is ’n piekniekplek met ’n puttoilet. Hier is ook ’n oop hut waar jy op jou eie matras kan oornag. As jy snags tjoepstil in jou slaapsak lê, word jy dalk besoek deur ’n tierboskat.

Bikini Beach, die strand naby die piekniekplek, het ’n lekker swemgat waar jy in die Manzaanrivier kan afkoel. Kort ná die Bikini Beach-piekniekplek word jy begroet deur ’n hindernis met die naam Skurweberg.

Hier verlaat jy die rivier se vloedvlakte en klim teen die rantjie se hange uit. Dit is ’n matige hindernis, maar wees versigtig dat die bosse nie jou trokkie se bakverf krap nie.

Dié besproeiingsdam is kort ná die aanbreek van die millennium voltooi en behoort aan die Impalawaterverbruikersvereniging.

Ná die Skurweberg-hindernis sal jy ’n F4-padteken teëkom. Dit lei na die Kiaat-boskamp in die Manzaanskeurvallei waar dié rivier in die Bivanedam inloop. Dié boskamp het ’n braaiplek, toilet en warm water vir ’n stort. En daar is genoeg kampplek vir ’n groot groep vriende.

As jy egter met die roete aanstryk, sal jy kort voor lank die laaste noemenswaardige 4x4-hindernis aantref: die Helpmekaar-heuwel. Dit is ’n kronkelende bergpassie met los klippe en vlymskerp draaie. Laestrek is onontbeerlik, en as dit nie vir die skerp draaie was nie, sou ’n ewenaarslot ook gehelp het.

Van hier af is dit afdraande tot op ’n grasvlakte. Kyk rond vir rooi- en vaalribbokke en selfs Europese takbokke. Jy gewaar dalk ook ’n breëkoparend wat hoog bo die vallei sweef.

Die F6-roete, ook bekend as die Klipbank-4x4-roete, eindig letterlik binne-in die dam. Jy moet omdraai sodra jou wiele nat word, en terugkeer net soos jy gekom het.

As jy die Bivanedam-natuurreservaat in die week of buite seisoen besoek, kan jy vra of jy die Beestekraal-quadroete (Q5) mag ry. ’n Veldryvoertuig pas net-net in die smal paadjie en as jy afrat na hoëstrek-4x4 en mits jou ryding nie te lank is nie, behoort jy die knap draaitjies te kan volg.

Dis beslis die moeite werd om Q5 te ry, want dit loop deur een van die mooiste dele van die reservaat. Die ander Q-roetes is nie geskik vir 4x4-voertuie nie en word beskryf as “hoogs tegnies”.

Bly ’n bietjie langer

Daar is oorgenoeg slaapplek in die Bivanedam-naturreservaat. Buiten die boskampe het die hoofkamp 15 staanplekke wat elk 7 mense kan huisves.

Pryse wissel van R160 per staanplek (vir 4 mense) buite seisoen (R30 per ekstra besoeker) tot onderskeidelik R420 en R100 oor vakansietye. Voorskoolse kinders kamp gratis.

In vakansies hengel besoekers uit bote en trek varswatermakriel, baars, kurper, baber en Vaal-Oranjerivier-kleinbekgeelvis uit.

As jy verkies om eerder in ’n huisie te bly is daar vier tweebedchalets met eetgerei, ’n yskas, tweeplaatstofie, mikrogolfoond en ander toerusting. Elke huisie het sy eie braaiplek en ’n uitsig op die dam.

Pryse wissel van R330 buite seisoen tot R780 in vakansietyd. Daar is ook groter wooneenhede hoër op teen die hange van ’n heuwel met ’n onverbeterlike uitsig oor die Bivanedam. Dié eenhede huisves 5 of 6 mense en jy betaal R560-R1 480 na gelang van die seisoen.

KLOUTERWERK. Die Klipbank-4x4- roete gaan jou veldrykennis op die proef stel, maar gaan nie jou voertuig breek as jy sukkel nie.
Wat jy moet weet

4x4, laestrek, ewenaarslot? Jy het beslis viertrek nodig, en sommige hindernisse vereis ook laestrek. Maar jy behoort sonder ’n ewenaarslot reg te kom.

Maksimum getal voertuie Onbeperk.

Kry ek ’n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Nee.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Nee wat, tensy jy ’n band beskadig.

Kan ons langs die pad braai? Nee, slegs by die piekniekplekke of in die kamp.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Swak sein.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? Oktober tot Maart, want dan is die veld is op sy mooiste en die dam vol ná die somerreën.

Kan ek my gesin saamneem? Absoluut!

Net vir die dag of die naweek? Dit is beslis ’n naweekbesoek werd.

Is daar ablusiegeriewe? In die kampterrein en by die piekniekplek.

Aanwysings Van Vryheid af ry jy 36 km ooswaarts op die R69-Louwsburgpad. Die hek na Bivane is aan jou linkerkant. Daarna is dit nog 18 km tot by die oord, maar onthou, die spoedgrens is 50 km/h.

GPS S27.66121 E31.09247 (hek) S27.52003 E31.05238 (kantoor)

Wat kos dit? Dagbesoekers betaal R120 per voertuig, maar gaste wat oornag, ry gratis.

Kontak 083 283 8291 (Corlia Muller of Antoinette Potgieter); bivanedam.co.za; admin@bivanedam.co.za