Foto’s: Evan Naude
4x4-BESTEMMING
4x4-BESTEMMING

Die Knysnawoud, Baviaanskloof en Addo-gebied kan elkeen maklik ’n vakansiebestemming op sy eie wees. Dié streke is ongelooflik ryk aan geskiedenis én plant- en dierelewe, maar daar is ook ’n paar skouspelagtige grondpaaie wat hulle met mekaar verbind, en tussenin is daar boonop ’n paar weggesteekte skatte waarvan min mense weet.

Ons het vir ’n week saam met Bhejane 4x4 Adventures hierdie hoek van die land gaan verken. 

Deur die ou-ou woude

Die toerspan ontmoet mekaar op ’n effens winderige namiddag by ’n strandhuis in Buffelsbaai. Ons toerleier is Douwe Vlok van Beaufort-Wes se wêreld, daar in die Groot-Karoo.

Sy regterhand, Vermaak Senosi van Zeerust, het as sjef ’n ewe belangrike rol vir ’n suksesvolle toer. Die res van die groep bestaan uit Elsa en Abré Roux van Caledon, Izak en Christine Loftus van Somerset-Wes, en Ilsa Cheiman, ’n gesoute enkelreisiger van Johannesburg. En heel agter ry ’n joernalis van Kaapstad.

Ons bring twee aande op Buffelsbaai deur en is die volgende oggend vroeg uit die vere, want ’n vol dag se verkenning van die Knysnawoud lê voor.

’n Mens kan maklik maande op dié digbewoude gebied se bospaaie deurbring, maar vandag vat Douwe ons na ’n deel wat min mense ooit sien. Bhejane het ’n spesiale konsessie vir Petrus se Brand – ’n grondpad wat van die N2 af noordwaarts deur digte ongerepte woude kronkel tot by die Prins Alfredpas net duskant Diepwalle.

Onmiddellik omvou die plantegroei ons in ’n digte groen ruigte. Douwe hou kort-kort stil om ’n interessantheid te wys of ’n storie te deel, want die geskiedenis van hierdie gebied is ewe ryk.

“Kyk net hoe skuins is die valleie hier,” sê hy in ’n stadium. “Dink net hoe moeilik dit vir die destydse houtkappers was om bome met osse hier uit te sleep.”

Deur die loop van die oggend ry ons ook verby “eilande” in die woud: ooptes aan die bokant van die berge waar die plantegroei minder dig is en die landskap ’n bietjie son kry. Hierdie gebiede was die gekose blyplekke vir die houtkappers van ouds wat uiteraard in die woud min vitamien D gekry het.

Douwe wys ook die afdraai na Fisantehoek, waar daar ’n oornaghut is vir die Outeniqua-staproete.

Daarna ry ons verby die plek waar die MacFarlane-familie in 1999 in ’n helikopter neergestort het. As ’n bewys van presies hoe dig en onverken sekere dele van die Knysnawoud steeds is, is die helikopter en die MacFarlane-familie se oorskot eers in 2006 – sewe jaar ná die tragedie – opgespoor.

Waar’s die olifante?

Middagete is varsgebakte vetkoek met maalvleis en tuisgemaakte gemmerbier by die Diepwalle-teetuin. Langsaan is ’n klein kwekery waar jy saailinge van inheemse bome kan koop sodat jy ’n stukkie van die Knysnawoud in jou eie tuin kan gaan plant.

Hier is nog ’n hut van die Outeniqua-staproete en ’n museum, die Forest Legends, waar ’n hele olifantgeraamte die indrukwekkende hoofuitstalling is.

Ons raak aan die gesels oor Knysna-olifante. Net vanoggend was daar nuusberigte wat sê Sanparke glo daar is net een olifantkoei in die woud oor.

“In sy olifantboek, The Secret Elephants, reken Gareth Patterson daar is vyf koeie,” vertel Elsa. Douwe het ook al heelwat ander stories van inwoners in die omgewing gehoor. “Die boswerkers sal my vertel ’n olifant het hulle gister gejaag, maar dan terselfdertyd sal parkeraad sê die olifant was ook iewers anders. Wie weet?” sê Douwe.

Nietemin hou ons ons oë en ore oop, want miskien kan ons sommer vandag die raaisel eens en vir altyd oplos.

Ná ete stop ons by die 600 jaar oue Koning Eduard VII-Grootboom waar Britse parlementslede een slag in 1924 gebraai het.

Ons maak ook ’n draai by die San Ambroso-kapel, die aanbiddingsplek van 32 Italianers wat in die laat 19de eeu na Knysna gebring is om ’n sywurmprojek op been te bring.

Uiteindelik beloon Kom se Pad ons vir oulaas met ongelooflike uitsigte soos ons verby die Simola-gholflandgoed na die N2 terug Buffelsbaai toe mik.

SAMESYN. Douwe Vlok, die toerleier, verduidelik wat alles oor die volgende paar dae gaan gebeur. Die Knysnabos deel nie maklik sy skatte nie. Jy moet uit jou motor klim en tussen die inheemse bome en varings gaan soek. Die kans dat jy ’n olifant gaan raakloop, is feitlik nul, maar jy kan wel seker wees die vetkoek by die Diepwalle-bosboustasie gaan vorentoe smaak.

Die meester van bergpasse

Die volgende oggend ry ons met die N2 deur Knysna, draai af op die R339 by Khaylethu en mik noord vir Uniondale oor die Prins Alfredpas.

Dié byna 70 km lange bergpas word deur baie as een van Thomas Bain se meesterstukke beskou, en dis duidelik hoekom. Die grondpad klim skerp met ’n magdom haarnaalddraaie – sommige om blinde hoeke waar die kliprante hoog bo die bakkie uittroon.

En soms is dit net ’n enkelbaan met ’n hengse steil afgrond sommer hier net buite jou venster. Die uitsigte is egter skouspelagtig en ’n mens wonder of dit darem werkers se gemoed ’n bietjie kon lig soos joune wanneer jy hier ry.

Ons hou stil by die uitkykpunt by Spitskop (kry vooraf ’n toegangspermit by die Diepwalle-bosboustasie) en koop drinkgoed by die Plaaskind-padstal oorkant Angie’s G-Spot, voor ons uiteindelik oor die kruin van die pas (1 040 m) ry.

Ons hou weer stil vir ’n paar kiekies…net om die familie by die huis jaloers te maak.

Op Uniondale kry ons die laaste stukkie skaduwee vir ’n goeie klompie kilometers; dus trek ons af vir middagete. Die landskap het al klaar dramaties verander soos ons van die kus af deur digte woude en fynbosbedekte bergpasse gery het, maar die metamorfose is nog nie verby nie, want ons is nou in die Klein-Karoo en die unieke landskap van die Baviaanskloof is volgende aan die beurt.

Die Baviaanskloof se plaasdistrik het loodregte sinkplaatpaaie, maar die reservaatgebied is vol skerp draaie en diep afgronde.

Deur die frommelberge

Sowat 12 km noord van Uniondale draai ons ooswaarts op ’n grondpad wat 50 km later by die R332 aansluit – die pad wat dwarsdeur die Baviaanskloof tot duskant die vrugtedorp Patensie loop.

Aan die bopunt van die Nuwekloofpas is ’n inligtingsbord wat jou in die Baviaanskloof verwelkom en die dalende pas is self ’n prentjiemooi verwelkoming.

Aan die onderkant, op ’n skerp draai, staan ’n hoë klipwand genaamd Raaskrans. Wanneer jy hier kliphard skree of fluit, antwoord die klipkranse jou in ’n weergalmende eggo.

Ons bestemming vir die aand is die plaas Kamerkloof, sowat 40 km verder. Die Baviaanskloof sorg dadelik vir ’n stilte in jou gemoed en ons konvooi vorder rustig in die pad af.

Buitendien is hier baie te sien.

Die geologie is besonders en die berge vol voue en plooie, so al asof ’n hemelwese sy voete hier afgevee en die landskap verfrommel het.

By Kamerkloof staan die Landhuis, wat iewers voor 1850 gebou is, op die rand van ’n olyfboord met ’n breë stoep wat bergwaarts kyk. Skielik voel dit of ons bitterlik ver van die beskawing af is, en dis heerlik.

Teen sononder verkleur die lug in ’n kaleidoskoop van oranje, rooi, pienk en goud. Honderde, miskien duisende, swaeltjies flits heen en weer oor ons koppe soos hulle onsigbare insekte uit die lug pluk vir aandete.

En dan, wanneer die son verdwyn, skitter die Melkweg soos ’n juweel-reënboog in ’n maanlose hemelruim.

Lafenis in die klowe

Die Baviaanskloof is vol weggesteekte skatte wat jou weke lank besig kan hou. Byna elke plaas het een of meer ravyn – hier praat die mense van klowe – wat op plekke só smal is dat jy weerskante kan aanraak as jy met jou arms uitgestrek deurstap.

Kamerkloof het twee sulke kloofstaproetes: Damsekloof en Voetpadsekloof. Maar die bekendste een van almal is die Waterkloof op die plaas Bo-Kloof. Ons gaan maak die volgende oggend ’n draai.

Die staproete in die kloof op is net sowat 3 km lank en neem 90 minute om te voltooi, maar jy kan maklik ’n hele dag hier deurbring.

’n Riviertjie kabbel rustig in die smal kloof af (as dit swaar gereën het, is dit ’n ander storie) en saam met die skaduwee van die kranse is dié oase ’n heerlike plek om heen te ontsnap op ’n snikhete dag.

Hoe dieper jy die kloof in stap, hoe mooier word dit. Die smal klipgang wat van bo af met ’n warm gloed verlig word, lei na openinge waar kolossale wildevyebome met kronkelwortels tussen wildevarings groei. As jy gelukkig is en die aronskelke blom, is die groen tapyt onder in die kloof vol wit spatsels.

’n Ent verder in die pad af hou ons stil by die Sewefontein-gemeenskapsplaas en word verwelkom deur die passievolle gids Patrick Ruiters. Soos die naam verklap, is dié plaas vol natuurlike varswaterbronne en Patrick gaan wys vir ons een spesifieke boorgat. “Hierdie water loop al sedert 1937, sónder pompe of enige bystand,” vertel hy met ’n breë glimlag.

Die water loop sterk en helder, asof dit uit die bek van ’n massiewe kraan kom. Patrick lei ons na ’n wildevyewoud waar ’n plankpaadjie tussen oeroue wildevyebome vleg.

“Party van hierdie bome is oor die 500 jaar oud,” vertel hy. “Hier is ook ’n fontein wat Witfontein genoem word.” Ons is vroegmiddag terug by Kamerkloof. Sommige van ons gaan stap, ander lees ’n boek op die stoep of gaan soek ’n plaasdam. Dis immers goed om net uit te span, veral omdat ’n groot dag môre voorlê...

Water toe

Die volgende oggend eet ons ekstra pap vir ontbyt en drink ons koffie swart, want vandag lê die taaiste ryery voor. Tussen ons en die buitekant van die kloof lê die sogenaamde “4x4-deel” van die Baviaanskloof. Boonop het dit laasweek swaar gereën en ons het gehoor sommige van die paaie is toe onder die water.

“Ek het gaan uitvind gister en hulle sê die pad is oop. Kom ons kyk,” sê Douwe toe ons vertrek. By die parkhek gee die personeel ook die groen lig en kort voor lank staan die bosse dik en hoog rondom ons soos die kloof – en die pad – smaller raak.

Ons eerste stilhouplek is by Geelhoutbos, ’n selfsorghuis langs ’n rivier sowat 3 km van die hoofpad af. Douwe verduidelik Geelhoutbos is nie oop vir dagbesoekers nie, en wanneer jy hier oorbly, het jy die ganse plek vir jouself. Trouens, Bhejane 4x4 Adventures moes spesiale toestemming by die parkeraad kry vir ons vinnige besoek.

“Kan jy dink hoe lekker bly ’n mens hier? Ek móés julle net kom wys.”

Terug op die hoofroete ooswaarts kry ons ons eerste lang waterkruising. So ver as wat ons kan sien, is die pad net water, tot waar dit om ’n draai verdwyn. Douwe gaan eerste, en sodra sy bakkie om die draai verdwyn, sê hy: “Nee wat, julle kan maar kom. Dis vlak en die grond is hard onder.” Alles goed sover.

Die Grasnekpas is die eerste van die Baviaanskloof se groot drie. Die paadjie is smal en die uitsigte wyd. Aan die kant, naby die Smitskraal-ruskamp, kry ons weer water. Weer ry Douwe voor en wéér verdwyn hy om ’n draai, maar dié slag is die water heelwat dieper. Hy klim uit en kom staan op die draai, radio in die hand.

“Haak gerus maar laestrek… tweede rat in,” laat weet hy oor die radio en roep die konvooi een vir een deur met waarskuwings soos “Pasop vir die gat daarso, hou net links!”.

Die water druk op oor die voertuie se nommerplate en raak-raak aan die hoofligte, maar almal haal uiteindelik die ander kant.

Ons hou vinnig stil vir ’n foto en ’n high five. Ná middagete by Rooihoek pak ons die Holgatpas en hou aan die bokant stil om te gaan kyk na die oorblyfsels van ’n sweefspoor wat Winston le Roux, ’n plaaslike boer, self in 1967 gebou het.

Dié kontrepsie span 410 m oor ’n kloof en kon op sy dag binne 12 minute altesame 5 t goedere tussen Le Roux se plase vervoer. Die alternatief was ’n ompad wat ’n vragmotor langer as drie uur sou neem.

Teen laatmiddag neem die Combrinckspas ons uiteindelik tot by die park se oostelike hek en ons groet die Baviaanskloof-naturreservaat.

Vlak anderkant die hek draai ons in by Kudu Khaya, en teen die tyd dat ons die dag se adrenalien onder ’n warm stort afwas, val ’n buitjie reën. Dit pla ons egter min, want ons het klaar die Baviaanskloof se berugte paaie oorwin.

DONKER BOS. Patrick Ruiters (inlas) staan altyd gereed met ’n breë glimlag en gesels land en sand oor Sewefontein se varswaterbronne (links) en die wildevywoud (links onder). Aan die bopunt van die Holgatpas sal jy Winston le Roux se sweefspoor (onder regs) aantref. Van hier is dit net ’n kort entjie tot by Kudu Khaya (onder) waar jy gaan oornag.

Kaas, skattejag en olifante

Die volgende aand se bestemming is die Matyholweni-ruskamp in die Addo-olifant- nasionale park. Met die teerpad deur Patensie en Uitenhage kan jy die afstand binne minder as 3 uur aflê, maar ons het tyd en boonop is daar interessanter grondpaaie om te ry.

Die mis lê dik toe ons die volgende oggend vertrek. ’n Raps onder 5 km voor Patensie draai ons noord op die Elandsriviervallei-grondpad wat met ’n draai suidooswaarts tot naby Uitenhage krul.

Die pad klim, maar die wêreld om ons bly ’n eentonige wit wasem. “Dis jammer ons kan nie sien nie,” sê Douwe in ’n stadium oor die radio, “want hier is ongelooflike diep klowe langs ons.” Die reën volg ons in die vallei af. Ons stop by die Moo-padstal op die plaas Melkhoutboom waar die eienaar, Rolf Clotz, ’n verskeidenheid kase maak.

Wanneer ons die olifante, die statige meesters van hierdie wêreld, teëkom, bring dié reuse ’n stil verwondering oor ons.

’n Ent verder in die pad af trek ons vir middagete in by Mount Ingwe waar ons verwelkom word deur Lukas van der Merwe. Terwyl ons wag dat die roosterkoeke bak, wys Lukas vir ons sy metaalverklikkermuseum. Wat begin het as ’n stokperdjie in sy jong dae, het gegroei tot ’n onblusbare liefde vir skattejag en ’n diepe kennis oor die geskiedenis wat agter elke ontdekking lê.

“Elke voorwerp het ’n storie,” sê Lukas. “Ons kon byvoorbeeld al iemand se verlore ring ná 58 jaar aan hulle terugbesorg!”

Op Uitenhage val daar weer ’n harde reënbui en ons begin wonder hoe ons die laaste aand van die toer in die Addo gaan deurbring. Nietemin is ons hoopvol en vat kortpad op ’n plaaspad tussen die R75 en die R342 tot op die dorpie Addo.

Kort voor lank is ons deur die parkhek. Ons slaapplek is by Matyholweni in die suide van die park; dus maak ons ’n wildkykrit van die reis.

Vir die eerste uur of twee bly die weer droewig en die diere is skugter. Dan, sowat ’n uur voor sononder, trek die wolke skielik oop en stort ’n warm gloed oor die spekboomoortrekte landskap. Troppe rooihartebees verskyn uit die ruigtes terwyl sebras alkante van die pad wei.

’n Vlakvark skarrel om haar kroos bymekaar te hou. Ons kry selfs ’n groep leeus wat digby die pad in die laaste sonlig lê en slaap.

Wanneer ons die olifante, die statige meesters van hierdie wêreld, teëkom, bring dié reuse ’n stil verwondering oor ons wanneer hulle binne etlike meters van ons voertuie beweeg. ’n Beter afsluiting vir ’n toer kry jy nie sommer nie.

Om hierdie toer saam met Bhejane 4x4 Adventures te doen stuur e-pos na  bookings@bhejane.com of bel  044 535 9033

5 Lekker aftrekplekke

Dalene Matthee-gedenksteen

Die geliefde skrywer van Kringe in ’n bos, Fiela se kind en Moerbeibos het glo gereeld in die woude van Krisjan-se-Nek kom stap vir inspirasie. ’n Gedenksteen is onder ’n groot ou geelhoutboom van meer as 800 jaar oud opgerig. Hier is ’n lekker piekniekplek met braaiplekke én ’n sirkelstaproete van 3 km of 9 km deur die woud.

GPS S33.916572 E22.957800

Diepwalle-teetuin

Dié koffiewinkel word deur die plaaslike gemeenskap bedryf. Op die spyskaart is ontbyte, ligte etes soos geroosterde toebroodjies met tjips, drinkgoed en soetgoed soos koek en tert. Maar die ding om te bestel is vetkoek en gemmerbier. Gaan loer ook in by die Forest Legends-museum langsaan vir ’n blik op toeka se bosboudae en ’n uitstalling van ’n lewensgroot Knysna-olifant se geraamte.

GPS S33.949002 E23.156995

Plaaskind-padstal

Rek ’n bietjie bene tussen die kronkels van die Prins Alfredpas en hou hier stil vir ’n koeldrank of koffie, tuisgemaakte eet-, drink- en huisgoed, suiwer heuning en selfs oudhede.

GPS S33.812263 E23.174899

Moo-Plaasstal

Teen ’n muur binne-in die padstal is ’n foto van die boer Rolf Clotz se produksiespan: ’n groep koeie met name soos Bessie, Duracell en Rosebud. Hulle produk is beskikbaar in ’n verskeidenheid smullekker kase, so vars van die plaas af as kan kom. Hier is ook onder meer vars melk, konfyte en snoepgoed te koop.

GPS S33.631069 E24.865239

Metaalverklikkermuseum

Wees dankbaar vir Lukas van der Merwe se liefde vir metaalverklikkers, want dit het gelei tot ’n indrukwekkende uitstalling by dié museum op sy plaas, Middelwater, in die Elandsriviervallei. Kom kyk na uitstallings van allerhande skatte, van kunstande tot goue ponde, wat Lukas en sy klublede by geskiedkundige Anglo-Boereoorlog-slagvelde, strande en selfs oorsee ontdek het. As jy honger raak, bestel beslis hulle tuisgemaakte roosterkoeke.

GPS S33.627379 E24.884643