In ’n droë rivierloop in die Mopani- distrik, diep in die noorde van Limpopo, staan 14 Nissan Patrols en luier. Die manne skud gretig mekaar se hand terwyl die vroue drukkies uitdeel. “Jis, ou maat, lanklaas gesien! Hoe gaan dit met jou?” weerklink die gemoedelikheid teen die rivierbedding se hoë walle.

Terwyl die grootmense groet en gesels, kom ’n paar seuns uit verskillende voertuie te voorskyn met grafies en begin ywerig sandkastele en paaie in die riviersand bou. Klink 14 voertuie vir jou na baie? Dis skaars die helfte van die groep avonturiers wat vanjaar bymekaargekom het vir die Nissan Patrol-forum se “River Trip”. Die res is al besig om iewers in die rivierloop te speel.

Dis ’n jaarlikse gebeurtenis, en op dié kletsforum is daar weke voor die tyd groot opgewondenheid.

Kort voor lank is al die voertuie se banddruk verlaag na 1 bar en die laaste van die konvooilede is gereed om die rivierroete aan te durf. 

Kort voor lank bestaan die ganse wêreld net uit ’n lint sand wat voor jou uitstrek.

Dag 1

Hallo, Molototsi

Die oorsprong van die Molototsirivier is sowat 25 km hiervandaan, weswaarts in die berge naby Modjadjiskloof. Waar jy die rivierloop binnery, is die vloedvlakte omtrent 50 m breed. Die konvooi ry stroomaf, maar selfs in laestrek kan ’n mens aan die petrolpedaal voel hoe die dik sand hardkoppig terugstoot.

Hier en daar hurk groepies plaaslike vroue terwyl hulle in die vlak poele klere was. Wanneer die Molototsi nie in vloed is nie, vloei die water sowat ’n meter onder die sand en dis redelik maklik om daarby uit te kom. Kinders huppel tussen kleurryke plastiekskottels vol wasgoed deur en waai vir die verbygaande voertuie. Soos ’n mens die nedersettings agterlaat, raak die tekens van beskawing ál minder. Kort voor lank bestaan die ganse wêreld net uit ’n lint sand wat voor jou uitstrek. Aan weerskante is hoë sandwalle, soms klipkranse, en altyd ’n ondeurdringbare muur haak-en-steekbos en wag-’n-bietjiebome.

Die wêreld ágter die nimmereindige muur kan net sowel nie bestaan nie. Dit is laatmiddag wanneer die konvooi aftrek om kamp op te slaan.

Thinus Lotz het sy kettingsaag saamgebring. Deur die loop van die dag het ’n paar voertuie stilgehou langs ontwortelde bome wat deur die vorige vloed meegesleur is, en takke op hulle dakrakke gelaai. Thinus se “boom- skoeter” sing terwyl hy die hout in stukke opsaag. Vanaand lek-lek die vlamme van ons kampvuur aan die sterrehemel. 

KLIPPE KOU. Die rivierloop se oppervlak bestaan meestal uit los sand, maar nou en dan moet jy halt roep by ’n klipplaat. Dit help nie jy merk ’n struikelblok op jou GPS nie, want volgende jaar het die vloed alles verander en nuwe hindernisse oopgespoel. Bo Laatmiddag kan die jongspan bene rek terwyl die grootmense kamp opslaan. Saans brand die vure hoog en grappies word met oorgawe vertel.

Dag 2

O koud is die windjie en skraal

Dis laatoggend en die rivierloop is besaai met voertuie en tente. Die kuiergatte het om die smeulende oorskot van gisteraand se vuur laer getrek, die snorkers se tente staan doer eenkant, en die verantwoordelike gesinne se netjiese kampplek het ’n fokus op kampgeriewe soos storte, toilette en kombuise.

Daar is geen druk om alles as ’n groep saam te doen nie. Jy kamp soos dit jou pas en almal neem mekaar se voorkeure in ag.

Twee seuns woel met ’n graaf om ’n diep gat in die rivierbedding te grawe. ’n Pa waarsku iemand gaan daarin val en sy nek breek. “Maar dis mos hoekom ons die gat maak,” kap een klein swernoot terug. “Sodat ons daai ou kan begrawe!”

Die konvooi val in die pad. Daar is nie werklik uitdagende hindernisse nie, net hier en daar ’n lastige klipveld wat deurkruis moet word. Behulpsame vrywilligers wys met handgebare aan ander hoe om veilig deur die doolhof van klippe te ry.

“Kan ek vir jou ’n lift gee?” Vra ’n kêrel in die verbyry aan ’n vrywilliger wat deur die klipveld na sy eie voertuig toe terugstap. “Nee dankie,” antwoord hy “Ek het klaar ’n 20 mm-lift”.

Veldryers met ’n geligte onderstel en bakwerk vaar hier in die klipveld beter as standaardvoertuie. Dié ombouing is ’n gewilde onderwerp onder die Patrol-manne en hulle lê gereeld onder mekaar se voertuie na onderdele en kyk.

Vandag was daar nie veel dryfhout in die rivier om te versamel nie en vanaand flikker die vuur merkbaar kleiner – terwyl ’n koel bries deur die kampplek suis. Die watertafel is ook heelwat hoër hier as by gisteraand se kampplek.

Wanneer jy in jou tentjie lê, kan jy voel hoe die grondwater jou liggaamshitte steel. Kort-kort neul iemand saggies: “Bokkie, jy trek die kombers van my af.”

So kuier-kuier. Bedags word stukke dryfhout versamel vir vanaand se braai. Soms ruk iemand die dam onder die eend uit en haak sommer 'n hele boom. Wanneer 'n voertuig vasval, is daar nooit 'n tekort aan vrywilligers wat bereid is om hand by te sit nie, en elke koelteboom is 'n geleentheid om koffie te maak.

Dag 3

Swem, Jannie, swem!

Dis nog vroegdag en die teëspoed ry al vir Jean-Jacques Jaume. Hier waar die Molototsi in die Letabarivier vloei, moet die konvooi deur diep water ry. Die eerste voertuig gaan veilig deur, dan kom ’n volgende een én nóg een, maar Jean-Jacques se Patrol ruk in die middel van die Letaba dood.

Die gewonde voertuig word na droë grond gesleep. Graham Cumming loer onder die enjinkap. Graham is ’n motorwerktuigkundige van formaat en kén Patrols, want hy werk al donkiejare aan hulle. Jean-Jacques lyk effens bekommerd, maar Graham stel hom gou gerus. “Moenie worry nie; dié groot 4.8’s kan dit vat!”

WATERKASKENADES. Dis nooit ’n goeie idee om deur water te jaag nie, maar soms – net soms – kan ’n ou seker maar so effens stout wees om die ander mense in jou groep te vermaak. Jean-Jacques Jaume het dit egter nie snaaks gevind toe sy Patrol se vergasser water suig nie. Gelukkig was daar helpende hande.

Een van die toeskouers mompel (met reg) dis eintlik ’n 4,5 l-enjin, maar hy durf dit nie hard genoeg sê dat Graham hom kan hoor nie... Met die vonkproppe en lugfilter uit word die enjin geswaai en fonteine water spuug links en regs uit die enjin. Dan kry Jean-Jacques die twyfelagtige eer om die water-en-petrolmengsel met ’n strooitjie uit sy voertuig se vergasser te suig.

Die eerste voertuig gaan veilig deur, dan kom ’n volgende een én nóg een, maar Jean-Jacques se Patrol ruk in die middel van die Letaba dood.
HOKAAI. 'n Droë riverloop is allesbehalwe leweloos. Kyk mooi waar jy loop, want jy trap dalk op 'n diertjie. 'n Grapjas het hierdie padtekens geplant - dis eintlik gepas. Wanneer 'n koelteboom gewaar word, hou almal stil vir 'n vinnige koffietjie.

Almal skaterlag vir sy gesiguitdrukking. Graham draai die vonkproppe terug en die enjin steier nukkerig aan die lewe. Gelukkig is daar ’n vulstasie skaars 20 km hiervandaan waar die troebel, melkwit olie vir donkergoue Castrol-stroop verruil kan word.

Vanaand word daar kamp opgeslaan in die Klein-Letabarivier teenaan die grensdraad van die Krugerwildtuin. Kosbare sakkies kafeehout sorg vir tientalle vuurtjies en almal sit spitsoor en luister of ’n leeu iewers brul. 

Dié soort mense gaan jy ontmoet

Tijmen van der Steenhoven (1997 4.2 Diesel). ST Tijmen is ’n 19-jarige Pretorianer en ’n kranige 4x4-entoesias. Sy eerste motor was ’n Chev Cruze, maar hy het dit sommer gou verruil vir ’n tweedehandse Nissan Patrol wat hy “Trekkertjie” gedoop het.
Zander en Fanus Coetzee (2000 4.5 Petrol GRX). Fanus en Zander is ’n pa-en-seun-span van Sabie en hulle het vir Ma en Sus dié vyf dae by die huis gelos. Dit is hulle derde “Rivier Trip”, maar hulle het ook al saam met die Patrol-forum by Mogatle en Rust de Winter gaan speel.
Hanelie en Jean-Jacques Jaume (1998 4.5 Petrol GL). Die Jaumes het hulle Patrol, Jollie-Patrollie, uit ’n boedel gekoop. Die vorige eienaar, ’n vriend van die Jaumes, het in ’n ligtevliegtuigongeluk gesterf. Die Patrol se sleutel het nog brandmerke van dié hartseer voorval.



Belangrike GPS- koördinate
  • S23.45098 E30.35870 Draai regs af van die R81 in die rigting van Mohlabaneng.
  • S23.51489 E30.41926 Ry oor die brug en draai links af tot in die Molototsirivier.
  • S23.47455 E30.63568 Gevaar: rotse. S23.50150 E30.65262 Kamp 1 – die naaste nedersetting is 4 km wes.
  • S23.61720 E30.89299 Kamp 2 – die naaste nedersetting is 2 km noord.
  • S23.67768 E30.92235 Gevaar: Diep rivier.
  • S23.69857 E30.91527 Draai links tot op die hoofpad.
  • S23.69083 E30.96312 Winkel en brandstof.
  • S23.68273 E30.99327 Draai links tot op teerpad.
  • S23.48843 E31.01496 Draai links af voor die brug tot in die Klein-Letabarivier.
  • S23.49131 E31.05900 Kamp 3 – teenaan die grensdraad van die Kruger. S23.41933 E30.91066 Warmwaterbronne.
  • S23.42819 E30.87634 Gevaar: rotse.
  • S23.39139 E30.81660 Kamp 4 – die naaste nedersetting is 4 km noord.
  • S23.36620 E30.75381 Verlaat die Klein-Letabarivier.
  • S23.32605 E30.68026 Draai links tot op die R81, rigting Pretoria.


'n Bietjie links! Dit help as jy 'n ekstra paar oë het om te kyk dat jy nie jou ryding seermaak nie. Wat ook geweldig baie help, is 'n lekker stel 33" - of sels 35" -tekkies.

Dag 4

Ons gaan klippe kou...

Ouens wat voorheen al dié rivierroete gery het, vryf hulle hande saam en vertel met smaak dat vandag ’n la-a-a-ang dag gaan wees. Die pad vorentoe word versper deur massiewe klippe en rotse so groot soos huise. Hulle noem dit nie verniet die rotstuin nie.

Toe ons daar stilhou, begin die oë van Chris Boegman, die groep se spoorsnyer, glinster soos dié van ’n stuitige seun: “Dís moes hoekom ons hierheen gekom het!” Alex Botha help om die voertuie oor die rotse te lei. Nie almal sien kans vir dié hoërgraadroete nie en party neem die matiger “highway”. Die enigste belonig vir die dapper ouens wat die rotstuin aandurf, is die trots wat hulle ervaar nadat hulle die hindernis oorwin het. Die ekstra duike wat hulle rygoed bygekry het, skeel hulle min.

Vanaand brand die vuur hóóg. Iemand het ’n enorme dooie boom aan sy voertuig vasgemaak en kamp toe gesleep. Alex grawe ’n bottel tequila uit sy bagasie en die dapperes wat die rotstuin getrotseer het, kry elkeen ’n goeie skeut Mexikaanse medisyne. Tot laat in die nag word daar goed gekuier, en diegene wat vroeg inkruip, giggel saam in hulle tente vir die grappies wat langs die kampvuur oorvertel word.

Neem dit saam

Jy moet vir vyf dae selfversorgend wees. Halfpad deur die toer kan jy basiese proviand koop, maar buiten eet- en drinkgoed moet jy die volgende onthou:

  • ’n GPS is uiters belangrik. Jy gaan dit nodig hê om die in- en uitgaanpunt in die riviere te vind. Die rivier het ’n paar vertakkings, en as jy die verkeerde een neem, kan jy lelik verdwaal.
  • Neem water, want die riviere is nie standhoudend nie. Daar is ondergrondse water, maar jy gaan ’n meter diep deur die sand moet grawe om daarby uit te kom. Jy gaan ook nie gebottelde Perrier in die sjebiens van die omgewing kry nie.
  • Herwinningstoerusting is noodsaaklik, want jy kan maklik in die sand vasval. ’n Wenas is ’n bonus, maar bring minstens ’n graaf en sleeptou.
  • Onderdele soos ekstra vonkproppe, lugfilters en olie word aanbeveel ingeval jou voertuig se enjin water suig. ’n Bandherstelstel is ook ’n goeie plan.
Sandadder. As jy en los sand nie vriende is nie, moet jy eerder daarvan vergeet om die riverroete aan te durf, want daar is oral sand. Na vyf dae in 'n droë rivierloop is selfs die mees ervare sandryers bly om weer harde grond te sien.

Dag 5

Tot siens, Klein-Letaba

Niemand is lus om terug te keer stad toe nie. Die 500 km Johannesburg toe klink na louter hel, maar jy kan tog nie vir altyd in die rivier bly nie. Die laaste 13 km in die Klein-Letabarivier na die uitgaanplek word in stilte afgelê. Op die harde grond hou almal vir oulaas stil om bande op te pomp.

“Tot siens, ou maat. Goedgaan en veilig ry,” weerklink dit bo die gedreun van draagbare kompressors. Dosyne selfone piep vir ’n vale. Daar is sterk selfoonsein hier en dae oue boodskappe kom uiteindelik by ontvangers uit.

“Tot siens, ou maat,” roep almal weer. Die konvooi spat uiteen en die karre kies koers in verskillende rigtings. Vanaand skop jy skoene voor jou televisie uit terwyl die Patrol-forum se WhatsApp-groepie gons met: “Veilig tuis. Wanneer doen ons dit weer?

Ek wil ook gaan!

Hoe lank duur dit?

Ons stel voor jy sit minstens vier dae opsy. Hoewel dit seker moontlik is om die hele roete in een dag te voltooi, gaan jy van sonop tot sononder moet jaag soos ’n Dakar-tydrenjaer in ’n pypkar. Ons het die roete oor vyf dae aangedurf en die pas was heerlik rustig.

Beste tyd

Die noorde van Suid-Afrika is ’n somerreënvalstreek, en omdat jy ongeveer vier dae in ’n rivierbedding gaan deurbring, moet jy liefs kom wanneer die rivier droog is – dus tussen Junie en Oktober.

Hoe lyk die paaie?

Daar is geen paaie in die rivierloop nie, maar as jy die roete aan die einde van winter ry, behoort daar duidelike spore te wees wat jy kan volg.

Het ek ’n 4x4 nodig? Jy het ten minste ’n bakkie met ’n ewenaarslot en goeie grondvryhoogte nodig. As jou mond water vir hindernisse soos die rotstuin, gaan jy beslis viertrek nodig hê – en ’n maat om jou uit te sleep as jy vasval.

Papierwerk? Dit blyk ’n onbegonne taak te wees om ’n permit te bekom vir dié roete. Die riviere vleg deur talle plase en gemeenskaplike grond. Gedra jou in die rivierloop (moenie rommel strooi nie) en die departement van waterwese en die plaaslike regering sal jou uitlos.

Selfoonontvangs? Onder in die rivierbedding is daar geen ontvangs nie, maar as jy stop en die hoë walle uitklouter, is daar amper altyd sein.