Kyk die waterwiel


Die waterwiel in die hoofstraat is ’n oorspronklike bakkiespomp wat toenterjare hier in die kanaal gebou is vir besproeiing. Dit word ook ’n Persiese wiel genoem en is soortgelyk aan die waterwiele wat in Ou Egipte ingespan is.

Ry tot op Tierberg



Aan die rand van die dorp is die Tierberg-reservaat van 160 ha. Van dié klipkop af het jy ’n uitsonderlike uitsig oor die dorp, die Oranjeriviervallei, die riviereilande, en die wingerde en landerye. Die kop is ook oortrek met aalwyne en inheemse blomme.

Hier van bo af het menige toeris en menige fotograaf al menige foto’s geneem. Die reservaat is 4 km buite die dorp. Waar jy die dorp van Upington af inry, draai jy links af in die hoofstraat en volg die borde tot by die ingang aan die regterkant. Die pad teen die kop op is deels grondpad en deels teer – en op plekke effens sleg.


Proe en koop wyn



By die Oranjerivier-wynkelder se Keimoes-kelder kan jy weekdae van 7.30 vm.- 5 nm. en Saterdae van 8.30 vm.-12 nm. die plaaslike wyne kom proe en koop; van droë wit- en rooi- tot soetwyne. Dié kelder en sy wynmaker, Rianco van Rooyen, is al verskeie kere bekroon vir hulle wyne. Draai by die kelderbordjie in die hoofstraat af en volg die borde.


Koop ’n kokerboom



Waar jy Neilersdrift binnery, draai jy regs af met die Kakamas-grondpad (R359). As jy hier afdraai, kry jy die regsafdraai na Marina Bothma se Koms-kokerboomkwekery. Nadat jy afgedraai het, hou jy nog 4,3 km aan tot by die kwekery aan die linkerkant. Hier kan jy van klein kokerboompies tot grotes koop, en Marina sal jou alles vertel wat jy oor kokerbome wil weet.


Kyk die eilande


Sowat 12 km van Keimoes af, op die N14 na Upington, draai jy regs af na Kanoneiland, die grootste eiland in die Oranjerivier (14 km lank en op sy breedste 3 km). Gaan kyk hoe word daar op ’n riviereiland geboer. Op pad van Keimoes af na die Ou Skool-gastehuis ry jy oor drie verskillende brûe oor die Oranje en hier draai paadjies af wat jy na verskeie kleiner boerdery-eilande kan vat.