Hulle planne om in Augustus 2016 die Senqunyanevallei in Lesotho met hulle veldryers aan te durf het weens die swaarste sneeu in 50 jaar in dié deel van die wêreld skipbreuk gely.

Clive George en sy seun, Craig, was van plan om langs die rivier te kamp onderweg na die Sanipas, maar die weergode het ongelukkig ander planne gehad. Dié terugslag het hulle egter net nóg meer vasberade gemaak om die vallei te deurkruis en die uiterste 4x4-uitdagings en afgeleënheid te ervaar.

Toe hulle dus in September verlede jaar as deel van ’n groep van 9 in vyf 4x4-voertuie van die Ongeluksnekpas in die suide van Lesotho vertrek, was Clive-hulle oorgehaal vir die avontuur wat hulle ’n jaar tevore ontglip het.

Manne met planne

Ons klomp KwaZulu-Natallers het beplan om vier nagte by verskillende bestemmings te oornag en dan op die vyfde dag Lesotho in die ooste met die Sanipas te verlaat.

Voor die wind. Die Ongeluksnekpas bied nie die taaiste uitdaging nie, maar hier en daar moet hulle tog laestrek en ewenaarslotte inspan om uiteindelik die pas se hoogste punt te bereik.

Ons wil die eerste nag by die Semonkong-lodge oornag, die tweede nag langs die Senqunyanerivier, die derde by die Katsedam in Sentraal-Lesotho, en dan die laaste nag by die Linakengrivier, suidoos van die Katsedam.

Craig is die spanleier en hy durf die reis aan in sy Mitsubishi Colt 2.8 saam met Trevor Pitt. David Southwick ry saam met sy Ford Ranger 3.2, en Leon Erwee en sy 16-jarige seun, Kavan, maak die avontuur mee in ’n Land Rover Discovery V8. Die driemanskap van André Greeff, Ralph Koen en Dino Koulountis is in ’n Toyota Hilux 3.0, en dan is dit ek in my Mitsubushi Triton 3.2.

Die rit deur die plato bederf ons met pragtige natuurskoon, en dis veral die uitsig oor ’n meer wat daardie gevoel van afgeleënheid en grootsheid by ’n mens tuisbring.

Ons eerste stukkie teëspoed kry ons sommer reg aan die begin van die reis. Kort nadat ons by Matatiele volgemaak het op pad na Ongeluksnekpas, begin Leon se Discovery krag verloor. Ons vermoed die petrol is nie skoon nie, maar die probleem is só erg dat Leon, Kavan en David besluit om eerder terug te keer Durban toe.

Dis ’n groot teleurstelling. Maar ’n halfuur of so later bel David om te sê hy, Leon en Kavan is op pad terug na ons toe, want die Discovery se woema is terug. Ons wag ’n kort rukkie vir hulle en ry dan verder met die Ongeluksnekpas na die grenspos toe.

Ons steek die grens kort ná 1 vm. oor en klim verder met die pas. Dis nie die taaise uitdaging nie, maar ons moet van tyd tot tyd laestrek en ons ewenaarslotte inspan om uiteindelik op die pas se hoogste punt (ongeveer 2 400 m) te kom.

Die rit deur die plato bederf ons met pragtige natuurskoon, en dis veral die uitsig oor ’n meer wat daardie gevoel van afgeleënheid en grootsheid by ’n mens tuisbring. Ons ry weer af met die bergpas op pad na die Semonkong-lodge. Ons ry deur ’n dorpie waar die vriendelike inwoners vir ons wys waar ons ’n kis van Lesotho se bekende Maluti-bier teen ’n billike prys kan koop.

Dit sorg vir ’n goeie gees en ons bereik die lodge teen ongeveer 6 nm. en geniet ’n stewige aandete en ’n goeie nagrus in die backpackers.

Rotse en slote

Vanoggend tap ons brandstof uit die jerrykanne in ons rygoed se tenks. Dit maak die gewig op die dakrakke ligter, wat beteken hulle sal meer stabiel ry teen die steil afdraandes wat voorlê. Craig vat weer voor en ons vertrek net ná 9 vm. met die sogenaamde Busroete suidoos in die rigting van die Senqunyanerivier.

Voor ons lê die paadjie besaai met rotse en slote wat lyk of hulle strategies daar geplaas is.

Die pad is vir die eerste uur of wat betreklik maklik. Dan wys Craig na die regsdraai (volgens sy GPS). Dit is ’n rypaadjie al langs die platorand wat tot in die Senqunyanevallei loop. 

Hoewel dié paadjie nie moeilik is om baas te raak nie, is hy nie sonder sy uitdagings nie. Dit is maklik om hier die spoor te verloor, maar gelukkig het ons satellietnavigasie om ons te help wanneer ons (letterlik) die pad byster raak.

Maar dis nie lank nie of ons avontuur begin in alle erns.

Ons bereik ’n punt waar dinge skielik baie meer uitdagend raak: Voor ons lê die paadjie besaai met rotse en slote wat lyk of hulle strategies daar geplaas is om ons 4x4-kundigheid te toets.

Van hier af vorder ons stadig. Heelwat bekommerde plaaslike inwoners staan nader om te sien hoe ons voertuie gaan vaar op hierdie uitdagende stukkie pad.

Hoewel ek, Craig, André, Ralph en David al voorheen hier af is, het die padtoestand sedertdien aansienlik versleg. Dino, Trevor, Leon en Kavan was nog nooit hier nie en daar is duidelik kommer onder hulle – en ons – oor ons voertuie se vermoë om dit tot onder by die Senqunyanerivier te maak.

Ons het egter vooraf geweet dit gaan moeilik wees en het juis hierheen gekom vir die uitdaging. Met Trevor as gids wys Craig vir ons die pad om en oor die eerste steil haarnaalddraai teen die platorand af.

Maar nét ná die draai is ’n reeks rotse – die een groter as die ander – met slote en steil afdraandes wat wag. Vir die afsienbare toekoms is dit weer tyd vir laestrek en ewenaarslotte, en die res van die span raak die eerste haarnaalddraai baas met Dino, Kavan, Ralph en Trevor as gidse.

Ons steek die volgende klompie hindernisse met ’n gesukkel, maar sonder voorval oor. Van die plaaslike mense wat ons volg, probeer ons kort-kort waarsku teen wat volgende voorlê. Ek moet erken die waarskuwings “This road is no” en “You must go back” doen nie veel vir ons selfvertroue nie.

Ons is egter verby die punt waar ons kan omdraai. Ons voertuie sal nooit teen dié opdraandes kan uitklim nie, selfs met laestrek en ewenaarslotte. Ons het dus geen ander keuse nie as om voort te beur, ongeag die toestand van die pas.

Ons is vasbeslote om deur te druk, en met die hulp van ons gidse, wat groot klippe uit die pad rol en met handgebare help wanneer ons nie oor die enjinkap kan sien nie, kruie ons konvooi oor die klipperige terrein tot ons uiteindelik teen 2 nm. die Senqunyanerivier bereik.

Dit het ons vyf uur geneem om 30 km af te lê.

Ons slaan ons kamp op die oewer van die rustige en afgeleë Senqunyanerivier op, en om ons sukses op die eerste deel van ons reis te vier sluk ons ’n klompie Maluti-biere en gooi vleis op die kole.

Tussendeur gesels ons in diepte oor hierdie mal dag se avontuur en oor wat môre vir ons voorlê. Ons almal is dit eens dat die uitdagendste deel van ons reis agter die rug is en dat die klim uit die Senqunyanevallei na die Katsedam so glad soos seep gaan verloop.

Ons het in hierdie stadium geen benul hóé verkeerd ons is nie...

knap gedaan, menere! Min dinge is so bevredigend soos ’n vleisie op die kole en ’n koel lafenis in die hand as jy ’n ware 4x4-toets sonder voorval geslaag het. Op sommige plekke in Lesotho moet jy hare op jou tande hê.

Ons klim en die stresvlakke styg

Dit is die derde dag van ons reis. Ons slaan ons kamp op en vertrek om 8 vm. in konvooi.

Ons steek die rivier met gemak oor en klim weer die platorand van die Senqunyanevallei in ’n noordoostelike rigting op pad na die Katsedam oor Thaba-Tseka.

Hoe verder ons klim, hoe meer besef ons hierdie rowwe en steil bergpad is moeiliker as wat ons verwag het. Gelukkig vergoed die manjifieke uitsig vir die bloedstollende hindernisse.

Ons kan verstaan hoekom sommige mense daarna verwys as ’n “stairway to hell”. Die grootste moeilikheid kom as jy ’n hindernis sonder ’n gids probeer baasraak. Ek vind dit self uit toe ek ’n diep sloot aandurf en so ampertjies my bakkie in die proses rol.

Die spanlede agter my sien hoe my linkervoorwiel ’n halwe meter lig. Ek het dit gelukkig dadelik besef, die bakkie in trurat gesit en agteruit gestoot. As ek dít nie gedoen het nie, het die Triton beslis op sy dak beland. Dinge vorder stadig en dis ’n uitmergelende proses.

Ons voltooi uiteindelik 20 km in vier uur. Teen die tyd dat ons die St. Martin-sendingstasie aan die einde van die pas na die Katsedam bereik, het ons 24 km in ses uur afgelê.

Weer eens verdien die gidse Ralph, Kavan, Trevor en Dino ’n pluimpie vir die manier waarop hulle ons deur hierdie rowwe roete gelei het. Ons maak vol by Thaba-Tseka en kom om 6 nm. in gietende reën by aan die Katsedam waar ons vanaand slaap. 

Tot dusver was die weer onverbeterlik, en ’n rukkie later hou dit op met reën. Ons slaan ons kamp op die oewer van die rivier naby die Katsedam op.

Craig besluit om sy Colt se enjin na te gaan en dis ook maar goed so, want hy ontdek drie boute op sy spruitstuk is soek. Ons vier nóg ’n suksesvolle dag in die Senqunyanevallei met koue Maluti’s en warm braaivleis, maar dis duidelik die laaste twee dae het sy tol geëis op die span.

Die stres is sigbaar. André moet om sakeredes vroeër as verwag terug wees in Durban en ons besluit om af te sien van die laaste skof van ons reis na die Linakengrivier. Môreoggend ry ons direk Sanipas toe.

Terug huis toe

Nadat ons vanoggend kamp opgeslaan het, ry ons na die dorpie Katse waar Craig ’n motorwerktuigkundige opspoor om die drie verlore boute in sy Colt se spruitstuk te vervang.

Dit is die geld en moeite werd, want nou het Craig groter gemoedsrus vir die pad verder. Ons mik vir Sanipas en ry hoofsaaklik op goeie grond- en teerpaaie in ’n suidoostelike rigting deur Thaba-Tseka en Mokhotlong.

Dié deel van die reis is in skrille kontras met die vorige twee dae, maar dis nogal ’n welkome verligting. Wanneer al jou aandag nie deur rotse, slote en ander hindernisse verswelg word nie, kry jy die kans om Lesotho se bergagtige natuurskoon in ’n meer ontspanne gemoedstoestand te geniet.

Dit is die beste van twee wêrelde – die hardebaard 4x4-uitdaging en die pragtige omgewing.

Ons bring ons laaste aand by Sanipas deur en ouder gewoonte steek ons ’n vuur aan en gooi ’n vleisie op die kole – dit is die een ding waarvoor ons nooit moeg geword het nie.

Ons kuier op die backpackers se stoep terwyl dit sous, en gesels oor die wonderlike uitdaging. Ja, ek en Craig sou graag wou deurdruk na die Linakengrivier soos ons beplan het, maar ons is tevrede dat ons wel die hoofdoel van ons reis bereik het.

’n onvergeetlike ervaring. Die klomp KwaZulu-Natallers het Lesotho toe gekom op soek na ’n hardebaard 4x4-ervaring en dít het hulle dubbel en dwars gekry.

Ons was op soek na ’n uitdagende 4x4-avontuur deur die Senqunyanevallei, en dít het ons gekry. En vir beter kameraadskap onder die spanlede kon ons beswaarlik vra.

In die drie en ’n halwe dae in die bergkoningkryk van Lesotho – en onder Craig se sterk leierskap en navigasie, veral deur die verlate Senqunyanevallei – het ons ongeveer 600 km gereis.

Van die Ongeluksnekpas in die suide tot by Thabana-Ntlenyana en Sanipas in die ooste. Hierdie reis was ’n ongelooflike avontuur en een van die beste ervarings van my lewe. Ek sal dié klompie dae nooit vergeet nie.