Hierdie blogreeks is moontlik gemaak deur CanonHi-Tec, en Trappers.

Ek het my wekker vir 06:00 gestel, want ons moet kort ná 07:00 in die voorportaal van ons hotel in Ollantaytambo wees, maar ek is weer stiptelik om 04:00 wakker. (Ek kan al dankbaar wees oor die 04:00 … Trish en Simon sê hulle skrik elke nag klokslag 02:00 wakker.) Vandag dink ek egter dit het niks met vlugflouheid of hoogtesiekte te make nie, ek is doodgewoon opgewonde, maar effens gespanne. Ons is kort duskant die beginpunt van die Inka.

Inka
Die voorfoto

Ek herpak my tas weer. Cris kom ons vanoggend “oorgee” aan ons stapgids, Lenin, en sy kan vir oulaas vir ons bagasie terugneem na die hotel in Cusco toe. Ek stop die Alpakka-truie wat ek gister gekoop het in ’n sak, haal ’n ekstra Hi-Tec-hemp uit my Terra Firma-rugsak, en wik en weeg ’n laaste keer oor die kamerasak. Ek voel jammer vir die Canon M50 en het ’n kamerasak saamgebring om dit mooi op te pas, maar dit maak die rugsak lywig, en die kamera gaan in elk geval die hele dag om my nek wees.

Ek knyp oë toe, rol die wyehoeklens vir die Canon M50 in ’n paar Hi-Tec-sokkies toe, en pak die ekstra batterye en kamerakaarte in ’n muntsakkie wat ek gister by die Chinchero vir R20 gekoop het. Cris sal die kamerasak moet terugneem Cusco toe.My duffelsak en die sak op my rug weeg albei nou rondom 5 kg. Ligter kan ek dit nie kry nie.

As jy wil weet wat ek alles ingepak het, lees hier.

Ek stort langer as gewoonlik, want die eerste stort op die Inka-roete kom eers aan die einde van Dag 3! Hemel, ek kan my net voorstel watse fiasko dít gaan wees. Die ontbytsaal het reuse-glasvensters en kyk uit oor die berge rondom Ollantaytambo. Ons groep kom een na die ander daar aangedrentel en kom sit om dieselfde tafel.

Ek stort langer as gewoonlik, want die eerste stort op die Inka-roete kom eers aan die einde van Dag 3!

Ons begin notas uitruil oor die newe-effekte van die medikasie wat ons vir hoogtesiekte drink, en die mediese dokters (ons het vier in ons groep!) merk op dat hulle verras is oor hoe min navorsing daar nog oor hoogtesiekte gedoen is.

Om 07:30 kry ons mekaar in die voorportaal en word elke stuk bagasie vir oulaas geweeg. Moenie dink jy gaan hier wegkom met sakke vol goed nie. 

Inka
Net 6 kg per sak

Die busrit is ’n mooi 40 minute en die pad kronkel al langs die Urubambarivier langs. Ek sien hoe almal benoud na die berge kyk wat ons binnekort gaan moet begin uitstap.

“To the left, to the left ...”

By die 82 km-merker, ook bekend as Piscacucho, klim ons uit die bus. Daar is minstens vier ander groepe ook reeds daar, besig om vir oulaas sonskermmiddel en insekweerder aan te smeer en strekoefeninge te doen. Jy ken die groepe uit aan die portiere – elke groep se portiere het ’n kenmerkende uniform.

Ons s’n dra blougrys hemde en broeke. My mond hang oop. Lenin het by die inligtingsessie gesê die portiere dra elkeen 25 kg op die rug (die Peruaanse regering is ook streng hieroor en weeg die sakke by die kontrolepunte), maar ek het nie besef hóé lyk 25 kg nie. Die Peruane is klein gebou en die pakke is amper groter as die portiere! 

Inka
Die portiere dra elkeen 25 kg

Hiram Bingham skryf in Lost City of the Incas: “The Incas were fortunate in having as their subjects a hardworking race, accustomed to constant effort. Today one may encounter lazy Quichua men, but one never sees Quichua women idle.” Mmm. Ek dink Bingham sou sy woorde gesluk het as hy die portiere by die wegspringplek gesien het. Hier is beslis nie lui mans wat hier ronddrentel nie.

Ons kry ons laaste opdragte voordat ons in die pad val. Die portiere kry weens die gewig op hul rûe en hul spoed altyd voorkeur op die nou bergpaadjie. Trouens, dit geld vir enige mens of dier wat gewig dra. As jy hoor die agterste gids roep “Beyonce”, is jou opdrag “to the left, to the left”, sodat die portiere regs van jou kan verbygaan. 

As jy hoor die agterste gids roep “Beyonce”, is jou opdrag “to the left, to the left”, sodat die portiere regs van jou kan verbygaan.
Inka
Op jul merke, gereed...
Inka
Lenin neem die voortou
Inka
Jy gee altyd voorrang aan vragdraers
Inka
Dit gaan maklik wees!

Ons neem ’n groepfoto by die amptelike beginpunt, en moet almal ons paspoorte uithaal by die eerste kontrolepunt. 

Hoewel ons vanaand op ’n hoogte van 3400 meter bo seespieël slaap, het Lenin gesê die klimwerk begin eers in die laaste sowat twee uur van die dag. “Die eerste deel van die dag is maklik,” het hy ons gepaai. 

Dit gaan maklik wees, sê die swaap aan die aap

Die eerste deel van die dag begin goed. Jy voel die hoogte bo seespieël (almal loop blaas-blaas), maar die uitsig is fantasties. Dis reeds bakkend warm. Ons gaan selfs verby ’n paar piepklein nedersettings waar jy koeldrank uit ’n eenvoudige snoepie kan koop, en 1 sol (R5) kan betaal om ’n spoeltoilet te gebruik. ’n Spoeltoilet! 

In die veldskool
Ruïnes in die verte
David is uitstekend opgelei en passievol oor sy land
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Foto: Canon M50

Waaroor was ek bekommerd? Ek wens myself geluk. Die minstens 500 km wat ek in die afgelope jaar op die Via Francigena in Italië en die Camino in Spanje gestap het, het beslis vrugte afgewerp. Ek is duidelik fiks! 

Met die eerste bultjie (nog lá-á-ánk voor middagete) begin ek besef hier kom moeilikheid. Ek verloor stoom soos ’n dieselenjin wat uitgesny het en die groep stap onder my uit. Bleddie jongmense! Uit ervaring weet ek al dit sal dom wees om vinniger te probeer stap om by te hou. Dan sit ek nou-nou met ’n blaas of ’n besering. Jou pas is jou pas.

Ek verloor stoom soos ’n dieselenjin wat uitgesny het en die groep stap onder my uit...

Die donkie dra dakpanne
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Foto: Canon M50
Inka
So ver het ons al gevorder.

By een van die informele stalletjies sit die groep reeds in die koelte en rus toe ek daar aankom. David, ons gids, wys na ruïnes in die verte. Dis die Qanambamba, ’n rusplek vir die chasquis eeue gelede. Die chasquis was superfikse bodes wat boodskappe honderde kilometers te voet tussen die uithoeke van Suid-Amerika kon aflewer. Hulle kon volgens oorlewering 2000 km in 8 dae aflê, en het selde geslaap.

Die Qanambamba, wat ons nou in die verte sien, was een van die min herberge vir hulle langs die pad. Ek is teleurgesteld dat ons dit net van ver af kan sien, maar David stel my gerus. “Jy sal nou-nou sien.” 

Patallacta van die bergpad af.
Ons is die enigste groep wat daar is.
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Foto: Canon M50

Die hoogtepunt van die dag kom in die uur voor middagete. David het nie gejok nie. Stewart en Stedman se Inka-gids noem dit is onwaarskynlik dat jou groep sal afdaal tot by die Patallacta-ruïnes as jy by die Km82-merker begin stap het, maar ek is bly dat Lenin wel die moeite doen om ons in daardie rigting te stuur. Dit was die grootste rede hoekom ek die Inka wou stap.

Machu Picchu moet jy deel met duisende ander toeriste, maar die ruïnes langs die pad behoort eksklusief aan die stappers alleen. Dis besonders! 

Ek is bly dat Lenin wel die moeite doen om ons in daardie rigting te stuur. Dit was die grootste rede hoekom ek die Inka wou stap.

Die dorp in die berge

Lenin verduidelik dat die nedersetting deur gewone mense bewoon is omdat die bouwerk ronde klippe en pleisterwerk insluit. Navorsers meen dit is moontlik selfs ouer as Machu Picchu. Hierdie terrein is ook in 1912 ontdek deur Hiram Bingham, die ou wat Machu Picchu op die kaart gesit het (lees die storie hier).

Daarna het Patallacta (wat “hoë dorp” in Kwetcha beteken) egter vir langer as 70 jaar onaangeraak gelê. Bingham het minder as vyf uur by die terrein deurgebring en sy notas was so onvolledig dat dit 70 jaar gekos het voordat Hugh Tompson dit in 1980 “herontdek” het. 

Lenin vertel ons die geskiedenis
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Trish van Kaapstad loer deur die venster.
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Foto: Canon M50

Toe het uitgrawings gewys dat dit baie groter is as wat aanvanklik gedink is, en dat dit waarskynlik ’n belangrike rol in die Inkas se godsdienslewe gespeel het. Die terrein het byvoorbeeld ’n sontempel gehad wat ooreenstem met Coricancha in Cusco.

Thomson het hier afgekom op paaie wat Patallacta met Vitcos, nog ’n belangrike Inka-terrein, verbind. Navorsers meen die Inka het die terrein met godsdienstige feesvierings, soos die sonstilstand in Junie, besoek. Patallacta het ook ’n ondergrondse gang van sowat 45 meter wat in die rigting van Machu Picchu wys. Volgens die navorsers sou die son dié tonnel met die sonstilstand verlig.

Thomson skryf: “It was part of a carefully designed network of interrelated administrative and ceremonial sites supporting the regional administrative and ceremonial centre at Machu Picchu.” 

Op ’n vol maag

Die tent staan reeds netjies opgeslaan by ons middageterusplek. Daar is tafels en stoele uitgepak en selfs ’n tafeldoek oor die tafel. Hierdie is g’n hierjy piekniek met pap hotdogs nie.

Drie portiere staan met warm water, ontsmetmiddel en papierdoeke gereed dat ons ons hande en gesigte kan was voordat ons aansit. Ek is aangenaam verras oor die kos wat tafel toe gedra word. 

Inka
Foto: Gerda Engelbrecht
Inka
Ons sit aan vir koningskos

Die voorgereg is aspersieroomsop (tamatiesop vir dié wat nie gluten kan eet nie). Tweede gereg is forel, rys en groente. Ek eet soos een wat op vakansie is. Ek onthou te laat dat ons nog ’n stywe bult vir die dag oor het, en dat dit gaan lol op daardie vol maag. Lenin maan dat ons nog twee uur se stap oor het voor ons volgende rusplek, en daarna nóg ’n uur en ’n half tot by ons kampplek. En, wys Lenin met sy hand soos ’n vliegtuig wat opstyg, ons gaan klím dat dit bars.

Ek eet soos een wat op vakansie is.

Ek het my met die dag misgis. Lenin het gesê die eerste dag is maklik, maar dis in werklikheid 16 km – en geensins ’n maklike 16 km nie. (Soos op die Via Francigena word afstande op die Inka nooit in kilometer aangegee nie – omdat dit misleidend is – maar in hoe lank dit jou sal duur om die afstand te stap.) 

Al troos...

Ek wens ek kan sê dat ek myself met waardigheid gedra het op daardie laaste drie en ’n half uur van die dag. Maar ek sal eerlik wees. Eerstens was dit vir my uiteraard veel langer as drie en ’n half uur. Die fikse jongmans in die groep het dit in soveel tyd kafgedraf, maar ek het veel langer nodig gehad.

David is die gids wat die kort strooitjie getrek het moet saam met die “agterste groep” (ek!) stap. Maar David het meer geduld as ’n Graad R-onderwyser. David praat onverstoord oor sokker (die Wêreldbekertoernooi in 2010 in Suid-Afrika het ’n groot indruk gemaak) en kort-kort moedig hy my in ’n vaderlike stem aan met: “You’re doing well. Keep sipping.”

Elke keer as ek David vra hoe ver ons nog moet stap, tuur hy peinsend in die verte en mymer met die grootste oortuiging: “Nog so 90 minute.” Dan suffer ek nog ’n halfuur, en as ek weer vra, is dit steeds nog 90 minute. Ek begin wonder of Moses en Aaron weer die tyd tot stilstand laat kom het. En die pad klim en klim.

Inka
Ons trek nou hiér.
Inka
Bromelias in die boom.

By nog ’n kontrolepunt wys hy vir my op ’n kaart hoe ver ek nog moet stap. “About 30 minutes left...”

Ek begin wonder of Moses en Aaron weer die tyd tot stilstand laat kom het

Dis egter die eerste kaart waar ek mooi kan sien hoe Dag 2, die monster van die Inka, gaan lyk.

David maak die pad korter deur kort-kort interessante plante en voëls uit te wys, onder meer ’n bromelia wat binne ’n boom groei. Ek neem alles af met die Canon M50 wat om my nek hang – dis die enigste manier waarop ek my asem kan terugkry. Maar sy kennis oor die Inka en sy passie vir die land is aansteeklik. Jy vergeet hoe moeg jy is.

Oos, wes, tuis bes

Die tentjies staan netjies in gelid opgeslaan toe ek daar aankom (en ook net ’n halfuur ná die tyd wat Lenin geskat het). Ons kampplek is op 3400 meter bo seespieël. Ek kry my groen eenmantentjie, maar dis wraggies nie veel kleiner as die ander tente waarin twee mense moet inwurm nie. Voor jou tent wag ’n kommetjie met warm water, jou “bad” vir die aand. Jy is veronderstel om net jou hande en gesig daarmee te was, maar ek trek eenvoudig my tent se ritssluiter toe en was my van kop tot tone.

Ons het trouens sulke goeie oefening met die Kaap se waterbesparings gehad, dat ek nog water oor het om my Hi-Tec-hemp uit te spoel. (Wat ek ’n uur later berou toe ek besef ek gaan daai hemp in der ewigheid nie droog kry nie.)

Inka
My verblyf vir die nag.
Inka
Die Suunto wys die hoogte bo seespieël.

In die eetkamertent sit die res van die groep reeds gesellig en kaart speel. Die uur voor aandete is “happy hour”. Dan dra die sjefs kookwater vir koffie, kokatee of warm sjokolade aan. Ook vuurwarm springmielies en handtertjies. Ek voel reeds beter oor die dag. “Het jy gesien?” vra Lenin later vir my, “minstens vier stappers het vandag omgedraai.” Ek het stappers van voor af sien kom wat in die “verkeerde rigting” gestap het, maar nie dadelik besef dit is mense wat tou opgegooi het nie. There but for the grace ..., dink ek.

Oor aandete (groentesop, hoender en groente) lig Lenin ons in oor die volgende dag se stap. Dis ’n stywe 17 km, en boonop die moeilikste 17 van die Inka. Ons roer al 05:00. Die eerste vier uur van die dag is steil trappe en opdraandes tot aan die bo-kant van Dead Woman’s Pass. Daarna is dit sowat twee uur se steil afdraande tot by die middageterusplek. En dan lê die “second summit” vir die dag voor. Eers agterna het ek in my notas gesien dat Lenin ons wel oor die “second summit” gewaarsku het, maar my brein het dit die vorige aand heeltemal uitgeskakel. 

Dis ’n stywe 17 km, en boonop die moeilikste 17 van die Inka.

Dalk was dit goed so, want minstens het dit beteken dat ek moeiteloos aan die slaap geraak het, en taamlik diep geslaap het. My Suunto Spartan het gewys dat ek vir sewe uur vás geslaap het. Deur die nag het ek die toilet nodig gekry en toe het die realiteit oor die toiletsituasie ook eers ingesink, maar ek sal vir eers niks dáároor sê nie.   

Inka
Machu Picchu is op die 10 sol-noot
Wenk: Oor munte op die Inka

Op die eerste dag is daar wel nog ’n paar plekke waar jy ’n spoeltoilet teen 1 sol (sowat R5) kan gebruik, en op ’n paar plekke kan jy koue koeldranke koop. Dra dus kleingeld in jou sak.

Aan die ander kant, jy gaan so dankbaar wees oor ’n toilet jy sal bereid wees om 10 sol daarvoor uit te haal. 

• Wil jy ook “die Beyonce” doen? Kom toer saam met Weg. Lees hier


Weg se reis is moontlik gemaak deur CanonHi-Tec en Trappers. Alle foto’s is met die Canon M50 geneem. Weg se verblyfreëlings is deur Intrepid Travel betaal.