Hierdie blogreeks is moontlik gemaak deur CanonHi-Tec, en Trappers.

Lenin het die vorige aand gesê ons sal vanoggend wakker gemaak word met kokatee by ons tente, maar dit kan natuurlik nie sonder ’n geklengel van waterkanne gemaak word nie. Dis 04:30 en skemerdonker, en ek is wawyd wakker. Maar my Suunto-horlosie wys dat ek vir minstens 7 uur soos ’n klip geslaap het. 

Inka
Gereed vir die dag
Inka
Die Terra Firma dra sy reënjas

Op die gesigte by die badkamer sien ek egter ek is in die minderheid. Ondanks ’n stewige staptog op Dag 1 met heelwat klimwerk, het baie van my groeplede steeds nie goed geslaap nie.

Trish van Kaapstad kla nou al vir die derde oggend dat sy nie ’n oog toegemaak het nie weens maagkrampe, en jy sien die sakke onder haar oë sit. Ook Georgie, goed die helfte van my en Trish se ouderdom, kla oor maagkrampe (’n simptoom van hoogtesiekte – ons het op 3700 m bo seevlak geslaap). 

Inka
Ek, Trish en Georgie is eerste op die pad
Inka
Ons begin van die eerste honderd meter af klím.j
Inka
En klim...
Inka
Dis Klever

Georgie en Trish het reeds met Lenin gepraat. Georgie het oorweeg om tou op te gooi en om te draai, want ’n familievriend het ’n paar jaar gelede gesterf weens hoogtesiekte, maar Lenin het haar oorreed om vandag net stadig te stap.

Sy en Trish het dus besluit om ontbyt oor te slaan en voor die groep weg te spring. Ek sien ’n geleentheid en vra vinnig of ek by die skilpadgroepie kan inval. Terwyl die ander dus naderstaan vir ontbyt, val ons drie onder die wakende oog van Klever (uitgespreek “Clever”, soos in “Slim”) in die pad. Skaars 50 meter van die kampterrein af begin die eerste trappe klim. En dit klim. En klim. En klim.

Die Knysnabos se liefdeskind

Die eerste twee uur van die dag sluk die berg ons ál dieper in. Die roete is steil, maar pragtig. Selfs wanneer jy nie die rivierstroom langs jou sien nie, hoor jy die ruising, en die plantegroei herinner jou aan Knysna. As die Knysnabos en ’n ski-helling ’n liefdeskind sou hê, sou hy soos daardie eerste twee uur van Dag 2 lyk.

Klever verstel my stapstokke en moedig my aan met “look for the short side of the steps”. Die trappe is eeue gelede uit rotse gekap en nie eweredig nie. Veral die kortes kry swaar. Jy spaar energie as jy telkens die kortste deel van die trap gebruik. Dit beteken wel dat jy soos ’n dronk student heen en weer slinger, want die kortste deel van die trap is nie elke keer aan dieselfde kant nie. Georgie moet elke paar tree met haar hande op haar knieë staan. Sy is naar, maar daar kom net hyggeluide by haar mond uit.

As die Knysnabos en ’n ski-helling ’n liefdeskind sou hê, sou hy soos daardie eerste twee uur van Dag 2 lyk.
Inka
Hier kom die snoepie verby

Die res van die groep haal ons binne ’n uur in, en wanneer Trish haar man, Simon, sien, kry sy ’n tweede asem en tel sy spoed op.

Tot jou skaamte kom daar ook elke nou en dan ’n Peruaanse vrou van ’n gevorderde leeftyd op ’n bekwame spoed by jou verby – boonop met ’n hengse pakkaas in ’n helder bondel op haar rug vasgebind. Ek is dankbaar oor my Terra Firma met sy 5 kg gewig. Ná die eerste twee uur verstaan ek waarheen die vroue op pad is. Die trappe maak oop op ’n pragtige grasgroen oopte in die middel van die berge, Llulluchapampa, en die Peruaanse vroue het daar vir hulle ’n snoepie ingerig. Vir sowat R20 kan jy ’n yskoue koeldrank koop. Hier is ook ’n toiletblok.

Inka
Dis teetyd.
Inka
Die res van ons groep.
Inka
Hier kan jy vir oulaas koeldrank koop
Inka
En hier is 'n badkamer.

Lenin por my egter aan om nie te lank te rus nie – Dead Woman’s Pass, die hoogste spits op die Inka, lê nog voor. Dit help nie om uit te stel nie.

En dis ’n kuitkouer. Dis een van daardie bulte waar jy na die bokant mik, en sodra jy “bo” kom, swenk hy in die ander rigting en moet jy nóg klim. Ek hou die Suunto-horlosie dop om te sien hoe ons hoogte bo seespieël verander, want ek weet Dead Woman’s Pass is op 4200 meter. Die laaste 80 meter suig die laaste bietjie energie uit jou uit. 

Inka
Nou pak ons Dead Woman's Pass.
Inka
Dis mooi, maar moeilik.
Inka
Amper bo
Inka
Jy dink jy's daar, dan is jy nie
Lenin het gister nog gepraat dat ons ’n groepfoto bo-op die pas moet neem, maar die groep het lankal aangestoot. Hier staan ek nou, ’n groep van een! David, wat sedert die oggendpouse by Klever oorgeneem het om die stadige stappers op te pas, neem geduldig foto’s van my.
Inka
Ek is bo!
Inka
By die bordjie
Inka
Ons hoogte volgens die Suunto Spartan

Alles wat opgaan moet weer afgaan

Gisteraand het ’n groeplid gesê jy moet nooit ’n opdraand vertrou nie, want as die opdraand ’n kuitkouer was, gaan die afdraand ’n kniekouer wees. En Dead Woman’s Pass stel weer nie teleur nie. Eers tjop jy af op die opdraand, en dan bars jy op die afdraand. Maar ek kan nie dink dat ek al ooit in so ’n mooi omgewing gesuffer het nie!

Die res van die groep is al yskoud gewag teen die tyd dat ek en David by die etenstent aankom. Ek voel sleg daaroor. Ek kan my voorstel hoe dikmond ek sou wees as ek ’n uur lank vir iemand moes sit en wag. Maar as die groep omgekrap voel, wys niemand dit nie. Middagete is ’n lafenis.

Ons eet quinoa-sop vir voorgereg, steakrepies, groente, rys én chips vir hoofgereg, en gebakte vla vir nagereg! Hoe op aarde maak jy gebakte vla in die middel van nêrens? Klink drie stysels by een ete vir jou kwaai? Jy moes die bulte gesien het.

Inka
Op pad na die volgende kruin
Inka
Ek weet ek kan.
Inka
Ek trap nog lekker vas met die Hi-Tecs.
Inka
Lekker alleentyd.
Inka
Lenin geniet die stap.
Inka
Ons vorder mooi.

Uhm...? Die tweede wát?

Dis in hierdie stadium dat Lenin weer opstaan en keel skoonmaak, hy is gereed om ons oor die middag se roete in te lig. Ons het op die allerminste nog vier uur oor, sê hy. Ek het my emosioneel net voorberei op ’n moeilike stap tot by middagete. Die “second summit” waarvan Lenin gisteraand gepraat het, het ek gerieflik uit my kop geskuif. Boonop is daar skielik van die sonnige weer geen sprake nie. Binne die kwessie van twee lepels gebakte vla het die weer toegetrek en hang swaar, donker wolke bo die tent.

Ek het my emosioneel net voorberei op ’n moeilike stap tot by middagete...

Ek trek die buitenste dop van my Hi-Tec-baadjie aan, maar ek moet dit kort-kort aan- en uittrek. Dis koud en die wind waai yskoud oor jou nat lyf. David praat my deur daardie laaste paar uur van die dag. Ons hou saam die Suunto-horlosie dop: Middagete was op 3700 meter, en ons slaap weer vanaand op 3900 meter. Ons verkyk ons aan die pragtige voëltjies langs die pad, en selfs in die taamlik bewolke toestande en sonder ’n driepoot, kry ek ’n goeie foto met die Canon M50.

Daar wag darem nog ’n bederf vir ons, die ruïnes van Runcu Raccay. Hierdie ruïnes is ook deur Hiram Bingham ontdek, wat aanvanklik gedink het dat dit ’n wagtoring was. Paul Fejos het egter in die jare veertig verdere uitgrawings gedoen en meen dit was ook ’n herberg vir die chasquis – die super vinnige bodes van die 15de eeu wat feitlik nooit geslaap het nie.

Inka
Runcu Raccay.
Inka
Klever vertel vir ons van Runcu Raccay
Inka
'n Suikerbekkie.
Inka
Die streek het baie vlinders.

Die verlore Inka-ruïne

In hierdie stadium het die dag absoluut alles uit my geneem: my hak pyn, ek kan my knie voel klop. Dis vieruur die middag, wat beteken dat ek al amper 11 uur op die pad is, en dit was nie ’n maklike 11 uur nie.  In die laaste uur van die dag kom ons by die onderpunt van ’n koppie en gee David my die opsie om die ekstra heuwel uit te klim om die Inka-sterrewag Sayac Marca te sien, of reguit deur te hou kamp toe.

Die naam Sayac Marca beteken die “die ontoeganklike dorp” en die meeste lede van my stapgroep sit reeds met lang bene op die heuwel. Ek skud my kop en weet dadelik dat ek dit later gaan berou, maar ek fokus nou net op die warm sjokolade van “happy hour”. 

Inka
Sayac Marca, die “ontoeganklike dorp”

Ek stap juis die Inka ter wille van die ekstra argeologiese skatte, maar die dag het my getap. As ek geweet het dat die kamp net om die draai van daar af is, sou ek dalk anders besluit het. Die heuwel wat ek uitsny gee my egter die kans om die kampterrein by Chaquicocha saam met die grootste deel van die groep te bereik. Ons tente staan weer netjies in gelid, die regte duffelsak by die regte tent, en ’n portier draf met ’n bakkie warm water nader sodat ek my gesig en voete kan was. Eenkant sit ’n paar van ons groep reeds en kaart speel – dit uitsig om ons is asemrowend.

 Ek besef skielik hoe gelukkig ek voel en hoe bevoorreg ek is.  

Eenkant sit ’n paar van ons groep reeds en kaart speel – dit uitsig om ons is asemrowend.

Om 18:00 skuif ons tent toe vir “happy hour” – die kokke dra warm springmielies aan en skink warm sjokolade terwyl die mis oor die kampterrein toesak. Dit het ongemerk koud geword. Ek wikkel my snoesig toe in my Hi-Tec-vliesbaadjie (wat genadiglik droog is). Ek kan nie glo ek sit in die middel van die Andes – minder as twee dae se stap voor Machu Picchu nie. Ek besef ook dat die kokke nie kan draai met aandete nie, want vanaand gaan ek sweerlik met my kop in my bord aan die slaap raak.

Inka
Ons tente staan opgeslaan.
Inka
Die portiere kry die eetkamertent gereed.
Inka
Kyk hoe idillies is die uitsig.
Lenin se inligtingspraatjie oor môre se skof is musiek in my ore. Ons stap net sowat 7 km omdat daar môre meer as een antieke Inkaterrein is wat ons gaan besoek. 
Inka
Kokatee.
Wenk: Kokatee? Gedorie? Is jy mál…?

By die huis het ek hoog en laag gesweer ek sal nie my lippe aan kokatee sit nie, want dis dwelms en dwelms is ... sies!

Maar die Peruane drink al eeue lank kokatee teen hoogtesiekte en as ’n energiebron. Ek was verras om te hoor dat die Peruane ook hoogtesiekte kry, maar Lenin het my herinner dat hulle dikwels vanaf bv. Cusco (hoogte: 3700 meter bo seespieël) na byvoorbeeld die reënboogberg (5200 meter) reis. Dan word selfs die Peruane siek.

Kokatee is egter ’n stimulant – drink dit dus veral in jou eerste paar dae net tot voor middagete. Ons gids het ons afgeraai om kokablare te kou (soos die portiere maak), omdat die blare ongewas gedroog word en die bakterieë jou maag kan omkrap. Onthou dat kokatee en kokablare deur die wet as kokaïen geklassifiseer word. Moet dit dus nie oor die grens probeer bring nie.

Trouens, dit is nêrens anders ter wêreld wettig as in Suid-Amerika nie. Ek kan darem sê ek het liters vol daarvan gedrink en geen nagevolge oorgehou of onttrekkingsimptome ervaar nie.

  • Sien jy kans vir Dead Woman’s Pass? Jy kan presies dieselfde toer as Gerda Engelbrecht doen. Lees hier

Weg se reis na Peru is moontlik gemaak deur CanonHi-Tec en Trappers. Alle foto’s is met die Canon M50 geneem. Weg se verblyfreëlings is deur Intrepid Travel betaal.