Hierdie blogreeks word aangebied deur Hi-TecTrappers en Canon

Ná die stewige 17 km wat ons op Dag 2 afgelê het, word ons vanoggend beloon met ’n ekstra uur se slaap. Ons hoef eers 06:00 op te staan. Ek moes iewers in die nag opstaan om die toilet te gebruik en kon voel hoe die luggie byt. Teen 05:30 word ek egter wakker van die gerusstellende geluid van ketels wat klingel. Die ontbytspan is besig om vir ons kokatee te maak.

My Suunto Spartan wys ek het net kort duskant agt uur lank vás geslaap. Ek begin my tone wikkel en my bene roer om te bepaal wat die skade is ná dag 2, maar is amper verbaas dat ek nie seer of styf is nie. Ek voel verbasend goed.

Inka
Foto: Canon M50

Vir ontbyt dra die kelners plaatkoekies met karamelstroop tafel toe. Daar is selfs glutenvrye weergawes vir diegene met allergieë. Vanoggend is niemand haastig om in die pad te val nie. Ons stap slegs sowat 7 km omdat Lenin tyd beplan het dat ons drie ruïnes kan besigtig. Ons moet ook saam stap – niemand mag vroeg wegspring nie. 

Inka
Bly te kenne.
Inka
Vroegoggend moet ons nog baadjies dra

Ná ontbyt tree Lenin almal aan: die stappers sowel as die personeel, en word ons in ’n plegtigheid formeel aan mekaar voorgestel. Elke portier sê sy naam en ouderdom, hoeveel jaar hy al op die Inka werk en wat sy spesifieke taak in die groep is. Ook ons kry ’n beurt om ons aan die personeel voor te stel. Daarna kan ek die Terra Firma (nou al merkbaar ligter omdat die rehidrasiemiddel en eetgoed minder raak) op my rug swaai en begin stap. 

Omdat die luggie byt begin ek in my Hi-Tec Lady Orion-baadjie stap, maar ek moet dit binne die eerste halfuur uittrek. 

In die treë van die Inka

Lenin het vroeër gesê ons klim die eerste sowat 40 minute van die oggend, en daarna is dit ’n rustige stap. Ná die eerste 40 minute kyk ons terug na die kamp by Chaquiqocha wat ons agtergelaat het. Die tentdorp moet nog afgeslaan word, maar die portiere is eers besig met iets wat van bo af soos ’n speletjie lyk. “Wat maak hulle?” vra ons vir Lenin. Lenin lag. Die portiere het ook hul eie kultuur en onderlinge kampdissipline.

Iemand het ’n reël oortree en die res van die groep is besig om hom met die opgerolde slaapmatrassies te karnuffel. Hy moet deur “die gauntlet” hardloop. Dit lyk meer na pret as straf. 

Inka
Ons klim die eerste 40 minute.
Inka
Ons stap vandag op die oorspronklike Inka-pad
Inka
Dis 'n mooi dag vir stap
Inka
Die paadjie deur die berge
Inka
David en Klever kom tydsaam aangestap...
Inka
DIs 'n pragtige roete.

Ons loop vandag heeldag op die oorspronklike pad wat deur die Inkas aangelê is. Hiram Bingham het nie net vir Machu Picchu ontdek nie (lees die storie hier), maar hy het op dieselfde reis destyds ook op hierdie historiese voetpad afgekom. 

Inka
Lenin bel teetyd huis toe
Inka
Klever geniet die uitsig.

Teetyd is op ’n koppie met die mooiste uitsig. Lenin, Klever en David pluk onverwags selfone uit – jy het wraggies hier ontvangs. Maar ek swerf (“roam”) nie en sal nog ’n dag moet wag voordat ek ’n whatsapp huis toe kan stuur. 

Inka
Dis ek by die stad tussen die wolke
Inka
Simon en Trish lyk ook in die wolke.
Inka
Ons kry tyd om die terrein te verken
Inka
Die uitsig is pragtig.

Af ondertoe, na die stad in die wolke

Van hier af moet ons egter met 3 000 steil trappies ondertoe klim. Ek wonder altyd wie het die asem gehad om dit te tel. Die trappe is meer as 500 jaar oud en ongelyk. Ek stap soos ’n trapsuutjies op ’n warm plaat. As jy hier skeeftrap, gaan vier portiere jou moet stad toe dra. Ek kan my net voorstel hoe hierdie pad op ’n nat dag sal wees. 

Ons eerste ruïne vir die dag is Phuypatamarca. Omdat jy van “bo” af kom, het jy die luukse om die terrein eers uit die lug te sien. Dis indrukwekkend. Hierdie terrein is ook deur Bingham ontdek, maar hy het volgens sy notas net ’n paar van die geboue bo die bosse sien uitstaan en hom heeltemal misgis met hoe groot en belangrik die terrein was. Eers drie dekades later (tussen 1940 en 1942) het Paul Fejos die terrein begin skoonmaak en twee plazas, vier groepe huise en ’n verskuilde woning in die muur ontdek.

Omdat jy van “bo” af kom, het jy die luukse om die terrein eers uit die lug te sien. Dis indrukwekkend.

Hy het die dorp “cloud level town” genoem, wat gepas is omdat die dorp in die wolke weggesteek is toe ons daar aankom. As die wolke wegtrek, soos later die dag gebeur, kan jy kilometers ver in die Urubambavallei afkyk. Die terrein het moontlik ook aan Pachacutec of sy opvolger Topa behoort en het vyf antieke baddens wat nie gebruik is vir was nie, maar vir rituele waarin water aanbid is. 

Inka
Decklin klim ondertoe

Die steil-steil trappe wat ons vandag gebruik, is ’n Inka-roete wat eers in die jare tagtig ontdek is. Stewart en Stedman verwys na hierdie deel as die mooiste deel van die Inkaroete en ek moet saamstem.

“This is the most impressive set of steps on the entire Inca Trail. The Incas turned a 500 m hillside into a staircase, etching each step out of the natural shape of the bedrock: one giant boulder has over 30 steps carved into it. The trail coils down into dense cloud forest, one of the most delightful wooded sections on the trek.”   

Inka
Die sonskynhelling
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Jy kyk af in die Urubambavallei.
Inka
Ek (links) en 'n llama
Inka
Die llama se paspoortfoto

Llamas op die ‘sonskynhelling’

Jy het nog nie jou asem terug van Phuypatamarca nie, dan wag die volgende Inka-ruïne al op jou: Antipata. Ook sy naam is gepas, want dit beteken “die sonskynhelling”. Hierdie terrein is ook in die 1940’s deur Paul Fejos skoongemaak. Hy het 48 terrasse hier gevind. Hier is geen plazas of seremoniële bouwerk nie, wat die vermoede laat bestaan dat dit vir landboudoeleindes gebruik is.

Ook sy naam is gepas, want dit beteken “die sonskynhelling”.

Die Inkas het vyf eeue gelede al besef dat sommige grond meer vrugbaar is as ander, en die grondmonsters wat hier geneem is, wys dat Peruane van honderde kilometers ver af grond hierheen aangery het. As jy vandag hier aankom, sal jy waarskynlik op ’n paar makkerige llamas afkom, wat heeltemal geduldig selfies saam met jou neem. As jy onder staan, kan jy die skaal van Antipata waardeer. Dis enorm. 

Inka
Van onder af kan jy Antipata se skaal waardeer. Dis Melanie wat soos 'n mier daar staan
Inka
Ryan gooi sy arms oop

Al het Fejos altesaam 40 000 vierkante meter skoongemaak, het hy vas geglo dat daar nog Inka-terreine is wat ontdek moet word.

Lenin tuur in die verte as hy dit noem, na waar ruie bosse die landskap bedek, en vra dan mymerend: “Glo julle daar is nog Inka-ruïnes wat wag om ontdek te word?” Ons kyk na die digte bosse onder ons. “Ja, knik ons ons koppe.” Lenin fluister dit amper: “Ek dink ook so.” 

Inka
Deur die digte plantegroei.

Die ontbossing van die gebied rondom Antipata bedreig egter ’n baie skaars orgidee wat inheems aan die omgewing is, en daar is gerugte dat die Peruaanse regering Antipata wil sluit en die plantegroei wil toelaat om weer die terrein oor te neem. Ek voel bevoorreg dat ek nog een van die handvol mense was wat dit kon sien.

Inka
Dié skaars orgidee se naam beteken altyd jonk.

Koek vir middagete en ’n yskoue stort!

Vanaf Antipata is dit nie meer ver na die kampterrein by Winaywayna nie. Die kampterrein is sowat 6 km vanaf die boonste hek na Machu Picchu en die laaste plek waar stappers mag oornag. Ons kom daar aan rondom middagete, want dit sal ons die namiddag gee om die ruïnes by Winaywayna behoorlik te verken.

By die kampterrein staan die oorblyfsels van die ou Trekkershotel, wat ’n paar jaar gelede ontruim is weens aardbewingskade. (’n Koue bier saam met hierdie uitsig sou ’n wenner wees, dink ek.) Ons tente staan netjies in gelid en die kostent is gereed toe ons daar aankom. Vandat ons die portiere laas gesien sports maak het by Chaquiqocha, het hulle stil-stil by ons verbygekom, die tentdorp ingerig en ’n feesmaal voorberei. Hulle dra selfs ’n koek na die tafel, vuurwarm uit die pot! 

Inka
Die tente staan netjies opgeslaan
Inka
Middagete
Inka
'n Koek vir nagereg
Inka
Net 6 km oor
Hulle dra selfs ’n koek na die tafel, vuurwarm uit die pot!

Ons het daarna ’n uur om te rus en te stort. Daar is twee yskoue storte. Ek is dapper en druk deur, en voel onmiddellik na ’n nuwe mens. Dis my eerste stort sedert Maandagoggend, en dis nou al Woensdagmiddagete. Teen laatmiddag neem Lenin ons na die Winaywayna-ruïnes, wat na die seldsame en bedreigde orgidee genoem is. Die naam beteken “altyd jonk”. 

Inka
Groepfoto
Inka
Winaywayna is na 'n skaars orgidee genoem
Inka
Lenin gee 'n geskiedenisles.
Inka
Ons het die hele terrein vir onsself.
Inka
Dis Nick.
Inka
Klop-klop, is iemand tuis.
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Foto: Canon M50

Die laaste groet

Die ruïnes slaan jou asem weg. Soos Antipata bestaan dit uit verskeie landbouterrasse waarop gewasse soos quinoa en aartappels aangeplant is. Die fyn steenwerk hier dui egter daarop dat belangrike mense by hierdie terrein gewoon het. Dit word beskou as van die mooiste voorbeelde van die Inka-bouwerk wat jy kan sien.

Danksy ’n slim dreineringstelsel het water vanaf die heilige terrein by Phuypatamarca hierheen gevloei om die tien heilige baddens te vul. Hoewel die kampterrein naby die ruïnes stampvol is, is dit net ons groepie van Intrepid Travel wat die namiddag by die ruïnes is. 

Dit word beskou as van die mooiste voorbeelde van die Inka-bouwerk wat jy kan sien.
Inka
Happy hour.

Vanaand is “happy hour” ’n uur vroeër as gewoonlik. Ons moet vroeg eet en vroeg in die bed kom, want ons moet môre douvoordag roer vir die laaste bultjie na Machu Picchu. Ná ete gaan Lenin vir oulaas die planne vir môre met ons deur. Ons sal al om 03:30 geroep word. Dis deels omdat ons so vroeg as moontlik deur die hek by Machu Picchu wil kom, maar ook deels omdat die portiere om 05:00 ons bagasie op ’n trein kan sit na die dorp Machu Picchu toe. As hulle die trein verpas, moet hulle die vrag ’n hele paar ekstra kilometer dra. 

Ons moet vroeg eet en vroeg in die bed kom, want ons moet môre douvoordag roer vir die laaste bultjie na Machu Picchu

Ná Lenin se inligtingsessie roep hy vir oulaas al die portiere, gidse en kokke na die tent toe. Ons oorhandig koeverte met ’n fooitjie aan elkeen, en groet daarna elkeen plegtig met die hand. Môreoggend gaan daar nie tyd vir koebaais wees nie. 

Inka
Ek laai my Suunto met die CAT-foon. Kyk waar is my stewels ingedruk
Inka
Ons slaap vanaand op 2800 meter bo seespieël.

Vanaand se bed is vir oulaas erg ongemaklik. Die tent staan so skeef ek is bang ek rol by die deur uit en by die afgrond af. Lenin se raad was dat jy jou stapstewels onder die laagste punt van die matras indruk. Om dubbeld seker te maak, druk ek my Hi-Tec Altitudes onder die een kant in, en my Ula-sandale onder die ander punt.

Ek laai my Suunto-horlosie met my CAT S41-foon sodat ek gereed is vir ons laaste stapdag. In die nag word ek wakker omdat ek koud kry, en trek sommer die pienk binnekant van my Hi-Tec-baadjie aan sodat ek weer snoesig aan die slaap kan raak. Ek lê in my bed en dink na oor Lenin se vraag oor of ons dink daar wag nóg Inka-terreine wat ontdek moet word. Die gelukkige drommel wat die geleentheid gaan kry om daarna te soek, dink ek voordat ek aan die slaap raak.

Inka
Ek beveel hierdie gids aan
Vandag se wenk: Bennie, Bennie Boekw-u-u-u-rm ...

As jy lus het om op te lees voor jou reis, hier is die boeke wat ek sal aanbeveel:

  • The Inca Trail – Cusco & Machu Picchu deur Alexander Stewart en Henry Stedman.

Die gids sit die verskillende roetes in detail uiteen en was onontbeerlik. Myne was R387 by Exclusive Books.

  • Lost City of the Incas deur Hiram Bingham. Hierdie is die boek wat Bingham self oor sy “ontdekking” van Machu Picchu geskryf het. Ek het die eeufeesuitgawe (honderd jaar sedert sy reis) op kindle afgelaai, waarin Hugh Thomson stewige konteks vir Bingham se reis bygevoeg het. Dit lees soos ’n Indiana Jones-verhaal – leunstoelreisgers sal dit ook geniet. Kindle: $5.
  • The White Rock – An Exploration of the Inca Heartland. Hugh Thomson het dekades ná Bingham die terreine herbesoek. Die boek gaan oor sy reis. Kindle: $5.
  • On foot to Machu Picchu – A duff trekker’s adventure along the Inca trail is Sharon McKee se reisdagboek. Dit lees lekker. Kindle: Sowat $4.
  • Wil jy ook drie Inka-terreine op een dag besoek? Jy kan presies dieselfde toer as Gerda Engelbrecht doen. Lees hier

 

Wegse reis na Peru is moontlik gemaak deur CanonHi-Tec en Trappers. Alle foto’s is met die Canon M50 geneem. Weg se verblyfreëlings is deur Intrepid Travel betaal.