Hierdie blogreeks is moontlik gemaak deur CanonTrappers en Hi-Tec.

Ek slaap die nag onrustig. Dis ’n kombinasie van ’n seer lyf, ’n baie ongemaklike slaapposisie – die tent staan afdraand en ek moes my Hi-Tec Altitude-stewels onder die “afdraand” indruk om te keer dat ek by die tentflap uitrol – en loutere opgewondenheid. Machu Picchu is net 6 km ver! 

Ek is amper verlig toe my Suunto Spartan wys dit is 03:20 en ek kan begin roer. Toe ’n portier om 3:45 met kokatee na my tent kom, is ek reeds aangetrek. Ek het die meeste van my goed gisteraand in my duffelsak gedruk sodat die Terra Firma-rugsak vandag so lig as moontlik is. Ek het wel nog my Hi-Tec-reënbaadjie by my, want Lenin het gewaarsku dit kan enige oomblik reën.

Om 04:00 stoot ek my duffelsak by die tentdeur uit en ’n paar gretige hande staan gereed om dit by my te neem. Vanoggend kan jy sien die portiere is ’n goed geoliede span. Daar is geen tyd vir praatjies of speletjies nie. So vinnig as wat twee stappers slaperig uit ’n tent verskyn, so vinnig sak daai tent inmekaar en verdwyn dit in ’n seilsak. Dis ook die enigste oggend waarin ons nie aansit om die etenstafel nie. Die eettent word al afgeslaan.

Ontbyt is ’n kardoessak met ’n toebroodjie, boksie sap, ontbytpap en ’n pakkie Oreos-koekies. Om 04:15 staan ons in gelid aangetree sodat ons in die ry kan val om deur die eerste hek van die oggend te gaan. 

Inka
Ons wag vir dagbreek.

Wag vir dagbreek

Vroeër jare het stappers in die middel van die nag vertrek sodat hulle die son oor Machu Picchu kon sien opkom, maar die Peruaanse regering het om veiligheidsredes ’n stokkie daarvoor gesteek. As jy die pad sien, sal jy verstaan. Die voetpad loop knus teen die berg met ’n gapende afgrond langs jou en verraderlike kronkels. Boonop is die oppervlak ongelyk. As jy ’n voet verkeerd sit, is jy dood. 

Inka
Die hek gaan oop.
Inka
Die laaste kontrolepunt voor Machu Picchu.
Inka
Dis hoekom jy nie in die donker mag stap nie.

Die hek gaan deesdae eers om 05:30 oop. Toe ons om 04:30 by die ry inval, is ons die laaste groep wat daar aankom. Die stappers voor ons dra almal koploggies, wat dit laat lyk asof ’n weermag vuurvliegies gereed is om Machu Picchu binne te val. Liewe hemel, dink ek. Hoe vroeg het die ánder groepe dan opgestaan? Ek gee eerlikwaar nie om nie. Omdat ek stadig stap, sou ek net die mense agter my frustreer het as ek voor in die ry was. En Machu Picchu staan al 500 jaar lank waar hy staan – ek dink dit sal nog daar wees as ek ’n kwartier ná die ander groepe daar aankom.

Toe ons om 04:30 by die ry inval, is ons die laaste groep wat daar aankom.

Ons sit ’n uur in die pikdonker en wag, maar dis nie ’n slegte wag nie. Ons gesels vir oulaas vrolik terwyl ons ontbyt eet, skerts saam met stappers van ander groepe en dink terug aan die drie dae wat reeds agter ons lê. Dis nog sterk skemer toe die hek om 05:30 oopgaan en die slang mense begin beweeg. 

Inka
Laaste dag.
Inka
Vir oulaas op 'n geskiedkundige paadjie.
Inka
Met interessante goggas om jou
Ons groep is laaste deur die hek en Lenin druk vir oulaas die pas in die rooi. Ek hou met moeite by. Net 6 km. Net 6 km, sing ek in my kop. Elke kilometer is een nader aan Machu Picchu.Lenin het belowe daar wag ’n “verrassing” langs die pad, en kort voor die Sonvalleipoort sien ons waarna hy verwys het. Die laaste 50 meter is so steil jy moet omtrent handeviervoet daar uitklouter. 
Inka
David se skelm foto.
Inka
Lenin by die Sonvalleipoort.

David neem hoflik my stapstokke by my sodat ek makliker kan klouter, en wys dan ek moet die Canon-kamera sommer ook vir hom aangee sodat dit nie teen die rotse kap nie. Hy neem skelm ’n foto van my van onder af. Toe ons bo is, kom hy en Klever agterna. Hulle het elkeen ’n bos stapstokke en rugsakke in hul hande en knip nie ’n oog oor die steil stel trappe nie.

Soos in ’n droom

Bo-op die bult wag een van die hoogtepunte van my lewe. Die Sonvalleipoort. Die mis hang oor Machu Picchu onder in die vallei, maar dit demp nie die feestelike atmosfeer nie. Die ander groepe staan reeds daar en selfies neem. (Dit het hulle toe níks gehelp om eerste in die ry te wees nie.) Almal jil.

Bo-op die bult wag een van die hoogtepunte van my lewe

Vir diegene wat nié op Dag 1 omgedraai het nie, wat op Dag 2 voortgebeur het tot op Dead Woman’s Pass en daarna die derde berg in twee dae oorgesteek het, wat gister die laaste kilometers deur die mooiste dorpe in die wolke kafgedraf het, het die oomblik uiteindelik aangebreek. 

Inka
Machu Picchu lê nog onder haar donskombers.
Inka
Stappers van oor die wêreld staan geduldig en wag vir die mis om weg te trek.
Inka
Ander maak sports terwyl hulle wag ... Dis Ryan en Simon wat my fotobom.
Inka
Hulle T-hemde wys mooi hoe die roete loop.
Inka
Foto: Canon M50

Ons is by Machu Picchu. Ek onthou hoe groot die oomblik ook vir Hiram Bingham in 1912 was: “It seemd like an unbelievable dream. [...] It fairly took my breath away. What could this place be? Why had no one given us any idea of it? [...] Surprise followed surprise in bewildering succession.” 

Ons gaan vir sowat 20 minute hier wag, verduidelik Lenin. Net om die mis kans te gee om weg te trek sodat ons Machu Picchu van hier af kan sien. En asof die weer volgens ’n dagboek geskeduleer is, skuif die digte wolke presies 20 minute later op ’n skrefie oop sodat ons Machu Picchu onder in die vallei tussen watte kan sien lê. 

Inka
Dan trek dit oop. Machu Picchu lê regs van my skouer
Inka
Onder in die vallei lê Machu Picchu in watte toegedraai

Daar is ’n paar reisbestemmings wat in my lewe my asem kon wegslaan, maar ek kan op hierdie oomblik aan niks anders dink wat ’n groter indruk op my gemaak het as ons aankoms by die Sonvalleipoort nie. Ek voel klein van dankbaarheid. Die terrein is heelwat groter as wat ek gedink het dit sou wees, en minstens drie keer groter as enige van die ander terreine wat ons op die Inkaroete gesien het. 

Inka
Op pad ondertoe

Op pad ondertoe begin ons die eerste van die toeriste teëkom wat Machu Picchu met ’n bus en trein bereik het, en nou blaas-blaas die heuwel probeer uitstap na die Sonvalleipoort. En in ’n oogwink is ons weer toeriste in Peru. 

Inka
Een van die reishoogtepunte in my lewe.
Inka
Die selfie is met die Canon M50 geneem.
Inka
Ons groep van Intrepid Travel.
Inka
My Terra Firma-rugsak het al Rome, Finisterre ... en nou Machu Picchu gehaal.

Ons ding mee met ’n tiener in ’n Batman-kortbroek om ’n mausoleum te sien en moet geduldig ons beurt afwag om ’n groepfoto by Machu Picchu te neem. Oomblikke later vererg ek my toe ek sien die water in die muntoutomaat by die ingang kos nou 10 sol. Ek dink aan die Peruaanse vroue wat op die tweede dag met moeite hul negosie teen daardie steil bult opgedra het, en steeds net 6 sol vir die koeldrank gevra het.

Lenin die Inka-leier

Ons het ’n paar minute om koeldrank te koop, die badkamer te gebruik en ons rugsakke in te gee vir bewaring voordat ons aantree vir ons toer van Machu Picchu. Lenin verskyn nou in ’n netjiese langbroek en gestrykte geel hemp by ons. Waar op aarde sou hy dit vandaan kry? 

Inka
Lenin het iewers 'n skoon hemp in die hande gekry
Inka
Ons is weer toeriste by Macchu Picchu
Inka
Die unieke boustyl waarin geen sement gebruik is nie.
Inka
Lenin verduidelik die geskiedenis van die ruïnes.
Inka
Soveel mense.

Hy is natuurlik nie net ’n stap- en Inka-gids nie, maar ook ’n geregistreerde gids vir Machu Picchu wat ons op die toer gaan begelei. Sy passie vir die terrein is aansteeklik, en kort-kort laat hy ons staan sodat hy die een en ander kan deel.

Toe ’n toeris op ’n klip klim vir ’n beter hoek vir sy foto, jaag Lenin hom kwaai weg. Dis nie ’n gewone klip daardie nie, verduidelik Lenin. Dis ’n antieke kompas wat beskadig kan word. “Machu Picchu behoort aan ons almal,” sê hy, “en ons moet dit oppas.”

“Machu Picchu behoort aan ons almal,” sê hy, “en ons moet dit oppas.”
Inka
Die kosyn loop skuins na bo om die struktuur teen aardbewings te versterk
Inka
Ons moet die terrein met honderde toeriste deel.
Inka
Die Peruaanse regering doen moeite om dit in stand te hou
Inka
Omtrent in die middel van die foto kan jy die voetpad sien afkom - dis van waar ons vanoggend gestap het.
Inka
Foto: Canon M50

Die natuur se eindfluitjie 

Ons bring byna twee uur tussen die ruïnes deur. Lenin neem ons geduldig van die een plek van belang na die ander. Hy wys ons die verskillende boustyle en strukture. Dis baie om in te neem. Twee uur ná ons aankoms bars die hemel oop en begin groot reëndruppels neerplof. Eers sag en toe al hoe harder totdat dit ’n wolkbreuk is. Ons eerste reën op die Inka!

Hy wys ons die verskillende boustyle en strukture. Dis baie om in te neem.

Ons besluit dit is dalk die eindfluitjie wat die natuur vir ons geblaas het.

Inka
Ons verken die terrein.
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Vroeër jare is hier konserte op die gras gehou.
Inka
Dit begin weer toetrek.
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Foto: Canon M50
Inka
Foto: Canon M50

Ons bondel by ’n openbare bus na Machu Picchu in. Op die dorpie kom ons almal vir ’n laaste ete by ’n restaurant byeen. Ons duffelsakke is reeds in ’n kas by die restaurant toegesluit. Ons bestel nou weer kos vanaf ’n fotospyskaart en die kos is ’n teleurstelling. (Dit lyk nie eens lekker op die spyskaart nie.)

Ek kan nie help om te dink dat die kokke op die Inka se kos van ’n beter gehalte was nie en ek mis die geklengel van die metaalborde wat gesellig by die tafel afgestuur is. 

Inka
Ons eet in een van die restaurante langs die treinstasie

Die treinrit vanaf Machu Picchu na Ollantyatambo is idillies mooi en nóg ’n hoogtepunt. Ek sit langs Cris, die gids van Intrepid Travel, en oorkant ons sit Trish en Simon. Die trein kronkel langs die Urubambarivier langs. Daarna neem ons ’n privaat bus tot in Cusco. Cris lees ’n boek oor die Peruaanse geskiedenis en ek vra haar uit oor die verhaal van Hiram Bingham.

“Hoe voel die Peruane daaroor dat Bingham die krediet kry vir die ‘ontdekking’ van Machu Picchu?” vra Simon haar.

Jy kan sien Cris tel haar woorde, versigtig dat sy ’n politieke gesprek aan die gang kan sit. “Die Peruane is dankbaar vir Bingham se bydrae. Toerisme is die lewensaar van die streek en sonder hom sou Machu Picchu waarskynlik nie so bekend gewees het nie,” sê sy. Sy bly ’n oomblik stil en voeg dan by. “Maar die Peruane glo daar was goud by Machu Picchu wat Bingham weggedra het, en hulle wil dit terughê,” sê sy.

Inka
Trish en Simon in die luuksetrein.

Dis al byna sewe-uur die aand toe ons bus by Cusco instoom. Ons is oormoeg en moet die laaste bult uitstap omdat die straat te nou is vir die groot voertuig. By die hotel wag my sak reeds in my kamer en kan ek net die stortkraan oopdraai. Op pad Cusco toe het Trish en Simon nog oorweeg om saam met my aandete in die dorp te gaan eet, maar hulle maak verskoning in die voorportaal. Ons is al sedert 03:30 wakker en die dinge wat ons gesien en beleef het, was oorweldigend.

Ek het egter ’n honger kol en besluit om ’n wegneemete by ’n restaurant om die draai te gaan koop. Toe ek sien die plek is lekker gesellig, besluit ek om te sit. Dis my laaste aand in Cusco en daar is geen rede om haastig terug te gaan hotel toe nie. Ek kan maar op die vliegtuig slaap. Ek is spyt ek het nie my Canon M50 saamgebring om die oomblik vas te vang nie.

Dis my laaste aand in Cusco en daar is geen rede om haastig terug te gaan hotel toe nie.

Die restaurant het net een donkerpers vertrek met vier tafels wat met bont Peruaanse tafeldoeke oorgetrek is. Ek bestel ’n pisco sour en ’n bord pasta en begin in my dagboekie notas maak. 

Op ’n rak agter die toonbank staan ’n stokou TV, omtrent die grootte van ’n broodblik. Ons het in die jare tagtig so een in die strandhuis by Hermanus gehad. Die huis het nie krag gehad nie, en my pa het saans die TV’tjie met “jumpers” aan ’n motorbattery gekoppel. Stokou musiekvideo’s speel nou op ’n videokasset, die strepe loop oor die middel van die skerm. Dis ooglopend van TV-programme af opgeneem.

In die een sing Nat King Cole hartroerend “Unforgettable” voor ’n gehoor van paartjies met crimpelenerokke en breë fluweelstrikdasse. Die mans het snorre soos Magnum PI. Die eienaar haal ’n warm knoffelrolletjie uit die pizza-oond uit en sit dit met “no pay, no pay!” voor my neer. Op die TV’tjie galop ’n groep cowboys in verbleikte denims op perde die woestyn in. Hulle sing “A horse with no name”. As die “la, la, la-la-la-la, laaa” van die refrein begin, neurie die eienaar saam en maak ’n paar skuifelpassies in die leë restaurant. 

Ek voel gelyk leeg en oorweldig. Sal ’n artikel ooit reg kan laat geskied aan ’n epiese reis na Machu Picchu? Ek dink aan Lenin. Oormôre is Saterdag en Cris het in die trein gesê Lenin ontmoet dan al sy volgende Inkagroep. (Weet nie of ek dít sou maak nie.) Ek dink aan die geduldige David wat opgewonde vertel het dat hy oor twee weke trou.

In my geestesoog sien ek die ruigte onder in die Urubambavallei en wonder of iemand in ’n Indiana Jones-hoed dalk op nóg Inka-ruïnes gaan afkom. 

Inka
Sal 'n artikel reg hieraan kan laat geskied.

Hiram Bingham het geskryf: “Those snow-capped peaks in an unknown and unexplored part of Peru fascinated me greatly. They tempted me to go and see what lay beyond. In the ever famous words of Rudyard Kipling there was ‘Something hidden! Go and find it! Go and look beyond the ranges – Something lost behind the ranges. Lost and waiting for you. Go!”

Ek dink die nag voordat ek in ’n dankbare slaap verval aan watter diep respek ek binne ’n besige week vir Peru en sy hardwerkende, gasvrye mense ontwikkel het. Hoe moeilik dit gaan wees om môreoggend my stapmaats om die ontbyttafel te groet. In vier dae kan jy hegte vriendskappe bou. 

Tot siens, Cusco. Tot siens, Peru. Mag die reënboog nog lank oor die land en sy skatte blink.

  • Jy kan op presies dieselfde toer as Gerda Engelbrecht gaan. Lees hier

Weg se reis na Peru is moontlik gemaak deur CanonHi-Tec en Trappers. Alle foto’s is met die Canon M50 geneem. Weg se verblyfreëlings is deur Intrepid Travel betaal.