Hierdie blogreeks is moontlik gemaak deur CanonHi-Tec, en Trappers.

Dis ’n Vrydagoggend in Desember en ek staan knap voor 08:00 in die aankomsaal van die lughawe op Cusco. Ek vertrek binne ’n dag vanaf Cusco om die Inka-wandelroete na Machu Picchu te stap. 

Ek moes al twee keer my Suunto Spartan-horlosie verstel vir die tydsone. Dit beteken die Suunto weet dalk waar hy is, maar my lyf is nog ’n bietjie deurmekaar.

Dis 28 uur en vier vlugte sedert ek my ouers op Kaapstad-lughawe gegroet het. Van daardie 28 uur was ek sowat 20 uur in die lug. Maar ek voel eintlik verbasend goed. Waar ander mense sukkel om op vliegtuie te slaap, sukkel ek om wakker te bly, en ná ’n besige laaste paar dae op kantoor was ek uit soos een wat deur ’n donkie geskop is. 

Inka
Dis die hoogte bo seespieël.
Inka
Die Peruane is vrygewig met die kokatee.

Cusco se lughawe is aan die klein kant, en jy stap van die aanloopbaan af direk tot by die een vervoerband waarop die tasse gelaai word. Die saal is vol yslike plakkate van Machu Picchu met advertensies vir hoogtesiektepille langsaan.

Jy kan dit verstaan – Cusco se hoofdorp is reeds 3700 meter bo seespieël. In die aankomsaal is ook reeds die eerste kiosk waar jy treinkaartjies na Machu Picchu kan bespreek. Nie almal sien kans om soontoe te stap nie.

Buite drom sowat honderd taamlik opdringerige taxi-bestuurders saam wat hoop om jou na die middedorp te vervoer. Ek steur my nie. My reispakket is deur Intrepid Travel bespreek en dit sluit vervoer na my hotel in. 

Die ‘awesome’ stad

Die taxi-bestuurder praat geen Engels nie, maar ek is dankbaar daaroor. Ek verkies dit om in stilte my eerste indrukke van Cusco (sommige spel dit Cuzco) te vorm. Eerste indrukke? Dis beslis die spreekwoordelike “rowwe diamant”. 

Ek verkies dit om in stilte my eerste indrukke van Cusco te vorm

Garcilaso Inca de le Vega skryf al in 1609 in The Royal Commentaries of the Incas: “In the whole of old Peru there was undoubtably no place that was as deeply revered as the Imperial city of Cuzco, which is where all the Inca kings held court and established the seat of government.” 

Inka
Die stad lyk aanvanklik vervalle.
Inka
...maar jy raak vinnig daarop verlief.

In my stapgids, wat al omkrulore het van weke se lees, verduidelik Stewart en Stedman: “The cultural and religious centre of the Inca world, Cuzco was once a truly awesome city. The seat of the God-king, the Inca, it was built to reflect the might of the Empire. Yet despite its brutal sacking by the Spanish conquistadors – and a subsequent history dotted with earthquakes and siege – Cusco remains an exciting and vibrant place, much more than just a tourist town. Cusco is also the undisputed archeological capital of South America and a Unesco World Heritage Site.” 

Uit die taxi se venster is daar egter nou min van die “truly awesome city” te sien. Ek begin wonder of dit nie “truly awful” moes wees nie? ’n Vriendin het my egter gewaarsku hieroor. Die Peruane betaal eers eiendomsbelasting nadat ’n gebou ’n dak gekry het. Baie families bou dus twee verdiepings sonder ’n dak, en bly dekades lank op net die voltooide grondverdieping om belasting te ontduik. Dit verklaar deels die stad se vervalle voorkoms. Ek bly in Hotel Awkis Dream, wat volgens die kaart minder as ’n kilometer van al die belangrikste besienswaardighede in Cusco is. Die hotel is in ’n stegie geleë wat al hoe nouer en nouer word. Reg voor die gebou is die pad so nou net een voertuig kan tussen die sypaadjies deurskuur, en die taxi-bestuurder gooi al my sak op die sypaadjie terwyl ek nog by die deur uitsukkel. 

Die oggendstond ... gaap ... jammer

Die vrou by die ontvangstoonbank wys vir my na die koka-tee op die tafel en moedig my aan om daarvan te drink ter wille van die hoogtesiekte. Ek is dankbaar dat ek nou al kan inteken, al is dit skaars 09:00 in die oggend. Die kamer is basies, maar netjies. Ek het ’n en suite-badkamer en selfs ’n TV, en kan stort en skoon klere aantrek. Ek ruik soos ek voel.

Al die reisgidse beveel aan dat jy jou eerste paar uur in Cusco rustig neem weens die hoogte bo seespieël. Dis nie die soort plek waar jy jou sakke neersmyt en dorp toe draf nie. En hoewel dit vir die vlugflouheid die beste sou wees as ek probeer wakker bly het tot die aand, besef ek daar is geen sprake daarvan nie. My kop voel wol. By die kafee om die hoek koop ek ’n groot bottel water en Inca Kola, ek spoel my klere uit. Ek het net genoeg Hi-Tec-hemde ingepak vir my staptog en moet dit uitspoel terwyl ek nog die kans het. Dan klim ek met my “boek” (op my op my CAT S41-foon) in die bed.

Al die reisgidse beveel aan dat jy jou eerste paar uur in Cusco rustig neem weens die hoogte bo seespieël.

Inka
Die locals sweer by Inca Kola.

Vir dié wat belangstel: Die Amerikaners beweer Inca Kola proe soos Cream Soda, maar dit proe vir my meer na ons Iron Brew, net baie, báie soeter. Ek kan al kinders op kinderpartytjies op hul hande sien loop as hulle daardie geel goed ingekry het. Coca-Cola besit die handelsmerk daarvoor oral in die wêreld – behalwe in Peru - en die Peruane is versot daarop. Hulle noem dit ook “sjampanje-kola”. Ek het dit net een keer gekoop. 

Teen middagete raak ek uit ’n diep slaap wakker en gaan stap ek deur die stad.

Volgens oorlewering is Cusco op bevel van Inka Pachacutec gebou, en is die stad oorspronklik in die vorm van ’n poema (’n heilige dier in die streek) ontwerp. ’n Reeks kanale het reeds in die veertiende eeu drinkwater en sanitasie aan die inwoners verskaf. Toe die Spanjaarde Cusco inval en die heilige terreine begin stroop, het Inka-opstandelinge die stad self aan die brand gesteek om te keer dat dit in die Spanjaarde se hande beland. Daar is dus min Inka-terreine in die stad self te sien. 

Ek het op Tripadvisor ’n eetplek uitgesoek wat belowend lyk, maar kan dit nie kry nie. Langs die pad sien ek verskeie informele eetplekke waar die locals om plastiektafels sit en kuier. Volgens die spyskaart op die bord kos ’n driegangete 14 sol (sowat R70), maar die kos lyk na bleek hoenderstukke in ’n aftreksel wat aan die Inca Cola herinner. Ek het nog nie ’n Peruaanse maag nie en ek kan voel hoe my maag protesteer. Soms gil jou avontuursin: “Eet saam met die Locals!”, terwyl jou maag waarsku: “Dis dalk ’n aand vir macaroni en kaas...” 

Plekkie in die son

Ek stap eerste in die rigting van Coricancha (ook bekend as die Sontempel), een van die belangrikste besienswaardighede in Cusco. Die naam van die tempel beteken “die omheinde plek van goud” en dit was die middelpunt van die Inka se godsdiens.

Die paaie het in daardie tyd hier bymekaar gekom. Die terrein het uit vier aparte tempels bestaan: een vir die maan; een vir Venus, die Pleiades en die sterre; een vir die donderweer; en een vir die reënboog.

Die naam van die tempel beteken “die omheinde plek van goud” en dit was die middelpunt van die Inka se godsdiens

Die tempels was om ’n binnehof gerangskik en Garcilaso Inca de la Vega skryf dit was van die vloer tot die dak met goud oorgetrek. “The four walls were hung with plaques of gold, from top to bottom, and a likeness of the Sun topped the high altar.” My stadsgids voeg by: “The Spanish conquistadors pillaged the site and stole the lot.”

Inka
Die Santo Domingo-katedraal.
Inka
Die Santo Domingo.
Inka
Die katedraal.

Die tempel is ongelukkig heeltemal verwoes en die Santo Domingo-katedraal is op die fondament gebou. 

Die Kechua het veral groot agting vir die reënboog gehad, en die reënboog is steeds op die vlag van Cusco, wat oral in die stad te sien is. Cusco se reënboogvlag verskil van die LGBT-vlag met een ekstra baan (’n bloue). Die LGBT-vlag het ses bane en Cusco se vlag sewe.

Dis laatmiddag en ek drentel om die Santo Domingo-katedraal. Op die eetplekke rondom die katedraal kan jy alpakka-steaks en marmot-bredie (“guinea pig”) op die spyskaarte sien, maar ek volstaan met carbonara-pasta by ’n eenvertrekrestaurant. Ek is verras om te sien dis handgemaakte pasta (minder as R100 vir die hoofgereg). Daar is ook sewe verskillende soorte limonades op die spyskaart.

Môre ontmoet ek die res van ons groep wat saam met my die Inka gaan stap, en begin ons toer amptelik. Voor ek gaan slaap lees ek nuus op my CAT S41-selfoon, en is ek hartseer om te lees van die aanval op Naka Drotske. Hoe ver voel ons wye en droewe land nie vanaand nie.

Saterdag

Ek knip my oë … dis 04:00 op my Suunto-Spartan-horlosie en ek is wawyd wakker. Al is ek die vorige aand na my aankoms in Cusco vroeg bed toe (ek is te skaam om te sê hóé vroeg), is dit ’n ongewone uur vir my. Maar as jy in ag neem dat dit nou reeds 11:00 in Suid-Afrika is, kan jy verstaan dat my lyf lus het vir opstaan.

Die hotelkamer het nie koffiemaakgeriewe nie en ontbyt is eers oor ’n paar uur. Ek lê nog ’n uur in die bed voordat ek opspring, gaan stort, en my Hi-Tec-stewels aantrek. Iewers in die stad moet iemand al ’n ketel aangeskakel het.

Ek stap in dieselfde rigting as gisteraand, want ek het ’n paar koffiedrinkplekkies rondom die Santo Domingo-katedraal gesien. Alles is nog bot toe en die verkeer stil. In die straat wat parallel loop met die een waarin my hotel is, kry ek ’n bakkery wat oop is. Jy ruik die vars gebak voordat jy die voordeur sien. 

Inka
Oggendkoffie

Die vrou is besig om croissants met sjokolade uit die oond te haal. Ek bestel ’n cappuccino en ’n sjokolade-croissant vir 6 sol (R30) en sit en lees vir byna ’n uur. Die vrou sukkel om haar lag te hou toe sy sien ek neem ’n foto van haar bakkery. 

Rondom agtuur stap ek by die hotel se ontbytkamer in. Die vertrek is vol mense en ek vermoed heelwat van hulle is in dieselfde Inka-groep as ek. Ek hoor die een vrou kla sy het gesukkel om te slaap en dat haar kop wollerig voel, en is dankbaar dat ek my hoogtesiektepille begin drink het. Ek vermoed ek het die ergste vrygespring. Agter ’n toonbank staan ’n werknemer piesangpoffers en braai. Op die toonbank staan vars uitgedrukte mango-, pynappel- en lemoensap.

Ek het ’n paar uur vry voordat ek vanmiddag om 14:00 in hierdie einste eetsaal moet aanmeld vir die amptelike begin van ons Inka-toer. Vandag ontmoet ons die gidse, kry ons die belangrikste inligting, en ontmoet ons ons stapmaats. Ons gaan ook op ’n kort stadstoer om litte los te maak.

Ek gebruik die Google map-funksie op my CAT S41-foon om te sien waar die hoofplein (Plaza de Armas) en die hoofkatedraal, sowel as die San Blas-katedraal is.

Die plein van oorlog en trane

Plaza de Armas was in die hoogbloei van die Inka-era dubbeld so groot soos nou en is toe Aucaypata genoem, wat beteken die “plein van oorlog en trane”. La Catedral staan nou op een sy van die katedraal, en die Kerk van die Jesuïete op die ander punt. Die ander sye is vol winkels en eetplekke, onder meer ’n KFC en ’n Starbucks! 

Die plein van oorlog en trane.
Inka
Ek by die fontein op die plein

Benewens die oorywerige straatsmouse en kioskeienaars, is daar ook ’n handvol vroue in tradisionele drag wat jou toelaat om hulle af te neem in ruil vir ’n paar munte. Ek neem drie vroue af – die een met ’n llama by haar – en vra sommer padaanwysings by twee ander met lammetjies in die arms. Hulle wys my met die grootste oortuiging in die verkeerde rigting. Ek is nie seker of dit ’n taalprobleem of uit moedswilligheid was nie. 

Hulle wys my met die grootste oortuiging in die verkeerde rigting...
Inka
Die Peruane.
Inka
Alles is vrolik en bont.
Inka
Die plein by San Blas.
Inka
Wat 'n interessante stad.
Inka
Soveel interessante hoeke en draaie

Ek kan voel hoe ek verlief raak op Cusco. Alles is bont en vrolik. 

Die binnekant van La Catedral (toegang sowat R50) is groot en koel en ryk aan kultuurskatte. In die een hoek staan ’n unieke weergawe van die Laaste Avondmaal. Op Marcos Zapato se skildery eet die dissipels marmotvleis en drink hulle chicha, ’n tuisgebroude Peruaanse bier. Die gesig van Judas is glo dié van Juan Pizarro, die bevelvoerder van die Spaanse magte wat die Sontempel verower het.

Ek kan voel hoe ek verlief raak op Cusco. Alles is bont en vrolik.

Inka
La Catedrale

Bly te kenne

Om 14:00 wag Cris van Intrepid Travel ons in die eetsaal in. Sy is ’n joviale local wat Ketchua en Spaans magtig is. Sy is hier gebore en getoë en kom uit groot families aan haar pa en ma se kant. Sy her meer as 200 ooms, tannies, niggies en nefies – en almal woon in Cusco. “As iemand my op straat soengroet, is dit waarskynlik familie.”

Cris verduidelik dat toerisme so belangrik vir Cusco is dat toeriste van die 19% koopbelasting vrygeskeld is. Ek het al agtergekom dat winkeleienaars telkens vir jou vra van waar jy kom voor hulle jou inkopies oplui. 

Ons groep lyk interessant. Benewens my is daar een paartjie van Kaapstad, Trish en Simon, een Brit (Olivia), en die res is almal Australiërs. Die meeste is óf studente, óf in hul vroeë dertigs. Trish en Simon het al ’n kind in die hoërskool en is meer “my jare”.

Ons word ook voorgestel aan Lenin, die toerleier op die Inka. Hy waarsku ons dat dag twee die moeilike dag is. Cris moedig ons aan om koka-tee in groot hoeveelhede te drink, maar sê ons moet wegbly van die kokablare. Die portiere kou kokablare as ’n stimulant langs die pad, maar die blare is ongewas en sal jou maag omkrap as jy dit nie gewoond is nie. 

Die Peruane eet ook mieliepap

Ná die inligtingsessie neem Cris ons op die stadstoer. Dis lekker om saam met iemand te stap wat die stad goed ken. Op die een straathoek koop sy vir ons “tamales” (R1 elk), ’n mieliepapvinger wat in ’n mielieblaar op ’n ketelbraaier gestoom word. Die soetes kry suiker en rosyne by en die sout weergawe het pitlose olywe in. Dalk is dit ’n alternatief vir ons paptert?  

Inka
Cris wys ons die plein.
Inka
Die vooraansig.
Inka
Tamales is mieliepapvingers.
Inka
'n Poema wys na die vier rigtings van die Inkaryk.

Sy wys ons die hedendaagse geboue wat op die oorspronklike Inka-ruïnes gebou is. Die Inka-fondament het aardbewings oorleef weens die boustyl wat dit toelaat om “te beweeg”.

Inka
Die San Pedro-onderdakmark
Inka
Hier kan jy enigiets koop.
Inka
Peru het 16 soorte quinoa
Inka
Gedroogde aartappel.
Inka
Draakvrug.
Inka
Die Peruaanse droompop kan enige wens vervul.
Inka
Lekkergoed.

By ’n groot onderdak-mark soengroet Cris die eienaar van ’n vrugtestalletjie, en begin ons dan aan die een en die ander vrug bekendstel wat eie aan Peru is. Eers ’n suur grenadella-variëteit wat ek nie ken nie, en later draakvrug en apelliefies.

By ’n stalletjie met verskillende graansoorte wys Cris ons die 16 verskillende quinoa-variëteite wat in Peru voorkom. In Peru is quinoa nie yuppie-kos wat in deli’s gekoop word nie, maar ’n energieryke graansoort wat handearbeiders as stapelvoedsel gebruik. Sy wys ons ook gedroogde aartappels.

In Peru is quinoa nie yuppie-kos wat in deli’s gekoop word nie...

Peru het 3700 aartappelvariëteite (regtig!), maar hulle vind dit steeds nodig om aartappels te droog vir sop in die wintermaande.

Die muskiet is ’n wonderlike ding 

Ons laaste stop vir die aand is by Cusco se sjokolademuseum. ’n Gids neem ons deur die sjokolademaakproses. Hier leer ek iets! Die kakaoplant word nie deur die by bestuif nie, maar deur die muskiet! Geen muskiete nie = geen sjokolade nie! En jy het gedog muskiete het geen doel nie! 

Inka
Die warm sjokolade is onvergeetlik.

Ons groep het vroegaand nog planne gehad het om ná ons stadstoer saam uit te gaan, maar almal is na die sjokoladetoer haastig om by die hotel te kom. Ons moet pak! Die portiere op die Inka dra 6 kg van jou bagasie, maar dit moet jou slaapsak insluit. En dit kos meet en pas om alles  daarin te kry. Alles wat meer as 6 kg is, moet ek in my Terra Firma-rugsak dra, en ek wil dit nie te swaar maak nie. Die roete klink moeilik.

Inka
Die Terra Firma-sak dra ek, die duffelsak dra 'n portier.

Ek moet erken dat ek opgewonde, maar effens gespanne is. Gelukkig het ek nou begin stap, so ek behoort vannag beter te slaap. 

Inka
Laat eers jou voete rus voor jy stewels begin dra.


Wenk vir die dag: Dag 1 is ’n rusdag!

Ek weet jy het lank uitgesien na jou vakansie in Peru en dink dis onsinnig om daai eerste dag om te slaap, maar vertrou my maar. Jy moet die hoogte bo seespieël gewoond raak.

Ná vier vlugte gaan jou voete boonop moontlik geswel wees, wat beteken jy gaan met blase opgeskeep sit as jy dit dadelik in stewels druk en begin stap. Ontspan! Lees ’n boek. Die stad kan wag tot môre. (Ek is wel spyt dat ek nie ’n ekstra dag in Cusco aan my toer gelas het om nog besienswaardighede te sien nie. Dis ’n fantastiese stad.)

Weg se reis na Peru is moontlik gemaak deur Canon, Hi-Tec en Trappers. Alle foto’s is met die Canon M50 geneem. 

As jy lus het om saam met ’n Weg-groep die Inka te gaan loop, stuur jou besonderhede na weg@flightsite.co.za.