Brasilië is die vyfde grootste land ter wêreld – dit kan byna sewe Suid-Afrikas insluk. Die mees suidelike punt, aan die ooskus langs Uruguay, is min of meer op dieselfde breedtegraad as Kaapstad, terwyl die land se mees noordelike punt ’n breedtegraad deel met Ethiopië! Ons het ’n maand lank deur die suide van Brasilië getoer.

Dit was egter nie lank genoeg nie – ons wou meer van die land sien!

Sowat ’n jaar later, in Junie 2019, staan ons weer langs ons Landie wat ons op ’n plaas in Uruguay gelos het – dié keer sou ons drie maande lank toer, en ook dit was nie lank genoeg nie!

Ons mik dadelik noorde toe, na die smal vinger van Argentinië tussen Paraguay en Brasilië. Dié deel van Suid-Amerika word deur water vergestalt. Talle groot riviere stu deur die uitgestrekte vlaktes en vleilande en vloedvlaktes spoel oor groot dele van die platteland.

Die Iberá- nasionale park is ons eerste bestemming. Dié ongerepte vleiland het sowat 350 voëlspesies. Dis Argentinië se grootste park en die vleiland van 13 000 km2 in ’n boerderystreek is verbasend ongerep. In die park, soos baie ander parke in Suid-Amerika, loop boerdery en bewaring hand aan hand.

Die Saltos del Moconá-waterval sowat 260 km noordoos van Iberá in die Uruguayrivier is nóg ’n sonderlinge gesig. Die waterval is 3 km breed, let mooi, breed, nie hoog nie. ’n Verskuiwing in die rivierbedding verdeel dié deel van die rivier in die lengte in twee vlakke – die water val van die boonste deel na onder. Ongelooflik!

Vivian en Hanlie kamp wild langs ’n spieëlgladde meer suidoos van die dorpie Corumbá in die Pantanal.

’n Paar dae later kom ons by die grens van Brasilië, maar eers maak ons ’n draai by die Iguazú-waterval. Ons was al by dié bekende waterval, maar dis een van die wonderlikste gesigte op die planeet – ons moes dit eenvoudig weer sien. Die waterval bestaan uit honderde kleiner watervalle in die Iguazúrivier – ’n kilometer lange gordyn van water!

Iguazú is op die grens tussen Argentinië en Brasilië en ons het na albei kante gaan kyk. In Argentinië stap jy op ’n netwerk van paadjies en brûe net enkele meter van die verskillende watervalle af; in Brasilië het jy ’n panoramiese uitsig oor die hele skouspel.

Dis ’n onvergeetlike ervaring om te staar na die Garganta del Diablo (die Duiwel se Keel), verswelg deur die gedruis en mis wat styg uit die rivier wat net hier onder jou voete oor die rand dawer.

Gauchos (cowboys in Spaans) is ’n nasionale simbool in Argentinië, Uruguay, Paraguay en die suide van Brasilië. Dié vriendelike manne poseer graag vir ’n foto

Pantanal... laat dit vloei

Van Iguazú af mik ons na die toeristedorp Bonito waar ons vriende Johan en Marianne ver Loren van Themaat in ’n Renault Duster by ons aansluit.

Bonito en omstreke is voorste ekotoerismebestemmings en is veral bekend vir onderwatergrotte en glashelder riviere met verskeie snorkelduikkolle. Ons was dikwels die enigste mense in die water en rotspoele en het omtrent soos kinders te kere gegaan. Ons het van foefieslaaids af gegly en van rotse af gespring in die warm, helder water.

Die dorp Corumbá was ons volgende bestemming – die dorpie is die suidelike ingangspunt na die Pantanal – ’n moerasagtige vleiland soortgelyk aan die Okavangodelta. Dié ongelooflike ekostelsel se vloedvlakte kan ’n gebied van tot 160 000 km² beslaan – op sy “volste” beslaan die Okavango “net” 15 000 km².

Die Pantanal is ’n natuurlike laagte in die aardkors. Water vloei uit verskeie hoërliggende gebiede hierheen, maar meestal van die Paraguay-rivier en sy sytakke. Die vleiland dreineer teen ’n slakkegang – tot twee derdes van die vleiland is ses maande van die jaar oorstroom.

Hier’s net enkele paaie en dis net rybaar in die droë seisoen: tussen Mei en September. Ons het in Mei 2018 deur die omgewing gery. Die watervlak was veel hoër en ons moes kilometer ver op smal, verhewe paadjies met water alkant ry. Perde en beeste het met hulle pense in die water gewei. Boere het hulle bakkies gelos op veilige parkeerplekke langs die pad en met motorbootjies gevaar na hulle huise op stelte.

Sodra die landbougrond begin doodloop, lê en wag die wildernis. Die Pantanal is ’n tuiste vir allerlei ongewone diere soos die reusemiervreter wat lyk soos een of ander oerdier en tot 2 m lank kan word, en die kapibara, die grootste knaagdier ter wêreld wat tot 66 kg kan weeg!

Soms sou ’n kapibara-gesin in die pad lê en dut en doodluiters by die water ingly sodra die Landie naderkom.

Die Gerickes laai die Landie op ’n vragskuit en vaar op die Paraguayrivier na die dorpie Porto Jofre in die hartjie van die Pantanal.
Reusemiervreters is ’n bedreigde spesie; hulle is nie vreeslik bang vir mense nie en in die Pantanal kan jy redelik na aan een kom om ’n foto te neem. Hulle stert is net so lank soos hulle lyf.

Op Corumbá laai ons die Landie en Duster op ’n vragskuit vir ’n 355 km lange vaart op die Paragauy- en São Lourenço-rivier na Porto Jofre, ’n dorpie in die hartjie van die Pantanal. Die skuit vervoer eintlik vee van die Pantanal stroomaf tot op Corumbá – dis beslis nie bedoel vir toeriste nie en die geriewe was maar basies.

Ons voertuie pas net-net op die vragskuit. Hier’s net ’n enkele kajuitjie vir passasiers met ’n paar matrasse wat lyk asof beeste eerder as mense daarop slaap. En hier’s net een stort-toilet vir almal op die vaart van 36 uur.

Dankie tog vir ons daktent. Ons slaap heel lekker terwyl ons kyk hoe die oewer verbysleep in die lig van die volmaan. Dinge is minder prettig vir die Ver Lorens. Hulle slaap in hulle slaapsakke op ’n grondseil tussen die Landie en die Duster... totdat dit begin reën.

Die oewer is verlate met plek-plek ’n gehuggie en ’n veepos of twee. Elke nou en dan hou die vragskuit stil en laai basiese goed af: ’n kan diesel, ’n watertenk, ’n paar sakke sement... Ons sit ure lank op die dek en drink die reuke en klanke van die landskap in terwyl die vragskuit stroomop poet-poet.

Porto Jofre bestaan uit ’n aanloopbaan en ’n paar lodges (ons kamp by die Pantanal Jaguar Camp pantanaljaguarcamp.com.br). Hier’s nie eens ’n winkel nie, maar dis waarskynlik Brasilië se top-natuurbestemming.

Hier’s geen paaie nie, behalwe ’n enkele smal tweespoorpaadjie na die naaste dorpie, sowat 150 km noord, waarheen ons oor ’n paar dae sou ry.

Hier’s ook nie wildkykvoertuie waar gidse toeriste met staaltjies vermaak nie. Hier verken jy die rivier uit aluminiumbootjies. Die bootjies vaar op die dieselfde vlak as die diere en ’n mens kan verbasend na aan hulle kom – dit sorg vir puik fotogeleenthede. Ons gewaar vlugtig ’n jaguar en sien verskeie kaaimans – ’n soort krokodil – wat in die water glip sodra die bote naderkom.

Vivian, Hanlie en Johan ver Loren van Themaat verken die Pantanal saam met hulle gids, Ailton Lara van die Pantanal Jaguar Camp
Op die wildkykbootjies kom ’n mens baie naby aan diere soos die reuseotter

Kus toe!

Ons groet die Pantanal en trek weg op die sowat 3 000 km lange tog tot by die stad Salvador aan die ooskus. Sowat halfpad doen ons die hoofstad, Brasilia, aan en verkyk ons aan die moderne geboue en beeldhouwerke.

Rio de Janeiro was eers die hoofstad, maar die regering wou ’n meer sentrale hoofstad hê en Brasilia is gekies. Die bekende Brasiliaanse argitek Oscar Niemeyer was die dryfveer agter die beplanning van die stad.

In die drie maande wat ons deur Brasilië getoer het, het die GPS meestal hoogtes onder 200 m bo seevlak aangedui. Ons moes dus die Chapada Diamantina- nasionale park verder oos besoek, want dié park is bekend vir sy berge. Maar Brasilië se berge kan nie kers vashou vir die res van Suid-Amerika s’n nie. Die hoogste wat ons GPS hier meet, is maar 1 200 m – dis net ’n bietjie hoër as Tafelberg.

Op die pad na Salvador besef ’n mens opnuut hoe groot Brasilië is en, nes in Afrika, moet jy paaie vol slaggate en lorries trotseer. Vir elke voertuig stoom drie lorries verby... En dan sit die Landie se stuurwiel nog aan die regterkant! Dit vat fyn beplanning om ’n vragmotor verby te steek. Hanlie moet uit die passasiersitplek die besluite neem en dit was meestal ’n eenrigtinggesprek: "Okei, ry! Nee! Te laat. Kom terug! As ek sê ry, dan moet jy ry!”

Oral in Salvador sien ’n mens Afrika se invloed. Volgens Lonely Planet se gids van Brasilië is sowat 3 miljoen slawe tussen 1550 en 1850 van Afrika af hierheen gebring. Daar is min plekke buite Afrika waar Afrika-disse, -musiek en -tradisies so mooi behoue gebly het soos in Salvador. Ons voel heel tuis in dié kleurryke stad.

Brasilië se strande, soos dié een noord van Maceió, het al die elemente van ’n poskaart: wit sand, blou-blou water en palmbome wat wieg in die wind.
Hanlie verken die toeristedorpie Caeté-Açu in die Chapada Diamantina- nasionale park, wes van Salvador. Die dorpstrate in dié deel van Brasilië word dikwels met vlaggies versier.
Die Fernando de Noronha-eiland aan die ooskus van Brasilië is ’n mariene beskermde gebied. Die eiland se ongerepte goue strande, helder water en woelige seelewe lok besoekers van reg oor die wêreld.

Van Salvador af ry ons noord tot by Recife en vlieg na Fernando de Noronha, ’n eiland sowat 525 km noordoos in die Atlantiese Oseaan.

Brasilië se mariene en kusgebiede word gereguleer en die aantal besoekers na die eiland streng beheer. Ons bring drie dae op die eiland deur en verken elke hoekie. Dis duur, want alle goedere kom van die vasteland af, maar met die mooi strande en turkoois water tel ons ons seëninge eerder as sente.

Brasilië se “strandbybel,” ’n gids genaamd Quatro Rodas Praias, ken slegs aan vyf strande in die land vyf sterre toe. Drie van die strande is op dié eiland. Ons het ’n uur lank gesnorkelduik op armlengte weg van twee groenseeskilpaaie wat seegras peusel.

Terug op die vasteland groet ons die Ver Lorens, wat suid draai. Ons kry ’n puik motorwerktuigkundige in Recife wat na die Landie kyk. Hy praat vlot Engels! Land Rover het ’n groot aanhang in Brasilië, maar daar dop nie een uit op elke grondpad soos in Suid-Afrika nie. Jy kan ’n week rondry sonder om een te sien, en werktuigkundiges vertroud met Defenders is so skaars soos Ouma-beskuit hier.

Ons reis weer noord en probeer so na as moontlik aan die see bly; en doen die kleiner kusdorpies aan pleks van die bedrywige stede soos Natal, Fortaleza en Sáo Luís.

Hier’s hope vakansiedorpies langs die ooskus waar Brasiliane en oorsese toeriste saam kuier. Ons ry elk dag sowat 150 km en kamp elke aand op ’n ander dorpie met eksotiese name soos João Pessoa, Jericoacoara and Barreirinhas.

Vlieërplankryers van reg oor die wêreld stroom na die kus noord van Fortaleza. Die wind maak dat dié ouens heeldag van een dorpie na die ander kan swewe. Ons is nie so waaghalsig nie, maar dis lekker om dié vlinders van die see dop te hou.

Van Barreirinhas, ’n klein dorp noordwes van Fortaleza, wil ons die afgeleë dorpie Atins besoek. Die Lonely Planet-gids beskryf die tweespoorpaadjie tot by die Atins deur die duine as “treacherous”. Maar ons sien kans daarvoor. Dankie tog Bertoldo, die eienaar van die hotel op Barreirinhas waar ons gekamp het, dring daarop aan om gids te speel.

Die indrukwekkende Brasilia-katedraal, ontwerp deur die argitek Oscar Niemeyer, verbeeld Jesus se doringkroon.

Op daai noot, die Brasiliane met wie ons in aanraking gekom het, was vreeslik vriendelik. Ons is oral gul ontvang, selfs in die stede. Mense sou dikwels kom kennis maak, veral om ’n selfie te neem by die Landie met ’n regterstuur en vreemde GP-nommerplaat.

Goed, terug by die sorgsame Bertoldo – dit neem drie uur om die skaars 45 km te ry met Bertoldo wat “links, regs, reguit” skree in Portugees terwyl ons die spinnerak van spore tussen struike, oor duine en deur verskeie watergate trotseer. Die water vloei ’n paar keer oor die masjienkap. Een verkeerde afdraai en die enjin lê in ’n watergraf!

Atins was tot onlangs ’n afgesonderde vissersgemeenskap op die oewer van ’n kalm strandmeer. Maar dis al hoe meer op toeriste se radar. Dis ’n gewilde vlieërplank-bestemming en langs die Lençóis Maranhenses- nasionale park.

Jy kan die park net saam met ’n gids besoek. Ons dwaal die hele middag in die park rond – dis een van die mees fotogeniese plekke waar ek nóg was. Jy kan net nie ophou foto’s neem nie. Die park bestaan uit poeierwit sandduine wat eindeloos ver strek, maar dis nie ’n gewone woestyn nie. Ná die reënseisoen vorm verskeie glashelder mere tussen die duine waarin ’n mens mag swem!

Dis ’n voorreg om so ’n dromerige landskap te kan beleef... dis stil in die voertuig terwyl Bertoldo ons terugbeduie deur die water en sandduine na Barreirinhas.

Ná die reënseisoen vorm helderblou mere tussen die sandduine in die Lençóis Maranhenses- nasionale park.

Op die oewer van ’n oerwoud

Ons mik na die hawestad Belém (Bethlehem in Portugees) – ons poort na die Amasonereënwoud. Dis twee dae se ry soontoe op ’n pad oortrek met slaggate. Ons kom in spitsverkeer daar aan en stoei deur chaotiese verkeer tot by ons hotel in ’n rowwe deel van die stad.

Belém lê op die oewer van die Parárivier, wat deel is van die Groter- Amasonedelta. Van die hotel se dek af sien ons ’n landskap op die horison. Is dit die oorkantste oewer? Nee, dis die Marajó-eiland, een van die grootste riviereilande ter wêreld.

Die grootste deel van die Amasonedelta lê noord van Marajó, die werklike "oorkantste" oewer is omtrent 300 km soos die kraai vlieg! Die Amasone is só groot dit voel eerder asof jy na ’n see kyk.

Ná ’n dag van rondbel en onderhandelinge in gebroke Portugees kry ons plek vir ons en die Landie op ’n vragskuit – daar is ook 24 trokke aan boord. Die skuit vertrek oor vier dae op ’n riviervaart van meer as 500 km tot in die stad Macapá, op die noordelike oewer van die Amasone. Dit klink opwindend, nè? Dit was!

Tot volgende maand.

Onthou jy die reënboogvoël op die Fruit Loops-papboks? ’n Reënboogvoël het ’n groot, kleurryke snawel. Ondanks die grootte is hulle nawels liggewig en sterk. Dit het stewige skuimlae aan die binnekant en veselagtige keratienlae aan die buitekant.
Die Gerickes het so na as moontlik aan die kus gehou en moes dus gereeld by riviermondingsdie Landie op ’n pont laai.

VOLGENDE MAAND: Hanlie en Vivian reis deur die Amasonereënwoud.

Vivian en Hanlie Gericke

Hanlie was ’n biologie-onderwyseres en Vivian ’n raadgewende ingenieur wat gereeld met hulle kinders in Suider-Afrika rondgetoer het.

Ná hulle aftrede in 2016 het die twee besluit dis tyd vir nuwe avonture!

In Oktober daardie jaar is hulle Land Rover Defender per skip na Montevideo in Uruguay, en die twee het deur Patagonië gereis (sien Weg #170).

Sedertdien het hulle al vier keer na Suid-Amerika teruggekeer vir toere deur die Sentraal-Andesgebergte tot by Cusco in Peru en van daar af deur die laaglande van Bolivia, Paraguay en Brasilië terug na Uruguay.

In 2019 was die Pantanal-moerasland in Brasilië aan die beurt, asook die Amasone-reënwoud en minder bekende lande soos Frans-Guiana en Suriname.

Tot dusver het elke reis tussen drie en vier maande geduur en in totaal het die Gerickes al meer as 55 000 km gery en 38 keer ’n landsgrens oorgesteek!

Reis vir die volgende paar uitgawes saam – lees Weg #187 vir deel 1 en Weg #188 vir deel 2.

Vinnige feite

Hoeveel kos dit per dag? Brasilië was duurder as die meeste ander Suid-Amerikaanse lande wat ons besoek het. Ons gemiddelde daaglikse begroting was R1 500 per dag en dit sluit kos, blyplek vir twee, diesel én motordienste in.

En as ek nie my eie ryding het nie? Ons het drie maande deur Brasilië getoer en 22 000 km gery, maar daar is nog soveel plekke waarby ons nie kon uitkom nie. Jy moet baie tyd tot jou beskikking hê vir ’n selfrytoer. Indien tyd ’n luukse is, vlieg eerder tussen bestemmings en gebruik openbare vervoer of huur ’n voertuig om ’n spesifieke omgewing te verken.

Kamp? Dis nie so gewild in Brasilië soos in Suid-Afrika nie – daar was wel ’n paar kampplekke langs die kus. Op ander plekke moes ons dikwels by bedrywige vulstasies oorstaan tussen 30 lorries of meer wat hier van 4 vm. af begin om hulle enjins se toere op te ja. Baie gebiede in Brasilië is nie juis toegerus vir oorlandreisigers nie, tensy jy in ’n ten volle toegeruste ryhuis reis.

Veiligheid? Brasilië se kusstede is berug dat hulle net so gevaarlik soos Suid-Afrika se groot stede is, maar sowat 50 km buite die stede het ons sonder voorval wild gekamp – ons het selfs ’n paar keer op die strand gekamp. Nuttige bronne: ioverlander.com; “PanAmerican Travelers Association” op Facebook

Visums: Suid-Afrikaners het nie visums nodig vir Brasilië nie. Op die grens kry jy ’n 90 dae-permit wat jy maklik vir nog 90 dae kan verleng.

Taalles: Leer ’n paar Portugese woorde en laai Google Translate op jou slimfoon. Verlaat jou gemaksone en gesels met die Brasiliane – hulle is baie aangename mense.

Loer by between2safaris.com vir die Gerickes se gedetailleerde roetes, wenke oor hoe om jou voertuig te verskeep en ook die aanpassings wat nodig is om jou ryding vir ’n oorlandreis toe te rus.

Volg hulle avonture op Instagram by @between2safaris.