DIE KENNER
Louise Patterton (55) is ’n databibliokaris by die WNNR in Pretoria. Sy het vyf staptogte in Nepal voltooi – die laaste vier was alleenreise – sonder ’n groep, gids of portier.

Watter roetes het jy gestap?

Die eerste roete was die Annapurna-sirkelroete in 1998 (260 km, 18 dae); ’n dekade later stap ek na die Gokyo Ri-spits (5 483 m) in die Everest- nasionale park (150 km, 10 dae); en in 2017 na die Laer-Mustanggebied en weer dele van die Annapurna-sirkelroete (170 km, 10 dae). In 2018 volg ek ’n ander roete in die Gokyo Ri-omgewing (200 km, 12 dae); en vanjaar stap ek die Langtang-roete en dele van die Tamang-erfenisroete (200 km, 12 dae).

My dag verloop gewoonlik só: Staan om 6 vm. op, eet brood en tee, begin stap om 7 vm., stap vir tussen 3 en 5 uur tot op ’n dorpie. Daar kies ek ’n teehuis en ’n kamer en ontspan die res van die dag – stort, knip ’n uiltjie, loop rond, eet, gesels en lees.

Langtang
Stop vir middagete of koffie by restautante tussen dorpies op die Langtang-roete

Hoekom Nepal?

Dis bekostigbaar – dit kos minder as R400 p.p.p.d. – en die berge is ongelooflik. Dié klein land huisves 8 van die wêreld se 14 spitse hoër as 8 000 m. Die mense is net so spesiaal: Binne net twee weke se stap ervaar jy ’n klomp verskillende etniese groepe, gelowe en boustyle. Die geriewe is uitstekend. Elke paar kilometer is daar ’n dorpie waar jy in ’n teehuis kan oornag; dus hoef jy nie ’n tent, matras, stofie of kos te dra nie. Daarby is Nepal ’n veilige land. En die beste van alles?

Jy kry ’n visum met jou aankoms. Sorg dat jy ’n paar paspoortfoto’s en die visumtarief (US$50 – ongeveer R750 – vir 30 dae) byderhand het. O ja, en jy stap ook dikwels verby jakke. Koel, nè?

Op die Annapurna-sirkelroete verander die landskap elke dag en jy sien uitsigte soos die Kali Gandaki-rivier in die Laer-Mustanggebied.

Wat is jou gunsteling-roete?

Die Everest- nasionale park waarborg berguitsigte elke dag, en die vlug na die dorpie Lukla is opwindend. Die Annapurna-roete bied meer interaksie met die plaaslike mense, en die landskap is meer uiteenlopend. Tamang en Langtang is stiller en goedkoper, ook met ongelooflike berguitsigte.

Een van my gunstelinge is Kagbeni, ’n tradisionele dorpie langs die Kali Gandaki-rivier in die Laer-Mustanggebied. Die mense van die dorpie Gatlang op die Tamang-erfenisroete is vriendelik en die uitsigte panoramies. En op Khumjung, ’n sjerpa-nedersetting in die Everest- nasionale park, kan jy op jou bed lê en staar na die Ama Dablam-spits (6 812 m)!

Annapurna
’n Staptog in die Himalajas is nie ’n wedloop nie – vat dinge rustig en geniet die mooi omgewing. Hier vat Louise ’n blaaskans langs die Titimeer op die Annapurna-sirkelroete.

Hoekom ’n alleenreis?

Sodoende kan ek kies hoe lank ek op ’n plek wil bly. As ek op ’n mooi dorpie aankom met interessante daguitstappies, dan bly ek ’n paar dae ekstra. Ek het byvoorbeeld drie aande deurgebring op Kagbeni, en toe die naburige dorpies besoek en gekyk hoe kinders en Boeddhistiese monnike sokker speel. Op Khumjung was ek die enigste stapper in die teehuis; dus kon ek saam met die eienaar aandete eet in sy kombuis. Hy het vertel hoe hy Everest geklim het as sjerpa, en dat hy buite die klimseisoen in ’n kaasfabriek in Switserland werk.

As jy op jou eie stap en meer aanpasbaar is, kry jy dikwels afslag op jou kamer en die plaaslike mense deel makliker eerstehandse kennis oor hulle omgewing.

Hangbrûe is algemeen op alle roetes.

Watter staptog is die beste?

Kies enige van die bekende staptogte, en kom dan terug en stap ’n ander roete! Mense vra dikwels: Annapurna of Everest-basiskamp? Albei is puik; ek sal elkeen weer en weer stap.

Op die Everest-basiskampstaptog sien jy geen groot paaie nie, maar op die Annapurna wel; dus stap jy verby tradisionele dorpies en kloosters.

Die Langtang- en Tamang-staptog is stiller as die gewilde roetes, maar net so ongelooflik. Dit maak nie saak watter een jy kies nie.

Is daar slaggate?

Die gewilde roetes raak bedrywig in seisoenstyd – jy kan sukkel om slaapplek te kry as jy laat op ’n dorpie aankom. Begin dus vroeër of vra die vorige teehuis-eienaar om vooruit te bel en ’n kamer te bespreek.

Pasop vir diarree – jy kry dit meestal weens besoedelde water. Dit wil voorkom asof die kraanwater minder besoedel is as 20 jaar gelede, maar bring liefs ’n watersuiweringstel of -tablette saam. Ek hou daarvan om uit strome te drink, maar dis eintlik ’n slegte gewoonte, want daar kan ’n skaapkarkas hoër op in die waterbron lê. Pak ietsie vir diarree.

Hoogtesiekte kan reeds ’n uitdaging word 2 500 m bo seevlak. Dis lewensbelangrik dat stappers die simptome ken en weet wat om te doen – baie oningeligte stappers beswyk elke jaar aan dié siekte. Stap stadig: Sodra jy 3 000 m of hoër bo seevlak is, moet jy nie meer as 500 m per dag klim nie. Werk rusdae in jou stapskedule in sodat jy kan akklimatiseer. Baie stappers word op 4 000 m siek omdat hulle te vinnig te hoog klim. Hoogtesieke vereis dikwels dringende mediese aandag en soms ’n helikopter-ontruiming. Moenie huiwer om terug te draai nie; die simptome verdwyn dikwels op laer vlakke en jy kan weer aanstap sodra jy beter voel.

Stap stadig: Sodra jy 3 000 m of hoër bo seevlak is, moet jy nie meer as 500 m per dag klim nie

Wees ook bewus van die “Helicopter Rescue Scam” – dis gidse en stapmaatskappye wat met opset die veiligheidsreëls ignoreer of stappers laat siek word sodat hulle met helikopters ontruim moet word. Dié gidse en maatskappye ontvang omkoopgeld van die helikoptermaatskappy. Die Nepalese regering ondersoek tans die saak, maar dis nie regtig ’n probleem as jy op jou eie stap nie.

Wat kan stappers by teehuise verwag?

Kies ’n teehuis sodra jy op ’n dorpie aankom – daar’s gewoonlik verskeie om van te kies. Die teehuise het gewoonlik plek vir tussen 20 en 40 stappers in basiese kamers. Die eienaars verwag dat jy eet in die teehuis waar jy slaap – en nie by die teehuis waar jou vriende slaap nie. Die kamers is spotgoedkoop; die etes is eintlik hulle bron van inkomste.

Nepal
In Nepal gaan stappers tuis in teehuise soos hierdie, waar jy soms ’n kamer met ’n ander stapper deel.

Die meeste kamers het twee beddens, elk met ’n kussing, laken en kombers. Gewoonlik is daar ook ’n elektriese lig, ’n venster met ’n gordyn en ’n deur wat kan sluit. As daar genoeg kamers beskikbaar is, hoef jy nie te deel nie. Ek is nog net een keer gevra om te deel.

In die spitsseisoen deel stappers soms wel ’n kamer of slaap op matrasse in die eetkamer. Party kamers het ’n private badkamer, maar die meeste deel gemeenskaplike geriewe. Badkamers verskil: Ek het al vuurwarm storte gehad en yskoues; jy kan wel ’n emmer warm water Rs150-200 (R20) koop (Rs is die Nepalese roepee).

Die toilet kan ’n “gewone een” wees of ’n puttoilet. Moenie die toiletpapier in die toilet gooi nie, maar in die drommetjie langsaan. Die meeste toilette het ’n emmer water langsaan. Dít met ’n behendige linkerhand sorg vir ’n verfrissende ervaring. Ek belowe jou: water troef toiletpapier!

Stappers eet maaltye in ’n gemeenskaplike eetkamer. Pryse is min of meer dieselfde by verskillende teehuise op dieselfde dorpie, maar styg namate ’n mens klim. ’n Bord pasta kos sowat Rs350 (R50) in die laerliggende dele en tot Rs650 (R85) hoër op. Daar’s gewoonlik heelwat keuses: sop, burgers, roerbraai, rys, selfs jaksteak...

Dal bhat, ’n Nepalese gereg.

Probeer minstens een keer dal bhat (rys, lensies, groente en ’n poppadum). Dít gee vir die portiere hulle eindelose energie. Gewoonlik kan jy eet soveel jy wil daarvan; hulle skep dikwels nog in voordat jou bord eens leeg is. Party plekke het Wi-Fi en omtrent almal het ’n kragpunt óf in die slaapkamer óf in die eetkamer. Die daaglikse verblyfkoste hang af van hoe baie jy eet. Ek begroot US$30 (R450) per dag in die Everest- nasionale park en US$20 (R300) per dag op die minder bekende roetes.

Is die roetes gemerk?

Die netjiese paadjies is duidelik gemerk. Dis nie wildernisroetes nie; sewejariges loop skool toe en oumas maak hout bymekaar op dié paadjies.

Jy kry goeie roetekaarte in Katmandoe. Die moeilikste is om jou rugsak teen die steil dele uit te dra of om duisende kliptrappies op en af te klim. Op die gewilde roetes is ’n mens nooit alleen nie: portiere, jakke, ponieherders, plaaslike mense en ander stappers kom heeltyd verby.

Stappermitte?

Jy het ’n TIMS-kaart (“Trekkers’ Information Management Systems”) en ’n permit nodig vir die gebied waar jy stap. Die TIMS-kaart kos sowat US$20 (R300) en die gebiedspermitte sowat US$20-US$30 (R300-R450).

Jy kry permitte by die toerismeraad se kantoor net buite die toeristekwartier, Thamel, in Katmandoe, óf by een van die toeriste-agentskappe in Thamel. Jy kan ’n permit koop terwyl jy stap, maar dan gaan jy waarskynlik dubbel soveel betaal.

Hoe reis ’n mens?

Daar is ’n bus na elke plekkie, behalwe waar daar nie paaie is nie! Jy kan ook in ’n jeep of ’n taxi ry. Die busse is goedkoop: sowat Rs700 (minder as R100) vir ’n hele dag se rit. Jy vorder wel nie baie ver in ’n dag nie: Die paaie is sleg en die verkeer stadig – dit kan tot sewe uur neem om minder as 300 km te ry. Jou hotel in Katmandoe kan jou reisreëlings tref of enige reisagent in die stad sal jou help – daar is duisende reiswinkeltjies in die Thamel-toeristekwartier.

As die roete se beginpunt ver van ’n pad af is, gaan jy dalk soontoe moet vlieg, soos byvoorbeeld Lukla as jy na die Everest-basiskamp toe stap – daar is nie paaie soontoe nie.

As jy meer tyd as geld en ’n vlugfobie het, kan jy so ver moontlik per pad reis en dan tot by die amptelike beginpunt van die roete stap – dis ’n hele paar dae se stap tot by Lukla. (Die Tenzing-Hillary-lughawe staan bekend as die wêreld se gevaarlikste lughawe – ek hou dikwels die vliegtuie se kom en gaan dop. Die aanloopbaan is net sowat 530 m lank met ’n berg aan die een kant en ’n krans aan die ander...)

Ek het al twee keer agterop ’n motorfiets gery om by die volgende dorpie uit te kom.

’n Grondpaadjie verbind baie van die dorpies op die Annapurna-roete. Toe ’n jong man op sy Royal Enfield-motorfiets langs my stilhou, kon ek dit nie weerstaan om die laaste 10 km saam met hom te ry nie. Dit was pret en ek het petrolgeld betaal.

’n Ander keer het ek ’n teehuis-eienaar gevra of hy vervoer kan reël tot by die volgende dorpie – ek het nie kans gesien vir die vyf uur se opwaartse swoeg nie. Ons het toe sommer op sy motorfiets gespring.

Wat is die beste staptyd?

Enige tyd behalwe in die somermaande (Junie tot September). Dis te nat – daar’s grondstortings en bloedsuiers in die gras – en sigbaarheid is sleg... Die gewildste stapmaande is Oktober en November: puik weer, helder lug en die aande is nie te koud nie. April is ook gewild – dis warmer as Oktober, maar dit kan reën. Dis my gunstelingmaand, as ek tyd gehad het, sou ek van Februarie tot April stap!

Die gewildste stapmaande is Oktober en November: puik weer, helder lug en die aande is nie te koud nie.

Ek het al in Desember gestap – die nagte was koud (bevrore water, ys op die paadjies vroeg in die oggend), maar die dae was fantasties. Selfs in die Himalajas is geen maand te koud vir stap nie, mits jy ’n goeie slaapsak en warmbaadjie het.

Nuttige webwerwe?

Sleutel “Kathmandu” of “Nepal” in op tripadvisor.com. Ervare stappers en expats wat in die hoofstad bly, gee terugvoer op die webruimte se forums.

Jou volgende avontuur in Nepal?

Ek gaan weer in Desember 2020. Ek besluit nog, maar gaan waarskynlik weer mik vir die Everest- nasionale park.

Louise se wenke

• Indien jy self jou rugsak dra, hou dit 10 kg of ligter – hoog in die berge gaan jou lyf bly wees. ’n Portier kos sowat US$20 (R300) per dag.

• Jy kan al jou staptoerusting in Katmandoe koop of huur. Donsbaadjies en -slaapsakke kan gehuur word teen US$1 (R15) per dag. Shona’s Alpine is die beste stapwinkel in die stad. Ek het ’n puik donsbaadjie daar gekoop teen ’n derde van wat dit in Suid-Afrika kos.

• Jy het nie swaar stapstewels nodig nie – veldlooptekkies is voldoende.

• Moenie te veel klere pak nie. Spoel jou hemp en broek uit en laat dit oornag droog word. Bygesê, niemand kyk hoe skoon jy of jou klere is nie.

• Kontant is koning: Hier is geen kitsbanke op die dorpies nie – trek dus genoeg in Katmandoe. Jy sal nie beroof word op die roetes nie – volg net die gewone veiligheidsmaatreëls as ’n mens reis.

Louise
Louise op pad na Kyanjin Ri (4 779 m) op die Langtang-roete, met die Naya Kangri-spits (5 846 m) agter haar.


DIE GROENTJIE
Annéne Maré (24) werk as ’n Engels-onderwyseres in die stad Kagoshima in Japan. Sy droom al lank daarvan om in die Himalajas te stap. En toe sy nie iemand kon kry om saam te stap nie, pak sy die avontuur op haar eie aan.

Annéne Maré (24) werk as ’n Engels-onderwyseres in die stad Kagoshima in Japan. Sy droom al lank daarvan om in die Himalajas te stap. En toe sy nie iemand kon kry om saam te stap nie, pak sy die avontuur op haar eie aan.

Hoekom Nepal?

Die land is ryk aan kultuur met van die mooiste landskappe ter wêreld. Dis goedkoop om daar te reis en dis ’n veilige bestemming vir vroue.

Watter roete het jy gestap?

Ek was op soek na ’n stiller roete en ek het aan die einde van April ’n week deurgebring in die Langtang-vallei, net noord van Katmandoe, op die grens met Tibet.

Langtang Lirung-bergspits agter die dorpie Kyanjin Gompa.

Hoe het jy by die beginpunt uitgekom?

Die staptog begin op die dorpie Syabrubesi, en die goedkoopste manier om daar te kom is per bus. ’n Eenrigtingkaartjie kos Rs600 p.p. (R122) en dit neem sowat nege uur. Dis beslis nie ’n plesierrit nie: Harde musiek pomp uit die luidsprekers, lugreëling is ’n grap en die paaie is verskriklik. Maar dis alles deel van die ervaring.

’n Vinniger, meer gemakliker rit op ’n jeep kos sowat Rs10 000 p.p. (sowat R2 050).

Hoe lank het jy gestap?

Hulle beveel aan dat ’n mens die roete in ses dae stap: drie dae van Syabrubesi op ’n hoogte van 1 460 m tot by die dorpie Kyanjin Gompa op 3 800 m; en dan een dag tot by Tserko Ri-spits op 5 000 m; en dan stap jy binne twee dae terug. As jy haastig is, kan jy in een dag terugstap. Jy kan ook ’n paar dae bylas en na die nabygeleë Gosainkunda-meer stap.

Die Langtang-staptog word as “matig” beskou, maar dit was makliker as wat ek verwag het. Ek het gereeld ouer mense teëgekom. Net die vierde dag was taai – dit het gesneeu en ’n mens kon nie die paadjie sien nie. Die sneeu het gesmelt toe die son uitkom, maar die pappery het dinge nóg meer senutergend gemaak.

Ek het die piek gehaal deur sta-a-adig te stap. Min dinge troef die gevoel om op ’n spits 5 000 m bo seevlak te staan!

Die Langtang Khola-vallei.

Hoe lyk die landskap?

Elke dag lyk anders: Sommige dae stap jy langs die Langtang Khola-rivier; ander dae deur ’n vallei met die son op jou rug. As jy tussen einde April en vroeg in Mei stap, blom die bergrose en kleur die prentjie nóg mooier.

Rooipandas en ander skugter diere soos sneeuluiperds en bruinbere hou in die woude (ek het nie een gesien nie). Ek het wel wilde perde en jakke gewaar. Voëlkykers kan op die uitkyk wees vir baardaasvoëls en steenarende.

Min dinge troef die gevoel om op ’n spits 5 000 m bo seevlak te staan!

Het jy lekker geëet?

My gunsteling-gereg was momo. Dis ’n soort Suid-Oosterse kluitjie en ek droom nou nog oor die Nepalese weergawe.

Hulle het ook pizza, pasta, aartappels en noedels. En vir ontbyt kies jy tussen varsgebakte brood of ’n omelet. My gunstelingdrankie was gemmer-en-suurlemoentee.

En die aardbewing?

In 2015 het ’n aardbewing ’n grondstorting veroorsaak wat ’n groot deel van die dorpie Langtang vernietig het. Die skade is nog duidelik sigbaar op die landskap en daar is foto’s van geliefdes by die gedenkteken.

Nietemin bly die inwoners positief te midde van die hartseer. Dit gaan nog lank neem om die dorpie te herstel, maar deur die omgewing te besoek en geld hier te bestee help ’n mens om die gemeenskap weer op die been te bring.

Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie.

Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s. As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusie- foto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling.

Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za. Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za