Sy artikel is in Mei 2012 in Weg gepubliseer.

Eddie Papier vat die stapeltjie foto’s wat langs hom op die rusbank lê.

Hy soek daardeur, bring een te voorskyn. Een met ’n walvis – ’n tamaai noorkapper – wat in die see dryf, met ’n harpoen in die lyf.

“Dít het ek baie gesien.” Hy hou die foto in die lug. “Baie.” Hy het die foto self geneem, met ’n Kodak Instamatic. In 1966. Dit was in die jare toe hy walvisse help jag het hier aan die Weskus, op die harpoenboot Terrier VII.

Eddie weet hoe klink dit wanneer ’n harpoon ’n walvis tref. Ook hoe dit lyk wanneer ’n walvis bloed deur daardie harpoenwond blaas, en hoe die bloed deur die water sprei en sprei totdat jy later net rooi sien.

“Dalk moet ek eerder nie daaroor praat nie.” Hy sit die foto weer saam met die ander foto’s langs hom neer.

Hy is huiwerig om te praat, want deesdae is walvisjag ’n emosionele saak. Die kommersiële jag van walvisse word wêreldwyd verbied, en omgewingsaktiviste hou dikwels betogings in Japan, Noorweë en Ysland, die enigste lande wat nog deels ten gunste daarvan is.

Walvisse word deesdae byna oral in die wêreld bewonder en bewaar vir wat hulle is: Die grootste soogdiere op aarde. Die geheimsinnige Moby Dicks van die diepsee.

Baie mense, ook toeriste uit die buiteland, besoek jaarliks die Kaapse kus om die walvisse dop te hou wat in die somermaande hierheen migreer om te kalf. Nie almal van hulle weet dat walvisse tot in 1975 nog wettig gejag is in ons waters nie.

Hier naby Langebaan, by Donkergat, was een van die grootste walvisstasies in die land.

Bote soos die Terrier VII met mense soos Eddie Papier aan boord het die dooie walvisse soontoe gesleep, uit die water gehys en verwerk tot walvisolie en vleis en beenmeel.

Donkergat se 88 walvisse

Eddie was maar sestien toe hy op die walvisbote begin werk het. “Ek was nog ’n kind.” Ons sit steeds in sy sitkamer hier op Langebaan, sowat 130 km noord van Kaapstad.

Hy skuif tot op die punt van die bank. “Wat weet jy as jy sestien is?” Maar sy ouers was arm en hy moes help geld verdien. Hy kom orent, verskoon homself, en stap by die deur uit.

Hoewel Eddie huiwerig is om oor sy walvisdae te praat, wil hy ook hê mense, veral die jonges wat kla omdat daar nie werk is nie, moet iets van daardie leefwyse weet. Hulle het hard gewerk, hard en eerlik, sonder om ryk te word.

Hy kom weer by die sitkamer in, met ’n foliovel in die hand. Hy gee dit vir my. “Lees ’n bietjie hier.”

Dit is ’n fotostaat van ’n bladsy uit die register van Saldanha Whaling Limited, die maatskappy wat die Donkergat-walvisstasie bedryf het toe hy daar gewerk het. In die register is boek gehou van hoeveel walvisse tussen 1 Maart en 31 Oktober 1966 hier aan die Weskus gejag is. Vir elke walvissoort is daar ’n afsonderlike kolom: noorkappers, bultrûe, vinwalvisse, seiwalvisse, blouwalvisse.

Elke harpoenboot se vangs word ook afsonderlik aangedui: Die Terrier I, die Terrier II, die Terrier IV, die Terrier VII en Terrier VIII. Dié vyf bote het daardie seisoen altesame 1 238 walvisse Donkergat toe gebring. Die walvisse is verwerk tot 3 986 ton olie en 2 700 ton vleis en beenmeel.

Elke Terrier se kaptein word ook in die register genoem: A.M. Krogtorp, John Moen, P. Stokke, P. Nilsen en H. Bernsten.

“Die kapteins, wat ook die gunner was, was altyd ’n Noorweër. Hulle het die harpoene geskiet.”

Nóg ’n Noorweër, Johan Bryde, het die kommersiële walvisbedryf in Suid-Afrika begin.

In 1909 het hy en sy Noorweegse kamerade met ’n walvisvaarder en twee harpoenbote by Meeuw-eiland naby Langebaan anker gegooi. Hulle het walvisse begin jag en toestemming gekry om die Donkergat-walvisstasie te bou. Later is ook walvisstasies by Hangklip en Bettiesbaai gebou, asook by Durban. Mettertyd, namate die walvisse al hoe minder geword het, het die stasies by Hangklip en Bettiesbaai gesluit, maar Donkergat het tot in 1967 oopgebly.

“Ek onthou daai laaste dag. Dit was in Oktober ’67, as ek dit nie mis het nie.” Eddie bly ’n ruk lank stil. “Ons het 88 walvisse geskiet daai dag. Hulle het die hele see vol gelê.” ’n Stilte. “Dit was helbaie...” Hy raak stil, en soek deur sy stapeltjie foto’s om die onderwerp te probeer verander. Hy hou een, ’n swart-wit kiekie, in die lug. ’n Man in ’n wit baadjie staan daarop, glimlagloos. Dit is Paul Nilson, kaptein van die Terrier VII.

“Die Noorweërs was nie so sleg nie. Party van hulle het met Afrikaanse meisies getrou.”

Eddie laat sak sy kop en mompel iets onhoorbaars. “Mon al salmen,” klink dit vir my. Dan, harder: “Mon al salmen”.

Hy herhaal dit ’n paar keer, asof dit ’n mantra is waarmee hy verlore tyd wil terugroep.“Dis hoe Paul Nilson ons in die oggend gegroet het. ‘Mon al salmen’. Dit beteken: ‘Môre, al die manne.’ En as die boot vorentoe moet gaan, skree jy: ‘Govan!’ En as hy moet vinniger gaan: ‘Samuli! Samuli!’ ”

Die harpoenkanon was heel voor op die skip se boeg gemonteer.

‘Hy komme nou!’

Ons is nou in die kar van Eddie se huis naby die Friendly Grocer af op pad na Langebaan se middedorp toe. Eddie wil my nog iets wys.

Dit voel vreemd om saam met iemand te wees wat eens op ’n tyd walvisse gejag het.

Voordat ek van Eddie gehoor en hom hier opgespoor het, het ek gedink al die walvisjagters moet al dood wees. Harde manne en avonturiers uit ’n vroeëre era, die era wat Herman Mellville in sy klassieke roman Moby-Dick beskryf.

“Sien jy daai huis dáár?” Eddie beduie na ’n huisie met ’n plat dak in Hoofstraat.

“Die Rodgerse het daar gebly – Jan en Kassie Rodgers. Hulle was ook walvismense.”

Hy wys na nog ’n huis. “En dáár het die Adoonse gebly, ook walvismense. Henry Adoons was ’n fantastiese storieverteller.”

Maar nou is Henry Adoons, nes die meeste ander walvismanne, al oorlede, en sy stories is saam met hom die aarde in, sonder dat iemand dit behoorlik opgeteken het.

Eddie kyk na die huise in Hoofstraat en byt-byt op sy tande. “Niks hier is meer dieselfde nie.”

Hy vryf met sy hande oor die metaal.

Hy het aanvanklik in die Terrier VII se enjinkamer gewerk, maar later is hy uitgeskuif dek toe. Soms moes hy in die boot se kraaines sit en die see bespied vir die grotes.

“Sien jy daai voël?” Hy wys na ’n stipple in die lug. “Jy voel soos daai voël as jy teen daai mas uitklim en in die vat gaan sit met die verkyker. As jy die walvis sien blaas, dan skree jy: ‘Govan!’ ” As hy eers begin praat, klink dit byna asof Eddie terug is in die Terrier VII se kraaines.

“Dan gee Paul Nilsen, wat voor op die brug staan, vir Norman Lloyd onder in die enjinkamer die sein om spoed te gee.” ’n Stilte. “Dan jaag ons tot waar die walvis geblaas het, en wag daar. Dan sien jy daar blaas hy weer.

“Jy moet vir die gunner in Noorweegs beduie waar om te mik: ‘Sakte... Semöle...’

Ander kere skree jy net: ‘Hy komme nou!’

“Die harpoen is vas aan ’n tou. Soms is dit ’n doodskoot; dan gaan lê die walvis só, met sy vlerke ingevou. As hy nie dood is nie, moet die gunner hom weer skiet.”

Die dooie walvis is nie op die boot gelaai nie.

“Jy druk ’n pyp met ’n skerp punt in hom in, dan pomp jy hom vol lug tot hy dryf. Dan druk jy ’n vlag in hom in, sodat jy hom weer kan kry, want dan gaan soek ons nog walvisse.”

“Hy dryf maar daar rond, met die vlag in.

Eers later kom ons weer verby en haak hom en sleep hom in Donkergat toe.”

Langebaan, wat aan Saldanhabaai en die Langebaan-strandmeer lê, was aanvanklik omtrent net ’n klomp vissershuisies soos Jan en Kassie Rodgers s’n, maar mettertyd is die meeste van daardie huisies deur veral inkommers gekoop en afgebreek of herbou.

Nou sien jy breë voordeure met uitgekerfde diere daarop, en Italiaanse teëls, en Weberbraaiers op die stoep.

“Ek glo nie ek jok as ek sê seker 70% van Langebaan se mans het in die jare sestig by Donkergat of op die walvisbote gewerk nie.”

Op die hoek van Hoof- en Oesterwalstraat beduie Eddie na Pearly’s, deesdae ’n gewilde restaurant. “Pat Prezens-hulle se huisie was daar iewers gewees.”

Skuins oorkant Pearly’s is die munisipale kantoor. Eddie wys ek moet daar stilhou.

Eers dán sien ek dit: Op die sypaadjie staan ’n harpoenkanon, nes die een wat op die Terrier VII was. Soos ’n monument vir ’n vergete leefwyse staan dit hier. Grys en rooi geverf. Bloedrooi.

Eddie klim uit en gaan staan by die kanon.

Hier van waar die harpoenkanon voor die munisipale kantoor staan, kan jy Schaapeneiland en ’n gedeelte van Saldanhabaai sien.

Dis ’n windstil middag en na die noorde toe lê die wolke sulke strepe in die lug, soos die ribbebene van ’n massiewe dier.

“Sien jy daai valerigheid daar oorkant?”

Eddie wys in die baai se koers. “Dis waar Donkergat was. Party mense het gesê die plek stink, maar as jy self daar gekom het, het jy dit later nie meer geruik nie.”

Deesdae kan jy nie by Donkergat kom nie.

Dis nou ’n opleidingsbasis vir die weermag se 1 Verkenningskommando – die Recces.

Reg, na Antarktika!

In die wintermaande is hier nie walvisse aan die Kaapse kus nie. Hulle migreer dan na Antarktika se koue waters toe.

Destyds is party jagters, ook manne hier van Langebaan af, agter die walvisse aan Antarktika toe, maar Eddie is nooit saam nie. “Daai manne het vyf of ses maande weggebly. In die winter was hier maar min mans op die dorp.”

Ons ry nou terug na Eddie se huis, verby ’n huis waar iets wat soos ’n stuk walvisbeen lyk, op die stoepmuurtjie lê.

Op een van die wynrooi stoele in Eddie se sitkamer wag ’n ouerige man vir ons. Hy dra ’n rugbybroek en ’n paar Crocs, die Weskus se nasionale skoen.

Dis Pat Prezens, wat grootgeword het in die huisie wat eens gestaan het naby waar Pearly’s nou is. Eddie het hom vroeër gebel en oorgenooi, want Pat is een van dié wat destyds Antarktika toe is.

Eddie soek weer deur sy stapeltjie foto’s en trek een uit waarop ’n groot skip is. Hy wys dit vir Pat. “Is dié die Willem Barendz, Pat?” Pat knik. “Dis hy, ja. Dis hy.”

Die Willem Barendz was ’n Hollandse fabriekskip wat gewoonlik in April of Mei uit die Tafelbaaise hawe na Antarktika vertrek het, met sowat driehonderd werkers aan boord.

Saam met die Willem Barendz het ook harpoenbote gevaar. Hulle het die walvisse geskiet en na die Willem Barendz gesleep om verwerk te word tot olie en vleis en beenmeel.

“Ek was sestien toe ek die eerste keer met die Willem Barendz Antarktika toe is.” Pat se stem is opeens sag. “Ons is kamma goed betaal.

Dertig pond ’n maand. Dit was jou verdienste. Dit was nie waffers nie, maar wat kon jy doen? My mense was arm.

“Jy het in die Kaap aansoek gedoen om op die Willem Barendz te kom. Toe die dokter my vra hoe oud ek is, sê ek: ‘Agtien, Meneer.’

'n Foto van die Willem Barendz-walvisskip teen 'n muur in Churchaven.

“Ek is as ’n mess boy aangestel. Jy werk in die kombuis en maak die skip skoon. Die ouens kap en sny die walvisse op en dan raak hulle hande en klere vol bloed. Die gange se mure en vloere raak vol bloed as hulle daar afstap, dan moet ons die bloed afwas. Dag en nag moes ons daai mure en vloere skoonhou.”

Pat druk ’n flou glimlaggie tussen sy lippe deur. “Ons het darem goed geëet op die skip. Vleis. Aartappels. Nou en dan het ons ook walvisvleis geëet.”

“O, walvisvleis is lekker,” voeg Eddie by. “Baie lekker,” beaam Pat. “Daar’s nie ’n lekkerder vleis nie.”

In die vyf maande het hulle nie een keer van die Willem Barendz afgeklim nie. Daar was ’n dokter aan boord vir dié wat siek geword het.

“Een jaar is daar ’n kêrel op die Willem Barendz dood, maar ons kon nie omdraai nie.

Toe bêre hulle die ou maar eers in een van die vrieskaste op die skip.”

Pat skud sy kop. “Ja, toe bêre hulle die ou maar daar. As daar iets agter uit die vrieskas gehaal moet word, dan skuif hulle die ou eers eenkant toe.”

Pat kyk lank na die kiekie van die Willem Barendz. “As jy op so ’n walvisboot gewerk het, en as jy van die see af gekom het, was jy ’n grootman. Daai seelewe het jou groot gemaak.”

“Het jy ooit gehuil?” vra Eddie. “Nooit nie, Eddie. Nee. Nooit nie. Nooit.”

Die vleis proe tranerig

Die dorpie Churchhaven is sowat 30 km suid van Langebaan, en geleë in die Weskus -nasionale park.

Dis die volgende oggend en ek is nou op pad soontoe. Die pad is geteer en loop al langs die strandmeer, oor heuwels wat oortrek is met Weskusbossies.

By die afdraaipad soontoe waarsku ’n bordjie: “No unauthorised entry.” Ek draai daar in. Hier woon, volgens Eddie, ook nog enkele walvismanne: Norman Loyd, Willie Johnson en Louis Caswill.

Ek is nou op ’n grondpaadjie, en skudskud al nader aan die strandmeer. Dan staan ’n klompie huise, ’n kerkie en ’n bergraafplaas tussen die bossies op. Churchhaven.

Hoewel dit in ’n nasionale park is, mag hierdie mense hier woon, want hulle is van die ou families wat al donkiejare hier ’n bestaan uit die see maak: die Lloyds, die Johnsons, die Caswills, die Busby’s. Die “Lagooners,” noem hulle hulleself.

Party van die oorspronklike vissershuisies is verbreek en verbou, nes op Langebaan.

Norman Lloyd se huis is op ’n hoogtetjie bo die strandmeer. Die voordeur staan oop. Hy stap uit op die stoep, met ’n hoed op die kop wat baie na ’n Battersby lyk.

Net soos baie ander ou vissermanne is sy gesig vol plooie en lyne, wat dit laat lyk of hy pal effe verdrietig is.

Oom Norman het jarre lank in die Terrier VII se enjinkamer gewerk, maar ook in van die ander Terriers s’n.

“Dit was maar agter die geld aan, nè.” Hy vat my met die oë vas. “ ’n Mens moes lewe. Ek het op Donkergat gewerk, met die opsny van die walvisse. Toe het ek maar op die bote gegaan…”

Hy vroetel met sy vingers. “… om walvisse dood te maak.” ’n Stilte. “Of ek het hulle darem nie self doodgemaak nie.”

Hy het ook al walvisvleis geëet. “Dit het so ’n tranerige smaak.” Hy skud sy kop. “Dit voel vir my nie reg om so ’n groot ding te eet nie.”

“Baie van die Lagooners het walvisse help jag,” sê oom Norman. “Dit was vir hulle ’n finansiële uitkoms.

“Maar die meeste van ons is nou al dood, of weg.” Hy skud sy kop. “Die ryk mense koop nou al die huise hier. Dis net ’n paar van ons Lagooners wat oor is, en ons is ook al oud.”

Hy kyk oor die strandmeer uit. ’n Ligte suidooster laat die water soos die hobbels van ’n sinkplaatpad rimpel. “Dis net ’n kwessie van tyd, dan sal hier geen Lagooners meer wees nie, dan is dit net vreemde mense hier.”

Oom Norman stap na die huis langs syne.

Onder ’n afdak staan ’n Mazda-bakkietjie. Aan die balke hang ’n swaai. Langs die hoenderhok is ’n kleinhuisie van sink.

Eers gaan wys oom Norman vir my die geraamde foto van die Willem Barendz wat in Kenny Lloyd, sy broer, se kombuis hang, dan stap ons na oom Willie en tannie Catherine Johnson se huis daar naby.

Voor die agterdeur is ’n sifdeur, en toe tannie Catherine die sifdeur oopmaak, maak dit ’n kraakgeluid, soos dit ’n behoorlike sifdeur betaam.

Oor die kombuistafel is ’n oliekleedjie en teen die muur hang daardie bekende kombuisgebed wat eens in soveel huise gehang het:

“Seën my kombuis, o, Heer, laat my arbei tot U eer, en voordat ek vandag begin, weet, dis U wat ek bemin.”

Teen ’n ander muur pryk ’n lappie, ’n voos jammerlappie wat geraam is, met dié woorde daarby: “Die jammerste lappie in die wêreld.”

’n Vriend van tannie Catherine het dit as ’n grap hier in die kombuis gevat, dit geraam, en vir haar teruggebring.

Tannie Catherine en oom Willie is broer en suster. Nie een van hulle is ooit getroud nie, en hulle woon al van hulle geboorte af saam in hierdie huisie. Oom Willie het ook by Donkergat gewerk, en hy was ook op die Willem Barendz Antarktika toe.“Ek dink Willie slaap nog.” Tannie Catherine wys die huis in. Oom Norman stap by die eetkamer in. Teen die muur is ’n foto van oom Jacob Johnson, oom Willie en tannie Catherine se oorlede pa, wat ook op die bote gewerk het.

Oom Willie sit op die houtkatel in sy kamer. Wat hy goed van Antarktika onthou, is die lang, koue dae. “Hier twaalfuur in die nag is dit mos nog helder lig daar.” Hy vryf deur sy hare. “Jy rus net so ’n uur of twee, dan moet jy weer opstaan en begin walvisse soek.”

Sy neef George is op ’n ander skip in Antarktika dood.

Hy het die beriggie nog hier wat op 20 Desember 1961 in Die Burger verskyn het: “ ’n Treurige geleentheid gister in die Tafelbaaise hawe was die terugkeer van die Nederlandse walvisjagter AM 5, waarop vier Suid-Afrikaners verlede week in ’n ontploffing in die masjienkamer dood is. Die kaai was vol familielede van die oorledenes en ander belangstellendes toe die AM 5, sy landsvlag halfstok, deur ’n sleepboot ingebring is. Die oorledenes was S. Seagreen van Durban, J.H. Brittan van Lansdowne, G. Esterhuizen van Woodstock en G. Johnson van Churchhaven.”

Die walvisman van Kraaifontein

Een ná die ander haal Raymond Prezens die foto’s uit ’n kartondoos en pak hulle uit op sy eetkamertafel in Kraaifontein, Kaapstad.

Foto’s van die Willem Barendz. Foto’s van die Terriers. Foto’s van Noorweërs, en foto’s van bloeiende walvisse. Oom Raymond het baie van die foto’s gekry by mense wat self op die walvisbote gewerk het.

Hy het ook ’n seisoen lank op ’n harpoenboot gewerk, amper vyftig jaar gelede, toe hy negentien jaar oud was.

“Daai boot was so vol vlooie ek kon nie slaap nie. Die Noorweegse kaptein het ’n hond saam met hom gehad.

“Toe is ek Durban toe, na daai walvisstasie toe. Ek het dit vir die avontuur gedoen. Ek wou sien hoe leef die walvismense. Ek was nog altyd gefassineer deur walvisse en walvisjagters.”

Oom Raymond het later ook op Churchhaven gewoon en as ’n visserman gewerk. Hy onthou hoe George Johnson, oom Willie en tannie Catherine se neef, in die ontploffing op die walvisboot dood is.

“Op George se begrafnis het sy oorle’ ma by die kis gaan staan, en aan die kis geklop, en gesê: ‘George, my kind. Dis Mamma hier.

Mamma is baie lief vir jou, hoor.’ ”

Oom Raymond probeer nou al jare om ’n boek te skryf oor Suid-Afrika se walvismense, maar hy kom nie lekker aan die gang nie.

Dit is jammer, want min mense weet meer van hulle as hy.

Agter hom hang ’n skildery van ’n seetoneel teen die muur.

Dit is maklik om oom Raymond se fassinasie met walvisse te begryp. Dit is mos asof iets oers in jou loskom wanneer jy ’n walvis in die see gevaar. Jy sal die logge swart lyf gewaar, en dadelik alles los waarmee jy besig is, en kyk en kyk.

In Moby-Dick, wat in 1851 die eerste keer verskyn het, ontwikkel kapt. Ahab byna ’n beheptheid met Moby Dick. Dié walvis het vroeër sy been afgebyt en sy skip verwoes.

“Ek het ook ’n passie vir die mense wat op die walvisbote gewerk het. Hulle het swaargekry terwyl daai maatskappye baie geld gemaak het. Dit was nie ’n maklike lewe nie.

As ek net vat...”

Raymond soek na die regte woorde. “As ek net vat watse herinneringe het ek van daai jaar wat ek op die boot was. Daai walvis... as hy geskiet is, blaas hy daai bloed. Daai bloed het in my gesig in gespat. En hy maak so ’n kreungeluid. Dit is amper soos ’n skuldgevoel wat ’n mens het.”

Nou die dag het hy na ’n filmweergawe van Moby-Dick op televisie gekyk. “En weet jy wat?” Raymond kyk reguit na my. “Ek was aan die walvis se kant.”


• Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 97(Mei 2012) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.