Waar begin ’n mens? Die beplanning vir ’n lang reis deur Afrika is makliker as wat jy dink en die kanse is goed dat al die toerusting wat jy nodig het – van ’n voertuig tot kampgoed – reeds in jou motorhuis staan.

In verlede maand se tydskrif (Weg #166) het ons ’n paar lesers se wenke gedeel oor hoe om só ’n reis aan te pak. In hierdie artikel stel ons ’n 70 dae lange reisplan voor, met voorgestelde oornagplekke (meestal kamp) waarmee jy van Suid-Afrika deur Botswana en Namibië na Zambië kan ry.

Daarvandaan mik jy na Tanzanië en Rwanda, waar jy omdraai en terug huis toe ry deur Malawi, ’n stukkie Mosambiek en Zimbabwe.

Hierdie roete – grotendeels gegrond op my eie reise – kan natuurlik aangepas word om by jou behoeftes te pas. Jy kan langer bly by sekere plekke óf sommige lande (soos Mosambiek en Zimbabwe) heeltemal misry. Jy kan ook verder noord ry en Kenia, Uganda en Ethiopië bywerk – maar daarvoor gaan jy meer tyd nodig hê.

Jy hoef nie al die nasionale parke aan te doen wat ons noem nie – kies waarvoor jy lus is. Maar belangriker: Besluit waarop jy geld wil uitgee. Hoe meer parke jy besoek, hoe meer sal dit jou kos, en as jy spesiale ekskursies wil doen soos om na berggorillas (of sjimpansees) te gaan kyk of ’n ballonvaart oor die Serengeti te neem moet jy vooraf daarvoor begroot.

Maar ook: As jy net wil ry en kyk hoe die wêreld lyk, kan ’n bielietoer soos hierdie eintlik heel bekostigbaar wees. Jy kamp, jy maak self kos en omdat jy nie vinnig gaan ry nie (nè?), kan jou brandstofverbruik in toom gehou word.

Buiten die paaie binne die parke is 95% van hierdie roete op teerpad. Dis soms goeie teerpad en soms swak teerpad. Maar dis teerpad, en dit maak die lewe makliker.

Om terug te kom na “Waar begin ’n mens?”... Die antwoord is eenvoudig: jou reis begin hiér! 

Klassieke Reisplan

70 DAE

8 LANDE

12 NASIONALE PARKE

10 GRENSKRUISINGS

11 432 KM

Laai die kaart hier af in pdf-formaat

Dag 1: Tot in Botswana

Afhangend van waar in Suid-Afrika jy woon, sal dit jou ’n dag of twee ekstra neem om tot in Botswana te kom. Dis 650 km ver, maar jy kan vandag van Pretoria af tot by Woodlands Stop Over net noord van Francistown vorder. Gebruik die Groblersbrug-grenspos (teerpad), of die klein Stockpoort-grenspos (stiller).

Plan B As jy in die Kaap wegspring, wil jy dalk eerder deur Namibië ry. Sluit weer aan by ons toerplan op dag 4.

Hoogtepunt Vanaand braai jy met mopaniehout.

Bly hier Woodlands Stop Over woodlandscampingbots.com

Dag 2&3: Kasane, Botswana (484 km)

Druk deur tot in die noorde van Botswana en slaap in Kasane. Slaap twee aande hier, want jy is nou langs die Choberivier: Gaan op ’n sonsondergangvaart op die rivier of ry ’n draai deur die Chobe- nasionale park. Jou vakansie het nou amptelik begin.

Hoogtepunte Olifante! G&T’s!

Bly hier Chobe Safari Lodge chobesafarilodge.com; Thebe River Safaris theberiversafaris.com; Senyati senyatisafaricampbotswana.com; Kubu Lodge kubulodge.net

"Weg" sê

Ry met ’n GPS, gelaai met Tracks4Africa-produkte. Byna al die blyplekke op ons roete is gemerk op Tracks4Africa.

Let veral op die rytyd soos aangedui op Tracks4Africa, eerder as die afstande. Dit kan jou 5 uur neem om 200 km teerpad te ry.

Neem ook ’n kaartboek saam, soos Map Studio se Africa Road Atlas. Dit gee vir jou ’n oorsig van die lande waardeur jy ry wat jy nie met ’n GPS kry nie.

Dag 4&5: Zambesirivier, Namibië (128 km)

Groot riviere soos die Zambesi is een van die redes hoekom jy hierdie toer doen. Ry van Kasane af deur die Ngomabrug-grenspos tot in Namibië (sien ook die Kazungulapont-kassie hier onder). Stroomaf van Katima Mulilo lê ’n hand vol puik blyplekke waar jy die vloei van die rivier uit jou kampstoel kan dophou. Span uit onder die groot oewerbome en raak rustig.

Hoogtepunt Soek ’n visuil in die oewerwoud, of vang ’n tiervis.

Bly hier Caprivi Houseboat Safari Lodge caprivihouseboatsafaris.com; Zambezi Mubala Lodge & Camp gondwana-collection.com; Caprivi Mutoya Lodge caprivimutoyalodge.com

Kazungulapont

As jy vinniger deur Zambië wil ry – en die Kafue- nasionale park wil uitsny – steek die Zambesi oor met die Kazungulapont en oornag op Livingstone (besoek die Victoriawaterval).

Van daar af kan jy die hoofpad volg na Lusaka, en weer teen dag 9 by ons reisplan aansluit. Die Kazungulapont-grenspos is bedrywig, en deurmekaar aan die Zambiese kant. Hulle bou nog aan die brug oor die rivier.

Let wel: Die pad tussen Kazungula en Sesheke is sleg. Dis hoekom ons roete eerder deur Namibië loop.

Bly hier Maramba River Lodge (Livingstone) marambazambia.com; Moorings Campsite (tussen Monze en Mazabuka) mooringscampsite.com

Dag 6: Zambesirivier, Zambië (64 km)

Daar is deesdae ’n stil teerpad wat noordwaarts van Sesheke (net oorkant die grens van Katima Mulilo) parallel met die Zambesirivier loop. Ry tot by Kabula Lodge waar daar ’n groot kampplek met baie gras en skaduwee op jou wag.

Hoogtepunt Nog ’n nag aan die Zambesi!

Bly hier Kabula Lodge kabulalodge.com

Dag 7&8: Kafue- nasionale park, Zambië (580 km)

Begin vroegdag, besoek die Siomawaterval (Ngonye) en ry noord tot by Mongu, waar jy oos draai (als teerpad). Slaap een aand by Kasabushi Camp wes van die Kafuerivier en een aand by Mayukuyuku Bush Camp net oos daarvan.

Hoogtepunte Soek wildehonde, en ontmoet ’n nuwe boksoort: die poekoe.

Bly hier Kasabushi kasabushi.wordpress.com; Mayukuyuku Bush Camp mayukuyuku.com

Dag 9: Mkushi, Zambië (480 km)

Ry tot by Mumbwa waar jy afdraai op ’n grondpad tot by Landless Corner, op die Great Northern-pad. Sodoende sny jy Lusaka se verkeer uit. Die Great Northern-pad is vol vragmotors: Ry versigtig. Eet middagete by Fig Tree Café net buite Kabwe, en draai dan oos by Kapiri Mposhi in die rigting van Mkushi tot jy die Forest Inn langs die pad sien. Dis ’n lang dag se ry dié; begin teen eerste visarendroep.

Hoogtepunt The Fig Tree Café se biefburger is bobaas.

Bly hier Forest Inn forestinn-zambia.com

Dag 10&11: Mutinondo Wilderness, Zambië (325 km)

Draai af en gaan eet middagete by die sierlike Kundalila-waterval. Ry dan voort na Mutinondo Wilderness: Dit lê net ver genoeg van die teerpad af om te voel asof dit aan die einde van die wêreld is.

Hoogtepunt Gebruik jou afdag om te gaan stap.

Bly hier Mutinondo Wilderness mutinondozambia.com

Dag 12&13: Kapishya Hot Springs, Zambië (216 km)

Ry verby Mpika (maak tenk vol hier) tot by Kapishya Hot Springs. Daar is sekere kampplekke wat byna alle selfry-toeriste deur hierdie dele van Afrika aandoen. Kapishya Hot Springs is só ’n plek. Dis die Paradys op dag sewe.

Hoogtepunt Lawe jou in die warmwaterbron terwyl jy aan ’n Mosi-lager teug.

Bly hier Kapishya Hot Springs shiwasafaris.com

Die Emau Hill-kampplek in die Amani-natuurreservaat, Tanzanië

Dag 14: King’s Highway Kalungu, Zambië (290 km)

Ry terug na die teerpad en volg dit noordwaarts in die rigting van die Tunduma-grenspos. Slaap vanaand nog in Zambië sodat jy genoeg tyd het vir die grenspos môre (sien die kassie hier onder). King’s Highway Kalungu is naby die Kalungurivier en het ’n netjiese kampplek.

Hoogtepunt Besoek die imposante landgoed Shiwa Ngandu naby Kapishya.

 

Bly hier King’s Highway Kalungu kingshighway.co.za

Lus vir ’n rustiger grenspos?

Indien die gedagte aan die Tunduma-grenspos jou ontsenu, ry van Kapishya noord na Mpulungu op die oewer van die Tanganjikameer. Slaap ’n aand of wat daar en ry dan deur die piepklein Kasesya-grenspos. Die pad tussen Mbala en die grens is sleg, maar dit raak later teer aan die Tanzanië-kant.

Ry na Sumbawanga en dan suid na Tunduma tot jy weer by die hoofpad na Dar es Salaam aansluit.

Of: Draai noord by Sumbawanga en ry ons voorgestelde roete kloksgewys.

Bly hier Luke’s Beach (Mpulungu) mishembebay@gmail.com; Lake Chila Lodge (Mbala) lakechilalodge@yahoo.com

Dag 15: Mbeya, Tanzanië (163 km)

Tunduma is een van die bedrywiger grensposte op hierdie reis. Iemand sal wel kom aanbied om jou met die papierwerk te help – dis dalk nie ’n slegte belegging nie. Wanneer jy deur is, ry in die rigting van Mbeya, maar draai voor dit af na Utengule Coffee Lodge.

Hoogtepunt Koop ’n paar pakke van hulle koffie – jy kan ook op ’n toer gaan na die koffieplantasie.

Bly hier Utengule Coffee Lodge utengule.com

Dag 16&17: Iringa, Tanzanië (300 km)

Volg die hoofpad van Mbeya na Makambako en dan na Iringa. Die pad is besig en by tye diep uitgery of in aanbou. Dít, tesame met die spoedperk wat vir lang ente slegs 50 km/h is (hou daarby; hier’s baie spoedlokvalle), maak hierdie ’n lang rydag. Slaap twee aande by Kisolanza Old Farmhouse om behoorlik asem te skep.

Hoogtepunte Verken die plaas of doen ’n dagbesoek van die nabygeleë Isimila-steentydperkterrein. Die Cordon Bleu Farm Shop is ook in die distrik – hulle verkoop Suid-Afrikaanse wyn, kaas en selfs biltong!

Bly hier Kisolanza Old Farmhouse kisolanza.com

DAG 18&19: Ruaha (168 km)

Die Ruaha- nasionale park is Tanzanië se grootste park, maar dis stiller omdat dit nie op die noordelike safariroete lê nie. Ry na Iringa (50 km) om vol te maak en draai dan wes met ’n sanderige grondpad (118 km) na die ingang – onthou dat kampplekke in Tanzanië se parke nie omhein is nie. Pasop vir gevaarlike diere soos leeus en olifante.

Hoogtepunt Wildkyk in Ruaha.

Bly hier Ruaha- nasionale park tanzaniaparks.go.tz

Toegang tot Tanzanië se nasionale parke

Dis duur omdat jy in Amerikaanse dollar gelooi en oor dieselfde kam geskeer word as ander oorsese toeriste.

Ruaha, Mikumi, Katavi en Mkomazi val in die goedkoper kategorie en kos US$36 (R483) p.p.p.d. (kinders jonger as 16 kry afslag).

Arusha, Tarangire en Manyarameer is een trappie hoër teen US$53 (R711) p.p.p.d. en Serengeti kos US$71 (R952) p.p.p.d.

Voertuigtoegang kos oral US$48 (R644) per dag en kamp vanaf US$36 (R483) p.p.p.n.

Party parke het goedkoop rondawels (bandas) wat soms dieselfde kos as kamp.

Let wel: Hierdie pryse sluit 18% BTW in. Jy betaal gewoonlik met ’n kredietkaart by ontvangs, maar hou kontant (dollar) byderhand.

tanzaniaparks.go.tz

Sien kassie laer af vir Ngorongoro (dis nie ’n nasionale park nie).

Dag 20: Morogoro, Tanzanië (427 km)

Ry eers terug tot in Iringa, en volg die teerpad in die rigting van Dar es Salaam. Hou stil waar daar veilige aftrekplek is en bewonder die ravyn waar die Ruaharivier deur die Udzungwaberg kerf.

’n Paar kampplekke lê langs dié roete – as jy nie tot in Morogoro vorder nie, oornag by een van die ander opsies (moet nooit in die donker ry nie). Jy ry ook deur die Mikumi- nasionale park, waar jy savanne-veldtonele begin kry. Slaap oor as jy tyd het.

Hoogtepunt Die kremetartwoud oos van Mbuyuni.

Bly hier River Valley Campsite (Iringa) rivervalleycampsites.com; Simbamweni Tented Lodge (Morogoro) simbamwenni@gmail.com; Crocodile Camp (Mbuyuni) crocodilecamp.de; Mikumi- nasionale park tanzaniaparks.go.tz

Vissermanne by Bagamoyo in Tanzanië

Dag 21&22: Bagamoyo, Tanzanië (190 km)

Ry van Morogoro deur sisalplantasies oor die kusvlakte tot jy by Mlandizi van die besige teerpad af op ’n grondpad (onder wuiwende palms) na die geskiedkundige kusdorp Bagamoyo ry. Bagamoyo is ’n goeie rusplek, wasgoedwasplek én basis waarvandaan jy Zanzibar kan besoek. Jy kan natuurlik ook direk Dar es Salaam toe ry, maar die verkeer in Dar es Salaam is frustrerend.

Hoogtepunte Hier’s ’n swembad, lekker kos – en jy’s by die see!

Bly hier Firefly Lodge fireflybagamoyo.com

Dag 23-25: Stone Town, Zanzibar

Los jou voertuig in veilige bewaring by die Firefly Lodge, bespreek ’n taxi (Firefly Lodge kan iemand aanbeveel) na Dar es Salaam en vat die veerboot (bespreek kaartjies by azammarine.com) na Stone Town, Zanzibar.

Hoogtepunte Bespreek daguitstappies na ’n speseryplaas of ’n ou slawegrot óf vir snorkelduik. Verken die antieke dorpie se smal straatjies te voet en snuffel al die beste restaurantjies uit.

Bly hier Al Minar Hotel booking.com

Dag 26: Bagamoyo, Tanzanië

Vat die veerboot terug na Dar es Salaam en die taxi (reël vooraf dat dieselfde taxi jou weer hier kom oppik) terug na Bagamoyo.

Hoogtepunt Herpak die kar vir ’n slag: Hiervandaan gaan jy weer bos toe!

Bly hier Firefly Lodge fireflybagamoyo.com

Dag 27: Usambaraberg, Tanzanië (300 km)

Ry tot by Segera, en draai dan af na Amani-natuurreservaat in die Usambaraberg. Volg die kronkelpad tussen die woude bergop tot by die Emau Hill-kampplek.

Hoogtepunte Soek swart-en-wit colobusape, endemiese voëls en gaan op ’n nagwandeling om skaars verkleurmannetjies te sien.

Bly hier Emau Hill amaniforestcamp.com

Dag 28&29: Mkomazi (245 km)

Ry terug teerpad toe en dan na Same. Slaap hier en verken die stil Mkomazi- nasionale park op ’n dagbesoek.

Hoogtepunte Soek skaars boksoorte soos die gerenuk en kleinkoedoe, asook endemiese voëlspesies by die dosyne.

Bly hier Elephant Motel elephantmotel.com

Dag 30: Arusha (180 km)

Ry deur Moshi tot naby Arusha en slaap net buite die Arusha- nasionale park. Sorg dat jy middagete daar is en gaan ry later ’n draai deur die park. Indien jy nie haastig is nie, slaap twee aande hier sodat jy ’n voldag in die park kan rondry. Hier is mere omsoom met flaminke, en in die woud sien jy ape soos swart-en-wit colobusse en blouape. (Nee, nie dieselfde blouape wat ons in Suid-Afrika kry nie. Hierdie is nader verwant aan die samango-aap.)

Hoogtepunte Jy sien op één dag Berg Meru en Kilimandjaro!

Bly hier Meru Mbega Lodge & Campsite baobabvillage.com

Blou-aap (verwant aan ons samango-aap), Arusha- nasionale park, Tanzanië

Dag 31-33: Tarangire (150 km)

Arusha is jou laaste groot dorp vir ’n wyle. Maak seker jou gasbottel is vol en al jou voorrade aangevul voor jy verder ry na die Tarangire- nasionale park. Oornag buite die park en ry in vir dagbesoeke.

Hoogtepunte Tarangire is Tanzanië op sy beste: leeus, jagluiperds, olifante, kremetarte, moerasse...

Bly hier Wild Palm-kampplek; GPS: S3.68161 E35.947859 (Daag maar net op; geen kontaknommer is beskikbaar nie. Hier is warmwaterstorte, groot bome en behulpsame personeel.)

Dag 34: Manyarameer (65 km)

Ry vroeg en kry vir jou slaapplek net buite die dorp Mto Wa Mbu by Panorama Safari Camp. Dis op die rand van die Skeurvallei en kyk uit oor die Manyarameer. Besoek die Manyarameer- nasionale park in die middag. Die dorp het ’n goeie groentemark reg langs die hoofstraat as jy vars produkte wil aankoop vir die kampdae wat voorlê.

Hoogtepunt Neem foto’s van die groot groepe pelikane langs die meer. Hier hou ook leeus wat soms boomklim!

Bly hier Panorama Safari Camp panoramasafaricamp.com

Dag 35&36: Ngorongoro (50 km)

Dis moeilik om ’n krater vol diere te klop – maar om daar in te ry is besonder duur (sien die kassie hier onder). Indien jy baie geld wil spaar, kan jy dié uitstappie uitsny en eerder net vir die dag ander dele (soos die Empakaaikrater) van die uitgestrekte Ngorongoro-bewarea verken.

Hoogtepunt Ngorongoro het ’n onverwoordbare energie – jy moet dit beleef. 

Bly hier Simba-kampplek ngorongorocrater.org

Skud jou sak, jy’s in Ngorongoro

Toegang tot die bewarea kos US$71 (R952) p.p.p.d. Kinders 5-16 jaar betaal US$24 (R322). Dit kos ook US$48 (R644) per voertuig per dag.

Die spesiale kratertarief is US$295 (R3 959) per voertuig per dag, en jy moet ook US$20 (R268) betaal vir jou veldwagter wat moet saamry.

Kamp by Simba kos US$48 (R644) p.p.p.n. Jy kry jou permitte in die dorpie Karatu (net voor die ingangshek) by die Ngorongoro-bewareakantoor, en betaal by die bank.

Dag 37-40: Serengeti (60 km)

Tot dusver het jy van Suid-Afrika af byna heelpad teerpad gery (behalwe vir die paar afdraaie na parke). Die teerpad hou op by Ngorongoro. Volg nou hierdie sinkplaathoofweg weswaarts vir 60 km na die Serengeti- nasionale park. Kamp drie aande by Seronera en jou laaste aand by die westelike uitgang, Ndabaka (sowat 144 km van Seronera af).

Hoogtepunt Rondom Seronera sál jy leeus sien. Die wildebeestroppe is legendaries – dis die Serengeti!

Bly hier Seronera se openbare kampplekke en Ndabaka tanzaniaparks.go.tz

Dag 41&42: Mwanza, Tanzanië (142 km)

Die Serengeti grens byna aan die Victoriameer. Volg die meer se oewer in die rigting van Mwanza, ’n bedrywige dorp wat jou nogal aan ’n rowwe Knysna laat dink.

Hoogtepunt Dis die enigste keer dat jy die Victoriameer sien – geniet dit!

Bly hier Tunza Resort tunzaresorts@gmail.com

Dag 43: Benaco/Nyakasanza, Tanzanië (372 km)

Begin vroeg, verlaat Mwanza en steek deel van die Victoriameer oor met ’n veerboot. Ry na Sengerema, dan Geita en later Lusahunga (laas toe ons hier gery het, was die pad in aanbou). By Lusahunga draai jy in die rigting van die Rwanda-grens. Dié teerpad is gehawend – jy ry 20 km/h. Mik vir die dorpie Benaco (ook bekend as Nyakasanza). Die Dream Land Motel het veilige parkeerplek, skoon kamers en jy kan hoender en bier bestel.

Hoogtepunt As jy jou slaapplek voor donker haal.

Bly hier Dream Land Motel; GPS: S2.50273 E30.85419 (daag maar net op)

SOOS BY DIE HUIS. Tanzanië se nasionale parke laat jou soms aan die Krugerwildtuin dink wat uitkykpunte en piekniekplekke betref. Maar die landskap is dikwels meer tropies, soos hier in die Arusha- nasionale park. Hierdie punt kyk uit oor ’n ou krater waar ons buffels sien wei het.

Dag 44: Kigali, Rwanda (172 km)

Die Rusumu-grenspos is modern en nie so dol nie – koop jou visum vir Rwanda hier. Aan die Rwanda-kant is die teerpaaie goed, maar ry stadig, want hier is baie voetgangers en fietsryers. Ry tot in die hoofstad, Kigali. Vanaand eet jy uit – die hotel wat ons aanbeveel, het ’n uitstekende Chinese restaurant.

Hoogtepunt Jy ry aan die regterkant van die pad...

Bly hier Hotel Tangren; 00 250 788 888 809

Dag 45: Ruhengeri, Rwanda (100 km)

Jy was ’n paar duisend kilometer laas in ’n ordentlike koffiewinkel – eet ontbyt by die Inzora Rooftop Café direk agter die Hotel Tangren. Hier’s ook ’n goeie boekwinkel. Besoek daarna die Kigali Genocide Memorial. As jy klaar gekuier is in die stad, ry na Ruhengeri in die noorde van die land. Jou blyplek is ’n halfuur se ry van die Volcanoes- nasionale park waar jy berggorillas kan besoek (sien die kassie hier onder).

As jy nie dié uitstappie wil doen nie, gaan op die begeleide stap na die goue ape – hulle is oulike knape (jy hoef nie vooraf te bespreek nie en dis nie te duur nie).

Hoogtepunt Die Kigali Genocide Memorial

Bly hier Red Rocks redrocksrwanda.com

Berggorillas in Rwanda

Dié gorillas is uiters bedreig en dit verg ’n allemintige poging om hulle te beskerm, maar Rwanda het onlangs die permitprys verdubbel van US$750 (R10 065) tot ’n onbesonne $1500 (R20 133) p.p. Tog stroom toeriste hierheen (jy moet maande vooraf bespreek).

Om in die bamboeswoud saam met ’n familie gorillas te sit bring hulle benarde bewaringsposisie (en die mens se rol daarin) in perspektief.

reservation@rwandatourism.com

Nota Permitte in die buurland Uganda is goedkoper teen US$600 (R8 051). ugandawildlife.org

Dag 46: Ruhengeri en Gisenyi, Rwanda (60 km)

Skeduleer jou gorilla-uitstappie vir dié oggend. Jy behoort teen middagete daarmee klaar te wees – ry dan na Gisenyi op die noordelike oewer van die kalm Kivumeer.

Hoogtepunt Om ’n gorilla in die oë te kyk.

Bly hier Discover Rwanda Gisenyi Beach discoverrwanda.net

Dag 47&48: Kibuye, Rwanda (94 km)

Volg die bergpad (dit behoort nou klaar geteer te wees) teen die oewer van Kivu tot in Kibuye – jy gaan verlief raak op dié plek. Bespreek ’n vaart na een van die eilandjies.

Hoogtepunt Sit aan die ontbyttafel met puik Rwandese koffie en skryf poskaarte huis toe. Salig.

Bly hier Hotel Béthany 00 250 252 568 235

KYK VIR KIVU. Die roete langs Rwanda se Kivumeer van Gisenyi na Kibuye en verder suid na Nyungwe is dalk een van die beste landskapbesigtigingsroetes in die ganse Afrika.

Dag 49&50: Nyungwewoud (108 km)

Ry suid langs die meer af en draai dan weg na die Nyungwe- nasionale park. Jy ry deur teeplantasies en skielik is jy in ’n besonderse bergwoud. Die kampplek by Uwinka is só oulik jy sal dit wil oprol en inpak.

Hoogtepunte Hier is tientalle endemiese voëlspesies (Ruwenzori-loerie, Archer se janfrederik, rooinekbergkatlagters, dwergheuningwyser, witkopkakelaar...), sjimpansees en ander aapsoorte. Gaan op ’n begeleide voëlkyk-uitstappie.

Bly hier Uwinka rwandatourism.com

Dag 51: Kigali, Rwanda (207 km)

Ry terug na die hoofstad. Doen inkopies en kry jou sake agtermekaar, want van môre af begin jy stadigaan terugdraai huis toe.

Hoogtepunt Jy eet vanaand weer by die Chinese restaurant! Chow mein!

Bly hier Hotel Tangren; 00 250 788 888 809

Dag 52: Benaco/Nyakasanza, Tanzanië (172 km)

Ry weer deur die Rusumu-grenspos en tot by die Dream Land Motel. Moenie vandag verder ry nie. Laat tyd ingeval jy vertraag word by die grens.

Hoogtepunt Jy ken nou al die ontvangsdame se naam by die Dream Land Motel.

Bly hier Dream Land Motel; GPS: S2.50273 E30.85419

Dag 53&54: Kigoma, Tanzanië (400 km)

Begin douvoordag ry – die grootste deel van jou roete is op grondpad wat (buite die reënseisoen) heel rybaar sal wees. Ry tot in Kigoma teen die noordelike deel van Tanganjikameer. Verken die nabygeleë Ujiji (waar Stanley vir Livingstone opgespoor het) op jou afdag, of bly langer en gaan kyk sjimpansees in die Dombe Stream- nasionale park ( tanzaniaparks.go.tz) noord van Kigoma.

Hoogtepunte Swem in die meer, besoek die Livingstone-museum in Ujiji – en koop kleurryke, geborduurde dekens langs die pad.

Bly hier Jakobsen’s Beach newsite.kigomabeach.com

Dag 55: Sitalike, Tanzanië (332 km)

Ry van Kigoma na Uvinza (teer) en dan suid na Mpanda (grondpad). Sitalike lê net buite die Katavi- nasionale park. Slaap hier sodat jy môre vroeg die park kan binnery.

Hoogtepunt Jy ry die hele dag deur golwende boslandskap – neem baie kiekies.

 

Bly hier Riverside Camp riversidecampkatavi.weebly.com

VELD EN VLEI. Die landskappe waardeur jy met hierdie roete ry, verskil baie. Soms is dit dor en stowwerig, maar soms, soos hier in Tanzanië se Amani-natuurreservaat, is dit geil en groen. Hou in gedagte dat grondpaaie erg modderig kan raak in die reënseisoen.

Dag 56: Katavi (50 km)

’n Vergete park waar jy vir seker die enigste kampeerder sal wees. Bly maar in jou tent ná donker; dis wild hier.

Hoogtepunte In die droogste tyd van die jaar (Oktober-November) sal jy honderde seekoeie in modderpoele sien saamdrom. Hier’s ook krokodille so groot soos duikbote.

Bly hier Ikuu-kampplek tanzaniaparks.go.tz

Dag 57&58: Kipili, Tanzanië (140 km)

Ry van Katavi af suidwaarts (hierdie pad is dalk nou al geteer) en draai af na die vissersdorpie Kipili langs die Tanganjikameer. Geniet vir oulaas die rustigheid van Tanganjika by die Lake Shore Lodge.

Hoogtepunte Neem foto’s by die murasie van die ou sendingkerk op die heuwel. Eet by die lodgerestaurant.

Bly hier Lake Shore Lodge lakeshoretz.com

Dag 59: Mbeya, Tanzanië (563 km)

Ry van Kipili af suidwaarts tot by Sumbawanga en dan verder suid tot jy weer by Utengule Coffee Lodge kom. Die grootste deel van hierdie roete is deesdae geteer, maar val vroeg in die pad.

Hoogtepunt Gaan eet vanaand by die restaurant.

Bly hier Utengule Coffee Lodge utengule.com

Dag 60: Tukuyu, Tanzanië (66 km)

Ry in die rigting van die Malawi-grens, maar talm eers in die verrassende hoogland van Tanzanië. By Bongo Camp (net noord van die dorpie Tukuyu) kan jy ’n gids kry wat jou na die streek se vele natuurwonders begelei.

Hoogtepunte Hier is woude, teeplantasies, watervalle, ’n kratermeer en selfs ’n natuurlike rotsbrug.

Bly hier Bongo Camp bongocamping.com

MEESTAL TEERPAD. Só lyk die teerpad na Dar es Salaam by Mbuyuni se kremetartwoud.

Dag 61: Livingstonia, Malawi (195 km)

Sodra die geroesemoes van die Songwe-grenspos verby is, behoort ’n diepe rustigheid oor jou neer te daal. Malawi doen dit aan ’n mens. Jy slaap vanaand op ’n plato wat uitkyk oor die meer.

Plan B Indien jy tyd het, besoek ook die aangrensende Nyikaplato- nasionale park.

Hoogtepunt Die uitsig oor die meer gaan jou laat Google hoeveel eiendom hier kos.

Bly hier The Mushroom Farm themushroomfarmmalawi.com; Lukwe Eco Camp lukwe.com

Dag 62&63: Chintheche, Malawi (214 km)

Besoek die geskiedkundige Livingstonia-rooibaksteenkerk die oggend voor jy verder ry. Draai by die hoofteerpad langs die meer suid na Mzuzu en draai daar weg na Nkhatabaai. Jy kan hier blyplek soek of verder suid ry na Chintheche.

Hoogtepunt Jy word aan die slaap gesus deur die gesjoesj van golwe.

Bly hier Makuzi Beach Lodge (Chintheche) makuzibeachlodge.com; Sunga Moyo (Chintheche) sunga-moyo.com; Kande Beach (Nkhatabaai) kandebeach.com

Dag 64-66: Kaap Maclear, Malawi (396 km)

Jy kan kuier-kuier teen die Malawimeer af ry, of direk skuif na een van die gewildste gebiede, Kaap Maclear. Ry suid met die teerpad tot by Salima, en daarvandaan na Mua Mission, sowat 45 km verder suid. Die KuNgoni-museum by Mua is ’n besoek werd. Ry dan na die Monkey Bay/Kaap Maclear-omgewing. Gaan op ’n bootvaart, of sit sommer net vir oulaas en kyk vir een van Afrika se groot mere. (Sien ook die Haastig-kassie op die kaart.)

Hoogtepunte Die KuNgoni-museum se versameling ritueelmaskers, en snorkelduik tussen kleurryke vissies in die meer.

Bly hier Chembe Eagles Nest chembenest.com; Fat Monkeys fatmonkeysmw.com

Dag 67: Blantyre, Malawi (266 km)

Slaap vanaand in Blantyre sodat jy môreoggend vroeg by die Zobue-grenspos kan wees. Ons keuses hier onder: Leslie Lodge is fênsie, Doogle’s nie.

Hoogtepunt Jy het al vergeet hoe lyk ’n groot dorp. Eet ’n pizza.

Bly hier Leslie Lodge leslielodge.com; Doogle’s reservations@dooglesmalawi.com

Dag 68: Harare, Zimbabwe (611 km)

Dis moontlik om in een dag van Blantyre oor Tete na Harare te ry, dan hoef jy nie iewers in Mosambiek te oornag nie. Ligdag agter die stuur!

Plan B As jy meer tyd het en nog nooit in Zimbabwe se oostelike hoogland (Nyanga, Troutbeck, Chimanimani...) was nie, draai af en toer nog ’n paar dae. Dit lyk soos Skotland daar bo in die berge.

Plan C Dalk het die Malawimeer jou net lus gemaak vir die see. Knyp nog ’n week af en besoek die Mosambiekse kus op pad terug huis toe. Inhambane roep!

Hoogtepunt As jy voor donker in Harare aankom.

Bly hier Small World Lodge (Avondale, Harare) smallworldlodge.com

GEREED? Dis lekker om Malawi op pad terug huis toe in te werk, want hier kan jy ordentlik uitspan asof jy by die see is. Hierdie foto is by Kaap Maclear geneem.

Dag 69: Masvingo, Zimbabwe (325 km)

Vat die hoofpad suid van Harare na Masvingo en draai daar af na Groot-Zimbabwe. Dié onderskatte trekpleister is een van Afrika se groot monumente. As jy al vantevore hier was, kan jy in een dag deurdruk na Suid-Afrika. Maar as jy tyd het, wat van ’n draai deur die Gonarezhou- nasionale park?

Hoogtepunt Groot-Zimbabwe

Bly hier Norma Jeane’s Lake View Resort normajeanes@yoafrica.com

Dag 70: (788 km tot in Pretoria)

Wanneer jy verby die mall in Musina ry, bekende aksente om jou hoor en die N1 onder jou bande voel sing, gaan jy botsende emosies ervaar. Jy gaan bly wees om terug te wees. Maar die pad agter jou sal vir ewig in jou oor bly fluister. Wat ’n mooi vasteland. Wat ’n lewe. Geniet dit.

Hoogtepunt Binnekort slaap jy in jou eie bed... 

TYDLOSE TARANGIRE. As jy net geld het vir een nasionale park in Tanzanië, kies Tarangire. Die landskap wissel van bosveld tot moeras.

WEET VOOR JY WAAI

Hoeveel kos ’n toer soos hierdie?

Jou gemiddelde verblyf-, kos-, brandstof- en basiese leefkoste per persoon per dag kan wissel van R400 tot R800. Sekere uitstappies kos baie geld (soos gorillas kyk) wat jy in een oggend uitgee; ander dinge kos jou niks nie en jy kan dit elke dag doen (sit in jou kampstoel en kyk voëltjies). Besluit vooraf wat die “groot” goed is wat jy wil afmerk. Begroot daarvoor en beplan rondom dit.

Moet ek vooraf plek bespreek by blyplekke?

Nee, jy kan maar net ry. Al wat jy vooraf moet bespreek, is iets soos gorillakykpermitte.

Is brandstof oral beskikbaar?

Op die groter dorpe langs die roete wat ons voorstel, ja (behalwe dalk skoon diesel). Jy het nie ’n langafstandtenk nodig nie, en een jerrykan is genoeg as noodbrandstof (ons het dit nooit nodig gehad nie). Maak altyd vol wanneer die geleentheid daar is.

Watter voertuig het ek nodig?

Die geskikste voertuig is ’n dubbelkajuitbakkie of sportnutsvoertuig met ’n goeie grondvryhoogte. Hoewel jy meestal teerpad gaan ry, is 4x4 altyd nuttig, veral as jy skielik reën kry.

Jou voertuig moet toegerus wees met ’n brandblusser, glimbaadjies vir al die insittendes, twee stelle nooddriehoeke en rooi kaatsstroke op die agterste buffer en silwerkleurige stroke voor. Jou Suid-Afrikaanse rybewys is geldig.

Watter tyd van die jaar is die beste?

Die droë seisoen, wat moeilik is om te voorspel, maar tussen Junie en Oktober bied waarskynlik die beste weerstoestande. Reën maak bestuur moeiliker en kamp ongerieflik.

Is dit veilig?

Die lande en streke op ons roete is relatief veilig. Hou egter die nuus dop (byvoorbeeld rondom verkiesings) en vermy gebiede waar onluste skielik kan uitbreek. Gesels ook met ander reisigers wat jy teëkom en kry op dié manier vars nuus.

Gedra jouself soos jy reeds in Suid-Afrika doen: Sluit die kar, moenie waardevolle goed laat rondlê nie, en laat iemand by die kar bly indien jy iewers stilhou om inkopies te doen.

Hoe is die mense?

Jy gaan byna oral met Engels kan regkom. Leer ’n paar frases Swahili sodat jy mense kan groet in ’n taal wat hulle ken. Jy gaan meestal net gulhartige mense teëkom wat bly is om jou te sien. Toon respek aan die amptenaar aan diens by polisiebeheerpunte, grensposte, ensovoorts. Haal jou donkerbril af as jy met iemand gesels. Draai jou ruit af. Glimlag.

Haal jou donkerbril af as jy met iemand gesels. Draai jou ruit af. Glimlag.

Hoe hou ek kontak met die huis?

Neem jou slimfoon saam. As jy wil, kan jy in elke land ’n SIM-kaart koop, data op jou foon laai en sodoende met almal tuis in verbinding wees (en Instagram dat dit klap!), asook navorsing doen soos jy ry oor blyplekke en besienswaardighede.

Talle oornagplekke bied ook Wi-Fi.

Hoeveel kos dit om grense oor te steek?

Dit wissel van land tot land. Dit kan jou enigiets van R400 tot R1 000 kos om ’n grens oor te steek.

Daar is gewoonlik minstens drie tariewe wat betaal word: koolstof- of padbelasting (hoe groter jou voertuigenjin, hoe hoër die koolstofbelasting), tydelike invoerpermit (TIP) en derdepartyversekering (soms ook kleiner gemeenskaps- of tolheffings).

Plak die derdepartyversekeringsplakker op jou voorruit – by polisiebeheerpunte kyk hulle daarna.

Hoeveel geld moet ek saamry, en sal my bankkaarte werk?

Moenie te veel kontant saamry nie. Sowat US$1 000 is genoeg – sorg dat jy kleiner het, soos $10-note. Gebruik jou kredietkaart vir groter betalings waar jy kan.

Trek kontant met jou debietkaart by kitsbanke sodat jy altyd die betrokke land se geldeenheid by jou het vir aankope soos kos en brandstof.

Verwittig vooraf jou bank in Suid-Afrika dat jy jou kaarte in die buiteland gaan gebruik.

Watter dokumente het ek nodig?

Paspoort, voertuigregistrasiepapiere, lisensiepapier (waarop jou nommerplaat verskyn), ’n polisieverklaring (wat sê jou kar is nie gesteel nie) en ’n toestemmingsbrief van die bank indien jy nog jou kar afbetaal. Maak gewaarmerkte afskrifte van alles en bêre ’n stel hiervan elders in die kar.

Hou ook afskrifte van byvoorbeeld jou paspoort byderhand. Gee die afskrif vir ’n amptenaar indien jou paspoort gevra word sodat iemand nie met jou paspoort wegstap nie.

Hou al jou dokumente in ’n flip file wat jy maklik kan uithaal by grensposte en padblokkades. Skandeer ook al jou dokumente vooraf en stuur dit per e-pos na jouself sodat jy dit aanlyn in die hande kan kry in ’n noodgeval.

Hou al jou dokumente in ’n "flip file" wat jy maklik kan uithaal by grensposte en padblokkades.

Het ek ’n Carnet de Passage en Douane (CDP) nodig?

’n CDP is basies ’n “paspoort” vir jou kar. Indien jy beplan om baie lande te besoek – en dis verpligtend indien jy Kenia toe wil ry – gaan dit jou heel moontlik tyd en geld spaar by die grensposte omdat jy dan nie elke slag die tydelike invoertarief (TIP) hoef te betaal nie.

Koop die CDP-dokument vooraf by die AA in Suid-Afrika. Die waarde van jou voertuig, asook die duur van jou toer en die lande wat jy wil besoek, beïnvloed die koste van die CDP. As jy byvoorbeeld Ethiopië en Egipte toe wil ry, raak dit duurder. Gaan lees op aa.co.za hoe dit werk.

Indien jy beplan om niks verder noord as Tanzanië te ry nie, is ’n CDP nie regtig nodig nie. Jy kan bloot by elke grens wat jy kruis die Temporary Import Permit (TIP) aankoop.

Mediese versekering en ander mediese goed?

Versekering gee ’n mens gemoedsrus. Besluit self of jy malariapille wil drink of nie. Vra jou dokter se raad. Neem ’n voorraad van al jou gewone medisynes saam, en kry jou geelkoorskaart in orde – ook al jou inentings.

Wat nog? Berei jou voor met ’n paar boeke. Bradt se gidse tot Tanzanië (daar is een wat fokus op die noorde van Tanzanië), Zambië, Malawi en Rwanda is puik. Kry ook ’n eksemplaar van Birds of Africa (South of the Sahara), want jy gaan baie voëlspesies sien wat nie in jou Suider-Afrikaanse voëlgids verskyn nie.

Lees ook onlangse artikels oor Ngorongoro (Weg #151), die Serengeti (Weg #152), Rwanda (Weg #153), die Tanganjikameer (Weg #155), Tanzaniese parke (Weg #157), Zanzibar (Weg #158) en die leserstories in verlede maand se Weg (#166).

Leer by ander reisigers

’n Hand vol Weg-lesers wat onlangs wyd deur Afrika gereis het, het gehelp met die navorsing van hierdie artikel.

Hugo en Caro Minnaar, Julie Osborne-Tame en Steve Bullen het hulle wenke gedeel oor die beste kampplekke langs die roete.

Lees hulle breedvoerige blogs (en Instagram-profiele) vir nog inligting.

Hugo & Caro twomonkeys.in; IG: @twomonkeys.in

Steve bluemonkeytravels.com; IG: @bluemonkeytravels

Julie campingafrica.co