Langnaweek: Gamkaberg
Foto's Esma Marnewick

Die R62 deur die Klein-Karoo word dikwels geflank deur bergreekse: Warmwaterberg, Langeberg, Swartberg, Rooiberg... In die ry sien jy talle onbeduidende klowe op die horison.

Tussen Calitzdorp en Oudtshoorn lê Tierkloof in die Gamkaberg-natuurreservaat. Dis hier waar natuurbewaarders soos Cornelius Julies, Tom Horne, Willem Goemas en Tom Barry reeds langer as 20 jaar werk om ’n stuk wildernis te bewaar. Vóór hulle het Cornelius en Tom Horne se pa’s én oupas ook gewerk om die bewaringsgebied te help vestig. Dié gebied is deesdae 800 km² groot (net 110 km² is oop vir die publiek). En dié familiebesigheid werp vrugte af: Gamkaberg is deel van ’n Wêrelderfenisterrein, die reservaat verskyn in Africa’s Finest, ’n boek oor die top-50 volhoubare blyplekke suid van die Sahara, én die Tierkloof-staproete word gelys in die BBC-boek Unforgettable Walks to Take Before You Die.

Dis ’n snikheet Januarie toe ons gesin na die reservaat toe ry. Die Karoo gaan gebuk onder ’n erge droogte. Jy sien skaars ’n volstruis. Rondom jou is die landskap vaal en dor.

Maar in die Tierkloof staan digte doring- en spekboomwoude (die Hollandse woord vir ’n luiperd is “tijger,” vandaar die naam, en met die laaste opname was hier sowat 40 luiperds).

Plek-plek lê ’n nattigheid in die rivierbedding waar vlinders en bye rondom geurige kruisementbosse fladder.

Teen die sandsteenkranse in weggesteekte kolle pryk rooi jagtersfigure reeds duisende jare, en nóg hoër op hang daar dalk ’n rotsklimmer of twee aan ’n tou.

Klink nie juis na ’n gewone Karoobossielandskap nie, nè.

Op die steil Lawsonspas klim jy 300?m binne 1,7?km en skei sowat 5 liter sweet af. In die Tierkloof stap jy dikwels deur spekboomwoude in Tierkloof
Die blare is eetbaar – dis propvol vitamien C. Moenie Gamkaberg s’n eet nie; plant een in jou tuin om aan te peusel.

Ons kom rondom middagete by die reservaat aan en pak af in die Sweet Thorn-ekolodge. In die warm uur kan jy niks anders doen as op jou bed lê nie. Al wat jy hoor, is die geflap van die tentseil en die sonbesies wat verwoed skree. Nou en dan koer ’n duif sonder veel entoesiasme.

Later die middag ry ons na die uitkykpunt oor die Tierkloof. Hiervoor moet jy die Lawsons-pas aandurf. Ons het onlangs ’n 4x4-bakkie aangeskaf, maar behalwe daai keer toe ons op die sand gekamp het aan die Weskus, het ons nog nie regtig ge-4x4 nie. Maar Willem Goemas, wat ons verwelkom het, verseker ons dis nie te harig nie. “Hou net dinge in low range.”

Voor ons kleef twee sementstroke aan die hang van die berg. Het ek al genoem dis stéil? Trouens, die Lawsonspas is die steilste stuk pad wat ek nog in my lewe gesien het!

Ons kruip suutjies teen die pad uit. By tye voel dit asof jou bakkie soos ’n wafferse SpiderMan aan die sement vasklou. Die spek- en doringbome staan alkante van die pad soos ’n skare wat jou aanmoedig.

Jy kan onder geen omstandighede stilhou vir ’n foto nie. Want as jou voertuig hier begin gly, vlie’ jy agteruit tot by die Calitzdorp Spa sowat 10 km weg! Ná sowat twee haarnaalddraaie begin dinge afplat, en dan kan jy ophou bid en om jou kyk. Agter jou lê die Swartberg in blougrys lae tot op die gesigseinder. Jy sien Oudtshoorn se Monopoly-huisies in die verte.

Papsopnat gesweet – en ek het nie eens bestuur nie – kom ons bo. Nou verkeer die bakkie weer horisontaal. Om jou is die veld sag en groen; nog jonk ná die rampspoedige brand van 2017. Die pad kronkel tot by ’n parkeerterrein van waar jy die houtdek bo Tierkloof kan sien.

Ek leun oor die reling en kyk tot onder op die klipperige vloer van die Tierkloof waarlangs ons môre stap.

Maak ’n draai by die Erfenis-uitstalling voor jy in die kloof gaan stap.
Hier??leer jy onder meer dat die naam Karoo afkomstig is van die Khoi-Khoi woord “Garo” wat “land van die dors” ?beteken.

Die son is nog nie op nie, maar daar lê reeds ’n pienk lyn bo-op die omliggende berge. Ons sluk vinnig koffie en ’n paar stukke beskuit en pak die staprugsakke in die bakkie. Ons parkeer naby die Tierkloof-ekolodge en begin stap aan die sowat 6 km tot by die oorhang. Die paadjie kronkel deur ’n doringboomwoud (ja, ’n woud). Ná sowat ’n kilometer kom jy uit by die Tierkloofrotsklimkol. Hier’s ’n stuk of 30 roetes. Net gaste wat oornag, mag hier klim.

Hemelhoë sandsteenkranse troon bo jou kop uit. Die oggend is koel. Die lug blou. Die plantegroei ruig en groen. Dit voel skoon tropies.

Die roete loop teen ’n geleidelike opdraande in die kloof op. Soms stap jy in die droë rivierloop. “Dié rivier kom elke tien jaar of so af, dan lê die opdrifsels tot so hoog as 2 m,” vertel Tom, die reservaatbestuurder, later.

Die paadjie is klipperig en draaierig deur digte plantegroei: verby botterbome, malvas, spekbome... Die diere en voëls is skugter. Selfs duiwe laat spaander as hulle jou sien aankom. As jy ’n rukkie stilsit, behoort jy wel ’n feevlieëvanger, grystjeriktik en priritbosbontrokkie te gewaar. Luister ook vir die nasale “nehh, nehh, nehh” van die bonthoutkapper.

Sowat 2½ uur later sien ons ’n bordjie wat regs wys: Overhang 35 m. Ook net betyds, dis negeuur en die son is op ons hakke! Oornagstappers hou hier reguit aan en klim uiteindelik uit die kloof tot bo by die Oukraalhut – dis nog sowat 5 km se stap.

Ons hou regs en klouter teen groot rotse uit. Die son bak neer op my rug... en bo! Sjoe, wat ’n puik wegkruipkol diep in die berg. Ek staan op die rand van die oorhang en kyk terug oor die kloof: Hoeveel sulke ongerepte klowe lê daar nie in die voue van die berge reg oor ons land nie.

As ’n mens hier staan met die rotse wat om jou wil-wil toevou, kan jy nie anders nie as om dankbaar te voel teenoor ouens soos Cornelius, Willem en Tom wat hard werk om dié klowe so mooi en skoon te hou nes toe dit geskape is.

Ons is nog net twee dae hier, en hier is nie ’n klippie uit plek nie. Die ekolodges is pynlik netjies – selfs die paadjies tussen die tente is gehark, die sonpanele is netjies agter rietskerms. Spiekeries, man, spiekeries.

Bobbejane en dassies hou waarskynlik kajuitraad in die oorhang – hier trek ’n klankie deur die lug; dus vertoef ons nie te lank nie en durf die warm pad terug tent toe aan.

Klim die koppie agter Sweet Thorn uit en kyk hoe die son die Klein-Karoo groet. Bedags gaan jy in die hangmat, dekstoel of ekoswembad deurbring.

Teen 11 vm. strompel ons by ons tente in by Sweet Thorn. Moeg en natgesweet. Die kinders streep dadelik swembad toe.

“Ek verduidelik altyd al die staproetes en dan sê die mense hulle is nie hier vir stap nie; hulle wil net ontspan,” het Willem vroeër gesê.

Smiddae is vir lees en dut in die hangmat. Voor ek my kom kry, vertrek ek droomland toe op die maat van ’n sonbesiekwartet.

Vandag pak ons die 4x4-roete tot by die Oukraalhut. Weer sweet ons die Lawsonspas uit. Ná die uitkykpunt klim, bons en stamp die roete al teen die hang van Bakenskop uit. Rondom jou lyk die koppe sag en grys.

As jy terugkyk, lyk dit asof jy net so hoog soos die Swartberg aan die ander kant van die R62 is.

Jy is nie, want Bakenskop is maar 1 105 m hoog teenoor die Swartberg se Kariegasberg (2 053 m) en die Kangoberg (1 972 m).

Sodra jy om Bakenskop gery het, lê die pad ver voor jou: twee smal spore tusssen die sagte grasse. Die roete daal en klim tot by die Schneganskop (1 110 m). Anderkant die kop kyk jy uit oor die Outeniquaberg in die suide. Die pad loop nou oor ’n moerasagtige landskap op die rug van die berg tot by die Oukraalhut.

“Lawsonspas was destyds ’n perderoete,” vertel Tom. “Die grond was gemeenskaplike weiding en die plaaslike boere het hulle vee in die droë somermaande hier opgejaag.”

Die pas is genoem na die reservaatbestuurder Brett Lawson wat dit laat bou het. Cornelius se pa, Willie Julies, het ook help bou.

Die boere het hulle vee gebring na die suidelike hange van Gamkaberg, na die mineraalryke weiding hier rondom Oukraal. Dis ook hier waar die meeste van die reservaat se wild uithang, onder meer eland, rooihartbees en die Kaapse bergsebra. Dis juis aan dié sebras dat die reservaat sy ontstaan in 1974 te danke het. Toe was hier net 7. (Hoewel die droogte sy tol geëis het, is hier deesdae tussen 35 en 40 bergsebras.)

“Kaapse bergsebras hou nie eintlik in die berge nie. Hulle het hier kom skuil uit noodsaak,” sê Tom. “Hulle floreer in laerliggende gebiede soos die grasveld in die Bergsebra- nasionale park buite Cradock. Hulle trek net in die somer berge toe. Ons werk hard om meer laerliggende gebiede by Gamkaberg te voeg.”

Jou beste kans om bergsebras te sien is op die Fontein-4x4-roete met sy twee watergate wat van Oukraal af oos loop.

Ons hou stil by Oukraal. Cornelius-hulle moedig besoekers aan om hier te kom piekniek hou solank hulle dit so netjies agterlaat as wat hulle dit gekry het (en dis báie netjies).

Die lapa is gebou rondom groot ronde rotse met vier klein A-raamherdershutte vir slaapplek. Dié hout-en-kliphutjies is die enigste teken van die “beskawing” vir kilometers aaneen.

Ek staan ’n rukkie op ’n groot rots en bekyk die wêreld. Iewers in dié omliggende veld staan proteas wat in 1988 ’n groot opskudding in die florawêreld veroorsaak het. Cornelius se pa, Willie, het in die veld gestap en ’n geel protea gesien wat nie vir hom bekend gelyk het nie.

“My pa het wyd gestap. In daai dae het hulle van die kantoor af tot daar bo gestap,” vertel Cornelius.

Willie het die protea vir die destydse reservaatbestuurder, Rory Allardice, gewys, maar hy kon dit nie eien nie. Die protea het uiteindelik beland by prof. John Rourke by die Kirstenbosch-botaniese tuin.

“Onthou, proteas is ’n spesie wat sedert die 1800’s al goed beskryf is,” verduidelik Tom. “Dis wat botaniste destyds gedoen het: Hulle het na Suid-Afrika gereis om proteas te dokumenteer.”

“This comes as a complete shock,” word Rourke in ’n koerant aangehaal. Daar was toe al die tyd 13 oorlewende Mimetes-proteaspesies en nie net 12 soos wat jare lank aanvaar is nie. Die twee klein bevolkings van dié skaars Mimetes chrysanthus is (on)gelukkig nie naby toeristepaaie nie.

Ek is traag om te vertrek; ’n aand hier op die dak van die Gamkaberg, hoog bo die Klein-Karoo, sal jou kop weer skoon laat.

’n Dag of wat later ry ons terug Kaap toe met die R62. Hoeveel sulke besonderse plekke lê daar nie langs dié pad nie, waar daar, wie weet, ’n onontdekte plantjie of bergsebra skuil. 

Selfs met een van die ergste droogtes nóg in die Karoo was die Tierkloof groen en ruig.

Gaan stap

Hier’s ’n roete vir elke soort stapper.Wandelaars wat tyd in die veld wil deurbring, maar nie regtig wil voetslaan nie, kan mik vir die twee Bossieroetes: Die Guarrie-roete (0,7 km) verken die veld neffens die ontvangskantoor, en die Spekboom-roete (1,3 km) is ’n verlenging van Guarrie wat ook die heuweltjie agter ontvangs insluit – hier’s ’n bankie onder ’n wildepruimboom waar jy kan sit en uitkyk oor die Swartberg. Van die plantjies op dié roetes is gemerk.

By jou aankoms kry jy ’n plantegids. So leer jy dat die saadolie van die pruimboom gebruik is om gewere te olie en hare op te knap.Én dat jy ’n soort koffie kan maak van die geroosterde sade van ’n soetdoring.

Die Erfenisroetes – Mousebird (2,5 km) en Pied Barbet (4,1 km) – loop deur die veld tussen ontvangs tot by die begin van die Tierkloof. Kry jouself in die regte luim en maak eers ’n draai by die Erfenis-uitstalling by die kampterrein – waar jy onder meer leer oor die verskille tussen die Khoi-Khoi en San. Die Khoi-Khoi het byvoorbeeld ryk en armer mense gehad terwyl die San ’n gelyke samelewing nagestreef het. Hier’s ook ’n labirint as jy regtig diep wil raak. Van hier af loop die roetes (die Pied Barbet is ’n langer weergawe van Mousebird) onderdeur soetdorings en verby digte spekbosse en verskeie belangepunte.

Die personeel het moeite gedoen om die landskap te “verlewendig” met inligtingsbordjies en voorbeelde van gereedskap, fossiele, plante en rotskuns wat hier voorkom. Hier is meer as 40 rotskunskolle, maar tans het besoekers net toegang tot een – die Pied Barbet-roete. Die ander kolle is diep in die reservaat.

Oukraal

Waar bly ek?

Hier is ses blyplekke in die reservaat. Die kampterrein met twee staanplekke en die basiese Stables-hut is naby die ontvangskantoor. Die hut en kampterrein deel ’n badkamer.

Oukraal (geen krag nie) bo-op die plato het vier basiese A-raam- herdershutjies met ’n gemeenskaplike kuierplek – dis die oornagplek vir die twee dae lange Tierkloofstaproete (25 km), maar jy kan ook met jou 4x4 soontoe ry.

Die vier ekolodges is ver uitmekaar en privaat. Die ekolodges is só lekker ingerig jy mag dalk net jou hele vakansie op ’n dekstoel by die ekoswembad deurbring. Die lodges is gebou met so min as moontlik impak op die omgewing in gedagte: sonkrag, waterlose toilette, herwinningsdromme, ekoswembad...

Elke ekolodge bestaan uit netjiese safaritente, ’n kombuistent, braailapa, ekoswembad en ’n badkamer met ’n warmwaterstort en ekotoilet (dit werk met ’n soort slinger wat jy draai). Tierkloof, met slaapplek vir 8, is die enigste blyplek in die kloof – dis die meeste afgesonder. Hier’s nie selfoonontvangs nie.

Fossil Ridge het slaapplek vir vier mense en Sweet Thorn vir ses (Sweet Thorn het ook hangmatte).

Die nuwe luukse Xami-ekolodge is gemik op diegene wat lief is vir die natuur én gemak. Dis ’n selfsorghuisie gemaak van seilmateriaal – dis oopplan met ’n klein kombuis, braaiplek, ekoswembad en ’n en suite-badkamer met ’n spoeltoilet.

Koste: Daaglikse bewaringstarief: R50 p.p. en R30 per kind.

  • Kamp (geen krag): vanaf R140 p.n. vir 2 mense, R50 per ekstra persoon (slaapplek vir 4).
  • Stables: R240 p.n. vir 2 mense, R60 per ekstra persoon, (slaapplek vir 8). Oukraal: R320 per hut (slaapplek vir 2).
  • Ekolodges: vanaf R650 p.n. vir 2 mense, R325 per ekstra persoon.
  • Xami-ekolodge: vanaf R950 p.n. Pryse styg 31 Augustus.

Kaapse Natuurbewaring het tans ’n spesiale aanbieding: 40% afslag op van hulle blyplek tot 31 Augustus – Gamkaberg ingesluit.