foto’s Sulita de Kock
Roete
Roete

As ’n mens eers een keer die Kgalagadi se rooi sand tussen jou tone gevoel het, ontwikkel ’n hunkering in jou wat aan jou bly kleef en karring. Jy weet jy moét net terugkeer na hierdie wêreld. Ook met my en my man, Joop, was dit die geval. In September was dit drie jaar gelede dat ons die kans gekry het om terug te gaan.

Ons ontmoet ons vriende Johan en Lynette Morkel by ’n vulstasie op Vryburg. Hulle seun Lewellyn en dié se beste vriend, Willie Smit, reis saam, en ons is almal ewe opgewonde oor die toer wat voorlê. Ons plan is om vir tien dae te reis, en een van die hoogtepunte op ons toer is die Polentswa-4x4-roete.

Vóór ons vertrek maak ons padkos en ’n fles koffie, terwyl ons sommer ook die tweerigting radio’s toets. Ons het nou al geleer op só ’n toer is kommunikasie van die allergrootste belang.

Joop was in sy weermagdae laas by Van Zylsrus, en daarom besluit ons om deur dié besonderse dorpie op die oewer van die droë Kurumanrivier te ry op pad Kgalagadi toe. Die pad is lank en sinkplaat gery, maar die mense en die oulike hotel (vroeër die Gemsbok-hotel) maak die ompad die moeite werd. Ons neem foto’s, gesels met die inwoners en geniet ’n drankie in die hotel vóór ons weer in die pad val.

Kgalagadi
Op reis saam met vriende. Willie, Sulita, Joop, Johan, Lynette en Llewellyn sit styf vir ’n groepfoto by Polentswa in die Kgalagadi-oorgrenspark. Jy moet heeltemal selfversorgend wees as jy hier kamp.

Die aand slaap ons by die Molopo Kalahari-lodge. Die mense is baie hulpvaardig en is selfs bereid om vir die twee seuns beddegoed te leen nadat hulle ontdek het hulle het hulle s’n by die huis vergeet. Soos dit maar gaan as jy jou vriende lanklaas gesien het, kuier ons die eerste aand heerlik en lê alte lekker weg aan T-beensteaks en paptert.

Ek en Joop is die volgende oggend vroeg al op en durf die duine aan om die sonsopkoms af te neem, waarna ons ’n lekker ontbyt by die lodge geniet en dan in die pad val.

Ons mik eerste na Twee Rivieren, die Kgalagadi se grootste ruskamp. Ons boek in en tree almal aan vir ’n selfie van die toergroep en voertuie om die toer amptelik te begin.

Ons hou by die bekende Jan se Draai stil om ’n trop gemsbokke by die watergat af te neem. Dié merkwaardige diere bly maar ’n kenmerkende deel van hierdie wêreld.

Ons vorder tot by Nossob waar ons die eerste kamp van die toer opslaan. Natuurlik bou ons ’n reusekampvuur, en omdat dit die seuns se beurt is om kos te maak kan ons lekker agteroorsit en ontspan. Joop het sy bekfluitjie saamgebring, en terwyl ons om die vuur kuier, sorg hy tussendeur vir rustige bosveldmusiek. 

As ek nou daaraan dink, sal Nossob my altyd laat dink aan die nostalgiese klanke van Joop se bekfluitjie met die bosveldvuur wat in die agtergrond knetter.

Niemand het ons gewaarsku dat die jakkalse by Nossob nogal bedrywig is nie. Johan se Crocs word deur die nag gesteel en myne se bandjies word afgevreet. Ek gaan klop by Nossob se winkeltjie aan om hulp, maar hulle verkoop net basiese dinge. Hier is nie skoene op die rak nie.

En nét so kry my toer ’n nuwe tema. Van hier af is dit Kaalvoet deur die Kgalagadi! En dis doringwêreld dié...

Die volgende dag is ons op pad Polentswa toe. Ons hoef dus nie ver te ry nie – ons vat dit rustig en neem ons tyd om al die wild langs die pad behoorlik te bekyk en geniet.

Hier is drie kampplekke in Polentswa – ons het die een die naaste aan die pan bespreek. Hierdie is een van die boskampe in die Kgalagadi met A-raam-strukture, puttoilette en emmerstorte. Jy moet heeltemal selfversorgend wees as jy hier kamp – jy moet jou eie kos, krag en selfs water saambring.

Hier is ook nie enige vorm van heining om die kampplek nie, wat beteken jy moet deurgaans jou oë oophou vir jagdiere wat moontlik kan kom inloer.

Maar wanneer jy in jou kampstoel sit en kyk hoe die son agter die Polentswapan verdwyn, ervaar jy ’n spesiale rustigheid. Jy word een met die natuur... en ongelooflik na aan die skepping.

Om die dag mooi netjies af te rond prut Lynette en Johan se potjie oor die kole.

Vroegoggend is ons nog besig om kamp op te slaan toe ons skielik heelwat nader aan die natuur is as waarmee sommige van ons gemaklik is: Toe ons ons oë uitvee, is hier ’n hiëna op ons voorstoep.

Ons skrik ons boeglam, maar Meneer stap ewe rustig deur ons kampplek, amper asof hy nie eens bewus is van ons nie. Ek is eerlik as ek sê nie almal van ons was ewe gemaklik met dié dier in die ronde nie.

Vandag begin die groot 4x4-ervaring waaroor ons so opgewonde was. Die mans kry die banddruk reg vir die sandpaaie wat voorlê, ons maak seker alles is mooi stewig vasgemaak op ons rygoed... en dan val ons in die pad.

Ons het skaars weggetrek vóór ons ’n sekretarisvoël teëkom.

En nét so kry my toer ’n nuwe tema. Van hier af is dit Kaalvoet deur die Kgalagadi! En dis doringwêreld dié...

Dis omtrent ’n belewenis om dié groot voël in vlug te sien. Ons hou in ’n stadium stil om bene te rek. Om die een of ander rede besluit die mans dis ’n goeie tyd om ’n bokdrolspoegkompetisie te hou. Dit is groot pret, en uiteindelik moeilik om ’n wenner te kies tussen die vier bedrewe mans.

Vanaand bly ons oor in Sesatswe. Dié boskamp is nóg meer basies as Polentswa – hier is nie eens ’n puttoilet nie. Van ’n A-raam is daar g’n sprake nie, en ook hier is geen heining nie. Teen die einde van die dag neem ons die mooiste foto’s van die son wat oor die rooi Kalahari- sand ondergaan.

Later die aand lag ons lekker om die kampvuur vir Lynette wat skrikgemaak word, en ook vir Willie wat die heeltyd iets in die bos hoor. Dis seker vanoggend se hiënabesoek wat met sy kop smokkel.

Vandag is ons op pad na Lang Rambuka. Nadat ons kamp opgepak het, val ons vroeg in die pad. Ons hou stil om ontbyt langs die pad te eet en skrik groot toe ’n doring van ’n doringboom byna in Lynette se oog steek.

Ons versorg haar oog en is almal verlig dat sy nie ernstig seergekry het nie. Die naaste hospitaal is op Upington...

Ons vorder tot by Kaa, die noordelikste ingang van die park, waar ons weer stilhou. Die woord Kaa beteken in San “niks”. Dit is ironies, want dit is juis hier waar ons die eerste van vele leeus op ons roete teëkom. Wat ons betref, is dít beslis nie “niks” nie!

Daar is net iets anders aan die Kgalagadi se leeus, iets wat jy net sal verstaan as jy dit self ervaar het.

Die een ding wat kenmerkend is aan die Polenstwa-4x4-roete is die baie driedoringbossies langs die pad. Dit is regtig die énigste nadeel van die ervaring, en die letsels wat dit op ons karre veroorsaak het, is nou nog te sien.

Die aand slaap ons op Lang Rambuka. Dié kampplek het ook nie geriewe en heinings nie – dit is nogal ’n intimiderende gedagte as jy in ag neem hoeveel leeus ons langs die pad gekry het.

Ná ’n lekker warm bosstort kuier ons weer tot laatnag gesellig om die vuur.

Vanoggend pak ons op en maak gereed vir die pad na Gharagab. Ons gaan egter oor Unie-Einde, die noordwestelikste punt van Suid-Afrika en die plek waar drie lande – Botswana, Namibië en Suid-Afrika – bymekaarkom. Dit is ook hier waar die droë Nossobrivier Suid-Afrika van Namibië se kant af binnekom.

Ons vertoef ’n wyle by Unie-Einde om meer oor die geskiedenis van die gebied te lees. Vorige besoekers het met die gewoonte begin om hulle name op peule te skryf, en daarom verewig ons ook ons name op dié manier. En natuurlik neem ons ’n selfie vóór ons verder ry.

Almal is baie opgewonde oor Gharagab, ’n tentkamp met een van die beste watergate in die Kgalagadi. Die kamp se kameeldoringbome en grasvlaktes is kenmerkend omdat dié wêreld ’n hoë reënval het. Die toegeruste tente is baie gerieflik, en ná al die boskampe op pad hierheen is die gerief van ’n warm stort ’n groot bederf.

Hier is deurgaans wild by die watergat. Buiten die “gewone” diere kom kuier twee leeumannetjies én ’n bruinhiëna ook.

Dit is weer die seuns se beurt om kos te maak beurt en ons word met heerlike skaapskenkels bederf. Weer eens is dit ’n aand om te onthou.

Bitterpan is vandag in ons visier, en sommer vroegoggend kry ons weer leeus langs die pad. Ons is regtig gelukkig om so baie katte op die toer teë te kom.

4x4-bestemming
Kgalagadi
4x4-bestemming
Kgalagadi
4x4-bestemming
Kgalagadi

Ook vir my is dit ’n spesiale dag, want ek kry die kans om vir die 4x4-roete tussen Nossob en Bitterpan agter die stuur in te skuif. Dit is sowat 50 km sandpad, en met Joop as instrukteur verloop alles glad.

Onthou net om genoeg tyd toe te laat wanneer jy hier kom ry, want dit vat sowat twee uur om dié kort stuk te ry. Dit is ook ’n eenrigting-4x4-roete van Nossob af oor Bitterpan in Mata Mata se rigting.

Dit is bitterlik mooi op Bitterpan. Die kamp is slim ontwerp en op houtstellasies gebou. Die uitsig oor die pan is ongelooflik en weer hoef ons nie tent op te slaan nie. Ons kan net ontspan en die stilte van die Kgalagadi geniet.

Vanaand maak ek en Joop kos, en op die spyskaart is roosterkoek oor die kole. Die sonsondergang op Bitterpan sal my altyd bybly as een van my gunstelinge.

Vandag is dit ons gróót 4x4-dag! Ons tydjie in die Kgalagadi staan einde se kant toe en ons benut elke sekonde van die los sand en steil duine. Die drie bakkies stormloop die duine oor en oor tot almal van ons bo uitkom.

En natuurlik is daar ’n groot kompetisie tussen Ford en Toyota... maar dis nie my plek om te sê wie op die ou end die beste gevaar het nie. Dis nie nou die tyd om kwaaivriende te maak nie. Ek en Lynette lê alles op film vas. Ek neem foto’s en sy doen die videowerk.

’n Ander rede hoekom die Kgalagadi vir ons so ’n besonderse plek is, is die feit dat ons ure lank op die duine kon speel en so min ander voertuie op die roete teëgekom het. In daardie opsig verskil die Kgalagadi van al die ander parke wat ons al besoek het. Wat ’n voorreg om te voel of jy hierdie stukkie aarde vir ’n ruk net vir jouself het!

Mata Mata se kamp grens aan Namibië. Hier is ’n winkeltjie, vulstasie en swembad, waarvoor ons baie dankbaar is, want dit is bloedig warm. Ons span twee dae hier uit en waardeer die blaaskans en die geleentheid om ’n bietjie af te skakel vóór ons uiteindelik moet terugdraai huis toe.

4x4-bestemming
Toeskouers
4x4-bestemming
Kgalagadi
4x4-bestemming
Kgalagadi
4x4-bestemming
4x4-bestemming

Die voëllewe in die Kgalagadi is ongelooflik. Ons is veral beïndruk met die nonnetjiesuil wat ons in die kamp sien. Die rooiborslaksmanne ontdek ook vinnig die bakkie water wat ons vir hulle uitgesit het.

Die eerste aand stap ek ablusieblok toe en een van die ander kampeerders sien ek het nie skoene aan nie. Ek vertel haar van ons episode met die jakkals by Nossob, en die volgende oomblik bring sy vir my ’n paar plakkies.

Dis myle te groot vir my, maar ek was nog nooit so dankbaar vir ’n paar plakkies nie. En dít is die bekoring van reis en kamp: ’n Mens leer ken ongelooflike mense, mense wat nog bereid is om te help, mense wat dieselfde belangstelling as jy het en mense wat die natuur waardeer soos jy. Regte hartsmense.

So kom ons tydjie in die Kgalagadi tot ’n einde. Ons neem afskeid van die wonderlike wêreld, maar weet dit was nie die laaste besoek aan dié rooi sandduine nie. Ons kom sommer gou weer terug.

Wat kos dit?

Nossob: R360-R715 p.n. per staanplek vir eerste 2 mense, plus R94-R170 per kop vir die volgendes.

Polentswa, Sesatswe en Lang Rambuka: Prys op aanvraag: Gharagab en Bitterpan R1 990-R2 125 p.n. per eenheid (maksimum 2 mense).

Mata Mata: R360-R400 p.n. per staanplek vir eerste 2 mense, plus R94-R100 per kop vir die volgendes. ’n Bewaringstarief van R96 p.p.p.d. (R48 vir kinders) word ook gehef. Dis gratis vir mense met ‘n Wild Card.

Kontak: Kgalagdi-oorgrenspark 054 561 2000;  kgalagadi@sanparks.org

Polentswa, Sesatswe en Lang Rambuka: 067 391 0848; inter-tourismgroup.com

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook