FOTO’S RONEL STEYN

‘As avontuur jou vasgryp, is daar geen strook van Suid-Afrika met meer bekoring as daardie wilde vinger land wat na Kaappunt lei nie. Dis ’n eensame vinger, ’n wysvinger na die ys in die suide; ’n kus wat straal onder die son, maar vol donker geheime.” Só skryf die reisskrywer Lawrence Green in die eerste paragraaf van sy boek oor die Suid-Afrikaanse kuslyn, Almost Forgotten, Never Told.

Ons weet nie wat Bartolomeu Dias se gemoedstoestand was toe hy in 1488 in sy piepklein karveel om Kaappunt gevaar het nie. Die enigste wenk dat sy bloeddruk waarskynlik opwaarts beweeg het, lê in die feit dat hy dit Cabo das Tormentas (die Kaap van Storms) gedoop het.

Green gee egter ’n raakvat beskrywing van hoe dit voel: Hy skryf hoe hy in die 1920’s as ’n jong man onder ’n volmaan in ’n enjinlose seiljag om die vuurtoring op die punt vaar – in ’n stormsterk wind: “Ek het opgekyk teen die steilte, vertikaal en reusagtig, bleek in die lig bo die malende rooi see. Deur die eeue, lank, lank voor Dias, het dit onbeweegbaar daar getoring, van aangesig tot aangesig met die oneindige aanslag van die branders.

“Ek kon die gesuig en gekwyl van die water rondom die reuserotse hoor; ’n swaar gebrom wat deur die klinkende geroep van seevoëls onderbreek word. Esperanza (Goeie Hoop) was so naby, dit was benouend.”

En dan seil Green en sy skipper, die “onvergeetlike Beauclerk Upington” om die kaap en kies koers na Simonstad. “Ek het geluister na die wind in die seile en die knars van die roer, en dalk was ek verlig dat daar geen enjin was om die oomblik te versteur nie. Die towerkrag van die see het in my binneste gewoel.”

Vandag nog voel jy dié towerkrag as jy hoog bo-op die kranse by Kaappunt staan en uitkyk oor die donkerblou Atlantiese Oseaan en jou hoed vashou.

Dis voorwaar ’n hoogtepunt, maar agter jou lê ongeveer 78 km² se wildernis.

Hier’s ’n gids vir dagbesoekers, gesinne wat twee weke lank in die Kaap kuier én Kapenaars wat dié wilde punt van die stad goed wil leer ken.

VIR DIE DAGBESOEKER

Dis my eerste keer

Kaappunt lê in die Kaap die Goeie Hoop-deel van die Tafelberg- nasionale park sowat 60 km suidwes van Kaapstad. Die motors en toerbusse vol Duitsers, Britte en Chinese staan al vroeg tou (die hek maak oop as die son opkom) om ’n foto te neem by een van die wêreld se natuurwonders.

Dis okei om ’n bietjie later te kom. Drink eers ’n koppie koffie by die Olympia-bakkery in Kalkbaai of eet Franse roosterbrood by die Saveur-restaurant in Simonstad voordat jy die laaste stuk van die M4 kuslangs ry.

Jy kan binne minder as ’n halfuur die 13,5 km van die ingangshek tot by die parkeerterrein aan die voet van die ou vuurtoring ry, maar los die onbetaamlike haas vir die toeriste. Betaal die bewaringstarief en suiker aan, wees op die uitkyk vir die rooipensskilpaaie wat tydsaam die teerpad oorsteek.

Draai ná 7 km in by die Buffelsfontein-besoekersentrum. Dalk kreun jy saam met die kinders “net nie nog ’n besoekersentrum nie!”. Maar byt vas; dis ’n goeie een en help jou om sin te maak van die besonderse landskap. Jy leer van die streek se eerste inwoners (jy kan vandag nog die Khoisan se visvywers naby die Buffelsbaai-getypoel sien), meer as 250 voëlspesies (alles van Kaapse suikervoëls tot witkruisarende en albatrosse!) hou hier, en jy besef jy is in die troonkamer van die fynboskoninkryk. Meer as 40 van die sowat 1 000 fynbosspesies wat jou omring, kom nét hier voor.

Noudat jy agtergrond het, is dit tyd om daai selfie te gaan neem. Volg die aanwysingsborde na Kaappunt. Sluit jou motor in die parkeerterrein. Die plaaslike bobbejane moet nog net leer bestuur om ’n Hillbrowse motorkaper soos ’n eerste oortreder te laat lyk.

Jy’ t nou ’n keuse of drie om te maak, afhangende van jou tyd, fiksheid en hoe erg die hongerpyne knaag. Jou eerste mikpunt is die ou vuurtoring wat hoog bo jou uittroon. Jy kan die steil heuwel uitstap of die Flying Dutchman-kabelkarretjie (R70 vir ’n retoerkaartjie) neem wat jou binne vyf minute bo sal hê.

Van bo af voel dit asof die wêreld se oseane aan jou voete lê en jy gaan jou geheuekaart wil vol skiet. Jou kop weet dis nie Afrika se mees suidelike punt of die plek waar die Atlantiese en die Indiese Oseaan bymekaar kom nie, maar sjoe!

Duisende meeue dartel voor jou teen loodregte kranse. Eskaders trekduikers snel oor die golwe tot waar suidelike noorkapperwalvisse reuse-bommies maak in die diepsee. Op die horison vaar vragskepe na wat jy jou verbeel eksotiese bestemmings is.

Valsbaai lê satynglad aan jou linkerkant. Regs lê nog ’n baai met ’n punt in die see: Die prentjiemooi Diasstrand, Kaap Maclear en dan Kaap die Goeie Hoop – die mees suidwestelike punt van Afrika!

Jy kan ure lank hier sit en alles indrink, of stap (sowat 20 minute) na die nuwe vuurtoring reg op die punt om uit ’n ander hoek mooi foto’s te kry. Dié vuurtoring, steeds die sterkste een aan die kus, het in 1919 oorgeneem by die oue op die heuwel waar jy nou staan (sy lig was baiekeer onsigbaar vanweë digte mis).

Nadat jy met die kabelkarretjie teruggery het, kan jy by die ghrênd Two Oceans-restaurant aansit vir middagete (mits jy bespreek het). Die uitsig is onverbeterlik. Die ouens met die dollars en die ponde glimlag, maar teen R300 vir ’n tweegangmaal (tempura-garnaal, en stokvis-en-tjips byvoorbeeld) en R300 vir ’n bottel Klein Constantia Sauvignon Blanc gaan jou beursie nie gelukkig wees nie.

Pak dus jou eie piekniekmandjie. Hier is baie sitplek op die klipmuurtjies en die uitsig bly dieselfde (en is gratis).

Óf pak jou toebies in ’n rugsak en stap met die plankiespad van die parkeerterrein tot by die Kaap die Goeie Hoop-punt. Dis sowat 50 minute se stap met baie fotogeleenthede, en jy’ t op pad die kans om jou tone in die sand te gaan woel op Diasstrand. Van die strand af kan jy van seevlak af sien hoe intimiderend Kaappunt vir verbygaande matrose moet lyk. Onthou, dis gevaarlik om hier te swem weens die branders en seestrome, en hier’s geen menseredders in dié deel van die park nie.

Stap verder tot by Kaap die Goeie Hoop en wag jou kans af om ’n foto te neem by die bord wat aankondig jy is nou by Afrika se mees suidwestelike punt. Dit gaan jou ’n uur neem om terug te stap (dis al die pad opdraande). Kyk links; dalk sien jy ’n paar bontebokke wat op ’n afstand vir jou loer.

Teen die tyd dat jy terug is by jou motor, het jy ’n vol dag agter die rug. Hier’s nog baie om te sien, maar los dit vir ’n ander keer. Ry rustig tot by die uitgang. Draai regs om met die M4 terug te ry Kaap toe oor Simonstad, of links om met die M65 oor Scarborough, Misty Cliffs en Kommetjie huis te kry.

Vakansiegangers en kapenaars

Hier’s ek weer... en weer!

Dinge raak nou eers lekker wanneer jy met ’n volgende besoek die paadjies ry waar toerbusse nie toegelaat word nie – groot toerbusse mag slegs op Kaappuntweg ry. Hier is veeldagstappe, dagstappe, bergfietsroetes, uitkykpunte, piekniekplekke, strande vir lees en sandkastele bou, swemplekke, duikgate, branderryplekke, visvangkolle en slaapplek in die park.

1. Swem, braai, hengel en wees vrolik

As jy lus het vir ’n gesellige dag saam met jou mense, ry Valsbaai se kant toe waar die water kalmer en daar ook meer geriewe en uitspanplek is. Jy kan by Bordjiesrif of ’n entjie verder suid by Buffelsbaai in getypoele swem, op ’n grasperk jou strandhanddoek oopgooi en ’n vuurtjie aansteek.

Ry 6,8 km van die ingangshek af met Kaappuntweg langs en draai links net voor die Buffelsfontein-besoekersentrum om by Bordjiesrif uit te kom. Die Da Gama-monument is ook hier, en is saam met die Dias-monument ’n entjie suidwes ’n navigasiebaken wat skepe help om die berugte Whittle-rots in Valsbaai te vermy. Jy kan van hier af noordwaarts stap (of ry) na Booi se Skerm wat ’n gewilde plek vir branderplankryers is.

Buffelsbaai is die grootste ontspanningskol by Kaappunt en dit kan bedrywig raak in die somermaande. Gelukkig is hier honderde piekniekplekke en dis nie moeilik om ’n plekkie vir jouself los te skrop nie. Jy kan lyn natmaak, maar as jy werklik wil vis vang, mik Rooikrans toe (sien no. 6).

2. Olifantsbos

Draai sowat 2 km van die ingang af regs in Linkweg. Dié pad neem jou oor die verlate Smitswinkelvlakte tot by Olifantsbos op die westelike “Wildekus”. Sowat 2,7 km nadat jy op Linkweg afgedraai het, is ’n parkeerterrein waar bergfietsryers graag hulle motors los. Hier is ’n 5 km lange tweespoorpad wat reguit suid loop, deur restiovelde, verby rotsformasies en troppe sebras totdat dit weer by die teerpad aansluit.

Hou jy egter aan met Linkweg, kom jy by ’n T-aansluiting. Draai links en ry tot by die piekniekterrein by Olifantsbos. Die piekniekterrein is ook die beginpunt vir die gewilde Skeepswrakroete (5,6 km heen en weer). Die kuslyn is besaai met die wrakstukke van skepe wat deur die eeue op die rotse en riwwe geloop het, meestal weens die die berugte Albatrossrots. Dis genoem na die Albatross wat in 1863 hier gesink het en 1 km see-in van Olifantsbosstrand af lê.

Dis sowat 2,8 km se stap suid op die strand tot by die wrak van die vragskip Nolloth wat in 1965 gesink het. Op pad stap jy verby die mees prominente wrak langs die stuk kuslyn, die Thomas T. Tucker (1942). Vandag is dit die tuiste van duikers en seemeeue.

Van die Nolloth af kan jy strandlangs terugstap of binneland toe sny op ’n 7,5 km lange roete verby Sirkelsvlei tot by Olifantsbos. Dis die grootste varswaterbron in dié deel van die park en dit word deur ’n ondergrondse fontein gevoed. Voëlkykers is veral lief vir die Sirkelsvlei waar grasvoëls, oranje-borssuikerbekkies en grysrugtinktinkies volop is. As jy gelukkig is, sien jy die skugter Kaapse kwarteltjie in die bossies net suid van Sirkelsvlei.

3. Ry en stap ’n sirkelroete

Draai regs van Kaappuntweg af op Circularrylaan, ’n 7 km lange sirkelpad deur rietveld. Maar jy wil mik na die uitkykpunt op sy mees suidwestelike hoek. Wees op die uitkyk vir die naamborde wat sê Gifkommetjie en Hoek van Bobbejaan. Hier is nie net mooi uitsigte na die noorde oor Kommetjiesberg in die rigting van Hoek van Bobbejaan nie, maar dis ook die beginpunt van die Gifkommetjiesirkelroete (5 km).

Dis ’n mooi deel van die park waar min mense kom. Jy stap al met die kus langs, met die wilde blou water van die Atlantiese Oseaan aan jou een kant en groen duineveld aan die ander. Die kanse is goed jy sien heeldag niemand anders nie. Behalwe dalk ’n volstruis of drie.

4. Stilte gewaarborg

As jy regtig nie geselskap soek nie, ry met Kaappuntweg tot by die Platboom-afdraai (sowat 8 km van die ingangshek af). Terwyl jy teen die heuwel af ry, sien jy die Kaap die Goeie Hoop-punt in die verte. Dis waarskynlik die wildste, ongerepste en beslis stilste strand in die skiereiland.

Hier is die meeste van die tyd volstruise, hans bobbejane en ’n trop elande, maar amper nooit mense nie. Jy kan in enige rigting kilometers strandlangs stap. Mik suid en ná ’n halfuur gaan jy by ’n ruïne uitkom. Dit was eens ’n huisie waar die befaamde fynboskenner Hugh Taylor as kind sy vakansies deurgebring het en sy liefde vir die veld gestalte gekry het.

5. Kaap die Goeie Hoop-dagstap

Skaars 900 m ná die ingang sien jy ’n parkeerterrein op jou linkerkant. Dis die Smitswinkel-uitkykpunt, en die beginpunt van die twee dae lange Kaap die Goeie Hoop-staproete. Stap die eerste deel van die roete al met die kuskranse langs, om Paulsberg (op 368 m die hoogste berg hier rond) tot by Kanonkop.

Jy kyk heelpad uit oor Valsbaai tot by Hangklip doer in die verte. Dis sowat 11 km tot by die ou kanon en terug, en behoort sowat ses uur te neem.

6. Vang diepseevis van land af

Ry met Kaappuntweg in die rigting van Kaappunt. Volg by die verkeersirkel (dis omtrent 11 km van die ingang af) die bordjies links na Rooikrans.

Parkeer en stap die smal voetpaadjie deur die fynbos, al met die krans langs. Wees op die uitkyk vir walvisse wat doer onder blaas. Jy is nou op heilige grond vir hengelaars! Die kranse is een van die min plekke ter wêreld waar jy diepseevis soos geelstert en galjoen van die land af kan vang (of ’n krans in dié geval).

Maak net seker jy’ t die regte hengelpermit voor jy hier kom lyn gooi. Kyk by daff.gov.za of kontak die departement van landbou, bosbou en vissery by 086 000 3474 oor watter een jy gaan nodig hê en skaf dit aan by jou naaste poskantoor.

Jy hoef natuurlik nie ’n hengelaar te wees om op Rooikrans te kom staan nie. Die uitsig noord, terug oor Buffelsbaai na Paulsberg se kant toe met die Swartkopberg in die verte, sorg vir nóg pragtige foto’s.

BLY HIER

Doen jouself ’n guns en slaap oor in hierdie deel van die Tafelberg- nasionale park. Só kan jy soveel meer as net die punt verken.

Olifantsbos Hierdie is seker een van die mees eksklusiewe blyplekke in die land. Jy’t ’n volledig toegeruste selfsorghuis op jou eie private strand in die middel van nêrens. Die hoofhuis het drie dubbelslaapkamers, ’n braaistoep en kaggel, en hier is ’n anneks met slaapplek vir nog ses mense. Dis uiters gewild – jy moet lank vooruit bespreek.

Koste Vanaf R3 622 p.n. vir 4 mense, R686 per ekstra persoon, R343 per ekstra kind (slaapplek vir 12 mense)

Duiker en Eland Die selfsorghuisies in die noordwestelike deel van die park kan elk ses mense huisves. Elkeen het ’n Jetmaster en ’n braaiplek, maar Duiker spog met ’n boma. Jy’s nou wel nie naby die see nie, maar jy’s omring deur fynbos en die geroep van voëls.

Koste Vanaf R1 150 p.n. vir 4 mense Smitswinkel-tentkamp Dié tentkamp is net buite die ingang na die Kaap die Goeie Hoop-deel, in ’n woud aan die voet van die Swartkopberg. Hier is net ses luukse en suite-tente, met ’n gemeenskaplike boma en braaigeriewe.

Koste Vanaf R722 p.n. vir 2 mense

Olifantsbos
SMITSWINKEL-TENTKAMP
DUIKER EN ELAND
Kaap die Goeie Hoop- staproete

’n Puik manier om Kaappunt te verken is op dié twee dae lange staproete. Op dag 1 stap jy 13,7 km aan die Valsbaai-kant tot by drie oornaghutte (Erika, Protea en Restio) teen die noordelike hang van Vasco Da Gama-spits.

Op dag 2 stap jy 20 km – eers langs die “wilde” Atlantiese kant voor jy oor Smitswinkelvlakte sny na die ingang waar julle die motor die vorige dag gelos het. Elke hut het stapelbedjies vir 6 mense. Hier is ’n gemeenskaplike kombuisie met eetgerei, ’n buitebraai, spoeltoilet en warm stort.

Koste R303 p.p. en die bewaringstarief van R76 p.p.p.d. 021 780 9204 (bespreek lank vooruit).

/