Tinie Versfeld- natuurreservaat.

Foto's: Martinette Louw

OGGEND

As jy nie ontbyt by die huis geëet het nie, maak jou eerste stop in Darling die Marmalade Cat-koffiewinkel (022 492 2515; marmaladecat.co.za) in die hoofstraat. Drink ’n cappuccino (R25), bestel skons met konfyt en room (R30) en snuffel rond in die geskenkwinkel en Cat Walk-klerewinkel langsaan.

Marmalade Cat.

Die koffiewinkel is elke dag van 8 vm. oop. Daarna kan jy gaan waar jou belangstellings jou lei: Geskiedenis-boffins kan die Darling-museum (022 492 3361; darlingmuseum.co.za) in Pastoriestraat besoek om meer te leer oor die dorp wat in 1853 gestig is.

Gaan loer na die uitstalling wat wys hoe Darling se voorgeslagte botter gemaak het – die houtkarrings en melkkanne sal jou laat verlang na jou ouma se plaaskombuis. Dit kos R10 per volwassene en R5 per kind om in te gaan. Die museum is ook die toerismekantoor. As jy ’n soettand het, is die Darling Sweet-toffiefabriek (083 235 4002; darlingsweet.co.za) in Langstraat net om die draai.

Darling Sweet.

Hier kan jy handgemaakte toffielekkers, toffiesmere, heuning en seesout vir jou spens koop. Kies uit 11 toffiegeure, van rooiwyn-en-sjokolade tot lemoen-en-granaat (R53 vir 150g) of kikker jou kinders se pousetoebroodjies op met toffiesmere soos gesoute heuning (R59 vir 200g).

Het jy ’n swakplek vir lekker kaas? Die Udderly Delicious-kaaswinkel (082 829 8111) is aan die bopunt van die hoofstraat. Die kaasmaker Carla Bryan maak haar kaas met melk van ’n plaaslike boer af – die pepercaciotta kos R115/kg en die Skattie (’n kaas tussen gouda en cheddar) is ’n bietjie duurder teen R350/kg.

Udderly Delicious.
Darling Wine Shop.

Wynliefhebbers kan ook gou by die Darling Wine Shop (022 492 3971; darlingwine.co.za) langsaan inhardloop vir wyne uit die kontrei soos Cloof, Darling Cellars en Earthbound. Jy kan hier wyn proe vir R50 p.p. (besprekings noodsaaklik).

MIDDAG

Volgende aan die beurt is Evita se Perron (022 492 2851; evita.co.za). Dié bekende baken is soos die Eiffeltoring in Parys – jy kan nie sê jy was in Darling sonder om hier in te loer nie. Die satirikus Pieter-Dirk Uys het 21 jaar gelede dié ou treinstasie in Arcadiastraat omskep in ’n teater-en-restaurant waar kuns, kitsch en ’n tong-in-die-kies blik op ons land se geskiedenis gevier word.

Evita se Perron

As jy hier is oor ’n naweek, bespreek plek vir een van Pieter-Dirk Uys se lag-tot-die-trane-loop vertonings – sien die webwerf vir die program.

Oop Maandae van 9 vm.- 1 nm. en Dinsdae tot Sondae van 9 vm.-4 nm.

Kontak 022 492 3930; evita.co.za

Evita se Perron.

Koop een van Evita Bezuidenhout se kookboeke (R190), verken die Boerassic Park-kunstuin, die galery en talle uitstallings, en sit aan vir middagete in die restaurant, wat tradisionele geregte soos Reconciliation-bobotie (R75) en Pik se Boereworsrol (R45) bedien.

Sodra die Boeing oor is, ry reguit na die Darling Brew-proelokaal (021 286 1099; darlingbrew.co.za) in Caledonstraat. Dié mikrobrouery maak ’n reeks boetiekbiere, van die Slow Beer-lager tot die Rogue Pony-ligtebier. Die 100 ml-proeglasies kos R10 elk en jy kan ’n kaas-en-vleisbord vir twee mense bestel vir R195. Ligte etes is op die spyskaart as jy eerder hier wil middagete eet. (Die proelokaal is toe op Maandae.)

Jy kan op die tweede verdieping van die proelokaal kuier – dit kyk uit op die brouery – of buite op die dek. Hier is ook ’n klimraam om jou kinders besig te hou.

NAMIDDAG

In die lente is Darling blomwêreld – dan kom wys meer as ’n duisend spesies gesig. Hier is talle klein reservate in en om die dorp soos Tinie Versfeld, Waylands en Contreberg. As jy met die R315 terug Kaapstad toe ry, is die keuse vir jou gemaak: Die Tinie Versfeld-reservaat is sowat 13 km buite die dorp en die traphek is reg langs die pad.

Die 20 ha-reservaat is altyd oop en toegang is gratis. Selfs wanneer die snotrosies en sambreeltjies nie blom nie, is dié reservaat ’n lekker plek om bene te rek. Wandelpaaie lei jou deur grasvelde en seisoenale vleilande en verby twee wit plaashuisies.

Die geelkelkiewyn kom net in die reservaat voor en bloukraanvoëls vlieg soms oor die heining op soek na ’n sprinkaan of akkedis. Met longe vol vars lug kan jy nou terugkeer na die gedruis van die stad. Vat ’n diep teug vir die pad!

Foto: Jac Kritzinger.
Maak ’n knoop in jou oor

Die Groote Post-wynlandgoed, sowat 18 km van Darling af met die R307, hou ’n plaasmark op die laaste Sondag van elke maand van 10 vm.-3 nm. (die mark sluit in die winter).

Loer in vir lekker kos, goeie wyn en handgemaakte produkte. grootepost.co.za Die Darling-veldblomskou vind volgende jaar op 14-16 September plaas. Kom kyk na die streek se lenteblomme en koop plante vir jou tuin.

darlingwildflowers.co.za