Foto's: Shelley Christians en Suzaan Hall

OGGEND

Pak toebroodjies en ’n fles koffie in en ry eers deur die dorp en uit teen die Franschhoekpas tot by die Mont Rochelle-natuurreservaat aan die bopunt.

Mont Rochelle-natuurreservaat

Koste R40 p.p.; gratis vir kinders jonger as 16; vooraf by webtickets.co.za by die hek.

Kontak 083 270 7291; montrochellehiking.co.za.

Hier is sewe stappaadjies, maar julle is met vakansie: Kies die Vista-paadjie. Die hekwagter kom 8 vm. aan diens en sal beduie waar julle moet stap.

Dié sirkelroete (2,5 km) vat minder as 2 uur – dié met kort beentjies sal dus kan byhou. Ná sowat 30 minute se stap kry jy ’n uitsig oor die hele Franschhoekvallei. Haal nou daai toebroodjies uit en verkyk julle aan die dorp, die wingerde en die berge reg rondom.

Bring die res van die oggend in die dorp deur. Hou by die Hugenotemonument (021 876 2532; museum.co.za) aan die onderpunt van die hoofstraat stil en begin hier. Betaal die toegangstarief (R10 per volwassene, R5 per kind) en bekyk die monument van nader.

Hugenotemonument.

Hier’s ook ’n sonwyser met die name van die oorspronklike Franse Hugenote. Dié wat nog interessanthede oor die Hugenote wil sien, soos ’n ou Bybel wat destyds al die pad uit Frankryk saamgekom het, kan ’n draai maak by die museum (nog R10 per volwassene, R5 per kind).

As die kinders mooi soet saam met Ma en Pa na ’n geskiedenisles geluister het, beloon hulle met ’n sjokoladeproe by De Villiers Chocolate Café (021 874 1060; dvchocolate.com) 200 m van die monument af, in die hoofstraat. Vir vanaf R57 kry jy 4 blokkies van elke soort sjokolade (5 soorte per proe) – julle kan dit dus onder mekaar deel.

Maar julle gaan nog wil hê: Koop ’n plak (R32) – die Intense Cocoa is ’n donkersjokolade-staatmaker en meer avontuurlustige eters sal van die kaneel-en-rissiegeur hou.

Soet tot by jou ore? Die Tuk Tuk Microbrewery (021 492 2207; tuktukbrew.com) sit net skuins oorkant die pad. Vier 100 ml-proeglasies (lager, dunkel, weiss en ligte bier) kos R52. Die lager is heerlik (R44/500 ml). Hier is ook tapas-eetgoed, maar byt vas – julle gaan nou-nou op ’n wynplaas eet!

Tuk Tuk Microbrewery.

Stap nog ’n ent met die hoofstraat langs en loer in by die kunsgalerye en ander geskenkwinkeltjies. By Tap & Cork (021 876 4120; tapandcork.co.za) kan jy olyfolie en balsemiek-asyn proe en koop. Hier’s verskeie geure, van lemmetjie-olyfolie (R38/125 ml) tot granaatasyn (R51/125 ml).

Mark toe op ’n Saterdag

Maak ’n draai by die dorpsmark langs die NG kerk in Hugenoteweg as jy oor ’n naweek hier is (10 vm.-3 nm.).

Die stalletjies het goed soos wildeboegoe en tweedehandse boeke, en jy kan onder die boom sit, na die musiekmaker luister en aan ’n pannekoek smul.

Franschhoek-dorpsmark

MIDDAG

Stap terug kar toe en mik na ’n wynplaas. Hier’s báie om van te kies – meer as 50 in die vallei. As jy die wynvallei behoorlik wil verken, kom op ’n ander dag weer en koop ’n wyntremkaartjie (nog inligting heel onderaan dié artikel). Die wyntrem is nie die moeite werd as jy net tyd het vir een plaas nie.

Kyk vooraf op franschhoek.org.za vir ’n volledige lys van wynplase, met elkeen se trekpleisters en aktiwiteite. By La Bourgogne (021 876 3245; labourgogne.co.za) kan julle onder die sambrele buite sit en wynproe (vanaf R60 p.p.) en ’n peuselbord geniet (R220, vir twee mense) terwyl die kinders op die klimraam speel. Hier’s ’n kinderspyskaart ook – ’n boereworsrol met aartappelwiggies kos R65. Franschhoek het baie restaurantopsies as julle nie op ’n wynplaas middagete wil eet nie.

Franschhoek Cellar (021 876 2086; thefranschhoekcellar.co.za) is op jou linkerkant soos jy met die hoofstraat by die dorp uit ry. Hier’s ’n speelplek en klimraam vir die kinders, en die spyskaart het ’n taamlike verskeidenheid: van spaghetti bolognese vir die kinders (R48) tot ’n gourmetsalmbroodjie (R85) of geroosterde varklies (R130).

Maak op pad terug N1 toe ’n draai by die Franschhoek-motormuseum op die L’Ormarins-plaas (draai links van die R45 af op pad na die Paarl, sowat 10 km buite die dorp).

Hier word 80 rygoed op ’n slag uitgestal wat die ontwikkeling van motors deur die jare wys. Diegene wat nie regtig omgee oor enjins nie sal dit ook interessant vind: Hier’s onder meer ’n Ferrari wat eens aan Mick Fleetwood, die tromspeler van Fleetwood Mac, behoort het, en die Chevron B25-renmotor waarmee Ian Scheckter in 1972 die Formule 2-kampioenskap gewen het.

Franschhoek-motormusem

Bespreek vooraf telefonies of per e-pos (magdaleen@fmm.co.za); R80 p.p.; R40 per kind tussen 3 en 12 jaar oud. Laaste toegang is om 4 nm. (weeksdae) en 3 nm. (naweke) – begroot sowat 40 minute vir die besoek.

Kontak 021 874 9002; fmm.co.za.

Die wyntrem.

Só werk die wyntrem

Koop ’n kaartjie aanlyn (winetram.co.za) vooruit, veral in die besige somermaande. Jy kies tussen 6 roetes wat elk 8 verskillende wynplase insluit. Elke roete sluit ’n tremrit in tussen van die plase, maar jy ry vir die grootste deel van die roete op ’n bus.

Alle roetes begin by die kaartjiekantoor (Hugenoteweg 32): Die busse vertrek vanaf 10 vm. en kom elke uur by ’n wynplaas verby. Kry die volledige skedule op die webblad.

Koste R220 p.p.; R90 per kind (3-17 jaar oud)