Foto's: Craig Dodds 

Houtbaaistrand.

OGGEND

Draai in Houtbaai af van die M6 in Valley Road en hou stil by die Valley Farm Stall (021 790 3803; valleyfarmstall.co.za).

Drink koffie in die rustige tuin terwyl die kinders heen en weer hardloop tussen die klimrame en die plaaswerf waar ponies, donkies, dwergbokkies en varkies rondloop. Hier’s ook ’n inheemse kwekery en ’n winkel waar jy dierevoer vir jou hoenders en hamsters by die huis kan koop.

Moet egter nie te ingeburger raak hier nie, want World of Birds is net om die draai... Sit minstens twee en ’n half uur opsy vir die World of Birds Wildlife Sanctuary. Dinge lyk effe verwaarloos, maar dit gaan jou kinders min skeel. Jy stap op sirkelroetes rondom ruim voëlhokke waar honderde voëls hou, van gevlekte ooruil tot eksotiese nommers soos die skarlaken-ibis (scarlet ibis). Jy’s in die voëls se binnekring en kan kyk hoe hulle nesbou en hulle kleintjies voer. Kyk op die webwerf vir die voertye.

World of Birds. Foto: Erns Grundling.
World of Birds

Oop Elke dag van 9 vm.-5 nm. Die Monkey Jungle is oop van 11.30 vm.-1 nm. en 2 nm.-3.30 nm.

Koste R95 p.p.; R45 per kind.

Kontak 021 790 2730; worldofbirds.org.za

Dan is daar ook die Monkey Jungle... maak maats met die onnutsige eekhoringapies en verkyk jou aan die piepklein klou- en leeuapies met hulle ou-oom-gesiggies. Die park het ook ander diere soos muishonde, meerkatte en eekhorings, en ’n paar koudbloediges.

Ná die voëlpark kan julle gaan kyk wat ’n mens alles met ’n nederige teesakkie kan doen. Jill Heyes het 17 jaar gelede ’n gebruikte teesakkie so bekyk en gedink dit kan mos ’n mooi kaartjie maak. Drie jaar later stig “The Tea Bag Lady” die winkel Original T Bag Designs, waar 18 inwoners van Imizamo Yethu – Houtbaai se informele nedersetting – werk.

Hulle stryk en versier duisende teesakkies per week. Elke kunstenaar verf haar eie ontwerp op die teesakkie en daarna word dit verwerk tot allerlei produkte en kunswerke – kry notaboeke (R65), engele (R90) of drupmatjies (R60) vir die Kerskous in hulle winkel en ateljee by Hoofweg 144.

As jy wil sien hoe die produksie-proses werk, doen ’n 20 minute lange toer (gratis). Gesels ná die tyd met die kundige toesighouer Nomsa Ndabambi oor ’n koppie koffie – sy sal jou vertel dat die meeste van die teesakkies van oorsee af gepos word!

Original T Bag Designs

Skenk teesakkies. Gaan na die webwerf om uit te vind hoe om teesakkies te bewaar en pos.

Oop Dié winkel is gesluit op Saterdae, maar het stalletjies by die Bay Harbour Market en V&A Waterfront.

Kontak 021 790 0887; tbagdesigns.co.za

T Bag Designs.

MIDDAG

Dis tradisie om vis-en-tjips te eet op Houtbaai, en op die hawe verkondig elke plek hulle s’n is die beste. Drentel rond op die kaai, luister na die straatmusikante en lag eers ’n bietjie vir die oorgewig robbe voor jy ’n plek kies.

By die baie gewilde The Wharfette Bistro (021 790 1100; marinerswharf.co.za) by Mariner’s Wharf raak dinge goed besig. Die fênsie Wharfside Grill is ook hier: sit binne op ’n winderige dag of buite op die dek en tuur oor die see.

As jy lus het vir iets meer informeels... hou aan met Harbour Road tot by Snoekies (021 790 6677; www.snoekies.co.za) of Fish on the Rocks (021 790 0001; fishontherocks.com), waar jy jou vispakkie kan eet en uitkyk oor Chapmanspiekrylaan aan die oorkant van die baai.

Allergies vir vis? As dit naweek is, gaan maak ’n draai by die Bay Harbour Market (bayharbour.co.za).

By dié vrolike mark kan jy enigiets koop van koue tamatiesop en gourmettoebies tot boetiekbier en kaaskoek. Die mark is oop op Vrydae van 5 nm.-9 nm.; Saterdae en Sondae van 9.30 vm.-4 nm.

Plan B: Hallo, Tarzan

Avontuurlustige gesinne kan hulle ratsheid toets by Acrobranch. Ry noordoos op die Hoofweg (M63) tot by die parkeerterrein aan die bokant van Constantianek (by die sirkel).

Hier is drie hindernisbane wat in die lug hang: Acrotwigs vir kinders tussen 3-6; Monkey Moves vir dié wat ouer as 7 jaar is; en Swinging Tarzan vir kinders én grootmense ouer as 10. Hou jou lyf langarmaap oor en deur vragnette, glykabels en vate.

Koste Acrotwigs R110 p.p.; Monkey Moves R160; Swinging Tarzan R220.

Kontak 086 999 0369; acrobranch.co.za

Wat nog? As die geswaaiery jou honger laat, kry ’n tafel by Harbour House (harbourhouse.co.za) of La Parada (laparada.co.za) net langsaan.

Acrobranch.

LAATMIDDAG

Trek jou skoene uit en stap ’n ent strandlangs voordat julle vertrek op ’n bootvaart van die hawe af. Verskeie bote (party met ’n glasbodem) vaar na Duikereiland waar jy honderde Kaapse pelsrobbe sal sien (en ruik!).

Duikereiland.

Op pad soontoe behoort julle ook dolfyne en walvisse (Julie tot November) teë te kom. Sodra julle weer terug is in julle voertuig, kies julle padmusiekspeellys en mik na Chapmanspiekrylaan.

Net ná die Chapman’s Peak Hotel is ’n parkeerplek regs van jou. Hou hier stil en neem ’n foto van die bronsluiperdstandbeeld op die rotse voor jou. Dié beeld deur Ivan Mitford-Barberton is ’n gedenkteken aan al die diere wat eens op ’n tyd in die Kaapse Skiereiland gehou het.

Chapmanspiekrylaan

Koste R45 vir ’n ligte voertuig om Noordhoek toe te ry; ’n dagpermit is gratis, maar jy kan dan net die eerste 2,7 km van die 9 km ry.

Kontak chapmanspeakdrive.co.za

Wat nog? Die pad mag gesluit wees weens sterk winde of swaar reëns.

Die uitsig van Chapmanspiekrylaan af oor Houtbaai.

Net ná die tolhek is ’n parkeerterrein aan jou regterkant. Hou stil en stap tot by die ruïne van die East Fort, gebou in die 1780’s. Van hier af het jy ’n uitsig oor die baai en die berge.

Die res van die pad kronkel verby loodregte rotswande en kranse wat die blou see in wegval. Trek by een van die piekniekkolle af en kyk hoe dit donker word op die skiereiland.

Chenjerai Mutasa. Foto: Helena Fagan

PLAN B Ontmoet ’n vakman

As die weer goor is, loer in by die Harvest Centre langs die Bay Harbour Market en kyk na ’n ongelooflike versameling handgemaakte kunswerke van hout, klip en metaal.

Stap rond en ontmoet die kunstenaars en vakmanne in hulle werkwinkels. Jy kan nie Robin Kutinyu (rugarearts.com) se enorme brons- en klipbeelde miskyk nie – ook nie die byderwetse skrootmetaalskeppings van die broers Mambakwedza and Chenjerai Mutasa nie.

Próé die vakmanskap by die Urban Brewery (021 791 1130; urbanbrewery.co.za). Probeer The Monkey’s Paw Pilsner of SS Maori Dry Cider. Kontak Helena Fagan 082 784 5054; helena@fagan.co.za; houtbayharvestcentre.com