Clarencerylaan. Foto: Dawie Verwey.

OGGEND

Pak beskuit en ’n warmfles vol koffie en ry deur Gordonsbaai reguit na Clarencerylaan (die R44) wat al langs die Kogelberg kronkel.

Trek af by enige van die uitkykpunte en kyk hoe die Atlantiese Oseaan en die lugruim wedywer oor wie die blouste is. Op ’n oop dag sien jy hoe lê die hele Kaapse Skiereiland soos ’n grys draak in die water aan die oorkant van die baai. Soms skiet ’n skool dolfyne deur die branders en tussen Junie en November stoot suidelike noorkapperwalvisse stadig aan Hermanus toe.

Ná die dorpie Rooiels swenk die pad binneland toe tot by Bettysbaai. Volg die pikkewynbordjies tot by die Stony Point-natuurreservaat. Die permitkantoor is nie in die gebou langs die parkeerterrein nie – hier is wel badkamers. Kry jou permit by die houthuisie by die punt.

Stony Point-natuurreservaat

Koste R20 p.p. en R10 per kind

Oop 8 vm.- 4.30 nm.

Kontak 028 272 9829; capenature.co.za.

Stony Point-natuurreservaat.

Dis nie asof die pikkewyne toertjies doen vir besoekers nie, maar dis tog vermaaklik om die voëls dop te hou. ’n Klompie sal waarskynlik staan en pote natmaak in die sloepie links van die ingang terwyl ander son vang op die heuweltjie regs van die plankiespaadjie. Ek was al twee keer by dié kolonie en elke keer het die wind gedreig om die klere van jou lyf af te pluk. “Ja, Mevrou,” was die antwoord toe ek vra of die wind altyd so woed.

Beur tot by die punt en terug en gaan soek skuiling by die On the edge-restaurant (060 720 7885). Bestel ’n warmsjokolade (R25) of ’n melkskommel (R25) terwyl jou hare tot verhaal kom. Dinge kan bedrywig raak hier oor naweke; wees dus maar geduldig. Draai regs in Disastraat nes jy uitry by Stony Point en volg die pad tot op Clarencerylaan. Ry aan tot by die bordjie wat die afdraai na die Kogelberg-natuurreservaat aandui.

Kogelberg-natuurreservaat.

Hier kan jy verskeie dagstappe doen, van die taai Kogelbergroete (24 km) tot die makker Oudebosch-Haroldporterroete (6 km). Die Palmietrivierroete (10 km) kronkel en klouter deur velde vol fynbos en al langs die rivier. Hier’s talle kolle waar jy op warm klippe kan uitspan en naaldekokers tel. Selfs kleuters kan ’n ent op die paadjie baasraak.

Harold Porter- botaniese tuin

Net ’n beperkte aantal stappers word per dag toegelaat op die Luiperdskloofroete (3 km uit en tuis) – en net tussen 8 vm.-1 nm. Kom dus vroeg.

Kry ’n sleutel (R50 deposito) by ontvangs vir die hek. Jy klim geleidelik deur ’n inheemse woud en klouter kruis en dwars oor die rivier tot by die waterval.

Op die Zigzagroete (8 km uit en tuis) stap jy al langs die hange van die Bobbejaanskop tot by die bopunt van dié waterval.

Koste R25 p.p. Gratis vir kinders jonger as 6 jaar.

Oop Maandae-Vrydae van 8 vm.-4.30 nm. en tot 5 nm. op naweke en vakansiedae.

Kontak 028 272 9311; sanbi.org.

Zigzagroete, Harold Porter- botaniese tuin
Kogelberg- natuurreservaat

Koste: R40 p.p en R20 per kind

Oop: 7.30vm. - 7nm. (geen permitte meer na 4nm.)

Kontak: 087 288 0499; capenature.co.za

MIDDAG

Wat is sinoniem met see toe gaan? Vis-en-tjips! Jy kan nie verkeerd gaan om dié staatmaker te bestel by een van die restaurante by Kleinmond se hawe nie... maar as jy wil koop waar die locals koop, mik vir die weggesteekte Ocean Fisheries & Take-aways (028 271 4643).

Draai links in 9de straat uit die hoofstraat, dan links in 9de laan, regs in 11de straat en links in Kalkoentjie. Hier’s ook ander goed wat jou wange sal laat blink: calamari, burgers, gatsby’s en russians.

As die kinders saam is, gaan eet jou vispakkie by die tafeltjies by die Kleinmond-strandmeer – hier’s ook ’n speelpark. Of gaan sit alleen met jou geliefde by ’n bankie iewers langs die kuswandelpaadjie wat strek van die hoofstrand tot by Palmietstrand.

Wat is die tweede ding waarvoor ’n mens lus is by die see? Roomys! Ry tot by die heel laaste winkel in die Kleinmondhawe.

Die vrolike Sunset Ice Cream Parlour (082 333 6700) het van King Cones tot Italiaanse gelato én draairoomys (R15). Én pannekoek (R6), wafels (R30), melkskommels (R25) en koffie (R15). Sit buite op die helderkleurige houtbankies en kyk hoe die branders teen die rotse slaan.

Sunset Ice Cream Parlor.

NAMIDDAG

Draai terug Bettysbaai toe nadat almal se roomyssnorre weggevee is en draai in by die Harold Porter- botaniese tuin. Jou energievlakke bepaal die res van jou middag.

Gooi ’n piekniekkombers oop op die grasperk langs die Dawidskraalrivier en vang ’n middagslapie of wandel deur die fynbostuine na die Disakloofwaterval (sowat ’n halfuur). Die wat ’n entjie wil stap – sien kassie op die oorkantste blad. Beplan dinge só dat julle Clarencerylaan ry terwyl die son sak. Bly in die vakansiegees en hou seelangs deur Gordonsbaai tot by Kusweg in die Strand.

As julle lus het vir nóg ’n roomys, hou stil by N’Ice in Kusweg. Wees gewaarsku: Hulle draairoomysporsies is onbeskof – ’n klein een (R13) is oorgenoeg vir ’n grootmens! Die Strand se promenade word tans opgeknap en hier is dele wat lyk soos Rio de Janeiro se Copacabana-strand.

Diegene wat lus het om die dag af te sluit met ’n skemerkelkie kan op die houtdek gaan sit by Casa del Sol (021 853 6867; casa-del-sol.co.za) en ’n glasie klink op die lewe.

Waar swem ek?

Die beste swemstrande is Gordonsbaai se Bikinistrand, Pringlebaai en Bettysbaai se hoofstrand. Kleuters en peuters kan veilig baai in die strandmeer by Pringlebaai, Palmiet en Kleinmond se hoofstrand.

Kogelbaai se strand in die skaduwee van die gelyknamige berg is sekerlik van die mooistes ter wêreld, maar hier’s trekstrome.

Die strandgebied is redelik skoon, maar by die kampterrein en dagbesoekersdele is netheid ongelukkig nie ’n prioriteit nie.

Stony Point- natuurreservaat

Koste R20 p.p. en R10 per kind

Oop 8 vm.- 4.30 nm.

Kontak 028 272 9829; capenature.co.za.


Lees oor nog Kaapstad-daguitstappies hier.