Woorde: Pierre Steyn; Foto's: Ronel Steyn

OGGEND

Die vinnigste manier om op Melkbos te kom is met die besige Weskuspad (R27) of die Melkbosstrandpad van die N7 af. Maar die mooiste pad is kuslangs met die M14 (Otto du Plessis-rylaan) verby Bloubergstrand, Big Bay, Eerste Steen, Tweede Steen en Kreeftebaai.

Draai links in 6de Laan (dis Melkbos se hoofstraat en die meeste winkels is hier) tot by Kusweg. Los jou voertuig vir die dag in die groot parkeerterrein by die Nasionale Seereddingsinstituut se Stasie 18.

Kusweg het vele eetplekke, maar The Hart Breadhouse & Eatery (021 553 1073) reg oorkant Stasie 18 bedien uitstekende koffie en ontbyt van 8 vm. tot 12 nm. Sit buite op die dek en teug aan jou Cortado-koffie (R24) terwyl jy na die see staar, of smul aan ’n Croque Madame (R70) binne as die oggendmis nog nie weggebrand het nie. 

The Hart.

Daai ontbyt moet afgestap word om plek te maak vir middagete later.Stap van 1ste Laan op ’n wandelpad en later seelangs tot by die monding van die Soutrivier (2 km). Kyk ook hoe die brander- en vlieërplankryers oor die golwe vlie’.

Verken op pad terug die dorp en sy winkeltjies. Die oulike Blessings-winkel (073 166 5996) in 11de Laan behoort aan Welma Esterhuyse van die olyfplaas De Fayebosch (dit lê aan die voet van Kanonkop, halfpad tussen Melkbos en Malmesbury).

Moenie uitstap sonder ’n sondroogolyf-en-sjokolade-salami (R25 vir 80 g) of ’n potjie laventelsout (R20 vir 125 ml) nie!

Welma Esterhuyse.

MIDDAG

Daar is min dinge wat ’n groot honger aanwakker soos vars seelug en ’n bietjie oefening. Die Damhuis, geleë in die oudste gebou op Melkbos (dit was die visskuur van die oorspronklike plaas De Melkbosch en is rondom 1785 gebou), is ’n ou gunsteling. Jy sit tussen dik witgekalkte mure wat twee eeue gelede saamgeflans is uit koeimis, walvisbene, strooi en sand, en smul aan eg Suid-Afrikaanse geregte soos Weskusmossels (R113), kerrievis (R128) en beesstert (R128).

Die Damhuis

Oop Weeksdae van 9 vm.-9 nm. Tot 10 nm. op Vrydae en Saterdae. Gesluit Maandae.

Kontak 021 553 0093; diedamhuis.co.za

Die Damhuis
Tube Wave. Foto: Jac Kritzinger.

Stap terug na jou motor, en ry die entjie af in Kusweg na die onderpunt van 11de Laan. Op die strand staan ’n pers huisie (Tube Wave; 082 568 8945) waar jy die lekkerste draairoomys (R14) op die dorp (dalk langs die hele Weskus!) kan koop. Kom nou Pa, betaal daai ekstra R6 vir die Flake!

NAMIDDAG

As jy lus is om nog te stap, fiets te ry, of om net in jou motor aan te kruie deur die fynbos terwyl jy aan jou roomys smul, maak ’n draai by die Koeberg-natuurreservaat.

Ry noord met Kusweg, draai links in Otto du Plessisrylaan en ry tot by die ingang. Die reservaat (30 km²) strek rondom die Koeberg-kragsentrale. Dis nie die Krugerwildtuin nie, maar dis tog interessant om springbokke en elande te sien wei rondom die kernkragsentrale en groot watertorings.

Koeberg-natuurreservaat

Oop Elke dag van sonopkoms tot sononder.

Koste Toegang is gratis, maar jy moet jou identiteitsdokument wys.

Kontak 021 550 4668. Ry met Kusweg noord tot hy weer by Otto du Plessisrylaan aansluit, draai links, en ry tot by die ingang van die reservaat.

Hier is ook rooikatte, slange en ’n befoeterde sebra wat nie daarvan hou om fietsryers te laat verby kom as hy in die pad stap nie!

Teen dié tyd trek die son al water. Ry terug dorp toe, kry jou sit by die Castella Amare-restaurant (021 553 3827) aan die onderpunt van 5de Laan en bestel ’n skemerkelkie. As jy iets meer geselligs soek, ry terug Kusweg toe na I <3 Melkies (021 553 0472).

Bestel ’n yskoue CBC Krystal Weissbier (R45) en roep “prost” op die einde van ’n lekker dag.


Lees oor nog Kaapstad-daguitstappies hier.