Foto's: Lawrette McFarlane

Bateleur-natuurreservaat

Wouter Schreuders, die eienaar van Bateleur, is lief vir stilte en die natuur. “As jy nie opgewonde kan raak oor ’n miskruier met ’n missie, of veldblomme en vlinders in die vlei, otters in die damme, uiterste privaatheid, voëlgesang of manjifieke sonsondergange nie, moet jy liewer ’n besoek aan Sun City oorweeg,” lees die inligtingsblad wat Wouter per e-pos gestuur het. Niks teen Sun City nie, maar hy het ’n punt beet. By Sun City kan jy nie van jou stoep af kyk hoe ’n trop wildebeeste waaksaam in die savannegras vreet nie.

Ek staan naby die Stone Cottage by Bateleur en skud gou my skoene en sokkies uit voordat ek die laaste kilometer van die Game-staproete klaarmaak. Die roete is een van tien in die reservaat, en hulle wissel tussen 4 km en 11 km met rotspoele, ravyne en grasvlaktes op pad. Hier’s nie roofdiere in die park nie en dis seker my reuk wat die trop wildebeeste ’n paar honderd meter voor my agterdogtig maak. Ek het immers die 6 km-roete gou oor middagete in snikhete gestap, maar dit was die sweet werd, want ek het ook sebras en rooibokke raakgeloop.

Die Bateleur-natuurreservaat is ’n versteekte stukkie geluk naby Modimolle waar jy die natuurlewe te voet eerder as uit jou voertuig kan waardeer. Wouter verkies dit so. Hy moedig mense aan om eerder hulle stapskoene aan te trek as om agter die stuur in te skuif.

Die Bateleur-natuurreservaat is ’n versteekte stukkie geluk naby Modimolle

Die verblyf hier is meer funksioneel as luuks. Langs die grondpad op pad ontvangs toe is ’n afdraaibordjie aan jou regterkant wat die pad na die Gumtree Cottage, Farmhouse en die Kloof-staproete se oornaghut aanwys. Ongeveer ’n kilometer verder, naby ontvangs, lê die Mountain Villa en Mispel Cottage, en nog ’n entjie dieper die reservaat in is die Vaalboom en Stone Cottage, asook die oornaghut vir die Stamvrug-staproete. As jy ’n groter groep van 11 of 12 mense is, is die Mountain Villa en Farmhouse gepas; laasgenoemde het ook elkeen ’n swembad. Vir ’n gesin van drie is die oopplan-Stonehouse Cottage met ’n dubbelbed en enkelbed ideaal. Van die Stone Cottage se stoep af het jy ’n uitsig duisend oor die grasvlaktes.

Op Wouter se lys van dinge wat jy liefs nie moet bring nie, is onder meer ’n klankstelsel en TV, maar stapstokke is hoog op die lys van onthougoeters, asook ’n leesboek vir wanneer dit reën, ’n bergfiets, visstok en verkyker. Al waarvoor jy moet uitkyk, is die “Verwoesters,” die plaaslike bobbejaantrop wat ’n voorliefde het vir “Woolworths-goodies,” sê Wouter. Dalk kort dié outjies ’n vakansie by hulle familie in Sun City.

Geriewe: Al die kothuise en huise het krag, maar net die twee groter huise – Farm House en Mountain Villa – het ’n elektriese oond; die ander het ’n mikrogolfoond en tweeplaatstoof. Farm House het ’n sementplaasdam waar jy kan swem en Mountain Villa ’n swembad. Hier is rotspoele in die natuurreservaat waar jy ook kan lyfnatmaak.

Wat pla? Jy gaan sukkel om hier uit te kom in ’n sportmotor met lae-profielbande, maar ons het tot hier gery met ’n Volkswagen-sedan. Bygesê, ons het dit ook maar net-net oor die ongelyke pad gemaak en ’n paar keer het ’n klip die kar se pens gekielie. Vra Wouter oor vir die beste pad tot hier vir jou kar.

Koste: Vanaf R900 tot R2 500 per eenheid per nag.

Waar? Ongeveer 30 km wes van Modimolle met die R33.

Kontak: 072 565 7070; bateleurnaturereserve.co.za 

Lindani Lodges (Weg se keuse)

Die geel van die stoeplig en oranje van die vuur by my voete is die enigste lig wat vanaand vir kilometers rondom my in enige rigting brand. ’n Bobbejaan roep “hô! hô!” uit die donker van die Waterberg. Dit klink soos ’n kar se enjin wat te hoog rev. Die sterre flonker asof hulle in stilte skree. Dis behoorlike Bosveldverblyf hier by Lindani.

Lindani Lodges is geleë op ’n wildplaas 100 km wes van Mokopane, en elke eenheid op die plaas – die meeste van hulle ou gerestoureerde plaashuise – staan kilometers van mekaar af. Die eienaars maak hulle ook skaars, maar is reg om te help indien jy iets kort. Jy kan vooraf per e-pos laat weet as jy ontbyt, middagete of aandete van die spyskaart af by die plaaskombuis wil bestel – dit word dan op die gegewe dae by jou huis aflewer.

Ons het in die Skebenga-huis gebly, ’n drieslaapkamerrietdakhuis wat beter toegerus is as my eie in die Kaap. Hier is alles wat jy moontlik kan nodig hê: ys-vrieskas, skottelgoedwasser, gasstoof, mikrogolfoond, boepenspotjie, platboompotjie... hout in die kaggel, hout by die vuurput, selfs ’n botteltjie sonbrandroom vir die lang dae rondom die swembad.

Al die huise op die plaas het krag, maar party werk met sonkrag en het nie ’n kragpunt vir jou haardroër of as jy jou foon wil laai nie. Lindani het ook ’n tentekamp, Molope, waar vier tente elk op sy eie houtplatform staan, elk met twee enkelbeddens. Ander verblyf sluit in Stone House, Thabeng, Alden Cottage met ’n private dam, en Bush Cottage wat bo-op ’n plato lê en ’n uitsig het oor die Waterberg.

Die Melkrivierpad sny ’n lyn deur die plaas, en as jy aanhou met dié pad, is Skebenga se hek aan die linkerkant van die pad en die toegangshekke na van die ander verblyf aan die regterkant. Dit is ook hier waar die meerderheid van die wildkykroetes is. Sebras, kameelperde en wildebeeste gaan jy hier kry.

Jy kan die wildkykroetes met jou eie voertuig ry of vooraf by ontvangs bespreek vir ’n begeleide rit teen R100 p.p. en R50 vir kinders tussen 4 en 12. Op Sondae en vakansiedae kos dit effe meer; dan is dit R125 p.p. en R62,50 vir kinders. ’n Sleutel vir dié hek word verskaf as jy self wil wildkyk of bergfietsry.

Onthou jou bergfiets. Die agt roetes (50 km in totaal) op die plaas is geskik vir beginners en hardebaarde. As jy nie jou eie trapding het nie, kan jy ’n fiets by ontvangs huur teen R100 per uur.

Geriewe: Skebenga het drie en suite-slaapkamers, twee met ’n dubbelbed en die ander met twee enkelbeddens. Die ander verblyfopsies het slaapplek vir 4 tot 18 gaste. Al die eenhede het krag, maar sommige het nie kragpunte nie. Hier is ’n swembad by elke huis behalwe Thabeng.

Wat pla? Die aanwysings op Google Maps is verkeerd en dis moeilik om die regte hekingang vir die verblyf weerskante van die grondpad te vind. Koste Vanaf R325 p.p.p.n. tot R680 p.p.p.n.

Waar? Lindani is ongeveer 43 km van Vaalwater af op die Melkrivierpad.

Kontak: 083 631 5579; lindani.co.za

ATKV Klein Kariba

My tweemantent is opgeslaan en my slaapsak en matras oopgegooi net soos die ATKV-beheerliggaam se jaarlikse geselligheid teen sonsondergang op dreef begin raak. Die huppelklanke van boeremusiek waai saam met die reuk van pasaangesteekte hout oor die kampterrein en tientalle ATKV-afgevaardigdes in netjiese kortmou-knoophemde en kakiebroeke stap diep aan die gesels al met die paadjie noord – musiek en kos se kant toe.

Dis ’n jolige affêre, maar dit laat my met ’n probleem. Ek het gedink ek gaan vinnig iets by die restaurant eet omdat die dag reeds op sy kop staan, maar dis gesluit vir die aand se paartie. Maar dis ATKV-wêreld en die winkel binne die oord verkoop gelukkig hout en al die ander dinge wat ek nodig het om vanaand te eet. Dis ook een van die ATKV se groot trekpleisters – as jy eers in is, is daar geen rede om ooit weer die oord te verlaat totdat jy weer moet huis toe gaan nie.

Hier raak jy ook nie sommer verveeld nie. Hier’s ’n putt-putt-baan, gewone gholfbaan, warm en koue swembaddens, quadfietstoere, perdryritte, ’n waterwurm, trapbootjies en staproetes.

Dis ook een van die ATKV se groot trekpleisters – as jy eers in is, is daar geen rede om ooit weer die oord te verlaat totdat jy weer moet huis toe gaan nie.

Die verblyfopsies in die oord is ook legio. Jy het ’n keuse tussen die houthuisies teenaan die dam aan jou linkerkant soos jy die oord binnery; chalets naby die houthuise; berghuise bo in die noordelike hoek van die oord; asook woonstelle, tenthuise en losstaande eenhede vir tussen vier en agt mense. Hier is ook enkelkamers vir twee langs die restaurant.

Kampeerders is egter die ATKV se brood en botter, en die 73 geplaveide staanplekke lê in ’n lang strook aan die regterkant van die oord. Kampeerders deel die twee groot ablusieblokke wat weerskante van die kampterrein staan. Hier is natuurlik ook braaigeriewe by elke staanplek.

Net soos die laaste van die stompies in die braaidrom by my kampplek uitbrand en ek regmaak vir inkruip, klink dit asof die boereorkes plek maak vir ’n platejoggie. Die vriendelike getokkel van boeremusiek is stil en in sy plek klop ’n harder doef-doef. Dit wil voorkom asof die mense daarvan hou. Hulle gaan seker nêrens heen môre nie, dink ek. Waarom moet hulle?

Geriewe: Al die verblyfeenhede is volledig toegerus; dit sluit in hout-huise en chalets teenaan die dam, berghuise en tenthuise noord in die oord nader aan die swembaddens en vermaaklikheidsdeel; en dan is hier ook dubbelverdiepingwoonstelle langs die kampterrein.

Wat pla? Dis nie ’n “pure” Bosveld-plek nie, maar dis nie hoekom jy Klein-Kariba besoek nie.

Koste: Vanaf R115 per nag tot R2 700 per nag.

Waar? Klein-Kariba lê op die R101 net noord van Bela-Bela.

Kontak: 014 736 9800; atkvoorde.co.za/oorde/klein-kariba 

Birdsong Cottages

My foon lui ’n paar uur voordat die personeel my by Birdsong Cottages verwag. Dis William Monyeki, die bestuurder by Birdsong, wat wil weet of alles nog oukei is en of ek weet waar die plek is. Minute later flits my foon weer met ’n SMS van hom af. “Hier’s die hek se kode, en wanneer kan ons jou verwag?” Dit gee my altyd ’n goeie gevoel oor ’n plek as die bestuur hulle so oor ’n gas ontferm.

Ek pons die hek se kode by Birdsong in heelwat later as wat ek vir William belowe het, maar die tyd het met my weggehol soos ek al die besienswaardighede in die omgewing probeer inryg het – tevergeefs. Jy het ’n maand nodig om alles te sien en doen.

By ontvangs spring William gou by die passasiersdeur in en beduie my na die Franklin- en Guineafowl-eenheid onder teen die voet van die Birdsongplaas, naby aan die damme.

Birdsong kry sy naam van die groot verskeidenheid voëls wat hier kuier. Met ’n vuurtjie wat knetter en die ge-“tjirrr” en “tswiet” van voëltjies en die pimpel-en-pers sonsondergang agter my ruik, klink en lyk dit soos Bosveld. Die Franklin- en Guineafowl-eenheid is eintlik ’n groot huis wat in twee verdeel is; dit is twee van die agt ander verblyfopsies op die plaas.

Die twee eenhede in die huis het elkeen slaapplek vir vier mense wat dit gepas maak vir ’n groot gesin of twee gesinne wat die hele huis wil bespreek. Dis ook ongeveer 500 m van die naaste huis af; dus kan julle maar luidkeels onder die lapa oor die rugby stry sonder om bekommerd te wees oor gaste wat mag kla.

Die ander opsies sluit in die twee Owls Cottages aan die buitewyke van die plaas; die twee luukser opsies, Flycatcher en Sunbird, wat elk sy eie plonspoel het; en die groter Kingfisher Cottage waar agt mense kan slaap. Ná my besoek is die Lovebird Cottage vir twee mense oopgestel.

Geriewe: Al die selfsorgeenhede het elektrisiteit, asook ’n TV met beperkte DStv-kanale. Hier is ’n swembad met uitspanplekke onder grasdakkies, en ’n onthaallokaal met ’n koidam wat bedoel is vir terugsit en boeklees. Wat pla? Hier is geen selfoonsein op die plaas nie en dit kan lol as jy iets dringends van ontvangs af kort en nie in jou kar wil spring om te ry nie.

Koste: Vanaf R1 395 tot R3 845 per eenheid per nag.

Waar? Birdsong is 14 km van Modimolle af op die R101.

Kontak: 014 004 0131;southofafrica.co.za/properties/birdsong-cottages/

Dinonyane Lodge

Die Dinonyane Lodge lê teenaan die Nylslvley-natuurreservaat. Dis ’n Ramsargebied en dus een van die beste plekke in Suid-Afrika om voëls te kyk. Die klein lodge is onopvallend van buite af en die enigste rede waarom ek hier kom draai het, was om hout en bier by die Boekenhout-winkel te koop.

Die winkel is in ’n systraat aan die een kant van die lodge en word deur Eddie du Plessis, ook die eienaar van Dinonyane, bestuur. By nader ondersoek het ek gewens ek het die aand in ’n warm bed in een van die en suite-kamers by Dinonyane geslaap eerder as in my yskoue tent in die Nylsvley-kampterrein. As jy voel die geriewe in die reservaat is effe te basies na jou smaak, is Dinonyane ’n goeie keuse. Dis boonop bekostigbaar.

Die naam Dinonyane beteken “waar die voëls is,” sê Eddie, maar hy is genoop om te verduidelik dat die voëls eers in die somermaande saam met die reën opdaag. “Dan is die tuin besig,” sê hy.

Hier is 19 en suite-kamers elk met Wi-Fi en TV met SABC- en e-TV-kanale, behalwe vir die groter kamer 5, wat DStv het. Die kamers sluit in selfsorgeenhede waar tussen twee en ses mense kan bly, en is in ’n halfmaan rondom die tuin uitgelê. Die Bush House staan heel links in die oord en is afgesonder van die res van die kamers. Dis nie soseer “bosverblyf” nie, maar is wel stiller en meer privaat as die res.

Die naam Dinonyane beteken “waar die voëls is”

Elke kamer het elk sy eie stoepie met ’n uitsig oor die tuin waar jy kan kyk hoe die voëls kerjakker terwyl jy koffie drink en hulle van jou lysie afmerk.

Hier is ’n swembad, kroeg en restaurant waar jy ontbyt kan eet met die voëltjies wat jou geselskap hou. Terwyl Eddie my rondwys, deel hy sy planne vir Dinonyane. Daar’s ’n dam in die oord wat moet vol om nog meer voëls te lok, en dan dalk ’n bokkie of twee. Ek sal beslis weer moet kom kyk, vir die bokkies en die voëls.

Geriewe: Elke kamer het lugreëling en sy eie badkamer, asook ’n yskas en TV. Die kamers het elk ’n kombuisie en yskassie, baie dieselfde uitleg as wat jy in ’n hotel sal vind. Drie eenhede het elk sy eie braaiplek en die ander het ’n losstaande braai.

Wat pla? Hier’s nie eintlik ’n leefvertrek in die kamers nie. As jy kinders het, gaan jy plan moet maak om hulle heeldag buite besig te hou.

Koste: Vanaf R350 p.p.p.n. tot R895 p.p.p.n.

Waar? Dinonyane lê 20 km suid van Mookgophong langs die R101.

Kontak: 014 743 6969; dinonyane.co.za