Jy kan enige plek op die Panoramaroete jou kamera se knoppie inhou en dit in enige rigting mik. Die kanse is goed dat jy ’n mooi foto neem, want dis waterval-en-uitsigwêreld dié. Hier’s jou ses dae lange reisgids en kaart wat ál die ikoniese kolle (en pannekoek-eetplekke) in en om die Blyderiviercanyon insluit.   


In die noorde van Mpumalanga val die Hoëveld met ’n massiewe kilometer lange trap tot in die Laeveld. Die dorpies Sabie en Graskop, waar die Panoramaroete begin, kry baie meer reën as hulle buurdorpe onder in die Laeveld. Al dié reën en die kranse sorg vir watervalle en uitsigte by dosyne! 

Verder noord beur die Blyderivier dié platorand oop en vorm die grootste canyon in Suid-Afrika. (As dit nie vir die Visriviercanyon in Namibië was nie, was dit die grootste canyon in die ganse Afrika.)

Daarna swenk ons binneland toe, verby Ohrigstad (ja, hier’s ’n paar lekker stilhouplekke) tot by ’n ou gunsteling, Pelgrimsrus. 

Volgende keer as jy Krugerwildtuin toe gaan, las ’n paar dae by vir die 200 km lange Panoramaroete. En koop tog ’n pakkie kougom, want anders gaan jou mond heelpad oophang. 




DAG 1: Sabie

LINKS: Lone Creek-waterval (Francois Haasbroek). REGS: Sabie Brewing Company (Villiers Steyn).


• Maak ’n draai by die inligtingkantoor in die hoofstraat en koop GeoGraphic se Panorama Tourist Map – dis die volledigste kaart van die Panoramaroete.

• Besoek die Lone Creek-waterval en die Bridal Veil-waterval.

• Eet middagete by die Smokey Train Diner in Negende laan, ’n treinwa wat omskep is in ’n retro-eetsalon.

• Klink ’n glasie by die Sabie Brewing Company in die hoofstraat. 

• Eet aandete by The Wild Fig Tree-restaurant in Louis Trichardtstraat


SLAAP HIER:

By Sabie River Camp kan jy op die houtdek sit en kyk hoe die kinders op binnebande op die rivier dobber. Hier is ’n kampterrein met groot grasperke, netjiese safaritente met gemeenskaplike ablusies en kuierplek, en luukser en suite-safaritente met selfsorggeriewe. 

Kamp by die Merry Pebbles-oord of bly in ’n selfsorghuisie teen die rivier. Wees gewaarsku: Jy kuier dalk so lekker hier onder die bome dat jy skaars die oord verlaat. Hier’s alles: ’n restaurant, drankwinkel, OTM, swembaddens, speelpark...

Sabie River Camp (Francois Haasbroek).




DAG 2: Graskop

LINKS: Mac-Mac-waterval (Villiers Steyn). REGS: Harrie’s Pancakes (Villiers Steyn).
 


• Hou piekniek en swem by die Mac-Mac-poele

• Besoek die Mac-Mac-waterval.

• Loer in by die legendariese Harrie’s Pancakes in Louis Trichardtlaan 

• Stop by die Pinnacle-, God’s Window- en Wonderview-uitkykpunt. 

• Besoek die Berlyn-waterval (80 m) of die Lisbon-waterval (92 m) 

• Swem in ’n versteekte swemgat net links van waar die R532 die Lisbon-rivier kruis


SLAAP HIER:

Lisbon Hideaway: Die drie selfsorg-houtrondawels langs ’n rivier het elkeen plek vir vier volwassenes en twee kinders. Die uitsigte oor die plantasies is mooi en die grasperk groot en groen.   

Autumn Breeze B&B in Louis Trichardtlaan is stapafstand van Harrie’s Pancakes en ’n klomp ander eetplekke en winkeltjies. Hier’s ook ’n selfsorgeenheid vir ’n gesin met twee kinders.

Panorama Chalets and Rest Camp is op die randjie van die afgrond met ’n swembad met seker die mooiste uitsig in die noorde.

Die Pinnacle-uitkykpunt (Francois Haasbroek).
Lisbon Hideaway (Villiers Steyn). 
Panorama Chalets and Rest Camp (Francois Haasbroek).




DAG 3: Blyderiviercanyon


LINKS: Potluck Boskombuis (Villiers Steyn).  REGS: Die Blyderiviercanyon-uitkykpunt (Villiers Steyn).

 
• Besoek die Trichard-Potgieter-monument

• Kuier by die Potluck Boskombuis.

• Neem foto’s by die ikoniese Bourke’s Luck-kolkgate.

• Besoek die Drie Rondawels- en Blyderiviercanyon-uitkykpunte.


SLAAP HIER:

Forever Resorts Blyde Canyon het kampplekke, selfsorghuise en -chalets. Hier is ook ’n winkel, speelpark, en swembad. Dis die soort plek waar gesinne vir weke uitspan.




DAG 4: Blyderiviercanyon


LINKS: J.G. Strijdom-tonnel (Villiers Steyn).  REGS: Mad Dogz Café (Villiers Steyn).  


• Ontspan by die Forever Resorts Blyde Canyon

• Besoek die Blydepoortdam oor die Abel Erasmus-pas.

• Stop by Mad Dogz Café vir lamskerrie of gerookte forelpatee.



DAG 5: Ohrigstad


LINKS: Pure Plaas-aalwynkwekery (Villiers Steyn).   REGS: Ohrigstaddam-natuurreservaat  (Francois Haasbroek). 


• Stop by Emmie’s Kombuis – pure padstal met rakke ingelegte vrugte, tuisgemaakte beskuit, konfyte en koekies.

• Maak ’n draai by die The Shoe-gastehuis

• Stop by Tiezers Meat Pantry net voor jy die dorp binnery vir ’n burger, geroosterde toebroodjie of ’n sny vars koek. 

• Besoek die Pure Plaas-aalwynkwekery op jou regterkant. 

• Kamp by die onderskatte Ohrigstaddam-natuurreservaat

• Eet aandete by The Lamb and Ale op Ohrigstad, waar jy enigiets van pizza tot tradisionele beesstertpotjie of eisbein kan bestel.


SLAAP HIER: 

Die Ohrigstaddam-natuurreservaat is een van die groot verrassings op die roete. Die roete is met goeie rede ’n toeristetrekpleister en dinge kan bedrywig raak, maar hier is dit doodstil. Jy kan geelvis, katvis en karp vang vir die vuur, pasop net vir die seekoeie. Renosters drink water by die dam wanneer die son sak. 

The Shoe-gastehuis se vier selfsorgkliphuisies (slaapplek vir tot 6 mense) is teen die voet van die berg. Daar is ook vier selfsorgeenhede by die plaashuis (slaapplek vir tot 7 mense). 

The Shoe-gastehuis (Villiers Steyn).  



DAG 6: Pelgrimsrus


LINKS: The Vine-restaurant (Villiers Steyn).  REGS: Dredzen General Dealer gastehuis (Villiers Steyn).    


• Koop ’n museumkaartjieby die inligtingskantoor in die bodorp en stap af na die Dredzen General Dealer 

• Eet middagete by The Vine-restaurant, hulle Digger’s Stew is uit die boonste rakke.

• Bespreek ’n uur lange goudsiftingsuitstappie of ’n Ghostie Tour (besoek die inligtingskantoor vir meer inligting). 


SLAAP HIER:

Die Royal Hotel is soos die res van die dorpie versier soos dit sou gelyk het meer as ’n eeu gelede. Selfs die personeel is aangetrek in swart-en-wit, kompleet met kappies en kuile op die kop.

As jy nie op Pelgrimsrus – wat nogal bedrywig kan raak – wil bly nie, oorweeg die Forever Resorts Mount Sheba. Die oord is omring deur ’n reënwoud en groen heuwels. Lê langs die swembad, verken die woude of trek ’n forel uit. 




Hou dié in gedagte

1. Pak gemaklike skoene. Dis lekker om die dorpies te voet te verken.

2. Bespreek vooruit! Dit geld vir blyplekke, aktiwiteite en restaurante.

3. Hou altyd ’n paar R10- en R20-note byderhand vir toegang tot die watervalle en poele.

4. Die meeste uitkykpunte lê oos van die roete en is dus op hulle mooiste in die laatmiddag.

5. Vat jou tyd. Alles is so na aan mekaar dat jy nooit hoef te jaag nie.


Weg se gunstelinge

1. Potluck Boskombuis

2. Mac-Mac-poele

3. Lone Creek-waterval

4. Sabie Brewing Company

5. Harrie’s Pancakes