Hier is ’n kaart met doendinge, bly- en eetplekke op die dorp. Klik op die ikoon vir meer inligting. Alle inligting op die kaart is onlangs nagegaan en op datum tot en met Oktober 2017.

Jy sou Bonnievale ’n mate van selftevredenheid kon vergewe op die voorkoms-kant. Die hoofstraat lê styf teen die Breederivier, en kyk uit oor die Lange- én Sonderendberge. 

Hier’s oral wingerde (die polisiestasie is langs een) en danksy leivore het omtrent al die huise in die dorp ’n mooi tuintjie. Bonnievale is gróén, man. 
Dit lyk of die ekonomie ook blom: die ou hotel is oorgedoen, so ook Karins-on-Main-restaurant (voorheen ’n viswinkel) én die BP-garage. 

Met die eerste dag van ons besoek, terwyl skoolkinders huis toe slenter en melklorries straataf rammel, is munisipale werkers besig om padmerke met die verfkwas op te knap en slaggate reg te maak.  

Maar dié opknappings het nie net gebeur nie. Theuns Coetzee is die dryfveer agter die gemeenskapsprojekte Droom vir Bonnievale en Droom vir Suid-Afrika. “In Suid-Afrika het ons mooi dinge, maar jy’s skaam om deur die dorpe te ry. Daar’s net slaggate!”

Dis uit dié versugting wat die projekte gegroei het. Toerisme, reken hy, is die pad vorentoe, maar jy kan nie net ’n plek mooi maak nie. “(Die verval) is ’n simptoom van ’n gemeenskap gestroop van hul trots. Daar is nie ’n kollektiewe verantwoordbaarheid en eienaarskap nie.”

Só, sê Theuns, het Bonnievale ook eers gelyk. Toe besluit die gemeenskap om dinge reg te ruk. “Sien, dis net Bonnievale wat Bonnievale se probleme kan oplos.”

Die Oude Werf-sentrum is eerste oorgedoen in 2009. En toe die slaghuis in 2010. In 2011 span die gemeenskap en die munisipaliteit kragte saam en sedertdien is al meer as 5000 bome in die dorp geplant.

*Leon-Ben Lamprecht se artikel oor Bonnievale het oorspronklik in die Desember 2013-uitgawe van Weg verskyn.