Heelwat kampeerders en veldrygeesdriftiges is eensydig wanneer dit by sekere handelsname kom. En ’n mens kan hulle nie regtig verkwalik nie, veral as hulle jare se kommervrye diens by ’n spesifieke vervaardiger gekry het. Dit is presies hoe Rick Schampers oor Land Rover gevoel het. Trouens, hy het vier van hulle besit voordat hy op dié seldsame vonds afgekom het.

Ek het nog altyd Land Rovers gery, en toe ek van Nederland na Noorweë verhuis, het ek ’n 2003-model Defender Td5 besit. Maar die invoerbelasting in Noorweë is buitensporig duur en dit sou my €15 000 (in 2017 meer as R250 000) kos om my Landie in die nuwe land te laat registreer. Die Defender was nie eens soveel werd nie, en daarom het ek hom eerder verkoop toe ek hierheen trek.

Ek het op die internet na ’n ander Land Rover gesoek, maar toe sien ek die Volvo L3314 – of Valp (wat “hondjie” beteken), soos hy in Skandinawië gedoop is weens sy effense lomp ontwerp. Hoewel ek al sedert my tienerjare ’n veldry-entoesias is, het ek nog nooit dié ryding gesien nie. Hulle is nogal seldsaam en daar is maar rondom 9 000 van hulle gebou – en dit was oorwegend vir die Sweedse weermag. Daar was darem ’n hand vol wat vir die breë publiek beskikbaar gestel is.

Ook van die tweede geslag, die C202, is sowat 3 000 gebou. Daar was ’n paar tegniese verstellings aan hierdie opgedateerde model, wat in Hongarye gebou is eerder as in Volvo se Sweedse fabriek.

Ek het baie in die L3314-model belang gestel, want die ryding het na groot pret gelyk teen ’n skaflike prys. So besluit ek drie jaar terug om hierdie 1968-model aan te skaf vir €3 000 (sowat R60 000). My aanvanklike plan was om hom net vir ’n jaar of wat te hou tot ek genoeg gespaar het om weer vir my ’n Defender te koop. Ek het egter só geheg geraak aan die klein karretjie dat ek ’n jaar later besluit ek gaan hom nie verkoop nie. Ek sou die geld wat ek vir ’n Defender sou gebruik, eerder inspan om die Valp in ’n ernstige veldryer te omskep.

Die Valp was toe 49 jaar oud en vir ’n groot deel van sy leeftyd ’n militêre voertuig. Maar sedert sy uittrede is hy effens afgeskeep. Hoewel hy nog gery het, het hy baie liefde en toewyding nodig gehad toe ek hom gekoop het. Ek het dadelik begin beplan hoe om hom op te bou en aan te pas. My heel eerste reis in die Volvo was in Desember 2017 in Noorweë.

’n Buiging om te onthou

Kort ná ons vertrek het, het ons besef die kar se verwarmer werk nie na wens nie. En omdat ek nie geld gehad het vir ’n konvensionele verwarmer nie, het ek vir my ’n liggewig houtstoof gekoop en dié vir die eerste jaar gebruik wanneer ons in koue toestande kamp.

Dit was goed en wel om die plek warm te maak, maar ons kon nie juis die temperatuur reguleer nie. Ons het dit ook nie gewaag om te gaan slaap met die stoof wat nog brand nie, wat beteken in die middel van die nag en in die oggende was dit ysig koud in die voertuig.

Die roet het ook mettertyd in die binneruim begin aanpak, en om die waarheid te sê het ons nooit heeltemal veilig gevoel met dié tussentydse plan nie.

Ek onthou daardie eerste reis met die houtstoof baie goed. Ons het baie koud gekry wanneer ons ry, iets wat ons ervaring versuur het. ’n Vriend het toe voorgestel ons steek die houtstoof aan terwyl ons ry. (Dit klink vir my na ’n resep vir ’n ramp. – Red.)

Dit het vir my na ’n uitstekende voorstel geklink, en dis toe presies wat ons doen. Maar ons het gou besef dis ’n slegte plan, veral toe ons opdraande ry in ’n lang tonnel.

Die stoof se lugvloei is befomfaai weens redes wat vir my duister is, en die rook is in die stoof en die Valp teruggedruk. Dit was ’n gemors, want ons kon nie in die 7 km lange tonnel stilhou nie! Ons moes die vensters op die windskerm oopmaak en die temperatuur van -20 ºC trotseer.

As kind was ek twee keer saam met my pa in sy Defender in Ysland, en sowat 18 maande nadat ek die Valp gekoop het, het ek teruggekeer na dié land van vuur en ys.

In daardie stadium het ek nog nie veel aan die Volvo verander nie, behalwe vir ’n namarkse wenas en 35”-modderterreinbande. Ek het ook die remme, koppelaarplate en vloeistowwe vervang vóór ons na Ysland vertrek het. Dit is ’n land met ’n unieke landskap, skouspelagtige natuurtonele en van die beste plekke om met jou veldryer te verken, want hier is fantastiese kampplekke en 4x4-roetes.

Die Valp het Volvo se reputasie vir betroubaarheid gestand gedoen en ons het vier weke lank sonder enige probleme gereis. Ek moes wel ’n rempyp vervang, maar dit was vinnig en maklik.

Op pad Ysland toe het ons ’n klomp Defender-bestuurders op die veerboot ontmoet en op die derde week van die reis het ons hulle weer raakgeloop. Hulle was totaal en al oorbluf dat die Valp nog aan die gang is.

’n Nuwe baadjie

Terug by die huis was dit tyd vir broodnodige opgraderings. Daar is nie regtig meer toebehore en modifikasies vir ’n Valp beskikbaar nie, en daarom moes ek ’n klompie goed spesiaal laat maak en onderdele van ander 4x4-voertuie gebruik.

Ek het die binneruim heeltemal gestroop en dit aangepas om ’n leef- en slaapruimte te hê met ’n tafel wat jy laat sak om ’n bed te vorm.

Daar is ook nou ’n kombuishoekie met ’n moderne stoof en oond, en ’n wasbak met lopende water (hiervoor is daar ’n 40 l-tenk).

Ek gebruik ’n Webasto-dieselverwarmer om die water warm te kry. Ja, dis nie so oulik soos die ou houtstoof nie, maar aansienlik praktieser.

Ek het ook vir die Valp ’n dubbelbatterystelsel ingebou én hy het nou ’n televisie vir die dae as dit vroeg donker word. Ek het besluit om die oorspronklike Volvo B20-enjin te hou. Dit is ’n 2 l-viersilinderenjin sonder ’n aanjaer, maar hy wek net 55 kW krag op.

Ek het die enjin laat oordoen en hom laat verstel om ’n bietjie meer krag te bewerkstellig. Danksy ’n verhoogde kompressieverhouding, groter kleppe, ’n aggressiewer nokas, elektroniese ontsteking en ’n Weber 36 DCD-vergasser, spog hy nou met 82 kW – meer as genoeg om by te hou in Noorweë se verkeer.

Die agteras was volgende aan die beurt. Dié het ek omskep van ’n halfvrye soort tot volvry, met aangepaste onderdele van ’n Dana 44-ewenaar en ’n pasgemaakte swaardiens-as wat deur die Amerikaanse spesialisvervaardiger Dutchman Motorsports gebou word.

Daar is ook ’n ARB-ewenaarslot met 30 ribbes. Gelukkig vir my het die slot maklik in die Dana 44 gepas. Voorlangs het ek steeds die standaard-as met ’n outomatiese slot en vrylopende nawe.

Die vering is verder opgegradeer met Koni-swaardiensskokbrekers en lugkussings op al vier wiele. Die lugvering help om al die ekstra gewig te dra wat ek laat aanbring het.

Die rithoogte kan met 80 mm verstel word sodat ek die Valp kan aanpas vir veldrytoestande en gebruik in die stad. Om die lugvering op te pomp – en sommer die bande ook – het ek ’n ARB-dubbelsilinderpomp en twee 10 l-lugtenks laat aanbring.

Nóg onderdele sluit in ’n Front Runner-dakrak wat van ’n ou Land Rover Discovery 3 af kom, die wielboë van ’n James Bond Spectre Defender (Dit is ’n spesiale Landie-model wat ons nie in Suid-Afrika gekry het nie. – Red.), en die Koni-skokbrekers uit ’n Discovery 2.

Die leertjie kom van ’n ou Landie Series en die snorkel en syspieëltjies ook van ’n Defender.

Verreweg my gunstelingmodifikasie is die wiele en buitebande: 38x15,5 R15 Arctic Truck AT405-bande op 14j-15”-vellings. Die bande het ’n winterloopvlak wat tussen veelterrein- en modderbande val. Hulle presteer goed op alle soorte terrein – selfs teerpad. Wanneer ons in diep sneeu ry, kan ons die banddruk tot so laag as 0,2 bar laat afkom en sodoende die voetspoor van die band verleng vir die beste vastrap. Die Valp se modderskerm moes 150 mm breër gemaak word om oor die bande te pas aangesien hulle aansienlik groter is as die standaardwiele waarmee die voertuig in 1968 uitgekom het.

Beloning vir harde werk

Anders as die meeste ander kampvoertuie is ’n Valp klein genoeg om 4x4-roetes aan te durf. Hy pas op byna enige spoor wat deur ’n tipiese of groot veldryer gelaat is.

Teen 2,4 t (gelaai met al my kampgoed) weeg my Valp ook minder as heelparty ander veldryvoertuie. Die lae gewig saam met daai lekker groot tekkies sorg dat hy oor die sneeu dryf eerder as om daardeur te ploeg. Dis gaaf, want ons hou daarvan om ook in die winter te gaan kamp.

As ek raad kan gee aan enigiemand wat ’n ou militêre voertuig wil gebruik as ’n kampvoertuig: Hou maar deurentyd jou hand op hom. Dié soort rygoed verg baie onderhoud, maar ’n sorgsame eienaar sal beloon word met donkiejare se diens.

Die enigste probleme wat ek tot dusver ondervind het, was daardie rempyp in Ysland, ’n bout op die alternator wat afgebreek het, en ’n foutiewe vonkprop – en al dié dinge is in ’n japtrap herstel, sommer langs die pad.

Daar is baie rondom ’n 50 jaar oue militêre voertuig wat jou sal irriteer as jy gewoond is aan moderne rygoed. Die geraas, betreklik lae krag en spoed, die afwesigheid van kragstuur, geen remkragversterkers of lugreëling nie, en swaar brandstofverbruik (20 l/100 km op teerpad en 25 l/100 km in 4x4). Maar die pret op ’n 4x4-roete vergoed vir die tekortkominge – dis immers die vernaamste rede waarom ’n mens so ’n trokkie koop.

My Valp blink nie uit in ’n spesifieke terrein nie. Hy’s eerder ’n outjie met baie talente, en dis hoekom ek so lief is vir hom.

Volg die avonture van Henry
Die noemnaam vir Rick se Volvo Valp is “Henry the Man Cave Camper”, omdat hy, soos die naam aandui, inderdaad ’n rondreisende ramhok is. Henry het ook sy eie Instagram-profiel én ’n YouTube-kanaal waar jy die avonture kan volg.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook