Van waar jy by die tafel sit en teug aan jou oggendkoffie (en van die braaiplek af) het jy ’n mooi uitsig oor ’n watergat. Ja, jou eie watergat, net 50 m van die boomhuis af.

Hier kom kort-kort springbokke, wildebeeste, bastergemsbokke, swartwitpense, rooihartbeeste, koedoes en vlakvarke water suip. Rondom jou gesels versamel- en neushoringvoëls oor ditjies en datjies. Die boomhuis is ’n entjie van die naaste roete af, dus pla niemand jou nie.

Kameeldoring was so gewild dat die park nog ’n boomhuis gebou het, Dinokeng. Dinokeng is ’n bietjie ruimer met ’n groot dek wat amper reg rondom die huisie vou. Jy het wel nie jou eie watergat nie, maar die Stofdamvoëlskuiling is net ’n paar honderd meter van daar af. 

Geriewe: Die boomhuise is ten volle toegerus. Die stort het ’n gasgeiser en in die kombuisie is ’n tweeplaatgasstofie. Op die dek is ’n groterige gasyskas. En daar is ’n gasverwarmer om aan te steek. Dit raak nogal koud binne, veral op winteraande.

Wat pla? Kameeldoring is redelik knap binne en hier is nie veel plek vir tasse en klere nie, en jy moet jou draai in die stortjie ken. 

Hoe kom ek daar? Mokala is sowat 75 km suidwes van Kimberley – jy draai van die N12 af. 

Koste: Tussen R1 360 - R1 480 p.n. vir maksimum 2 persone, afhangend of dit spitsseisoen is of nie. Minimum 2 nagte.

Kontak: 053 204 8000; sanparks.org/parks/mokala