Visvangoord

Pitjane-kamp

Dam toe!

Kamp & Katrol
Kamp & Katrol

Die Borakalalo- nasionale park lê net anderkant Brits en spog met baie grootwild– hier sal jy selfs twee van die Groot Vyf sien. Maar buiten die buffels en luiperds is hier ook onder meer elande en kameelperde. Maar as dit hengel is wat jy in gedagte het, gaan slaan jy jou kamp op langs die Klipvoordam.

Die dam van 800 ha lê in die middel van die park en is van die in loop tot by die damwal sowat 9 km lank. Jy kamp op die bank regs van die damwal.

Moenie knap ná die hek op die oopte langs die dam intrek en afsaal nie, want dié deel is vir dagbesoekers.

Ry tot net verby die damwal, draai regs en ry om die kop tot jy weer by die dam uitkom. Nou is jy in die Pitjane-kamp aan die noordekant van die water. Die staanplekke is oop kolle grond teenaan die water al teen die oewer af op’n strook van sowat 700 m. Hier is heelwatkoeltebome, maar waarsku die kinders teendie doringbome wat hulle dorings verloor: Hulle steek baie maklik deur jou plakkie.

Die vullisdromme en krane is skaars, maar as jy gou badkamer toe moet hardloop, is dit net 30-40m agter jou in die bos. Hoewel hier nie elektrisiteit in die baksteengeboutjies is nie, kry jy darem warm water uit ’n gasgeiser. Die wasplek kan effens vol blare en goggas word, want die vensteropeninge het nie ruite nie.

Kortliks | Pitjane-kamp

Vis: Karp, kurper, baber en geelvis.

Kampplek: Sowat 15-20 staanplekke sonder krag met skaflike koelte.

Ablusiegeriewe: Basies en eenvoudig.

Prys: R50 p.p.p.n.

Kontak:  012 729 4101/2/3;  tourismnorthwest.co.zauniteaml@mweb.co.za

Naaste dorp: Brits, 72 km.

Hoe lyk die pad? Net ná die hek word dit ’n grondpad wat effens sinkplaat gery is, maar jy kan ’n gewone woonwa hier sleep.

GPS: S25.127718 E27.816185

Weg Ry & Sleep sê: Die hengeltarief is nie by die kampgeld ingesluit nie en kos R20 p.p.p.d ekstra.


Vang graat

Liggerookte snoek met bruinbrood en rosyntjiekonfyt

Jy’t al baie stories gehoor oor die truuks met snoekbraai, maar dis eintlik maklik en vinnig om ’n snoek in ’n ketelbraai te rook.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 eetlepel sout
  • 1 teelepel varsgemaalde peper
  • 2 eetlepels geelmosterdsaad
  • 2 eetlepels paprika
  • 1 teelepel rissievlokkies
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 2 lourierblare, fyngesnipper
  • 2 eetlepels droë origanum
  • ¼ koppie olyfolie
  • 1 heel snoek (of gebruik 6 porsies van 350 g elk)

Só maak jy

1. Meng die sout en peper met die kruie en speserye en roer die mengsel dan by die olyfolie in. Vryf die snoek goed met die oliemengsel in en sit dit in ’n vlak foeliebak.

2. Pak braaibrikette teen die rand van jou ketelbraai se kolebak en steek die vuur aan. Sit ’n hand vol rookhoutstukkies op die warm kole en sit die snoek in die ketelbraai wanneer die kole almal mooi grys is. Sit die deksel op met die ketelbraai se luggaatjies almal toegemaak. Rook die vis vir sowat 15 minute.

3. Sit die snoek voor met bruinbrood en rosyntjie- of druiwekonfyt.

Weg Ry & Sleep sê
Noudat jy gekonfyt is met die snoekrokery, kan jy ook hoender en vark in jou ketelbraai rook.



Spanpoging

Roofvisse wat ’n groepie jong vissies aanval met die hoop om een of twee te vang is niks vreemds nie – die aanvaller gaan tien teen een met iets in die bek wegkom. As ’n mens so ’n groepie vissies in die vorm van kunsaas kan naboots, gaan hy les opsê. Livetarget se Baitball-spinner-aas, wat deur Adrenalin Importers ingevoer word, doen presies dit.

Die aas bestaan uit vier vissies. Drie van hulle “swem” langs mekaar met die vierde (effens groter) een direk onder hulle. Dit is ook die “vis” met die hoek in sy rugvin. Die twee groepe vissies is vas aan die twee punte van ’n winkelhaakvormige draad – die lyn maak in die middel vas waar die draad gebuig is.

Die Baitball het verder ook ’n spinner-lepeltjie wat tussen die twee groepe pas, en wanneer jy die aas deur die water trek, lyk dit soos ’n groepie vissies wat deur die water skarrel. Omdat die hoek se krul in lyn met die draad loop én binnetoe wys, kan ’n mens die aas ook deur water met struktuur trek; dit sal nie sommer iewers vashaak nie.

Dié soort aas is gemik op swartbaarshengelaars, maar jy kan dit ook in strandmere of in die see gebruik. Volgens die invoerders het hengelaars by Kaappunt selfs al makriel uitgetrek hiermee.

Die reeks is beskikbaar in nege kleure en drie groottes: ¼ oz, 3/8 oz en ½ oz.

Prys: Vanaf R215 by hengelwinkels.

Kontak: Adrenalin Importers & Distributors (invoerders)  021 982 1510;  catches@4adrenalin.co.zaadrenalinfishing.co.za