FOTO'S Helenus Kruger


Die stilte onder ons groepie stappers is intens: Jy kan amper hoor hoe almal asem ophou.

Met oë vasgenael op die trop buffels voor ons verroer niemand ’n spier nie. Die trop het ons natuurlik al lankal gewaar en ’n bul of twee staar ons stip aan. Daar’s ’n beroering in die trop. Een bul mik-mik in ons rigting en ons veldwagter lei ons vinnig agter ’n klompie mopanies in. Ek kyk die klompie dun boompies so en wonder of hulle opgewasse gaan wees teen ’n buffel wat storm. Gelukkig sal ons nooit weet nie, want die volgende oomblik hoor jy net hoewe klap en die trop hardloop die mopanies in.


Ek is hier op uitnodiging van Sanparke se ereveldwagters. Ons is ’n klein groep wat saam in die wildtuin kuier en stap en in die ereveldwagters se Nyarhi-kamp – ’n kampplek vir net agt mense – bly. Jy het geen heining om jou nie en moet heeltemal selfversorgend wees. Dis die soort uitnodiging waarvoor ’n man selfs sy troue sal uitstel as dit moet. As die wildtuingogga jou eers gebyt het, gaan jy vir altyd in sy kloue wees.


Dag 1


Dit is vroegoggend toe ek met 'n bakkie by die Phalaborwahek stilhou. Die dag begin sommer goed en ek sien (danksy ’n wenk van die hekwag) net ná die hek leeus by die Sabledam. Nie lank daarna nie draf ’n ratel met sy fris lyf en wit streep op die rug en stert oor die pad.

Ek druk die bakkie se neus noord op die H14 na die Mopaniekamp waar almal bymekaar kom en dan in ’n konvooi vertrek na die Nyarhi-kamp.

Ons gashere en gasvrou vir die naweek is Louis Lemmer, nasionale voorsitter van die ereveldwagters, Erika Lemmer, voorsitter van die Kruger Rustic Bush Camps, en Francois van der Merwe, ’n ervare veldwagter. By ons aankoms verken ons vinnig saam die kamp om seker te maak dit is veilig, en nadat die kampgrense uitgewys is, soek elkeen van ons ’n skadukollejie om tent op te slaan. Dis warm in die wildtuin en die skadukolle onder die groot appelblaar- en kierieklapperbome is ’n welkome gesig.

Louis spot dat die kamp se naam dalk eerder Ndlovu as Nyarhi (buffel) moet wees, want die olifante kom loer gereeld hier in.

Dieselfde middag nog gaan ons op ons eerste staptog. Voor ons wegspring, word die stapreëls neergelê: Stap agter mekaar; wees so stil as moontlik en luister na die veldwagters, veral as gevaar dreig; en moenie hardloop as daar moeilikheid is nie, maar soek skuiling, want jy is vir seker nie vinniger as enige gevaarlike dier nie. Ek wonder so in die stilligheid: Wat maak jy as daar geen skuiling beskikbaar is nie?

Hierdie is my eerste stapervaring in die Kruger én tussen roofdiere. Ek sien daarna uit om so naby aan die natuur en aan die diere te kom. Maar ek het ook al in Botswana ’n leeuwyfie in die oë gekyk toe sy ons een aand in die kamp in Mabuasehube verras het. Jy vergeet nie sommer daardie snak na asem en die kol op jou maag nie… Ek wonder of ek reg is vir nog so ’n ervaring.

Ons stap in enkelgelid met gewapende veldwagters aan die voorpunt. Met die son agter ons rug stap ons teen ’n gemaklike pas in die rigting van die Frazersrus-watergat. Dis mopaniewêreld en die wildspaadjies wat ons stap, kronkel tussen die bome deur. Elkeen stap met sy eie gedagtes.

Kort voor die watergat fluister iemand daar is ’n olifant. Louis roep ons met ’n handsein tot stilstand. ’n Groot bul staan regs van die dam, ’n ent weg van die trop wat water suip. Toe die bul sy ore begin flap en stof opskop, neem Louis ons stilweg met ’n wye draai om die drinkplek.

Louis stop ons gereeld en deel die een interessante feit ná die ander met ons. Dié staptogte gaan nie net daaroor om grootwild te sien nie, maar ook oor die klein dingetjies in die veld. In hierdie paar dae leer ons onder meer van die diere se gewoontes, die veldplante en bome, en hoekom dinge in die natuur werk soos dit werk. En met elke stop beweeg Francois, geweer in die hand, so effens weg van ons groepie om die omgewing te verken en seker te maak daar is nie roofdiere te naby nie.

Ons kom terug by die kamp terwyl die son in ’n rooi gloed agter die raasblare sak. Teen die tyd dat almal die dag se stof afgewas het, brand die kampvuur al hoog. Ons groepie vreemdelinge leer mekaar ken en kuier lekker saam.


Dag 2


Net voor 5 vm. maak Louis ons wakker. Sy flitslig vee tussen die bome en tente deur om seker te maak ’n wilde besoeker het hom nie deur die nag by die geselskap aangesluit nie. Erika het al die koffiewater aan die kook.

Ná ’n beker boeretroos en tuisgebakte beskuit is ons reg vir die dag. Erika vra of ons in die nag die leeus gehoor het, maar ek moet erken ek het te vas geslaap. Ek is nie die enigste een wat dit gemis het nie; ’n klompie van die ander weet ook van g’n sout of water nie.

Ons oggendstap begin toe die son die landskap oranje begin inkleur. Die oggendlug is vars en die veld ruik na bossies.

Ná enkele minute se stap kom ons op ’n vars olifantspoor af. Ons leer hoe om min of meer sy hoogte te bepaal deur die lengte van die agtervoet met 5,8 te vermenigvuldig. Ons leer ook dat dié reus verbasend stil kan beweeg omdat sy voetsool soos ’n skokbreker werk.

Ons leer bome ken: die raasblaar, hardekool en kierieklapper in die Combretum-familie, die maroelaboom. Die maroela is vir die Zoeloe ’n simbool van vrugbaarheid, die Venda gebruik die sap van sy bas om die geslag van babas te bepaal, en Afrikaners stook mampoer van hom.

Die takke ritstel en ons sien ’n ratel in die bosse verdwyn. Dis die tweede ratel wat ek in twee dae sien.

Louis gee die halt-teken en piekniekkos word uitgepak: kolwyntjies, energiestafies, droëvrugte, biltong, droëwors en vrugtesap.

Ons draai terug na die kamp toe. Teen 10 vm. bak die son al en dis ’n warm, maar tevrede groep stappers wat ná die oggend se 7 km-stap die kamp instap.

Deur die dag is almal rustig in die kamp. Jy stort, maak middagete en vat daarna sommer so in jou kampstoel ’n middagslapie.

Die gazebo in die middel van die kamp is ’n gewilde bymekaarkomplek en hier word groot stories van boservarings uitgeruil. Francois laat die groep skater met sy staaltjies oor vreemde troues wat hy al bygewoon het.

Net ná 4 nm. is dit weer tyd om die stapskoene aan te trek. Die middagstaptogte is korter as die oggendstappe en duur sowat 2 uur. Die roete kronkel weer tussen die mopanies deur en ons steek nou en dan ’n droë loop oor. In een van die lope herrinner ’n groot buffelkopbeen jou van die voedselketting en oorlewingstryd in die natuur.

Later, by die Frazersrus-watergat, kom ons op nog ’n reusagtige buffelskedel af. Dié ou grote het hier reg langs die water geval.

Maar die groot opwinding van die dag is teen skemer toe ons weer by die kamp wil ingaan. ’n Olifantbulletjie vreet rustig by die kamp. Hy is min gepla met ons en vreet lustig voort. Ons stap ’n wye draai om die kamp van die ander kant af te bereik, en die bulletjie stap later rustig weg.

Jy sien van die grootste tot die kleinste natuurskatte as jy so deur die veld stap.



Dag 3


Ná die gebruiklike oggendkoffie en beskuit bring die veldwagters ons met hulle voertuie tot by die Tsendzerivier. Ons stap al langs die kronkels van die rivier tot by ’n krans waar jy op ’n waterpoel afkyk.

Gister was die hemel bo ons blou, maar vandag hang daar ’n wolkkombers en ons stap in ’n lekker koel luggie. In die waterpoel dryf twee klein krokodilletjies. Hulle ma moet ook daar iewers wees, maar sy bly uit die oog uit. ’n Bontvisvanger jag vir ontbyt en vermaak ons.

Ons stap met ’n wye draai deur die Tsendzerivier tot waar dit met die Shongololorivier ineenvloei.

Ná nog ’n rustige dag in die kamp laai ons ons kampstoele en koel drinkgoed op die voertuie en ry tot by ’n modderrige watergat. Francois pluk sy skoene uit om ’n bergskilpad te red wat in die modder vasgeval het. Terug op droë grond vat Skillie die pad.

Ons vat ook die pad en stap ’n sirkelroete deur die veld. Terug by die watergat pak ons ons stoele en drinkgoed uit. Die son sak en verf die wolke agter ons oranje. Uit ons stoele kyk ons hoe ’n olifant rustig by die watergat vreet.

Terug in die kamp word ek laatnag in my tent wakker. Ek luister tevrede na die naggeluide. Leeus gesels in die verte en later laat weet ’n jagluiperd hy is ook in die omgewing. Dis die tweede nag dat ’n hiëna naby die kampplek lawaai.

Nou kan ek sê ek het in ’n regte boskamp geslaap.


Dag 4

Louis Lemmer (tweede van links) deel interessante feite en geite met die stappers.


Ons kyk vir oulaas hoe die son oor die mopanieveld opkom. Dan is dit tyd om tente op te slaan en in die voertuie te pak. Die koffiegoed en kampstoele word in Louis en Francois se voertuie gepak vir die kort rit na die Frazersrus-watergat. Ná drie dae gesels almal in die groep soos ou vriende wat mekaar al lank ken. Die gesprekke wissel van wie waar gaan vakansie hou en 4x4-ry tot fotografiesafari’s, watter voertuie waarde vir geld is en hoe om ’n regte Italiaanse espresso te maak.

Ons gesels so lekker dat daar g’n kans is dat ons ’n dier sal sien wat kom suip nie.

Terug by die kamp word die laaste goed opgepak. Ons groet en ruil kontakbesonderhede uit.

Dis onmoontlik om ’n enkele hoogtepunt uit te sonder van die laaste paar dae se stappery en kampeerdery. Daar was soveel: alles wat ek van die natuur geleer het, die opwinding daarvan om te voet naby buffels, olifante en ander diere te wees, die lekker van ’n bosstort onder die sterre, en die aande om die kampvuur saam met nuwe vriende.

Ek gaan huis toe met baie meer as waarmee ek hier aangekom het. En ek weet die Nyarhi-kamp gaan my weer sien.


Werd om te weet

  • Die Nyarhi-kamp is van middel November tot einde Februarie – wanneer dié wêreld op sy warmste is – gesluit.
  • Jy moet heeltemal selfonderhoudend wees. Hier is net ’n stortskuiling en ’n long drop.
  • Vat genoeg water saam. Dis warm en jy drink meer water as by die huis.
  • Jy stap altesame 20 km oor ’n naweek. Dis op gelyk grond en teen ’n rustige pas, maar jy moet nie heeltemal onfiks wees nie. Sorg ook dat jou stapskoene lekker ingeloop is en pak gemaklike stapklere en ’n hoed in. ’n Klein rugsak vir jou water en sonroom kom ook handig te pas.
  • Jy het nie ’n 4x4 of bakkie nodig om by die kamp uit te kom nie, maar wel ’n voertuig met ’n hoër grondvryhoogte as ’n sedan. Jy kan met jou boswa gaan, maar gaan nie met ’n gewone wa daar uitkom nie. Die paaie verspoel soms en dit is wys om voor die tyd te bel om te hoor hoe die pad lyk.
  • Om nie in die donker te ry nie is dit wys om die aand voor én ná die boskamp vir jou blyplek in die Krugerwildtuin te bespreek.
  • Soortgelyke boskampe word in al die nasionale parke beplan.


Kyk hier  na die video wat tydens die staptog geneem is.



Wie is die Sanparke-ereveldwagters?
  • Die ereveldwagters is ’n niewinsgewende organisasie van vrywilligers wat bewaringshulp en ondersteuning aan Sanparke gee. Die ereveldwagters hou geldinsamelings en is in al die nasionale parke betrokke.
  • Louis Lemmer, nasionale voorsitter van die ereveldwagters, sê jy het nie ’n veldwagter- of bewaringskwalifikasie nodig om by hulle aan te sluit nie. Jy moet net ’n liefde vir die natuur hê en bereid wees om van jou tyd af te staan om ’n verskil te maak. Jy kan van jou tyd of geld gee en met jou beroepskennis help met projekte. Dis ’n diens wat jy aan Sanparke lewer en jy kry nie spesiale voorregte of verblyfafslag in ruil daarvoor nie. Jou beloning is om in die natuur te kan wees en met bewaring te help.