Ons is in Mei by die huis weg in ons 2015-model Iveco Daily-ryhuis en het heelwat lodges en kampplekke aangedoen voor ons oor die grens na Botswana, toe Zambië en uiteindelik na Malawi is.

Nadat ons in Mosambiek ook gaan draai het, het ons uiteindelik vroeg in Julie teruggekeer huis toe.

Waar in Malawi het julle gekamp?

Ons was vyf nagte by Chembe Eagle’s Nest by Kaap Maclear in die Malawimeer- nasionale park.

Waar het julle daarvan te hore gekom?

Ons het dit op die internet nagevors en dit ook teëgekom op ander reisigers se blogs wat ons gereeld lees.

Hoe lyk dit daar?

Een woord... idillies. Daar is ’n pragtige private strand wat tot teen die meer strek, en die watertemperatuur wissel deur die jaar van 24-26 ºC.

Hoe lyk die staanplekke?

Op die boonste vlak is daar staanplekke onder koeltebome, maar die uitsig oor die meer is beperk. Ons het ’n staanplek langs die strand gekry met genoeg plek vir ons ryhuis, twee klein tente en twee motorfietse. Daar is waarskynlik genoeg plek vir vier of vyf tweemantente op elke staanplek.

kies jou kol. Die staanplekke by Chembe Eagle’s Nest is oor twee vlakke uitgelê. Op die boonste vlak is jou uitsig oor die Malawimeer beperk. Probeer eerder om nader aan die water te kamp.

Is die ablusiegeriewe voldoende?

Die ablusiegeriewe is sowat 40 m van die kampplek af, en dit is skoon en netjies met drie storte in die mans- en vrouegeriewe. Die warm water is meer lou as warm, maar dit maak nie saak nie. Ons was in die middel van die winter daar en dit was meer as warm genoeg.

Watter aktiwiteite is daar?

Daar is ’n motorboot en katamaran en jy kan ook veilig snorkelduik, hengel en swem. Daar is skemervaarte op die katamaran tot by van die meer se eilande en jy kan reël vir halfdaguitstappies om te snorkel- of skubaduik.

watersport(s). Daar is skemervaarte op die katamaran tot by van die Malawimeer se eilande – Keith en Sue sê ’n mens kan reël vir halfdaguitstappies om te snorkel- of skubaduik.

Moes julle enige spesiale voorbereidings tref om daarheen te gaan?

Ons het ons verblyf op pad soontoe ordentlik nagevors en ook seker gemaak ons is op die hoogte van wat van ons verwag word by die grens. Dit is altyd goed om te weet hoe ver jy moet ry en watter padtoestande jy moet verwag. Ons het ook by elke vulstasie volgemaak en seker gemaak ons voorraad kos, water en drinkgoed raak nooit laag nie. En ons het die ryhuis laat diens voor ons by die huis weg is.

Is daar ander verblyfopsies?

Ja, daar is chalets van verskillende groottes beskikbaar. Hulle het lugreëling en ’n uitsig oor die strand.

Is daar ’n winkel in die kampterrein of naby aan die kampterrein?

Daar was nie winkels naby nie; ons het ons kos in Lilongwe gekoop. Daar is ook winkels met basiese benodigdhede in Monkey Bay, sowat 25 km weg. Die naaste vulstasie is 20 km van die kampterrein af en verkoop petrol en diesel. As jy egter heilig is oor 50 ppm, gaan jy in Lilongwe of Blantyre moet volmaak.

Wat kos dit om daar te kamp?

US$10 (ongeveer R134) p.p.p.n.

Kontak chembenest.com; 00 265 99 996 6507; enquiries@chembenest.com

GPS S14.002237 E34.849826