Foto's Cyril Klopper
Naweekkamp
Naweekkamp

Die Meiringskloof-natuurpark is geleë op die buiterand van Fouriesburg, ongeveer 12 km van die Lesothogrens af. Dit is ’n 3 uur lange rit van Bloemfontein en 4 uur uit Johannesburg.

Die oord is ’n gewilde verblyfkeuse vir mense wat jaarliks na die Oos-Vrystaatse hoogland reis om die Kersiefees by Ficksburg en die Bierfees op Clarens by te woon. En omdat Fouriesburg slegs 10 km van Lesotho se Caledonspoort-grenspos af is, kan jy AfriSki (100 km hiervandaan) of die Katsedam (130 km) binne een dag besoek.

Wanneer jy die oord se hek binnery, hou jy eers langs die kantoor stil om aan te meld. Dit is ’n geelgeverfde gebou waarlangs outydse plaasimplemente staangemaak is. Jou bespreking word hier nagegaan en jy sal aanwysings na jou staanplek toe kry. Jy kry nie ’n sleutel vir die hek nie, maar dit word dag en nag deur ’n sekerheidswag beman wat jou enige tyd sal in- of uitlaat.

Langs die kantoorgebou is ’n kafee waar jy basiese proviand kan koop (maar vir braaivleis moet jy eerder die dorp se slaghuis besoek). Hier is gratis wifi rondom die kantoor (geen selfoonontvangs in die kloof nie) en ’n hok met ’n halfdosyn varke wat vriendelik kom groet terwyl jy jou mense by die huis WhatsApp.

’n Grondpad draai links by die kantoor en lei jou na staanplek nr. 21 en 22 – die twee mees afgeleë staanplekke in die oord. Hierdie staanplekke is onder ’n groepie treurwilgerbome, maar dis ook reg langs ’n groep chalets. Hier kamp jy ver van die ander kampeerders af; die staanplekke is eerder bedoel vir mense wat ’n onthaal in die oord bywoon en naby hulle familielede in die chalets wil bly.

As jy verby die kafee ry, tref jy ’n swembad en braaigeriewe vir dagbesoekers aan jou regterkant aan. Hier is ’n grasperk langs die swembad, toiletgeriewe en ’n klimraam vir kinders. Ná die swembad swenk die pad links, verby staanplek nr. 23, 24 en 25, en draai dan weer regs verby die oord se ablusiegeriewe voor hy jou by die eintlike kampplek uitbring. Hier is 20 staanplekke onder Engelse eike-, Europese populier- en Suid-Amerikaanse tipoebome, terwyl ’n inheemse wag-’n-bietjiebos hier en daar kop uitsteek.

Staanplek nr. 19 en 20 is die verste van die ablusieblok af, maar hulle is lekker  privaat. Nr. 1, 2, 17 en 18 is naby die ablusieblok, lekker beskut, maar ook teenaan die pad wat al die staanplekke en selfsorghuisies bedien. As jy nie omgee dat mense heeldag verby jou kamp loop nie, is dié staanplekke, veral nr. 17, uitstekende keuses.

Nr. 3 tot 16 is stiller en wissel van klein tot groot. Nr. 7 het byvoorbeeld plek vir slegs een motor en ’n kleinerige tent, terwyl nr. 8 reg langsaan genoeg ruimte het vir ’n groot ryhuis en sy rondritskar op die sleepstang. Elkeen van die staanplekke het ’n baksteenbraaiplek, sy eie huishoudelike kragsok en ’n vullisdrom wat gereeld deur die oord se werkers skoongemaak word.

Sommige staanplekke het hulle eie kouewaterkraan terwyl ander moet deel.

Staanplek nr. 12 het ’n uitsig oor die spruit wat deur die kloof loop, nr. 9, 14 en 15 is minder toegegroei en kry die meeste sonlig, en nr. 17 en 18 kry baie skaduwee.

Terloops, as jy met ’n ryhuis hierheen reis, vra die oord dat jy hulle vooraf in kennis stel sodat hulle die bome se laaghangende takke kan snoei en jy onderdeur kan ry.

BOOMRYK. Elkeen van Meiringskloof se staanplekke het skaduwee en die grond is loodreguit sodat jou woonwa waterpas staan. Alles is netjies en skoon, maar die gloriejare is verby en deesdae groei daar mos en muf op alles.

Die ablusieblok is in twee verdeel vir mans en vroue. Aan die mans se kant is ses wasbakke met spieëls aan weerskante van ’n skouerhoogte muur in die middel van die vertrek. ’n Sondak direk bo die wasbakke laat bedags natuurlike lig na binne stroom.

Daar is sewe storthokkies links en regs van die wasbakke. Elkeen het ’n seepbakkie, stortgordyn en ’n beknopte aantrekhoekie waar jy klere en ’n handdoek kan ophang. Hier is ook een badvertrek in die regterkantste hoek van die vertrek. Aan die voorkant van die vertrek, links van die deur, is drie toilette en ’n urinaal. Oral in die vertrek is kragsokke en snippermandjies.

Die vroue se geriewe het ook ses wasbakke met spieëls en ’n sondak in die middel van die vertrek, maar aan weerskante is vier storte en twee badvertrekke. Hier is ook ’n grimeertafel met spieëls en kragsokke waar jy hare kan droogblaas, ’n werkoppervlak waar jy ’n baba se doek kan ruil en vyf toilette elk met ’n snippermandjie.

Tussen die mans- en vrouegeriewe is ’n klein waskamer met ’n werktafel, strykplank en opwasbak met warm en koue water. Buite die waskamer (dit is aan die manskant van die ablusieblok) is ’n lang wasgoedlyn.

Die swembad se ablusiegeriewe het twee toilette elk vir mans én vroue plus ’n wasbak en spieël aan elke kant.

Foto: Verskaf
WATERSKEIDING. Die swembad bied welkome lafenis in die somermaande en hier is ’n kleiner poel vir kleuters. Die ablusieblok is skoon, maar as gevolg van die klam klimaat in die kloof groei daar skimmel in die storte. Die waskamer het een wasmasjien en werkoppervlakke waar jy jou klere kan stryk.

Al die geboue is betreklik netjies, maar dis voor die handliggend dat die oord se goue era verby is. Alles werk inderdaad, maar dis effens afgeleef en hier word nie voorsiening gemaak vir rolstoele nie.

Die oord se grootste attraksie is die staproetes en bakkranse in die kloof. Die voetpaaie lei jou deur ’n woud waar jy na voëlsang kan luister en die kranse uitklouter om die kloof van bo af te sien.

Die oord se webblad het ’n lys van 140 voëlspesies wat hier aangetref word en wat jy kan uitdruk. Hier is onder meer paradysvlieëvangers, rooikeelflappe en rooiborsjakkasvoëls.

Die omgewing buite Meiringskloof is ook bekend vir sy 4x4-roetes, padstalle, plaastoere, kunsgalerye en eetplekke.

Kortliks | Meiringskloof-natuurpark

Kampterrein: 25 staanplekke met krag, water en braaiplekke onder koeltebome.

Ablusiegeriewe: 1 gebou wat mooi skoon gehou word plus 1 kleiner gebou langs die swembad vir kampeerders en dagbesoekers.

Prys: R110 p.p.p.n. buite seisoen (R50 vir kinders) en R280 vir twee volwassenes in spitsseisoen (R70 vir kinders). Pensioentrekkers betaal R80.

Kontak: 058 223 0067;  meiringskloof.co.zaadmin@meiringskloofpark.co.za

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Hoe lyk die pad? Dit is teerpad tot by Fouriesburg, maar nie al die dorpstrate is geteer nie. Neem die laaste straat – Meiringstraat – uit die dorp, verby die Glen Skye-gasteplaas, en volg ’n goeie grondpad vir 2 km tot by die ontvangskantoor.

GPS: S28.60419 E28.22441

Ry & Sleep Dié oord is vir stappers, voëlkykers en natuurliefhebbers. Buiten die swembad is hier nie veel te doen vir kinders nie.