BATIS & BASS-RIVIERKAMP

Oewerstaanplek vir almal

Dis nie aldag dat ’n mens ’n hele kampplek vir jouself kan bespreek nie. Wel, darem nie net vir jouself nie: Wanneer jy by die Batis & Bass-rivierkamp bespreek, word die plek vir jou en jou vriende opsy gesit.

Die kampplek is omtrent halfpad tussen Ceres en Worcester op Plum Lategan se grond. Plum-hulle boer met wyndruiwe en pere, en het aanvanklik die kampplek vir hulle eie gebruik ingerig.

Maar sedert Desember laasjaar deel hulle dié eksklusiewe kampplek met ander kampeerders. Buiten dat jy die geleentheid kry om op ’n werkende plaas te kamp, sal hengelliefhebbers tuis voel by Batis & Bass, want hier swem ’n hele klomp spesies vis in die water wat jy aan die lyn kan probeer kry.

Die kampplek is teen die oewer van die Breërivier uitgelê – ’n paar meter stroomaf van waar die Witrivier (uit Bainskloof) by die Breërivier aansluit.

Al is die Breërivier soms droog, sê Plum dit is nie hier die geval nie. Albei soorte baars (swart- en kleinbek-) kom hier voor en jy kan ook ook ander vis soos bruinforel en die parmantige vleikurper probeer uittrek. Hy het selfs al ’n klompie lede van die nasionale hengelspan hier gehad wat kom lyn ingooi.

Onthou net: Wat jy vang, moet weer terug water toe. Die kampgedeelte is ’n grasperk wat groot genoeg is vir tot drie woonwaens, met ’n geplaveide blok vir een wa.

Jy kan die braaidrom nader dra vir die aand se braai en tot laatnag rondom die vuurput kuier. Plum verskaf die braaihout gratis. Die kragpunt is in die middel van die kampplek met die badkamers ’n entjie verder.

Hier is twee toilette, ’n stort, wasbak en opwasplek, en die warm water kom van ’n gasgeiser. Die “Batis” in die naam verwys na die Kaapse bosbontrokkie; hier is hoeka ’n broeipaar van dié besonderse voëltjie naby die kampplek.

Soggens kan jy die bekende roep van die visarend hoor, en moet ook nie verbaas wees as jy die groepie otters op die plaas raakloop nie. Jy kan in die rivier swem, maar as jy eerder droog bo-op wil dryf, is hier twee kajakke wat jy mag gebruik – dis ook gratis.

Kortliks | Batis & Bass-rivierkamp

Vis Swartbaars, kleinbek-baars, karp, bruinforel, baber en vleikurper.

Kampplek 1 groot staanplek teen die Breërivier wat groot genoeg is vir 3 woonwaens.

Ablusiegeriewe 1 badkamergebou met ’n stort, 2 toilette, ’n wasbak en opwasplek.

Prys Minimum-daaglikse tarief R1 200 vir die eerste 8 mense. Daarna R150 p.p.p.n. Tot 15 mense kan saam kamp.

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm. (Sondae is die vertrektyd 5 nm.).

Kontak  083 229 9002;  info@batisandbass.co.za;  batisandbass.co.za

Hoe lyk die pad? Die laaste kilometer grondpad is so na aan teer as wat ’n mens kry.

GPS S33.536360 E19.200756

Weg Ry & Sleep sê Die Vet Spens-padstal behoort ook aan die eienaars van die kampplek en sit teen die teerpad op pad hierheen. Hier kan jy basiese noodsaaklikhede koop, waaronder vars groente en bevrore vleis.


VISGEREG: VISKOEKIES

Viskos uit ’n blik

Dié resep is so maklik soos val uit ’n boom en kan met enige geblikte vis gemaak word. Dreineer net die vis vooraf goed, anders sal die koekies nie lekker bind nie en breek wanneer jy hulle bak.

Jy benodig

(maak sowat 10 koekies)

  • ’n halwe ou witbrood, gerasper
  • 2 eetlepels botter
  • 2 uie, fyngekap
  • ’n groot hand vol pietersielie, fyngekap
  • 1 teelepel rissiemasala
  • 2 eiers
  • 3 blikkies (410 g elk) vis – gebruik tuna, sardyne, salm óf ’n mengsel
  • sout, peper en suurlemoensap na smaak
  • 2 eetlepels bakpoeier
  • 2 koppies kapokaartappels
  • 2 koppies kookolie

Só maak jy

1. Meng die broodkrummels, botter, uie, pietersielie, masala en eiers in ’n aparte bak – jou hande werk die beste hiervoor.

2. Dreineer die vis goed sodat jy net die droë vleis het – gooi die soutwater of olie weg. Frummel dit met jou vingers fyn en meng dit saam met die res van die bestanddele (behalwe die olie) by die brood-en-uiemengsel.

3. Vorm frikkadelle met die mengsel en druk dit effens plat om koekies van sowat 6 cm in deursnee te vorm. Hulle moet stewig wees – gebruik meer broodkrummels, indien nodig.

4. Verhit die olie in ’n diep pan en braai die koekies vir minstens 20 minute tot hulle ’n mooi goudbruin kors kry. Draai dit gereeld om.

5. Dreineer die viskoekies op kombuispapier en sit dit warm of koud voor saam met ’n drieboneslaai – tuisgemaak óf ook uit ’n blikkie.

Weg Ry & Sleep sê
Gebruik droë Engelse mosterdpoeier om die visreuk uit jou hande te kry. Vryf dit aan en was dit af met skoon water.



Die wêreld se bestes is op pad

Wêreldbekertoernooie op eie bodem is nie vreemd vir Suid-Afrikaners nie – plaaslike rugby- én sokker-entoesiaste is al só bederf.

Nou kan ons hengelgemeenskap uitsien na ’n geskiedkundige hengelgebeurtenis. Die Wêreldhengelspele word vroeg volgende jaar in Suid-Afrika gehou.

Dit is die vierde spele van sy soort sedert sy ontstaan in 2000, met Italië en Portugal wat onder vorige gashere tel.

Wat die Spele so uniek maak, is dat dit al vyf hengeldissiplines insluit: varswaterhengel, vlieghengel, seewaterhengel, onderwater-spieshengel en kolgooi, en in elke kategorie word om die topposisie meegeding.

’n Geskatte 1 634 hengelaars uit 42 lande – onder wie 111 plaaslike hengelaars – sê mekaar die stryd aan, en die kompetisie word reg oor Suid-Afrika beslis in plekke soos Vereeniging, Dullstroom, Groblersdal, Durban en Richardbaai.

Die karphengelaars trek saam by die Bloemhofdam, en dis meer as hengel: Jy slaan jou kamp op die oewer op, reg langs jou stokke. Sodra die wegspringskoot klap, het jy ’n aaneenlopende 72 uur om die regte vis vir die wennerspodium uit te trek