Raaswater
Raaswater
Raaswater

RAASWATER RIVER-LODGE

Stilletjies langs die raaswater

Die Vaalrivier is bekend vir sy hengeloorde. Die rivier kry sy suidweswaartse koers uit Gauteng so amper 30 km suid van Potchefstroom en sluit dan net meer as 400 km later by die Oranjerivier aan. Dit is net hier naby Potch waar Raaswater aan die Noordwes-kant van die rivier lê.

Raaswater se hengeloewer is ’n kilometer lank en die kampplek self, wat ook tot teen die oewer loop, is heel regs soos ’n mens deur die hek ry. Jy kan tot teen die water kamp opslaan, maar as gevolg van die 100 jaar-vloedlyn is die naaste kragpunte dan 50 m weg.

Geen staanplekke is afgebaken nie en ’n mens kan jou eie kolletjie kies. Daar is plek vir omtrent 10 woonwaens teenaan die water met nog staanplek weg van die rivier af.

Die hele kampgedeelte is plat, het gras en koeltebome en een ablusieblok (wat ’n opwasgedeelte insluit). Hier is nie gemesselde braaiplekke nie, maar daar staan ’n hele paar los staalbraaiers wat jy nader aan jou staanplek kan dra. Hier is ook drie landingshowe van waar jy kan hengel.

Onder die geriewe op die landingshoof tel ’n tafel, ses stoele, ’n afdak, braaiplek, wasbak met koue water, krag en ligte ingeval jy heelaand wil stokke oppas. Om die landingshoof te gebruik betaal jy R300 p.d.

Die kouewaterswembad is nader aan die kantoor se kant met ’n parkie naby. Die winkel het ook ’n dranklisensie en verkoop basiese kruideniersware.Dit is oop weekdae en Saterdae van 8 vm. tot 5 nm. en Sondae en vakansiedae van 8 vm.-1 nm.

Die eienaars vereis dat die geelvis weer vrygelaat word, en ’n stewige boete kan jou voorland wees as jy dit verontagsaam.

Kortliks | Raaswater River-lodge

Vis Karp, geelvis, modderbek, baber.

Kampplek ’n Oop kampgedeelte wat strek tot teen die rivier. Die staanplekke is nie afgebaken nie en hier is plek vir ongeveer 30 woonwaens.

Ablusiegeriewe 1 badkamergebou vir kampeerders langs die kampplek wat drie keer per dag skoongemaak word: 9 vm., 2 nm. en 4 nm.

Prys R250 p.n. per staanplek plus R55 p.p.p.n. (R35 vir kinders o.12; gratis vir o.5’s.) Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd Hier’s geen vasgestelde tye nie, maar dit moet in kantoorure wees.

Kontak  072 185 5674;  raaswater@vodamail.co.zaraaswaterriverlodge.com

Hoe lyk die pad? Die laaste 3,8 km is ’n skaflike grondpad.

GPS S26.931267 E27.018817

Weg Ry & Sleep Die grootste karp wat onlangs hier gevang is, het die skaal op 9,8 kg getrek.

GEROOKTE VIS

Stook jou seekos

Ons het al baie met dié rookmetode geëksperimenteer. Dit sorg vir ’n heel ander smaak en is verbasend maklik.

Jy benodig

  • 1 vars visfilet soos kabeljou, geelstert of geelbek
  • olyfolie
  • sout en peper
  • ’n paar hande vol rooksaagsels (dit is te koop by supermarkte en koöperasies)
  • ’n groot stuk foelie

Só maak jy

1 Verf die vis oraloor met olie en sit dit eerste met die vel na onder op die rooster. Braai die vis vir 3-5 minute aan elke kant sodat dit nie heeltemal rou is wanneer jy dit begin rook nie.

2 Skeur solank ’n stuk foelie af wat groot genoeg is om die rooster én kole te bedek. Haal nou die rooster af en gooi ’n dubbele hand vol saagsels in die kole. Sit die rooster vinnig terug en bedek dit met die vel foelie.

3 Probeer soveel as moontlik van die rook vasvang terwyl die saagsels uitbrand – ’n Weber met ’n deksel werk goed. Hou die foelie vir ongeveer 5 minute op. In dié tyd kan jy die rooster een keer omdraai en die foelie dadelik weer bo-oor sit.

Gooi nou ’n bietjie sout en peper oor. (Die vis het teen dié tyd ’n liggeel kleurtjie gekry.) Druk met jou vingerpunte teen die vis om te voel of die vleis al ferm is. As die vis maklik vlok, kan hy maar bord toe.

Weg Ry & Sleep sê
Akkerhoutsaagsels van ou wynvate werk die beste. ’n Sakkie van 315 g kos net onder R60 by Agrimark.


Skiet hom met ’n aasbom

Karphengelaars maak voerplek vir die vis wat hulle wil vang, maar die probleem is dat dit ’n goeie 50 m of wat weg van die oewer af kan wees.

Baie hengelaars gebruik ’n afstandbeheerde aasbootjie of roei sommer self in met ’n kano om die voeraas tot op die regte plek te kry. Hengelaars het ook ’n derde keuse, as ’n mens byvoorbeeld na Stonfo se “voerkettie” kyk. Werner Lubbe van Fear None Quality Fishing Tackle, die alleeninvoerder van die spesifieke kettie, sê jou opsies is nié beperk as jy nie ’n aasboot of kano het nie.

Nie net neem Stonfo se Fiona Maxi-voerkettie omtrent geen plek op tussen al jou gerei nie, maar ’n mens kan ook jou voeraas in ’n oogwink tot op jou beplande voerkol skiet.

Die kettie word in Italië gemaak en die raam is van aluminium. Die handgreep bestaan uit duursame ABS-plastiek en die rek is sterk genoeg om aas tot 120 m deur die lug te lanseer.

Die kettie se twee rekkante is in die middel vas aan ’n klein rubbermandjie waarin jy die aas sit. Vir akkuraatheid is boilies (16 mm) en melasse-voerbolle (40 mm) die ideale “ammunisie”, maar die kettie kan ook voer soos kaboemmielies, gemengde sade en gewone voerbolle tot op die voerplek skiet.

Prys Ongeveer R300.

Kontak Fear None Quality Fishing Tackle  011 979 2766;  fearnone@mweb.co.zafearnoneqft.co.za.

Die kettie is by die meeste goeie hengelwinkels beskikbaar