Foto’s: Helenus Kruger
Kaart na Silver Rocks

Tussen Bela-Bela en Modimolle in Limpopo vloei die Groot-Nylrivier, met die Silver Rocks-woonwapark wat op ’n hoogtetjie bo die rivier uitgelê is. Silver Rocks is op ’n wildplaas en vorm deel van die luukse Silver Stream-lodge-en-spa.

In spitstye boek jy in by die kampterrein se ontvangskantoor, sowat 200 m van die hek af. In die stiller tye is die kantoor toe; dan haak jy eers jou wa by die kampterrein af en gaan boek daarna by die lodge in. Dit is sowat ’n kilometer van die hek af.

Silver Rocks is ’n kampplek met heelwat goeie dinge: Die voëllewe is enige entoesias se droom – met ’n voëlboek en verkyker in die hand kan jy maklik meer as 100 geveerdes op jou lys aftik. Dan is daar in die reënmaande die kabbellende rivierwater wat jou aan die slaap sus – dis amper asof die mooi natuurskoon van die Bosveld jou smeek om jou stapskoene aan te trek of jou fiets op te saal en die wêreld te gaan verken.

En laastens is die selfoonsein hier só swak dat dit omtrent onmoontlik is om nuus uit die buitewêreld te kry. Bêre sommer die fone en tablette sodra jy by die hek inry.

Skrop jou nes

Die kampplek het 50 staanplekke, en soos by die meeste oorde is hier ook sekeres wat meer gesog is as ander. By Silver Rocks is dit die 20 plekke in die voorste  ry (nr. 9-19 en 38-39), bo die rivier. Dié plekke is op die rand van die vallei, en hoewel bome en bosse by die meeste van die plekke jou uitsig oor die rivier belemmer, vergoed die veld voor jou dubbel en dwars daarvoor.

Wat uitsig betref, wen nr. 18, waar die veld ononderbroke voor jou uitstrek, loshande. Jy het egter nie koeltebome nie en moet dus jou eie skadumaker saambring. As iemand jou op nr. 18 voorgespring het, kan jy ook vra om jou naam langs nr. 19, 38 of 39 te kry. Die uitsig hiervandaan is ook iets om te beleef.

Koelte is maar skaars in die kampterrein en daar is nie ’n staanplek waar jou wa heeldag skaduwee gaan hê nie. Die voorste staanplekke het wel baie bome, maar hulle is langs die kant af, tussen jou en die vallei. Dus kry jy hoogstens ’n koeltekol waaronder jy kan sit.

By staanplek nr. 15, 16 en 39 kan jy wel jou klein koepeltent tussen die bome inwurm. Deur die res van die kamp is hier en daar ’n groterige boom wat vir ’n uur of drie koelte gooi, maar by die meeste van die staanplekke is geen bome nie óf net kleintjies. Dus is dit jy en die son.

Die meeste van die voorste staanplekke het ’n ronde geplaveide kuierdeel met genoeg plek vir die skottelskaar (met rooster) en jou kampstoele rondom.

Van staanplek nr. 10 se kuierdeel af kan jy die sonsondergang oor die rivier beleef.

Hier is nie braaiers op al die staanplekke nie – onthou dus om joune in te pak, net ingeval.

Die staanplekke is gemiddeld 14 x 14 treë groot en meestal gelyk met hier en daar een wat teen ’n skuinste lê of ’n paar kurwes het. Al die staanplekke is genommer en het krag (blou woonwasok) en ’n kamplig, maar beurtkrag is ook hier ’n werklikheid met die krag wat vir tye deur die dag afgaan.

Krane en vullisdromme word gedeel.

Tyd om te bad

Kies jou stort. Die ablusiegeboue lyk nie soos jou tipiese kampterrein-badkamergeriewe nie. Die ontwerp is modern dog aards. En die gebruik van materiale soos klip, houtpale en rooi bakstene laat die geboue mooi saamsmelt met die omliggende omgewing. Jy kan hier óf in kleurryke storthokkies onder die sterre óf in die meer luukse ablusie­geriewe met teëlvloere en marmeroppervlakke stort.

Silver Rocks se twee ablusiegeboue lyk nie soos jou tipiese kampterrein-badkamergeriewe nie. Die ontwerp is modern, maar tog ook aards. En die gebruik van materiale soos klip, houtpale en rooi bakstene laat die geboue mooi saamsmelt met die omliggende omgewing.

Die hoofablusieblok aan die oorkant van die ontvangskantoor is die luukser een van die twee en het die gebruiklike marmerblaaie, chroommengkrane en wit ontwerperswasbakke.

Met die instapslag bevind jy jou in ’n binnehof met ’n groot witstinkhoutboom in die middel en rankplante oor die houtpaal- en latraamwerk bo jou kop. Rondom die boom is ’n geboude sitbankie, en geplaveide voetpaadjies met beddings vetplante deurkruis die binnehof. 

Watwo badkamer! Dit lyk eerder of hier ’n modieuse straatkafee behoort te wees, kompleet met kelners wat yskoue pienk mengeldrankies aandra. Dit is eers as jy ’n bietjie rondkyk en die mannetjie- en vroutjie-bordjie teen die mure sien dat jy besef jy ís op die regte plek.

Die ablusieblok is in ’n U-vorm gebou met die vrouegeriewe links, die manskant regs en voor jou die rolstoelvriendelike badkamer, waskamer en gesinsbadkamer. Die manskant het vier storte, vier wasbakke, vier toilette en twee urinale. Die algemene deel is groot en het genoeg beweegruimte vir al die wastydverkeer. Die marmerblad met die groot vierkantige wasbakke het pakspasie tussenin, en hier is hake vir jou klere teen die muur en ’n spieël bo elke wasbak. Net een van die vier wasbakke het warm water. Hier is ’n vullisdrom, lugdroër vir jou hande en ’n kragpunt vir elektriese skeermesse.

Die stortkamers is ruim en die nat en droë deel word met ’n muur van mekaar geskei. Jy kan jou badsakkie en klere op die smal marmerblad neersit en jou handdoek aan die haak teen die muur by die stort hang. Hier is ook ’n seep- en sjampoerakkie in die stort. Al die badkamers se vloere is geteël en hier is ook teëls bo die wasbakke, toilette en in die storthokkies. Die res van die mure is gepleister.

In die vrouegeriewe is die algemene deel met ’n klompie kunswerke en ’n ou houtvensterraam met spieëls opgekikker. Verder is dit soortgelyk aan die mans s’n, maar hier is ’n ekstra wasbak, kragpunt en ’n badkamer met ’n bad, marmerblad, wasbak met ’n spieël, en ’n toilet. Die badkamer vir mense in ’n rolstoel is ’n ruim 2,9 x 2,9 m groot en hier is ’n oop stortruimte met ’n afslaanstoeltjie teen die muur. Die stort het, soos by die bad en toilet, ’n stewige reling teen die muur.

Die marmerblad met wasbak is egter standaardhoogte. Die gesinsbadkamer het ’n oop stort, bad, wasbak en aparte toilet. Soos in die res van die badkamers is hier ook ’n marmerblad, spieël, vullisdrom en skeermeskragpunt. Die kamp se tweede ablusieblok is die verste van die ingang af en sy ontwerp is net mooi die teenoorgestelde van die hoofgebou s’n. Hier is grofgepleiserde mure, opelugstorte en blikskottels vir wasbakke.

Die storte en toilette is in twee geboutjies met twee mure tussenin en twee wasbakke en twee skottelgoedwasbakke aan weerskante. ’n Houtpaalraamwerk is oor die geboue opgerig, wat dit laat lyk of daar ’n dak opgesit moet word.

Hou jou besig

Die rustigheid van die rivier is terapeuties, en as jy vroeg genoeg uit die vere kan kom, kan jy die eerste sonstrale sien waar hulle die rotse en water oranje begin inkleur. As jy baie stil beweeg, is jy dalk gelukkig om die rooibokke te sien wat kom water drink of die groototter stroomop wat van poel tot poel beweeg.

Die rivier loop hier oor rotsbanke met klein watervalletjies wat in die reënmaande in rotspoele inloop. Dis ’n gawe plek om af te koel in die somerhitte. ’n Dek met houtstoele gee jou ’n uitsig van 180º oor die rivier en oorkantste veld.

As daar ’n prys was vir die beste minigolfbaanligging, sou die negeputjie-baan by Silver Rocks met die louere weggestap het. Die baan is op rotsbanke bo die rivierloop uitgelê en het ’n uitsig oor die rivier en die rantjie aan die oorkant. Die speelparkie, trampolien, vlugbalbaan en swembad is aan die oorkant van die ontvangskantoor, langs die hoofablusiegebou. Hier is selfs ’n buitelugtafeltennistafel van staal, iets wat ’n mens nie dikwels sien nie.

Die swembad is aan die kleinerige kant vir só ’n groot kampplek, maar gelukkig is die rotspoele hier as dinge te besig raak. Die hele gebied is onder gras en die twee latafdakkies met skadunet sorg vir koelte. Jy kan die stokke, rakette en balle vir die minigolf en tafeltennis by die kantoor kry.

.Avontuurlustiges kan die wildpaadjies met hulle bergfietse, draf- of stapskoene aandurf. Hier is ook begeleide wildritte (R100 p.p.) wat soggens en smiddae van die lodge af vertrek en enigiets tussen 90 minute en twee uur duur. Jy mag nie met jou eie kar gaan wildkyk nie. Die lodge se Wild Olive-restaurant bedien ontbyt, middag- en aandete, en by die spa kan jy etlike behandelings kry. 

Onthou net om vooraf by die ontvangskantoor te bespreek. Die ander aktiwiteite en geriewe by die lodge is slegs vir die lodgegaste en nié vir kampeerders nie. Ongelukkig was daar met ons besoek ’n paar probleempies wat die oog getref het.

Die stukkende swaai, trampolien, kampligte en toiletsitplekke en die verwaarloosde afdakkies en vlugbalbaan het die indruk gewek dat die onderhoud van die kamp nie op peil is nie. Dit was ook teleurstellend dat die onderste ablusieblok nie skoongemaak is nie en die heeltyd sonder toiletpapier was.

Snoepstories

Die snoepie by die ontvangskantoor is net in spitstye oop en het basiese dinge soos hout, houtskool, vuuraanstekers, roomys, koeldrank en lekkergoed. Jou naaste winkel is 10 km weg op Modimolle – bring dus alles saam wat jy nodig het.

Kortliks | Silver Rockswoonwapark

Kampplek: 50 groot grasbedekte staanplekke met min koelte.

Ablusiegeriewe: ’n Keuse van luukse of meer aardse ablusiegeriewe en ’n aparte rolstoelvriendelike badkamer.

Prys: Buite seisoen R75 p.p.p.d. en binne seisoen R100 p.p.p.d. (halfprys vir kinders 0.10) – hoogstens 6 mense per staanplek.

Kontak: 014 717 9835/6 of 014 940 1219; silverrocks.co.za; info@silverrocks.co.za

Aankoms- en vertrektyd: 12 nm. en 11 vm.

Hoe lyk die pad? Snelweg (N1) tot by Bela-Bela, daarna 20 km op ’n smal teerpad (die R101). Plek-plek is dit ongelyk met die laaste 3 km ’n sinkplaatgrondpad.

GPS: S24.762647 E28.323671 (hek) S24.762504 E28.327034 (kampterrein)

Weg Ry & SleepMik vir ’n staanplek in die voorste ry bo die rivier.

Dis wat dit kos (2 volwassenes)

Brandstof: 50 ppm-diesel @ 8,7 l/100 km en R16,12 /l en 264 km (heen en weer) R370,24 Tolhekke (heen en weer) R129

Verblyf: (2 nagte) R400

Kos: (2 mense) R1 264

Groottotaal: R2 163,24

Hester en Deon Groenewald van Polokwane kamp met ’n Howling Moon-tent.

"Dit is ons eerste keer hier en ons geniet die rustigheid. Ons is aktiewe mense wat graag draf, stap en voëls kyk, en Silver Rocks is net die plek daarvoor. Ons hou van die badkamers se ontwerp."