Die Breërivier is vir Kapenaars wat Bela-Bela of Brits vir Pretorianers is. Hier lê die kampplekke ingeryg van Rawsonville tot by Witsand. Dis die ideale naweekbestemming as jy jou baas se arm kan draai om jou effens vroeër te laat tjaila op 'n Vrydagmiddag.

Die mense streep met hulle sleepgoed op tou deur die Du Toitsklooftonnel en 'n 4x2 Nissan Navara met ‘n Bush Lapa Ratel aangehaak lyk heel tuis in die prentjie. Só in die verbygaan moet 'n mens mooi kyk of dit 'n Ratel of sy kleiner boet, die Baobab, is wat saamdraf. Met die eerste oogopslag lyk die twee feitlik dieselfde, behalwe dat die Ratel se deur voor die wiel sit en die Baobab s'n net daaragter. 

Maklik om te sleep
Maklik om te sleep

Grootte tel

Wat jy nie sommer so in die verbygaan sal opmerk nie, is dat die Ratel op 5,1 m net mooi 53 cm langer is as die Baobab. Dís ongeveer 'n duim langer as die afstand tussen jou elmboog en jou wysvinger. Dié ekstra stukkie lengte klink onbenullig, maar dit maak Ratel se en suite-storthokkie, wat hom van sy stalmaats (en die meeste ander boswaens) onderskei, moontlik. As jy regs van die Ratel stilhou by die Hugenote-tolhek, sal jy die storthokkie se deur aan die regterkant van die wa sien, regoor die deur aan die linkerkant.

By die Breedevallei Ultra City net buite Worcester staan bakkies en nutsvoertuie met sleepgoed aangehaak en hier en daar ‘n kano of ander dryfding op die dak. Hulle is waarskynlik op pad na ‘n kampplek soos Rivierzicht, waar ‘n mens jou kamp op die rivierwal kan staanmaak. Wanneer jy Rivierzicht van die Kaap se kant af benader, lê die afdraaipad sowat 30 km anderkant Worcester. Jy sal die afdraaibordjie, ongeveer 'n kilometer anderkant die Rooiberg-wynmakery, met sy kenmerkende rooi stoel sien. Die padwyser beduie jou na regs, na Goree en Riverside. 

Die Ratel sleep ook maklik op 'n sandpad

Kamp in luuksheid 

Volg dié pad vir drie kilometer tot jy by die T-aansluiting kom met die grondpad. Hier wys nog 'n bordjie Goree lê nou na jou linkerkant toe en Rivierside regs. Jy wil in Riverside se rigting ry, vir nog rofweg drie en 'n halwe kilometer tot jy Rivierzicht se ontvangskantoor aan jou regterkant sien. Hier moet jy eers stop en die papierwerk afhandel voor jy die laaste 300 meter kan afsit na jou staanplek toe. By die laaste draai in die pad voor die kampplekke, is 'n klein hokkie waar jy braaihout en drinkwater kan koop. (R22 vir 'n sakkie hout en R20 vir 5 liter water.) Die kampplek se mense maak staat op jou eerlikheid en dat jy die geld vir die goed wat jy koop deur die gleuf van die kluisbussie sal druk. As jy egter iets anders by die huis vergeet het, soos byvoorbeeld jou Tabard, sit nóú die stuk (15 km) in dorp toe en gaan koop vir jou 'n stewige voorraad spuit- en smeergoed. Die muskiete en muggies teen die rivier is volop en baie dors. 

Maak hom staan
Staan op die oewer
Die oord se twee boerboele kuier graag saam met die kampeerders, speel bal en vang sommer ’n middagslapie op jou stoep.

'n Sandpaadjie loop van die houthokkie bo langs die kampplek verby. Die eerste indraai rivier se kant toe lei jou na vier selfsorg-houthuisies en die “boskamp” met sy 8 permanente tente. Jy kan hulle maar ignoreer! Die tweede afdraai is die een na die staanplekke. Die ry kampe is gemerk A-Q, maar daar is altesaam sowat 30 staanplekke. Die ablusieblok, bestaande uit vier badkamervertrekkies, elk met 'n stort, toilet en wasbak, en twee afsonderlike toilette, is aan die bokant van die ry staanplekke. Dis ongeveer 150 m van die verste staanplekke by kamp Q. 

Rivierzicht is nie 'n familieoord met waterwurms en putt-putt en daardie klas van ding nie, maar oral is gesinne of groepe vriende bymekaar terwyl kinders op die gras baljaar. Die staanplekke is ruim genoeg om 'n wa en 'n tent of twee te akkommodeer en elkeen het sy eie klein afdakkie van skadunet. Die 15 amp-kragpunt sit ook hier teen een van die afdak se pilare. Nie dat jy 'n kragpunt nodig het vir die Ratel nie. 

Rig jou lekker in

Kamp oral en altyd

Die Ratel is een van daardie waens waarmee jy ewe gerieflik kan kamp op 'n verlate vlakte in die Kaokoland as by 'n 220 v-kragtoevoer. Die aluminium dakrak met 'n 140 W sonpaneel is nie by die standaardkoopprys ingesluit nie, maar 'n mens behoort dit sommer uit die staanspoor aan te skaf, omdat dit die waentjie soveel meer veelsydig maak. Tesame met die twee diepsiklusbattery (wat wel by die prys ingesluit is), is dit moontlik om feitlik onbepaald te kamp sonder 'n 220 v-kragtoevoer. 

Die LED-ligte in die wa (daar is een bo elke deur, een bokant die kombuiskas, een binne, in die middel van die dak, een bokant die wasbakkie binne die wa en een bokant elke bed) is helder, maar trek nie baie krag nie. Jy kan elkeen se helderheid ook verstel as jy sou wou. Jy het ook die opsie om die warmwatersilinder met gas of elektrisiteit te laat werk. 

Al wat jy hoef te doen is om die regte skakelaars aan te skakel by die paneelbord, regs bo by die ingangsdeur. Op die bord is daar ook USB-sokke waar jy jou selfoonlaaier kan inprop. Danksy die kragomsetter kan jy ook die gewone kragproppe in die wa gebruik wanneer jy op die sonpaneel staatmaak. Mits jy nie iets inprop wat konstant baie krag trek nie, kan jy feitlik onbepaald gerieflik sonder 'n direkte 220 v-kragtoevoer kamp. Hou net die batterymetertjie op die kontrolepaneel dop. 

Die kombuis
Die stofie en yskas pas in die laai

Tjop-tjop op sy staanplek

Ofskoon die Ratel groter is as sy stalmaats, is hy net so maklik om op te slaan. Trouens, daar’s net een knippie meer om los te maak op die dak. Soos met die Baobab, maak jy net die dak se knippe los ten druk dit regop, dan vou jy die beddens voor en regs van die wa uit en span die afdakseiltjie oor. 

Die gepatenteerde Bush Wing-afdak vou in 'n japtrap oop oor die linker- en agterkant van die wa. Kyk hier hoe maklik slaan die Bush Wing op.

Al wat dan nog oorbly, is om die kombuiskas oop te maak en die yskaslaai uit te trek. 

Pakplek vir 'n leeftyd se toer

Plek vir die hele boksemdais

Die Ratel is beskikbaar in drie konfigurasies, nl. die Ratel 3, Ratel 4 en Ratel 6. Die nommer dui telkens op hoeveel slaapplek daar in die wa is. Met die Ratel 4 en 6 vou 'n tweede dubbelbed oor die neuskas van die wa uit en ook aan die agterkant van die wa vir die Ratel 6. 

In die geval van die Ratel 3, loop die enkelbed dwars oor die voorkant van die wa, by die deur. 'n Volwasse persoon van gemiddelde lengte sal daarop pas, maar dis eintlik meer geskik vir 'n kind. As niemand op hierdie bed gaan slaap nie, is dit 'n gawe plek om 'n paar tasse en sakke te bêre. Dis egter nie asof daar 'n tekort aan pakplek is nie.

Trouens, 'n mens wonder wat om met al die rakke te maak. Binne is daar oorgenoeg pakplek vir 'n maand se klere, tekkies, slaapsakke en dies meer, en aan die buitekant kan 'n mens genoeg kruideniersware in die kombuiskas inpak om 'n hele hoërskool-rugbyspan mee versadig te hou. Die eetgerei pas in seil sakkies aan die binnekant van die deur en vir jou kookgereedskap is daar groot laaie onder die stoof op die yskaslaai.

Wanneer jy klaar die wa staan gemaak het, kan jy vir jou 'n bier uit die yskas haal en agteroorsit in jou kampstoel met 'n voëlboek en verkyker en die geveerdes tussen die riete bespied. Die rooivinke en swartkeelgeelvinke sit 'n luidrugtige keel op en die olyflysters kom wip parmantig op die staanplek rond asof hulle wil kyk wie die nuwe intrekkers is. Hulle is eintlik hier in die hoop dat jy dalk 'n stukkie brood of mieliepap laat val het terwyl jy die aas vir jou visstok voorberei het. 

Hier sit die manne

Oral teen die rivier sit of staan manne met visstokke en probeer 'n karp, baars of selfs 'n forel aan die hoek te kry. Party kom stadig op opblaasbote of koddige vlotte by jou staanplek verby gedryf met 'n lyn in die water.

Wanneer die son in die verte agter die Du Toitskloofberge begin wegsak, is dit tyd vir 'n laaste boulbeurte in die dag se tip-'n-run wedstyd op een van die staanplekke verder aan en die touchies op 'n ander graskol staan ook einde se kant toe. Elke staanplek by Rivierzicht het sy eie braaidrom en een vir een begin die kampbure se braaivure in die skemerlig flikker en knetter.

Ma’s en kleingoed begin met bondels handdoeke, kamerjasse en badsakkies aanstaltes maak ablusieblok toe. 

Kyk sy storttent

Stort onder jou eie dak

Danksy daardie ekstra stukkie lengte van die Ratel hoef jy egter nie te gaan toustaan vir 'n stort nie. Bokant die regterkantse deur is die nylon storthokkie in 'n PVC sak toegerits en 'n mens slaan dit op 'n soortgelyke manier op as die Bush Wing-afdak oor die linkerkant van die wa. Al wat jy dan hoef te doen, is om die pyp te koppel aan die krane voor, net bokant die neuskas, en jy’s reg vir 'n lekker warm stort, sommer net daar op jou staanplek. (Terloops, die storthokkie is groot genoeg sodat 'n mens dit as 'n syvertrek kan gebruik waar een of twee kinders kan slaap. Die deur het ook 'n gaas-flap wat toerits om goggas uit te hou, nes die een aan die kombuiskant van die wa.)

Wanneer jy klaar gestort is, kan jy direk in die boswa terugklim om jouself warm aan te trek en goed met muskietgoed te smeer en spuit voor jy weer langs die vuur gaan sit en sterrekyk. Môre is nog 'n dag. 

Die Ratel se binne- en buitegoed

Die Ratel is Bush Lapa se vlagskipboswa en die maatskappy het onlangs twee nuwe Ratel-modelle, die 3i en die 4i bekend gestel. Hulle wys die uitleg van die boswaens - die Ratel, maar ook die kleiner modelle (die “goggas”) sowel as die Baobab – in die grootste detail op hul webwerf. Klik hier en gaan kyk. 

As jy vrae het oor die prys, die gewig, en die goed wat ingesluit is, klik hier vir ‘n volledige dokument. 

Kom ontspan hier
Langs die water
Kampplekke
Saligheid
Rivierzicht in 'n neutedop:

Kampplek: 20 staanplekke

Ablusiegeriewe: Vier netjies en skoon “private” badkamers.

Prys: R110 p.p.p.d en R60 vir kinders; R50 per dag ekstra vir jou woonwa.

Kontak: 023 626 2013; rivierzicht-resort.com

Hoe ver van Robertson af? 15 km.

Hoe lyk die pad? Niks wat jou Bush Lapa nie kan hanteer nie. (Die laaste 3 km tot by die kampplek is goeie grondpad.)

GPS: S33.840383 E19.752150