Goed, so julle gesin is goed vertroud met die Twee Rivieren-, Nossob- en Mata-Mata-ruskampe aan die Suid-Afrikaanse kant van die Kgalagadi-oorgrenspark. Dis tyd vir iets meer avontuurlustigs, ja, iets rowwer... Maar nog nie heeltemal so rof dat jy in dik sand in die middel van nêrens kan vasval en sien hoe jou water elke dag minder en minder word nie... 

Oorweeg die Two Rivers-, Rooiputs- en Polentswa-kampplekke aan die Botswana-kant van die park. Die drie kampplekke is skaars ’n kilometer van die Nossob-pad af. Dis ’n goeie manier om te kyk hoe wild julle werklik is, voor julle al die pad tot by die Kaa-hek ry. 

Two Rivers is wel omhein, maar nie Rooiputs of Polentswa nie. By al drie die basiese kampe is daar A-raam-skuilings en puttoilette, en lopende water, maar dis nie ’n gegewe nie, ry dus ’n paar waterkanne saam. 


Two Rivers


Two Rivers is ’n goeie alternatief as jy nie lus het vir die geroesemoes by die Twee Rivieren-ruskamp nie, maar jy gaan ’n warm stort moet opgee vir die stilte. Hier is ’n treurige ablusieblok wat seker eens op ’n tyd gewerk het, maar vir nou kan jy net staatmaak op koue water. Hier is vier staanplekke met ’n sementblad en ’n A-raamskuiling.

Die leser Dave Theron was in September by Rooiputs en Polentswa. Hier’s wat hy te sê het:

Rooiputs. Foto: Dave Theron


Rooiputs


Rooiputs het ses kampplekke en ’n nuwe lodge daar naby. By elke kampplek staan ’n boom of twee; ’n ronde rietskuiling met ’n puttoilet binne-in; nog ’n ronde skuiling met ’n metaalraam binne-in, waar jy jou stortsak kan hang; ’n A-raam-skuiling vir skaduwee en ’n kraan bo ’n wasbak. Die water was ondrinkbaar brak. Ons het dit net gebruik om te was.

Al die kampplekke lyk basies dieselfde, met die uitsondering van kampplek 4 wat onder ’n groot watertenk gelëe is en nie sy eie ablusie- of stortgeriewe het nie. Kampeerders is veronderstel om die geriewe by kampplek 6 te deel, maar dié lê sowat 70 meter weg.


Polentswa


Polentswa het dieselfde uitleg as Rooiputs, maar net drie kampplekke en… g’n water nie! Nie eers brakkerige waswater nie. Ons was onverhoeds betrap en ’n paar van ons groep moes die volgende dag terugry Nossob toe om water in vyfliterhouers te koop.

Ons het gebly by kampplek 2 en het later uitgevind – van ander kampeerders wat voorheen daar gestaan het – dat ’n Kaapse kobra en ’n skerpioen met ’n slegte houding ook dié kampplek huis noem! Gelukkig het ons nie een van die twee jafels gesien nie.

Koste Ingang: P20 p.p.p.d. (sowat R27), kamp: P30 p.p.p.d. (sowat R40), voertuig: P4 p.d. (sowat R5).

Kontak Telefoon: 00267 318 0774 (Oorgrenspark: Botswana-kant); 00267 653 0226 (Two Rivers); E-pos: dwnp@gov.bw