Foto’s  Helenus Kruger

Net noord van Brits in Noordwes sny die Krokodilrivier sy pad oop deur ’n kloof wat deur drie berge omarm word: Aan die suidekant, waar die rivier die kloof binnevloei, speel die Wagposberg hekwag; ’n bietjie verder, aan die westekant van die rivier, lê die Langberg, en oorkant dié, aan die oostekant van die kloof, lê die Ouberg.

Dit is hier, aan die voet van die Ouberg tussen inheemse bome, waar die Drie Berge-woonwapark langs die rivier lê.

In die middel. Die swembad is die middelpunt van die speelplek waar jy kan swaai, balskop, spring, klim of net rustig op die groen gras onder die bome sit en piekniek hou.

Die afdraai na Drie Berge van die D1195-teerpad af is 7 km buite Brits en jy kan onkant betrap word as jy nie jou oë gespits hou vir die bordjie nie.

Die afdraai lê versteek agter bosse langs die pad en jy sien dit eers as jy op die bruggie oor die Rosespruit is. Kyk mooi vir die Hoërskool Wagpos en meet van daar af dan 1 km tot by die afdraai links.

Voor jy by die hoofhek kom, ry jy eers verby ’n bord wat jou waarsku jou selfoonsein gaan swak wees van hier af – as jy nie die hekkode het nie (dit word vooraf per sms vir jou gestuur), gaan jy nie die ontvangskantoor kan bel nie. Hierna is dit nog 300 m tot by die kantoor waar jy weer deur ’n hek moet gaan voor jy stilhou.

Die inboekproses verloop glad, en nadat jy die kampreëls- en vrywaringsvorm geteken het, kan jy jou tent gaan opslaan. As jy gedink het jy kan hier in die rivier swem, is dit waarskynlik ’n goeie plan om eers die vorm aandagtig deur te lees, want ja, hier is krokodille!

Hulle word gereeld in die rivier gesien, veral in hulle gunstelingwegkruipplek tussen die riete aan die oorkant van die rivier.

Span uit onder die bome

Rus en oefen. Hoewel die stap- en fietsryroete net 5 km lank is, gaan jy weet jou bene het gewerk. Volg die bordjies en jy sal nie verdwaal nie.

Met behulp van die kaart van die kampterrein kry jy jou genommerde staanplek sommer vinnig. Die kampplek, sowat ’n halwe kilometer van die ontvangskantoor af, lê parallel met die rivier. Van die kampterrein se ingang af lê die kamp teen ’n helling tot onder teen die rivier.

Die kampplekke is egter op terrasse en gelyk; dus hoef jy nie die hele kamp op te kommandeer om te kom help om jou wa teen die skuinste rond te stoot nie. Die eerste ding wat jou van die kamp opval, is hoe boomryk dit is. Inheemse bome staan welig en elke plek het skaduwee.

Hier is wel nie oral gras nie en van die staanplekke waar daar baie koelte is, het net ’n kol kaal grond. Hier en daar is gruis gegooi, wat sekerlik sal help as dit reën en modderig raak.

’n Keerwal breek die rivier se spoed en sorg vir ’n breë dam voor jou. ’n Mens verstaan nou hoekom die kampterrein so gewild is, veral onder hengelaars.

Jou staanplek word vooraf toegeken, maar as jy op ’n spesifieke plek wil staan, kan jy daarvoor vra wanneer jy bespreek. Die 35 plekke langs die rivier is natuurlik die gewildste en jy gaan vroeg moet wikkel om al die ander hengelaars voor te spring om een van dié gesogte plekke te kry.

Jy gaan wel nie reg op die oewer kamp en sommer uit jou kampstoel kan hengel nie. Die meeste van die voorste plekke is op ’n terras, sowat ’n meter of twee bo die oewer. Dit is net op nr. 34-37 waar die terras effens afplat waar jy nader aan die Krokodilrivier se water is. 

Om lyn nat te maak moet jy die paar houttrappies tot op die oewer afstap. Die oewer raak plek-plek breër en het gras en heelwat bome – net reg om in die koelte ’n middagslappie te vang terwyl jy in jou kampstoel wag dat die visse byt. En as jy dalk vergeet het van die krokodille, is hier ’n paar bordjies wat jou herinner...

Wanneer jy ’n vleisie by jou kampplek wil braai, kan jy dit op een van die kamp se braaidromme of skottelskaarbraaiers doen. Bring maar jou eie braaier saam, net ingeval die kamp vol is en die braaiers min raak. Elke staanplek het ’n kragpunt (gewone sok) en vullisdrom, maar deel ’n kraan.

Silwerskoon ablusies

Jy gaan ver moet soek om skoner ablusiegeriewe by ’n kampplek te kry. Hier is heeldag ’n skoonmaker aan diens, en ten spyte van ’n amper vol kamp met ons besoek was die geriewe altyd silwerskoon.

Albei siersteengeboutjies het aan die voorkant, weerskante van die ingange, ’n skottelgoed- en klerewasplek. Hier is ook ’n kaart van die staproetes en heelwat advertensies van die bevrore jogurt wat by die winkel te koop is.

Die eerste ablusieblok is geleë in die tweede helfte van die kamp, die verste van die hek, en is net-net groter as die tweede blok.

Hier is een hoofingang, en sodra jy binne is, vertak die gang na die mans-, vroue- en gesinsbadkamers. Aan die manskant is die vloere en storte geteël terwyl die mure in die aantrek- en algemene deel ongepleisterde siersteen is.

Die stortkamers het deure en die aantrekdeel bly droog danksy die smal muurtjie wat dit van die stort skei. Die aantrekdeel is nie baie groot nie, maar darem ook nie ongerieflik nie. Jy kan jou klere en handdoek aan die hakies hang en op die geteëlde bankie sit wanneer jy jou skoene aantrek. Hier is wel geen plek in die stort waar jy jou seep en sjampoe kan neersit nie.

Die twee wasbakke in die algemene deel is in ’n geteëlde blad en het spieëls, rakkies met hake teen die muur en handewasseep.

Jy gaan ver moet soek om skoner badkamers te kry. Die kamp is boomryk en die visvang is goed. Onthou net van die krokodille.

Die vroue se geriewe is soortgelyk aan die mans s’n, maar het ’n bykomende geteëlde blad oorkant die wasbakke. Die muur bo die wasbakke het spieëls die hele breedte van die blad.

Die gesinsbadkamer het ’n bad, toilet, wasbak met ’n spieël, hakies teen die mure en ’n smal blad waarop ’n baba kan lê as dit tyd is vir boude smeer en aantrek. Hier is ’n rolstoeloprit om by die badkamers uit te kom, maar binne is die badkamers nie toeganklik vir rolstoele en gestremdes nie.

Die kassettoilet se leegmaakpunt is aan die sykant van die gebou.

Die tweede ablusieblok lê nader aan die ingang en die uitleg binne en buite is soortgelyk aan die eerste blok, maar die mans- en vrouekant het elkeen sy eie ingang. Daar is ook gordyne voor die storthokkies én hier is twee gesinsbadkamers. Hier is nie ’n oprit vir rolstoele nie.

Kom stap of ry fiets

Drie Berge het twee roetes vir avontuurlustiges – een vir stappers en een wat deur stappers en fietsryers gedeel word. Die roetes is duidelik gemerk en jy gaan nie jou skemerkelkie misloop omdat jy ’n verkeerde afdraai gevat het nie.

Die staproete – of eerder klimroete – na die kruin van die Ouberg is beslis nie vir onfikses nie. Jy klim ’n goeie 200 m binne ’n kwessie van 1,2 km. Die kronkelpaadjie deur inheemse bome gaan jou kuite laat wérk. Die afkomslag is nie juis veel makliker nie en jou knieë gaan deeglik getoets word teen die skuinste.

Die skewe maroelaboom op die kruin is die teken dat jy dit gemaak het… die vasbyt is die moeite werd, want jy het amper ’n 360º-uitsig op die landskap onder jou.

Die kortste pad na die kruin begin aan die einde van die kamp, net verby staanplek nr. 1, maar jy gaan tot 6 vm. moet wag dat die toegangshekkie oopgesluit word. Dit is wys om dié roete, teen die westelike hang van die berg, eerder vroegoggend aan te durf, anders gaan dit voel of die warm middagson jou teen die berg vasdruk.

Jy kan ook by die kamp op die 5 km- stap-en-fietsryroete wegspring en dit kloks- óf antikloksgewys aandurf. As jy antikloks begin, volg die roete eers die rivier, verby die ontvangskantoor, tot by die hoofhek waar jy teen die Ouberg begin uitklim. Tot hier is dit gelyk grond en dis ’n maklike stappie vir oud en jonk.

Die skewe maroelaboom op die kruin is die teken dat jy dit gemaak het… die vasbyt is die moeite werd, want jy het amper ’n 360º-uitsig op die landskap onder jou.

Van die hoofhek af begin jy teen Ouberg klim tot sowat 86 m bo die beginpunt. Hierna loop die paadjie al teen die westelike helling van die berg tot waar dit verby die kampplek begin daal tot by die rivier en weer by die kampplek eindig. Die helling is nie so steil soos die kruinroete nie, maar die klipperige paadjie maak die klim op party plekke moeilik.

Stappers sowel as fietsryers gaan mooi op die uitkyk vir mekaar moet wees. Hier is heelwat blinde draaie, veral teen die berghang, en die paadjie is meestal smal en daar is ’n gevaar dat fietsryers teen mekaar gaan bots of stappers raakry. En kan afrol teen die skuinste.

Dit sou veiliger wees indien die roete net in een rigting geloop het.

Speelplek

As die swembad roep, moet jy na die ontvangskantoor toe terugstap. Al die oord se aktiwiteite is aan die rivier se kant van die ontvangsgebou, op ’n lappie aarde so groot soos twee rugbyvelde.

Hier kan almal na hartelus balskop, bomme in die swembad maak, in ’n oopgesnyde buiteband swaai, die klimraam uitklouter en selfs ’n paar balle op die tennisbaan rondslaan. Rugbyballe (R20) en tennisrakette (R10) is te huur.

Teenaan die gebou is ’n groot stoep met bankies en tafels wat in die rivier se rigting kyk. Hier speel jy pool, veerpyltjies en tafeltennis (R10), en as dit rugbyseisoen is, word die grootskerm ingespan.

Dagbesoekers is welkom (slegs as jy bespreek) en kan braai of piekniek hou tussen die bome en al die geriewe gebruik.

As iemand vergeet het om die kostrommel in te pak, gaan jy net deels regkom in die kampwinkel. Hier is basiese kruideniersware soos 500 g sout (R11), Aromat (R25), tinfoelie (R20) en seeppoeier (R15). Jy sal darem kan vuurmaak (hout kos R20 en vuuraanstekers R25) maar vir ’n vleisie en iets sterkers as koeldrank gaan jy die 7 km na Brits toe moet ry.

Die wassery, met twee bolaaimasjiene en een tuimeldroër, is langs die ontvangskantoor se ingang. Hier is ook ’n klerewasbak en strykplank. Dit kos R10 per bondel en jy betaal by die kantoor. Onthou om jou eie waspoeier saam te bring.

Hulle sê

Dit is die eerste keer dat Marius en Drika de Beer van Swartklip, Limpopo, by Drie Berge kom kamp.

Ons geniet dit vreeslik hier – dit is altyd lekker in die Bosveld. Ons hou van die rustigheid van die kamp en almal se vriendelikheid. En natuurlik die hengel in die rivier. Ons sal vir seker weer kom kuier.

Dis wat dit kos

(2 volwassenes)

Brandstof (95 oktaan-petrol) @ 8 l/100 km en R14,11/l en 130 km (heen en weer) R146,74

Tolhekke (heen en weer) R26

Verblyf (2 nagte) R860

Kos (2 mense) R1 067

Groottotaal R2 099,74

Kortliks | Drie Berge

Kampplek 48 staanplekke in koelte – die meeste met gras, braaiers en krag.

Ablusiegeriewe Silwerskoon danksy die skoonmakers wat heeldag aan diens is.

Prys Maandae-Donderdae (buite seisoen) R200 p.p.p.n.; gewone naweke R430 p.p.p.n; vakansies en langnaweke R550 p.p.p.n. Maksimum 4 mense per staanplek.

Kontak  083 608 3409; driebergekaravaanpark.co.zadrieberge@lantic.co.za

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 1 nm., tensy ander tye vooraf gereël word.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot by kamp se afdraai met die D1195 vol slaggate. Die laaste kilometer tot by die hoofhek is ’n mooi grondpad.

GPS S25.569798 E27.771836 (afdraai) S25.577753 E27.757623 (ontvangs-kantoor)

Weg Ry & Sleep Bederf jouself met die tuisgemaakte bevrore jogurt wat by die kampwinkel te koop is. Dit kos net R20 en jy gaan beslis meer as een keer terugkom vir nog.