Foto's Leon Botha

Dit gebeur nie dikwels dat die gasvrou jou by jou kampbestemming inwag met ’n bottel olyfolie in die hand nie. Op die plaas Fraaigelegen net buite Tulbagh word daar egter met olywe geboer, en daarom is so iets hier glad nie vreemd nie.

Op een deel van die plaas is ’n kampplek ingerig waar ’n mens kan kom ontspan terwyl die boerdery sy gang gaan. Die Duitse egpaar Venishree en Juergen Mayer het die plaas ’n jaar gelede gekoop, en ’n mens sien sommer al as jy bespreek sake hier loop vlot.

Nog voor jy kan sê mes, stuur Venishree ’n paar dokumente per e-pos en ’n mens weet wat die moets en moenies op die plaas is.

Ingesluit is ’n omvattende kaart van die Tulbaghvallei – maak sommer vroegtydig vir jou ’n drukstuk daarvan. Die omgewing is ’n toeris se droom en die kaart is ’n netjiese gids waarmee jy jou uitstappies kan beplan.

In dieselfde e-pos noem Venishree dat hulle braaihout teen R50 per krat verkoop. Jy kan ook vir jou ’n 250 ml- bottel olyfolie teen dieselfde prys bestel. Dis hiermee wat Venishree ons inwag.

EERSTEKLAS. Fraaigelegen het alles wat saakmaak as dit by ‘n rustige kampplek kom. Jy kan nie vir meer ooptes vra nie, die badkamers is gaaf en die plaasnatuur ‘n plesier.

Plaas toe

Van Ceres se kant af draai die plaaspad 10 km duskant Tulbagh af Fraaigelegen toe. Die grondpad van 3,3 km is heel skaflik en jy gaan hom met ’n gewone wa of ryhuis baasraak. Die eerste deel is pylreguit, asof iemand dit met ’n liniaal getrek het, en dan verdwyn dit in die verte teen die Witzenberg. Die berg lê die hele horison vol en Fraaigelegen se hek is direk regs ná ’n spoedbordjie wat lyk of dit self gemaak is. Dis ’n blougeverfde ploegskaar waarop “30 km/h” staan, maar te oordeel na die roeskolle wat besig is om die oorhand te kry staan hierdie skaar al ’n seisoen of tien hier.

Ná die hek ry jy met ’n betontweespoorpad tussen die wingerde teen ’n bultjie af en besef dan hier word met meer as net olywe geboer. Venishree-hulle verbou van cabernet sauvignon- en shiraz-druiwe regdeur tot mourvèdre en petit verdot, alles om wyn te maak. 

Dis by die plaashuis waar die Mayers jou inwag. Sodra jy die kardeur oopmaak, is dit ene plaasgasvryheid. Venishree gee nog ’n pamflet of twee: nóg ’n gids van Tulbagh, asook ’n foliobladsy met die titel “Best for the Guest” daarop. Dis ’n lys van besighede in die omgewing waar ’n mens afslag kan kry. Venishree gee jou ook ’n klein sleutelhouer met ’n sleuteltjie daarop gegraveer. Dis jou “bewys” wanneer jy toeristeplekke in die omgewing by Ceres, Wolseley of Tulbagh besoek. Dan kan jy onder meer 10% afslag kry of selfs met ’n gratis koppie moerkoffie of glas wyn wegstap afhangend by wie jy draai.

Al is hier op Fraaigelegen genoeg plek vir vyf gesinne, is die gedagte nié om die kampplek vol te pak nie. Die Mayers wil hê hier moet genoeg ruimte wees vir almal. Die kampplek is allesbehalwe ’n besige oord, sê Juergen. Hulle probeer om nie ’n rigiede benadering te volg nie, en daarom is die staanplekke byvoorbeeld nie afgebaken nie.

As dit mooipraat gekos het om die tieners te oortuig vir ’n naweek weg, staan jy met die troef in die hand. Hier is gratis Wi-Fi op Fraaigelegen...

Kry jou plasie

Van die plaashuis se kant af maak die pad ’n 90°-draai, waarna jy 150 m verder al langs ’n olyfboord afry tot by ’n wit gebou. Dis die badkamers, met daaragter ’n reghoekige stuk grasperk wat ’n raps kleiner is as die kwartgebied van ’n rugbyveld. Dis wel nie die lowergroen grasperk van Nuweland nie, maar eerder ’n variasie van wilde gras en onkruid wat met ’n grassnyer in toom gehou word. Hier is nie dorings nie en die jongspan kan gerus skoene uitskop.

Die stuk aarde loop met ’n effense helling weg van jou, maar niks wat sal pla om die wa gelyk te kry nie.

Van die badkamer af staan drie houtpaaltjies min of meer ewe ver uitmekaar teen die linkerkant af geplant. Die kragboksies, elk met twee driepuntsokke, is hieraan gemonteer.

Hier is nie koeltebome in die kampterrein nie, maar tussen jou en die olywe staan ’n netjiese koelteboom. Niks keer jou om jou kampstoel tot hier te dra as jy nie jou eie koelte saamgebring het nie.

Kyk fyn terwyl jy hier langs die olyfbome is. Nie alle olywe is dieselfde nie en hierdie bome in rye het net soveel kultivars as die wingerde. Op Fraaigelegen word favolosa, frantoio, leccino en mission verbou.

As jy op jou staanplek ’n braaivuur wil aanmekaarslaan, bring jou eie braaier saam. Hier is nie braaigeriewe nie, maar heel links van die kampdeel is twee klein aparte bomas waar jy ’n stewige kampvuur kan bou. Dis afgeskort met regop stompe wat in die grond geplant is, en in die middel is ’n vuurput met ’n los rooster.

Die vullisdrom en naaste water is by die badkamer onder ’n afdakkie waar ’n mens die dag se skottelgoed kan skoonkry. Die kratte hout staan hier as jy van Fraaigelegen se hout op die proef wil stel.

As dit mooipraat gekos het om die tieners te oortuig vir ’n naweek weg, staan jy met die troef in die hand. Hier is gratis Wi-Fi op Fraaigelegen – selfs in die kampplek. Daar staan dus niks tussen die tieners en hul e-kletsery nie.

Die withuis

Die badkamers het ’n vroue- en manskant en die storthokkies het ’n glasskuifdeur voor. Dis ook maar goed ’n mens is nie in ’n besige oord nie, want as jy uit die storthokkie klim, staan jy in die badkamervertrek. Jy moet jou dus in die hokkie afdroog as jy nie die wêreld voor die hokkie wil nattrap nie.

By elkeen se deur is ’n handdoekring met ’n gesighanddoek wat Venishree-hulle verskaf, maar daar’s ook plek vir jou eie handdoek. Voor elke stortdeur is ’n badkamermatjie.

Die wasbakke het elk ’n spieël wat hoog genoeg is met ’n smal glasrakkie langsaan vir jou tandeborsel of horlosie. Jou skoon klere kan jy op die ingeboude bankie by die deur neersit. Dis groot genoeg vir meer as een mens.

Wat is ’n plaas sonder ’n dam?

Op ’n plaas met al sy ooptes is ’n fiets nét die ding as jy nie van stap hou nie. Die paadjies op Fraaigelegen is ’n bergfiets se vriend en ons het ná ’n naweek se trap net een ongeval gehad: ’n pap band.

Die plaasdam is nie een van daardie tipiese ronde, gepleisterde damme met ’n windpomp langsaan nie. Fraaigelegen se dam is wel mensgemaak, maar dis grondwalle wat die water binne hou. Die dam is sowat 300 m verby die plaashuis – weg van die kampplek af – en lê ’n raps hoër teen die voet van die berg. Die trap soontoe sorg dus vir ’n sweetdruppel of twee teen die voorkop, maar terug kampplek toe is dit al die pad afdraande. 

Die water is kristalhelder en ’n mens mag hierin swem. Dis selfs veilig vir die kleingoed as ’n ouer nader staan, want by die kant is dit vlak en jy kan hulle dophou terwyl hulle van die paddavissies probeer vang. Die dam is amper 160 m lank en by die 70 m breed. ’n Populierboom staan op die een hoek (waar die paadjie inkom) met ’n stomp op die graswal waar jy kan sit. So ’n tree of wat weg van die wal af is ’n swaai met ’n kloutergedeelte as die kinders genoeg van die water gehad het.

Agter die dam strek die wingerde teen die berg uit – hier is ook twee van die kothuisies op die plaas.

Maak ’n Tulbagh-draai

’n Mens weet dinge op ’n plaas gebeur sommer vroegoggend, en dit voel asof die voëls dit invryf. As jy nie van die fisante, poue, hadidas en tortelduiwe se opstaangesange wakker word nie, sal die kolganse dit regkry.

Die Witzenberg word vroegaand oranje ingekleur in die skemer, maar soggens kom die son agter die berg op. Die prentjie lyk dan heeltemal anders, en die kruin van die grys massa skei dit van die blou hemel.

Trek Tulbagh se kaart nader wanneer julle klaar spek en eiers geëet het. Hier is iets vir almal te doen en jy hoef nie te ver te ry nie. Dit kos ook nie veel oortuiging om die gesin in die kar te kry nie: Noem net die moontlikheid van ’n sjokoladefabriek en die Kaap is Hollands. Die Moniki-sjokolademakery is 4 km anderkant Tulbagh. Soos ’n mens Tulbagh van Fraaigelegen se kant af binnery, hou reguitaan deur die dorp tot by die Klipfontein-bordjie (daar’s ook ’n klein Moniki-bordjie). Ry tot by die wit plaasgeboue en parkeer langs die gras.

Die sjokolade word gemaak in die rondawel ver links op die grasperk waar ’n groot ou eikeboom staan. Die stam se omtrek moet rondom 5 m wees – dis so kolossaal dat die destydse goewerneur Ryk Tulbagh dit sekerlik self moet geplant het. Dis oorkant die boom waar jou dieet ’n groot terugslag kry. Die rakke is vol verskillende smake en kleure sjokolades, maar doen jouself ’n guns en betaal vir ’n proesessie. Dis R40, R50 of R60 vir drie sjokolades van jou keuse saam met onder meer tee, brandewyn of port.

Berrie Horing is die sjokolademaker. Die plek se naam, sê sy, is afgelei van die eienaar se naam, Niki van Kooij.

MAAK ‘N DRAAI BY DIE BURE. Wie het nou gedink ‘n mens sal tuisgemaakte sjokolade naby Tulbagh raakloop, wat nog ‘n boepensvark wat omval as ‘n mens dit skrop?

Ry terug Tulbagh toe en spoel die sjokolade af met tuisgemaakte gemmerbier (R24) by Things I Love. Dié eetplek in die hoofstraat is deels ’n aandenkingwinkel. As die kinders nog ’n soettand oor het, bestel vir hulle die organiese rousjokolademelkskommel met heuning (R38).

Al hierdie suiker in ’n mens se lyf het nou “oefenplek” nodig om dit uit te werk. Die Fynbos-gasteplaas is net die plek daarvoor – dis net verby Fraaigelegen se afdraai van Tulbagh se kant af (’n mens kan hulle die buurplaas noem). Dis omtrent ’n veilige hawe vir diere en ’n mens kan hulle selfs kom voer of vryf.

Jy kry ’n kaart van Fynbos wat wys watter diere is waar en jy kan op jou eie tyd van die een hok na die volgende stap. As deel van jou besoek kry jy’n blikkie groente en selfs broodstukke. Jou selfbegeleide toer begin by die boepensvarke wat die skaal oor ’n 100 kg moet trek. Langs die hok hang ’n paaltjie met borsels. As jy die logge diere ’n skrop met die borsel gee, val hy sommer om van die lekkerte. Die paadjies tussen, na en van die hokke is pynlik netjies en ’n mens sien enigiets van ngunibokke tot hase en in ’n groter kamp sebras, donkies en alpakkas. (’n Alpakka kan sy nek verder as ’n donkie rek vir ’n vars wortel!) In die volgende kamp staan ’n paar springbokkies en wei.

OPGEROL. Nader aan die plaaslewe kan jy nie. “Opgerolde” gras is omtrent ‘n aardigheid vir stadkinders.

Verder is die tuin versier met kunswerke en agter die “varkhok” is die plaspoel as die kinders vinnig wil afkoel voor julle in die pad val. Die besoek kos R50 p.p. (R20 vir kinders). Onthou, ’n mens moet Fynbos laat weet as jy ’n draai wil maak, want jy kan nie net opdaag nie.

Weg Ry & Sleep sê

Kampplek ’n Oop, plat kampgedeelte met 4 kragpunte en byna geen koelte nie, teen ’n effense helling.

Ablusiegeriewe Netjies, eenvoudig en naby.

Prys R120 p.p.p.n. (R70 vir kinders o.13).

Aankoms- en vertrektyd As ’n reël 2 nm. en 10.30 vm., maar die eienaars gee nie om om dit aan te pas nie.

Kontak 071 404 2766; fraaigelegenfarm@gmail.com; fraaigelegenfarm.co.za

Hoe lyk die pad? Die laaste 3,3 km is ’n netjiese grondpad.

GPS S33.3633 E19.203251

Dis wat dit kos

(2 volwassenes en 3 kinders)

Brandstof @ 11,9 l/100 km en R13,27/l en 252 km (heen en weer) R397,94

Verblyf (2 nagte) R1 000

Kos R950

Groottotaal R2 347,94*

* Al die doendinge en olyfolie uitgesluit.