Matamba se hek is omtrent 1,8 km van die R33-teerpad aan jou linkerkant af. Die grondpaadjie is effens sanderig en plek-plek selfs sinkplaat gery, maar die “ongerief” is deur en deur die moeite werd vir wat voorlê.



Hier is vier staanplekke, almal in die bos, plus een afgesonderde groepstaanplek. Saam staan die vier staanplekke as die Tau-kamp bekend.Die staanplekke is só ver van mekaar af jy weet skaars van die volgende kampeerders. Die staanplekke het voëlname, en langs die Drongo-staanplek kan jy net-net ’n grasdakrondawel in die bosse sien.


Dit is die stylvolle gemeenskaplike badkamer wat lyk asof dit in ’n rykmanslodge hoort. Die rondawel bestaan uit  twee vertrekke. Die een het ’n toilet en wasbak; in die ander is daar dieselfde geriewe maar heelwat meer ruimte. Die stort is op die punt en oop. Hier is ook ’n opelugtoilet en ’n buitelugstort.


Verby die badkamerrondawel is die swembad ingehok met ’n paaltjiesheining.


Kampplek: 4 plat staanplekke met krag, en 1 groepstaanplek sonder krag.

Ablusiegeriewe: Die beste!

Prys: R245-R270 p.p.p.n. (R120-R135 p.n. vir kinders o.12).

Aankoms- en vertrektyd: 1 nm. tot 6 nm., en 10 vm.

Kontak: 083 653 1287; matambabushcamp@gmail.com; matambabushcamp.com

Hoe ver van Vaalwater af? 30 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 1,8 km is ’n grondpad (hier en daar sanderig en sinkplaat), maar dit pla nie as jy stadig sleep met ’n gewone wa nie.

GPS: S24.099926 E27.979807