By Vloedbos is die lys van doendinge lank: waterwurm, speletjieskamer, minigholfbaan, verhitte binneswembad, braailapa en miniwaterwurm van 2 m lank waarop slegs kinders jonger as 7 jaar mag baljaar.


Die kampplek is rofweg in ses dele verdeel, en dié “kampe” lê min of meer in ’n halwe sirkel, met 4 tot 10 staanplekke per kamp. ’n Paar heinings en struike skei die kampe van mekaar. Maar dit maak nie saak waar jy kamp nie; jy sal nooit meer as ’n minuut of twee se stap van die ontspannings- en ablusiegeriewe wees nie. Jy gaan ook ver soek vir netjieser ablusiegeriewe. Buiten die silwerskoon mans- en vrouebadkamers is hier ook ’n gesinsbadkamer – lekker as jy privaatheid soek of die kleingoed almal saam wil skrop. Aan die bokant van die miniwaterwurm, in dieselfde gebou as die ablusiegeriewe, is daar ’n klein verhitte swembad. Vloedbos het ook ’n klein oordwinkel waar jy dinge soos hout en ys kan koop.


Kampplek: 46 staanplekke op groen gras; net plek-plek is koelte.

Ablusiegeriewe: Netjiese mans- en vrouebadkamer, asook ’n gesinsbadkamer, plus opwasgeriewe.

Prys: R250-R450 per staanplek vir 4 mense, afhangend van die seisoen. Daarna kos dit R85-R100 p.p.

Aankoms- en vertrektyd: 2 nm. en 1 nm.

Kontak: 083 359 1505; info@vloedbos.co.za; vloedbos.co.za

Naaste dorp: Napier, 30 km.

Hoe lyk die pad? Teerpad en goeie grondpad tot by die oord.

GPS: S34.333326 E19.694653