Hier is ’n paar wenke wat die proses so ’n bietjie makliker kan maak. Deel asseblief ook jou inpakwenke op ons Facebook-blad.

1. Maak styf toe: Pak alle bagasie stewig vas, maak deksels dig toe, knip alle knippe toe, sluit slotte en trek die toue en bande styf. Niemand wil die sleepwa-kap of woonwa-deur oopmaak en eiergele teen die kante sien of glasstukke in die bier in jou kampyskas sien dryf nie.

2. Maak dubbeld seker: Pak die tentpenne só in dat jy seker kan maak dit is daar. Om later te sê “Maar dit was dan ingepak”, gaan nie die tent stewig geanker hou nie. Slaapsakke en beddegoed bly ook soms agter! Jy kan nog drie dae oorleef in een stel klere, maar koud slaap is niemand se idee van pret nie.

3. Maak vol: Maak seker die gasbottel is vol, lek nie en werk nog. Vat altyd ekstra onderdele vir die gasbottel saam. Die kans is baie goed dat jy dit in ’n stadium gaan nodig kry.

4. Pak slim: Pak die droë kossoorte in een krat wat dig seël en miere gaan uithou. Hou die vrugte en groente koel in ’n koelboks of in ’n kampyskas. Pak dit bo-op om kneusing te verhoed en sorg dat die temperatuur van die kampyskas reg gestel is, anders vries vrugte en groente óf word pap.

5. Op die kole: Haal die eerste aand se gevriesde vleis betyds uit om te ontdooi – doen dit sommer al wanneer julle wegtrek. Sit dit vir jou eie gerief ook sommer bo-op al die ander kos, hetsy in die koelkas of in die koelboks. Netnou is die kole al reg nog voor alles behoorlik uitgepak is en die flits êrens wegkruip.

6. Noodsaaklik: Onthou sakke vir vullis, die ekstra rol toiletpapier en die pakkie vuurhoutjies wat vir noodgevalle iewers in die motor weggesteek word. Pak ook papierborde in.

7. Hout, water en ys: Maak seker jy weet vooraf of daar ys en hout by die kampplek te koop is en of die water veilig is om te drink. Hout neem baie plek op en is ’n ongemaklike ding om gepak te kry – as jy dit dus nie hoef in te pak nie, spaar jy baie plek. En om ys in te pak is moeite: Dit moet baie koud gehou word en vat plek in ’n koelboks of kampyskas – maak dus seker dit is nodig.

8. Wyk goggas: Pak insekweermiddels soos muskietnette, rakette, spuitgoed en smeergoed in. Sitronella-kerse werk goed en sorg ook sommer vir ’n aangename reuk rondom die kampkombuis.

9. Noodhulp: Onthou die noodhulpkissie en maak dit vol met Burnshield, pleisters, antiseptiese salf en verbande.

10. Heeltyd speeltyd: Onthou speelgoed vir die kinders. Balle en fietse (as daar genoeg plek is), kan hulle vir ure besig hou. Maak seker die bordspeletjies en kaarte is volledig en dat daar ekstra dobbelstene ingepak is.