Die WegRy-leser Gerrit Visser het ’n paar jaar gelede die Namakwa-ekoroete met ’n Suzuki Jimny en ’n sleepwa gedoen. Dis wat hy ná die toer te sê gehad het oor dié buksie.



Massa. Die Jimny is gespesifiseer om ’n maksimum gewig van 450kg te sleep en ’n maksimum gewig van 360kg te kan dra. Van Gauteng na Upington was die algehele massa van die sleepwa byna 400kg. Van Upington af was dit na aan 450kg en het dit daarna geleidelik ligter geraak. In die Jimny self was die gewig sowat 360kg (twee volwassenes, twee tieners, klere en ’n bietjie padkos).

Ons is nie anders as ander reisigers nie en hoe meer plek jy het, hoe meer vat jy saam. Wat wel belangrik vir hierdie reis was, was 40 liter water en 30 liter petrol ekstra.


Binneruim. Dit help nie om te ontken dat die kar klein is nie. Slaapkussings het gehelp om die mense op die agterste sitplek gemakliker te laat sit.

Krag. Die kar het ’n klein enjin so dis belangrik om te weet wanneer hy sy perde en wringkrag lewer. Teen 6000 r.p.m. stoot die enjin 63kW uit en teen 4100 r.p.m. is die wringkrag 110Nm. Suzuki ken van motorfiets bou en hulle behoort dus te weet hoe om enjins te maak waarmee jy die toere bietjie kan jaag. Moenie skaam wees nie, die outjie is gelukkig teen 4100 r.p.m.


Bande. Die Jimny kom standaard met 205/70R15-bande maar ek het ná heelwat navorsing ’n stel 215/75/R15 BF Goodridge-bande nadergehark. By nabetragting dink ek nie ’n groter band was so blink plan vir die oop pad nie omdat dit ’n invloed het op die wringkrag se kurwe. Wanneer die teer egter grond word, is ek en die Jimny met die groter bande wel in ons noppies.


Vering. Met vragte wat na aan die maksimum is, sit die agterste vering amper onder. Dit is eintlik net ’n probleem op teerpad as jy skielik ’n ongelykheid tref en die vering dan deurslaan. Old Man Emu-vering kan dit regstel. O ja, die veringstelsel is hard en hobbelrig, net soos ek daarvan hou. Ek is immers ’n bakkie-man.


Wie het die stof ingelaat? Die Jimny is nie baie stofdig nie. Die deure het rubberseëls en is dus nie die probleem nie. Toe ek die sleephak aangesit het, het ek opgemerk die Jimny het baie gate waardeur water kan dreineer en in sommige gevalle doppies wat deel van die panele is.

Dit is alles vir ’n goeie rede, want as ’n mens op die internet soek, sal jy sien die Jimny is ’n goeie swemmer wat nie eintlik roesprobleme het nie. As jy mooi skoonmaak ná ’n vakansie is hierdie maar ’n klein prys om te betaal.


Brandstofverbruik. Die brandstofverbruik tydens die vakansie was 11,1 liter per 100 km.


Die uitslag? Wat ’n kar… traag op die oop pad, maar winde van voor, swaar vragte in die kar en die sleepwa en groter bande as die standaard is alles redes vir die gedrag. Dit verg ’n voet-in-die-hoek-bestuurstyl wat nie juis anders is as in my ou Hilux nie en waarskynlik redelik dieselfde as om in ’n Defender te ry met ’n soortgelyke verhouding tussen massa en kraglewering.

Op grondpaaie waar dit nie juis moontlik was om vinniger as 60km/h te ry nie, het hy hom goed gedra.

In ’n neutedop is dit ’n verstommende voertuig. Dit is sterk, betroubaar en in sy element wanneer die teer opraak.