Met sy slegte paaie, steil passe, vlak waterbruggies en diep waterkruisings is dit verstaanbaar dat jy nie met ’n gewone sedanvoertuig in die wildernisgebied van die Baviaanskloof toegelaat word nie. Daar was egter nie rede tot kommer toe ’n klomp Kaapse vriende besluit om die gebied te besoek nie.

Twee van hulle, Christo Muller en Pierre Wepener, het elkeen met ’n Fortuner gery; Jan van der Westhuizen was in sy Subaru Forester; en Barry van der Berg in ’n Kia Sorento. Dit was net Barry wat effens bekommerd was oor die reis, hoofsaaklik omdat sy Kia nie juis bekend is vir hoe hoog hy in sy sokkies staan nie. Boonop het hy gehoor ’n onlangse oorstroming het tot groot skade gelei in die Baviaans.

Die manne met die Fortuners het net hulle kop geskud, gelag en Barry die versekering gegee dat hy nie rede tot kommer het nie. Blykbaar is Toyotas gewoond daaraan om Sorento’s (en Land Rovers) uit enige penarie te red.

Vir die toer sou Barry en sy vrou, Georgene, hulle Sherpa Tiny Rough Roader sleep wat hulle Tenzing gedoop het – na die sherpa Tenzing Norgay wat saam met sir Edmund Hillary die eerste was wat Everest se kruin bereik het. Christo, sy vrou, Nolan, en hulle seun Chris sou hulle Conqueror Supra-boswa haak, terwyl Pierre en sy vrou, Antjie, en Jan en sy vrou, Mariette, in hulle onderskeie tente sou kamp.

Pierre het egter ná ’n voorval toe hy sy tentpenne by die huis vergeet het, besluit om vir hulle ook ’n Sherpa Tiny Rough Roader aan te skaf. Só is die groep vriende toe slaggereed vir die uittog na die Oos-Kaap. Barry vertel...

Altyd tyd vir ’n foto. Wanneer jy deur die Baviaanskloof ry, moet jy jou tyd vat en die mooi om jou raaksien en waardeer. Dit is egter nie altyd so maklik om dit in die ry te doen nie, soos Barry kan getuig, en daarom moet jy kort-kort stilhou om asem te skep en die natuurskoon te beleef.

Ons vertrek op ’n wintersoggend uit die Kaap, en ná ’n gawe ontbyt by die Veldskoen-padstal by De Doorns ry ons oor die indrukwekkende Seweweekspoort Oudtshoorn toe.

Die Groot-Swartberg is een van my gunstelingbergreekse in Suid-Afrika omdat dit soveel bied om te beleef: Seweweekspoort, Meiringspoort, die Swartbergpas, Kangogrotte, en Die Hel, oftewel die Gamkaskloof.

Ons kamp die eerste aand by Oppidam. Dit is ’n fantastiese oord in ’n pragtige vallei halfpad tussen Oudtshoorn en die Kangogrotte. Die staanplekke is pynlik netjies, elkeen met sy eie private ablusiegeriewe. Georgene is só beïndruk sy dring daarop aan dat ons weer hier kom bly op pad terug Kaap toe. Ek stry nie.

Ek hoor hoe sy vir iemand op die telefoon sê die mense met die waens is darem veilig.

Die volgende oggend vertrek ons na die Baviaanskloof. Op die N9 tussen Uniondale en Willowmore kry ons mense wat gestrand langs die pad staan. Die man vra of ons nie ’n paar rand kan afknyp nie, maar ek jak hom af. Toe ons wegry, skel Georgene my omdat ek nie help nie – die arme man het immers kinders in sy kar.

Ek stel haar gerus dat hierdie mense se kar darem verskriklik baie onklaar raak, en op baie plekke: Ek het hulle al by Clanwilliam, Bellville én nou hier teëgekom. Georgene bly skepties… tot ons tien dae later die einste man met sy kinders en onklaar kar op dieselfde plek aantref. En ’n week later sien ons hulle wraggies wéér, in Durbanville… ja, ook gestrand!

Ons benader die Baviaanskloof van die westekant af en kamp die aand by Uitspan, ’n paar kilometer van die Nuwekloofpas af. Ons bly net een nag hier, maar dit laat ’n blywende indruk. Hier kraai ons van die lag oor ’n besonder snaakse voorval.

By ons kampplek is ’n lapa met ’n ingeboude braai, opwasplek, kragproppe en vier plastiekstoele. Die stoele is twee-twee opmekaar gestapel, en later sien ek Christo, Chris, Pierre en Jan het die stoele aan die vier hoeke beet en stoei om dit los te kry. Na ’n hele ruk se woeste gespartel (en ’n klompie kragwoorde), roep Jan die ander tot bedaring; ‘Manne, hier is dan skroewe hieronder die stoele. My magtag, die goed is aan mekaar vasgeskroef!’

Uitspan is afgesonder met pragtige natuurskoon en lieflike staanplekke. Ek is werklik spyt dat ons net een dag hier deurbring – ook dat die kampplek nie nader aan die Kaap is nie. Uiteindelik breek die dag aan wat ek gevrees het:

Vandag reis ons deur die wildernisgebied. Ons ry van Uitspan af en hou eers stil vir ’n lekker koppie koffie by Vero se koffiewinkel. Ons kom om 12:00 eers by die wildernisgebied aan. Die vrou by die hek waarsku die pad is sleg en sê ons moenie stilhou nie omdat die hek aan die ander kant om 16:00 sluit.

Ons ry ’n entjie voor ons ’n waterkruising teëkom. Pierre en Antjie ry voor, gevolg deur Christo, Nolan en Chris, dan ons, en heel agter Jan en Mariette. Ek sien hoe Pierre aarsel en dan ’n entjie inry... en amper verdwyn! Hy stoot terug en besluit om die water aan die regterkant te benader. Ons volg hom – die water is só diep ’n mens weet nie waar die betonbruggie se rand is nie. Ek durf nie verder regs gaan nie.

Die volgende oomblik hoor ons ’n slag: Die Sorento se voorkant raak weg in ’n gat, en kort daarna hoor ons die klank van metaal wat op op iets hards skraap. Ek druk deur en wonder wat die skade gaan wees. Ons kom deur die water en vorder goed tot by ’n skerp regsdraai, gevolg deur ’n steil opdraande.

Die probleem is die groot sloot wat ’n paar meter ná die draai skuins oor die pad loop. Ek vat die draai wyd genoeg sodat Tenzing nie oor die afgrond gaan nie, maar die skuins sloot veroorsaak dat die Sorento se een voorwiel hoog lig.

Diere waar jy kyk. Nadat hulle die Baviaanskloof se wildernisgebied baasgeraak het, het die groep vriende van die Kaap by die Addo- en Bergkwagga- nasionale park gekamp en ’n groot verskeidenheid wild gesien.

Nou begin drie van die wiele tol en die hele gedoente begin agteruit gly. Ek probeer weer, maar dit werk nie en ons gly weer agtertoe. Jan klim uit sy kar en kom gee raad. Hy meen ek moet die sloot vinniger benader. Ek voel onseker oor dié stukkie wysheid, maar ry wel effens vinniger en tref die sloot teen ’n wyer hoek, gevaarlik naby aan die linkerkantste rotse. Die plan werk en ons maak dit.

Dit voel of die slegte pad nooit ophou nie. Toe ons by Smitskraal kom, hou Pierre stil en sê ons kan gerus ’n bietjie piekniek hou, want dis nog net 35 km tot by die hek. Maar die ander is huiwerig. Dit is al 15:00 en ons het tot dusver teen ’n gemiddelde spoed van ongeveer 15 km/h gery. Pierre sê die pad sal van hier af darem sekerlik beter raak, maar die meerderheid stem teen hom. Pierre se skouers hang toe ons onmiddellik weer in die pad val.

Hy was inderdaad verkeerd... die pad het nie beter geraak nie. By van die steil passe is daar tweespoorsbetonpaadjies wat gewis help vir beter vastrap, maar die stroke is smal en plek-plek gevaarlik hoog omdat die grond langs die beton al weggespoel het.

Op plekke is dit moeilik om al ses wiele van ons sleepkombinasie op hierdie spore te hou en ek is deurgaans bewus van die moontlikheid dat een van ons ’n as kan breek as ons van die spore afgly.

Ons kom eers om 18:00 by die hek aan. Ons is twee uur laat, maar die vriendelike vrou by die hek sluit vir ons oop en ek hoor hoe sy vir iemand op die telefoon sê die mense met die waens is darem veilig.

Ja, die wildernisgebied is mooi, en hoewel ons ses uur hier was, het ek só op die pad gekonsentreer dat ek nie regtig die natuurskoon kon geniet nie. Ek weet wel Mariette, wat saam met Jan agter ons gery het, het dit ook nie geniet nie, want sy het die heeltyd vir Tenzing dopgehou en gevrees dat ons oor die afgrond gaan tuimel.

Nolan was vreesbevange en het heelpad haar kop in ’n kussing gedruk. Later vra Jan haar wat sy sou doen as die Baviaanskloof die enigste pad terug Kaap toe was. ‘Dan vlieg ek terug!’ was haar kort en kragtige antwoord. Christo het die Baviaans weer vreeslik geniet. Hy sê dit was vir hom baie mooi en hy het dit geniet om in toestande te ry waarvoor sy Fortuner en boswa gemaak is. Vir Chris was die Baviaans ook nie so erg nie.

Trouens, vir hom was dit só mak dat hy die heeltyd foto’s kon neem én nog dink aan resepte vir aandete.

Chris is die nie-amptelike fotograaf en sjef op die toer, en dit is ’n plesier om elke aand weg te lê aan sy potjies en braaivleis. Agterna gesels ons oor die Baviaanskloof-avontuur en is dit eens dit was ’n hoogtepunt. Hoewel ek niemand sal afraai om dit te doen nie, voel ek tog ek het ’n bietjie raad: Na my mening moet ’n mens liewer nie die wildernisgebied aandurf met iets op die haak nie. Ek dink ook dit is ’n fout om dit in een dag te wil ry. Dit maak meer sin om minstens een aand te kamp. Dan sal ek ook nie ’n sagte veldryer aanbeveel nie.

Ná die lang dag in die wildernigebied kom ons in die donker aan by Bruintjieskraal, ons kampplek. Eers die volgende oggend sien ons hoe mooi die omgewing is. Vandag moet ons weer vroeg in die pad val Addo toe. In die twee dae wat ons by Addo deurbring, sien ons baie olifante én ander diere. Die kampplek is ’n plesier, hoewel sommiges wel effens mor oor die treine wat langs die kampplek verbykom.

By die Domkrag-uitkykpunt ontmoet ons ’n vriendelike paartjie van Port Alfred wat baie duidelik groot aanhangers is van Sanparke. Hulle het sommer vir die dag deurgery en vertel hulle was al 36 keer in die Krugerwildtuin. Hulle beste ervaring was egter in die Kgalagadi, waar ’n jagluiperd ure lank om hulle kar gedrentel het.

Tussen Addo en Hogsback, ons volgende bestemming, maak ons eers ’n vinnige draai op Alicedale. Pierre en Antjie het as pasgetroudes op dié dorpie gewoon en wil graag na hulle eerste huis gaan kyk. Dit is voorwaar ’n nostalgiese besoek vir die twee, en Antjie huil lekker.

Op Hogsback bly ons twee dae by die Swallowtail Country Estate. Swallowtail het ’n ordentlike kampplek, netjiese ablusiegeriewe en ’n fantastiese gemeenskapsaal wat die eienaars, Fritz en Ansie Klaassen, die ‘Trekkers Lounge’ noem. Hier is onder meer ’n binnebraai en kroeg, en dit is die volmaakte plek vir kampeerders om ’n bietjie van die koue te ontsnap.

As kind het ek op King William’s Town gebly en ’n paar keer op Hogsback gekom. Hogsback is nie meer dieselfde nie, maar ek het tog nog hoop vir die plek – met ’n bietjie moeite kan ’n mens dit nog vernuwe.

Vriendelike vriende. Die groep Kapenaars het kuier-kuier saam Oos-Kaap toe gery om van die mooiste dele van dié provinsie te beleef. Hulle het ook besef ’n mens moet jouself genoeg tyd gee wanneer jy deur die Baviaanskloof se wildernisgebied ry en dit nié in een dag probeer kafdraf nie.

Ek geniet die besoek en ons ontmoet ’n hele paar kleurryke karakters. Ons geniet ook die Hogsback Ale. Trouens, dit is by die Hogsback Inn, met ’n Hogsback Ale in die hand, waar ek en Pierre notas uitruil oor ons Sherpas. Pierre is baie tevrede met syne se nooiensreis. Hy meen die kans is skraal dat hy ooit ’n slegter pad as dié met die wa sal aandurf. En die Sherpa het die toets met vlieënde vaandels geslaag. Hy is lig, sleep maklik en slaan moeiteloos op en af. Nommerpas vir hulle behoeftes.

Van hier af mik ons vir die Bergkwagga- nasionale park – wat ’n aangename verrassing! Dit is my eerste besoek aan die park, en ná slegs twee dae tel dit klaar onder my gunstelinge. Ons kamp lekker, eet heerlik in die restaurant en ry rond in die park. En sien báie diere. Die hoogtepunt is die nagrit met die park se wildkykvoertuig: Vir die eerste keer in my lewe sien ek ’n aardwolf!

Hoe sal ek hierdie reis opsom? Die Oos-Kaap is ’n wonderlike vakansiebestemming. Dit bied enigiets – van ’n aardbol wat van geroeste draad gemaak is tot ’n aardwolf op ’n nagrit. Waarvoor méér kan ’n mens vra?

WEN!
Barry van der Berg wen ’n Camp Cover Bundu-sak ter waarde van R400. Dié veeldoelige sak is só ontwerp dat jy hom as ’n noodhulptas óf smuktas kan gebruik. Gaan kyk na Camp Cover se beskermende oortreksels op die webwerf campcover.co.za.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook