Annemarie van der Walt vertel. 

Op die agtergrond is die NG kerk Aasvoëlkop in Johannesburg, en ’n Valiant. Ongelukkig is net drie van ons vyf dogters op dié foto, van links die uwe, Karen en Alet. Die “kleintjies”, soos die twee jonger susters, Magda en Wilma, gesamentlik genoem is, was seker te ongedurig.

Die Aasvoëlkop-gemeente was gewoond aan ongedurigheid. Beyers Naudé was een van die eerste predikante – hier het hy sy afskeidspreek in 1963 weens politieke redes gelewer, en in 2004 is hy uit die einste kerk begrawe.

Daarby was dr. Jannie Malan, onder meer moderator van die NG Sinode, op die preekstoel van 1968-1992, dus vir die grootste deel van ons grootword- en Voëlvryjare... en al het ons probeer, kon ons nooit die boodskappe hoor waarteen hy ons gewaarsku het as ’n mens sekere langspeelplate agteruit speel nie.

My pa is ’n tydsame man en ons was gewoonlik laat vir die erediens. Dan moes ons op die nippertjie plek kry vir sewe mense (al ses vroue in verskillende grade van dikmond en verleë) in die voorste gebanktes... waarskynlik die rede waarom ek steeds in ’n hoek met my rug teen ’n muur gaan sit in ’n dorpskroeg.

Om jou eie kerkhoed te kies was nie eens ’n keuse nie. Daar was ’n “poel” van hoede, en jy vat wat pas en basta. Terugskouend dalk dieselfde met die bobby socks...

Die Valiant was ’n ander storie. Ongelukkig kan my pa nie onthou presies watter model dit was nie. In my herinnering is vakansies op vér paaie met vier dogters op die agtersitplek en een voor tussen Ma en Pa op die volbank.

Om jou eie kerkhoed te kies was nie eens ’n keuse nie. Daar was ’n “poel” van hoede, en jy vat wat pas en basta. Terugskouend dalk dieselfde met die bobby socks...

Soms het een van ons sommer op die agterste “vensterbank” gelê; van veiligheidsgordels was daar nie sprake nie. Net so ook nie van ’n Ventertjie sleep nie; ál die vakansiebagasie het in die kattebak gepas. Later was die agterbank se vere weerskante by die vensters erg uitgesit, en het jou neus bo die deurknoppie gedobber as jy wil uitkyk.

Die Valiant is op 11 Januarie 1981 gesteel. Reg voor daardie einste Aasvoëlkopkerk tydens die erediens. Heimlik dink ek steeds dit was danksy ’n stille gebedsaksie deur ons dogters...


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #160(Februarie 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 

ONS SOEK JOU KIEKIES.
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com