Roete
Roete
foto’s Leon Botha

Enigiemand wat al in die Kgalagadi-oorgrenspark gaan vakansie hou het, sal weet wat die belangrikste reël is: Sorg dat jy vroeg bespreek, veral as jy in die drie hoofkampe, Twee Rivieren, Mata Mata en Nossob, wil tuisgaan. Hierdie is ’n gewilde bestemming.

Dis nie Groot Vyf-wêreld nie, want van die vyf is dit net leeus en luiperds wat jy hier kan sien. Maar die Kgalagadi het sy eie bekoring: hordes kameeldoringbome in ’n Kalaharilandskap met reusetroppe springbokke en ’n rits unieke diere. Jy gaan dalk sien hoe ’n vaalboskat ’n versamelvoëlnes bekruip asof dit sy laaste maaltyd is.

En as jy gelukkig is, gaan jy in die einste nes sien hoe ’n dwergvalk soos ’n wafferse waghond in vrede saam met die versamelvoëls bly... Bleeksingvalke is hier byna so volop soos mossies in Pretoria, en gemsbokke is ook ’n gegewe – die park het immers voorheen die Kalahari Gemsbok- nasionale park geheet.

Die grootste deel van die park lê in Botswana, en aan daardie kant van die grens het jy ’n veldryvoertuig nodig. Dit is egter nie die geval as jy duskant die grens op die hoofpaaie bly nie.

Ons het in een week onder meer ’n Hyundai i10, ’n Ford Ecosport en ’n Nissan NP200-bakkie gesien. Hier is wel geen teerpaaie in die park nie, maar die hoofroetes tussen die drie kampe word goed in stand gehou.

Jy gaan nêrens met jou stadskarretjie in die sand vasval nie. Die ergste is ’n paar sinkplaatgeryde dele, maar ons het ’n hele paar padskrapers op die hoofroetes tussen die kampe gesien.

As jy versigtig is, keer niks jou om ’n gewone woonwa tot hier te sleep nie. Ons het nie een gesien nie, maar wel boswa- en woonwaens, veldryhuise, tente en ’n hele rits gewone bagasiesleepwaens. 

MATA MATA

Hou links

Die Suid-Afrikaanse kant van die park lê soos ’n wig waarvan die punt noord strek tussen Namibië en Botswana, met twee van die drie groot kampe – Mata Mata en Nossob – teen elk van die grense.

Twee Rivieren, die derde een, lê teen die suidelike grens van die park en dit is ook hier waar ’n mens die park binnery. Hier kan jy boonop brandstof en kruideniersware aanvul. Van Twee Rivieren af is dit 3½ uur se ry tot by Mata Mata en 4½ uur tot by Nossob.

Dis groot afstande, en daarom moet ’n mens mooi beplan wanneer jy waar wil kamp. Ons het net buite die park gekamp, en daarom was Mata Mata eerste op ons lys, gevolg deur Twee Rivieren en toe Nossob.

Uit Upington vat jy die R360 noord, verby Askham, waarna die pad later teen die Kgalagadi se hek doodloop. Van hier af is dit grondpad. Maar vóór jy dit op enige van die grondpaaie waag, maak eers ’n draai by Twee Rivieren se vulstasie en verlaag jou kar en woonwa se banddruk.

Hier is ’n groot bord met die aanbevole banddruk daarop: 1,6 bar vir jou voertuig se bande, 2 bar vir die woonwa en 1,2 bar vir sleepwaens. Die petroljoggie waarsku die dieselvoorraad op Mata Mata is laag; maak dus hier vol.

DIE PAD NA MATA MATA loop al langs die Auobrivier, en al word die rivier in die Kgalagadi-kaartboek met ’n blou lyn aangedui, moet jy nie water verwag nie.

Die pad is plek-plek sinkplaat gery en op ander dele is dit sanderig, maar dis niks wat ’n tweewielaangedrewe voertuig met iets op die haak nié sal baasraak nie. Maak wel seker dat jou wa se neuswiel nie van al die sinkplaat loswikkel nie (dit het met ons gebeur).

Hier is darem geen teken van ’n hoë middelmannetjie nie, wat beteken ’n hoër grondvryhoogte is nie ’n vereiste nie. By Mata Mata loop die pad tot by ’n T-aansluiting voor die kantoorgebou.

Na links staan ’n paar polisiemanne: Dit is die grensbeheer na Namibië. Die kampplek is sowat 150 m verder regs.

Die Total-brandstofpompe (petrol en diesel) is net verby die kantoor en winkeltjie. Die joggie sê hy kan met net 30 l diesel help, want die brandstoflorrie uit die Kaap is glo nog op pad. Hier staan ook ’n kompressor as jy jou banddruk wil verander.  Die winkeltjie het die nodigste, maar vars produkte is skaars.

Met ons besoek was daar onder meer aartappels en tamaties en ’n halfdosyn eiers in die yskas – én ’n redelike verskeidenheid vleis en bevrore brode. Maar jy kan ook vars brood of roosterkoek bestel teen onderskeidelik R25 en R5. Sorg dat jou bestelling vóór 14:30 geplaas is en teen 19:00 het jy jou brood. Hulle verkoop drank, maar nie op Sondae nie, en die kaartmasjien is soms vol nukke. Maak dus seker jy het kontant.

Die paadjie na die kampplek swenk links verby die swembad en badkamers teen ’n skuinste af tot waar die staanplekke teen die droë Auob uitgelê is. Die eerste sewe begin regoor die swembad en word met lae witgeverfde houtpaaltjies afgebaken. Elke staanplek het ’n kragpunt (blou woonwasok), ’n geplante staalploegskaarbraai (met ’n rooster) wat soggens skoongemaak word, en ’n kraan. Hier is ook koeltebome, maar hulle is nog klein.

Twee van die staanplekke het geen koelte nie. Die res van die staanplekke is nie af- gebaken nie en omtrent die helfte van hulle is langs die heining. Hier is die bome heelwat groter as die eerste staanplekke s’n, en die braaiplekke, kragpunte en krane is in groepe naby die bome aangebring. Kies staanplek nr. 8 min of meer in die middel van die kampplek vir die grootste koelteboom – jy gaan selfs ’n ryhuis hieronder kan intrek.

Van die drie hoofkampe in die Kgalagadi-oorgrenspark is Mata Mata die mees basiese. Maar soos by elkeen van die ander twee kampe is hier darem ’n swembad waarin jy kan afkoel. Omtrent ’n derde van die staanplekke is langs die heining waar jy ’n paar wilde besoekers vir die dag kan verwag.

DIE KAMPPLEK word van die park geskei slegs deur ’n skouerhoë ogiesdraadheining met ’n elektriese deel onder. As jy dus naby die heining kamp opslaan, voel dit amper of die wilde diere tot hier teen jou stoeptent kan loop. Ons het ’n hele paar diere gesien, waaronder ’n gemsbok of twee, ’n skilpad en ’n rooirugjakkals wat kom aas.

Die kampplek self het sy eie dierelewe. Die raserige koringvoëls met hulle deurmekaar neste is ’n instelling, net soos die rooiborslaksmanne. Hier is ’n hele kolonie stokstertmeerkatte én ’n spul waaierstertmeerkatte, ook bekend as grondeekhorings.

Ons het selfs ’n swartkwasmuishond gesien wat van die een verlate kamp na die ander draf. Die voëlskuiling is teen die heining met ’n watergat nie te ver voor dit nie. Saans verlig ’n spreilig die watergat, maar wanneer die krag vir die nag afgaan, is dit stikdonker. (Die krag by jou staanplek is beskikbaar van 05:00 tot 21:30.)

Die badkamers het ’n splinternuwe oprit vir rolstoele, en die eerste badkamers links is rolstoelvriendelik.

Die mans- en vrouegeriewe is volgende, regoor mekaar in die gang, met die opwasplek op die punt. Die badkamer met sy wit teëls is silwerskoon en langs die wasbakke, elk met ’n spieël, is genoeg plek om jou badkamersakkie uit te pak. Die storthokkie met sy glasdeur is ruim, maar aan die droë kant is net ’n handdoekreling sonder neersitplek.

Langs die swembad met sy paaltjiesheining rondom is ’n paar sonstoele. Die swembad is klein, maar in die Kalaharisomer is enige lafenis welkom. Daar is ook ’n afdakkie vir skuiling.

Anzél en Jannie Nel van Kleinmond kamp met ’n omgeboude Jurgens BT670-sleepwa en ’n 2006 BMW X5 3.0d.

“Ek het die waentjie met hoekstutte toegerus, maar die onderstel is standaard. Agter het ek ’n glyraam ingesit en ’n ou stoof uit ’n Sprite ingebou. Ek het ’n Suid-Afrikaanse vlaggie op ’n hoë paal wat ek by die neuswiel hys. Dis ’n familietradisie – ’n mens wil mos sien van waar die wind waai. As ’n mens na die kampplek self kyk, het Mata Mata en Nossob vir ons die skoonste geriewe.”

Kortliks | Mata Mata

Kampplek: 21 staanplekke met wisselende koelte – sommige is in volson. Van hulle is 7 afgebaken, maar dié plekke is ver van die heining af.

Ablusiegeriewe: Netjies en silwerskoon, maar geen neersitplek in jou storthokkie nie. Hier is geriewe vir mense in ’n rolstoel.

Prys: Afhangend van die seisoen R360-R400 per staanplek vir die eerste 2 mense. Daarna R94-R100 p.p. (R47-R50 vir kinders). Hoogstens 6 mense word per staanplek toegelaat. Onthou ook van die bewaringstarief van R96 p.p.p.d. (R48 vir kinders) as jy nie ’n Wild Card het nie.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 054 561 0907 (Mata Mata); 012 428 9111 of 082 233 9111 (sentrale besprekings); sanparks.org; reservations@sanparks.org

Afstand na Twee Rivieren: 117 km (3½ uur se ry).

GPS: S25.766975 E20.000160

Ry & Sleep sê: Hier is geen selfoonsein nie, maar jy kan WhatsApp-lugtyd koop teen R75 vir 350 MB. 

Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren is die grootste kamp in die Kgalagadioorgrenspark, en ook die eerste kamp wat jy kry wanneer jy die park van Upington se kant af binnery. Hier kan jy omtrent al jou kampbenodighede aanvul vóór jy dieper die park inry.
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren

TWEE RIVIEREN

Hoofstad toe!

By Twee Rivieren voel dit of jy ’n klein dorp binnery. Die ontvangskantoor by die hek is modern, maar pas netjies by die omgewing in. (As jy ’n hoop wasgoed het, kry sommer ook nou ruilmunte vir die wasgeriewe – dit kos R21 om ’n bondel te was en R21 om dit droog te kry.) Van hier af loop ’n plaveipad teen die kampplek verby na die brandstofpompe, restaurant, winkel, chalets en swembad. Van die 24 staanplekke lê 9 teen dié pad. Omdat die kampplek deel vorm van die groter kamp, is dit nie omhein nie.

Twee Rivieren se badkamers (met ’n waskamer) is omtrent in die middel van die kampplek. Soos jy inry, is daar vier houtafdakke voor jou – ’n gawe keuse as al die koeltekolle beset is (net hier en daar is kleinerige koeltebome).

Jou staanplek het ’n staalbraaier en rooster (dieselfde as dié van Mata Mata) én jy het ’n vullisdrom en ’n lig wat jy self kan aan- en afskakel. Op ’n bultjie agter dié staanplekke is nog ’n klompie sonder krag, en dit lyk of hulle ook die grootste koelteboom het.

Die badkamers is skoon en ruim en jy het oorgenoeg pakplek rondom die wasbakke. Die spieëls is ook lekker groot. Maar hier moet jy tevrede wees met ’n stortgordyn in die storthokkie. Ten minste het jy ’n bankie waarop jy jou droë goed kan pak.

Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren

MIN KAMPPLEKKE SE winkels kan kers vashou by dié in die Krugerwildtuin, maar Twee Rivieren s’n is een van hulle. Hier kry jy enigiets van voëlboeke en Kgalagadi-gidse tot dierevelle. Vir ’n springbokvel hoef jy net R800 te begroot, terwyl ’n sebravel jou ’n stewige R12 500 uit die sak gaan jaag.

Die gemsbok-, rooihartbees-, blouwildebees-, koedoe- en elandvelle is darem effens meer bekostigbaar met pryse wat wissel van R2 000-R3 000. Daar is ook wyne en ander drank te kus en keur en omtrent ’n hele klerewinkel met skeppings in olyfgroen, grys en kakie.

Vir tuisgebakte brood betaal jy hier R20 en vir roosterkoek R5, en in die yskas wag vars produkte soos tamaties, blaarslaai, komkommers en appels  regdeur tot room, kaas en Weense worsies. Natuurlik kan jy ook wildsvleis koop – vir eland- of gemsboklendestuk betaal jy byvoorbeeld R366/kg.

Uiteraard is hier ’n groot verskeidenheid basiese kruideniersware, en as jy kontant nodig het, is hier ’n kitsbank. Die swembad is anderkant die winkel, sowat 200 m van die kampplek af, en hier is bankies waar jy kan sit terwyl jy die kinders dophou.

Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren

BY DIE DEUR waar ’n mens die winkel binnestap, is ’n waarskuwing dat hier skerpioene is. Neem dit maar ter harte, veral saans wanneer hulle bedrywig is: Trek skoene aan wanneer jy badkamer toe stap en vat ’n flitslig saam.

Onthou, skerpioene met kleiner knypers en ’n dik stert is die gevaarlikste, terwyl die sogenaamde grawende skerpioene (met die klein stert en groot knypers) jou gaan laat huil, maar nie so giftig is nie.

Op die punt van goggas: Dit is altyd ’n goeie gewoonte om jou skoene uit te skud vóór jy dit aantrek, veral in die Kalahari... 

Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Twee Rivieren
Kortliks | Twee Rivieren

Kampplek: 24 staanplekke met krag en 7 daarsonder. Hier is min koeltebome, maar ’n paar staanplekke met ’n afdakkie.

Ablusiegeriewe: Goed en gaaf met rolstoelvriendelike geriewe, asook ’n waskamer met ’n wasmasjien en tuimeldroër.

Prys: Afhangend van die seisoen en of jy ’n staanplek met of sonder krag kry R305-R400 per staanplek vir die eerste 2 mense. Daarna R94-R100 p.p. (R47-R50 vir kinders). Hoogstens 6 mense per staanplek. As jy nie ’n Wild Card het nie, moet jy ook ’n bewaringstarief van R96 p.p.p.d. betaal (R48 vir kinders).

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 054 561 2000 (Twee Rivieren); 012 428 9111 of 082 233 9111 (sentrale besprekings); sanparks.org; reservations@sanparks.org

Afstand na ander kampe: Mata Mata 117 km (3½ uur se ry); Nossob 158 km (4½ uur).

GPS: S26.473266 E20.612635

Ry & Sleep sê: Kom vroeg en kry ’n staanplek verder van die pad af.

Twee Rivieren
Twee Rivieren

“Ons kamp die afgelope vier Desembers hier, maar vanjaar net by Twee Rivieren. Dis lekker rustig hier. Al het ons tot nou toe leeus, jagluiperds en jakkalse gesien, wil ons nog graag die bruinhiëna, ratel en luiperd sien. Ek het my 2008 Conqueror Conquest met my 2003 Mitsubishi Colt 2.8 tot hier gesleep en my ouers het met hulle twee koepeltente en ’n 2007 Ford Bantam gekom.”

NOSSOB

Eersteklas

Van Twee Rivieren af volg ’n mens die Nossobrivier tot by die Nossobkamp, maar net soos die Auob is dit net ’n droë loop. Die rivier vorm ook die grens met Botswana – dit voel aardig om teen ’n ander land te ry met g’n enkele grensdraad in sig nie.

Op ’n hele paar plekke is daar darem ’n driehoekbetonblok langs die pad wat die grens aandui.

Die pad is sanderiger as die een tussen Twee Rivieren en Mata Mata, maar dis steeds lekker vasgetrap en jy gaan die paal haal met ’n gewone sedan. Soos jy die kamp binnery, is die brandstofpompe regs voor jou, en net soos by die ander kampe is hier ook 95 oktaan-petrol en 50 ppm-diesel beskikbaar. (En hier was met ons besoek geen beperking nie.)

Die winkel is splinternuut – toe ons ingeloer het, was die personeel nog besig om voorraad uit te pak. Hulle het dieselfde voorraad as by Twee Rivieren, maar die skaal is kleiner. Dis duidelik dat ’n mens hier ys nodig kry, want agter een van die yskasdeure is ’n toring van sakkies ys gepak. Net soos by Mata Mata is hier nie selfoonontvangs nie, maar jy kan ook WhatsApp-data aanskaf (teen dieselfde prys) wat nie ’n vervaldatum het nie.

Die wifi-sein is nie in die hele kamp beskikbaar nie, maar ten minste het jy hier kontak met die buitewêreld.

DIE KAMPPLEK BESTAAN uit twee dele. Die eerste deel met sy plat en uitgestrekte ooptes laat ’n mens nogal dink aan die Shingwedzi-kamp in die Krugerwildtuin. Jy staan verder van jou kampbure af, wat gaaf is, want die Kgalagadi se kampe is die meeste van die tyd taamlik vol. Staanpleknommers gee jou ’n idee waar jy kan opslaan.

Van die staanplekke teen die verste grens is redelik na aan mekaar en daarom beter geskik vir tentkampeerders. Hier is ’n paar lieflike groot suidwesdoringbome wat met ’n digte blaredak spog.

Elke kragpunt bedien omtrent elke tweede staanplek, en dieselfde geld vir die krane. Maar jy het jou eie braaiplek (soos dié in die ander twee kampe).

Die badkamergebou, regoor dié staanplekke, lyk van buite én binne net soos dié by Mata Mata. Jou storthokkie het ’n gordyn en ’n los bankie waarop jy jou goed kan neersit.

Agter die badkamers is nog ’n paar braaiplekke waarlangs jy kan kamp, maar hier is geen kragpunte nie. As jy nou verder deur die kamp stap, kom jy op die pad na Bitterpan  by ’n hek: Dit is ook die ingang na die tweede groep van 10 staanplekke. Elkeen van hulle is in ’n skoongemaakte kol van 20 x 20 m in die bos, en elkeen het sy eie private badkamer. Jy het nie ’n koelteboom in die middel van jou oop kol nie, maar eerder op die rand.

Ten minste het elkeen van die badkamergeboue ’n afdakkie waarlangs jy kan opslaan. Dit maak ’n heerlike kuierplek, want hier is ’n geteëlde bankie en werkblad, plus nog ’n blad met ’n wasbak.

Jou blou woonwaprop is ook hier. Die toilet is apart in die badkamergebou, en die aantrekhokkie met wasbak is langs die ruim stortkant – dit is maklik twee keer so groot as ’n standaardhokkie. Hierdie staanplekke se braaiers lyk anders. Dis ’n los dog stewige staalpan en ’n rooster met handvatsels aan weerskante – twee mense is nodig om dit te skuif.

Wanneer die waaier langs jou kampbed snags teen 21:30 afgaan, beteken dit (net soos by Mata Mata) die krag is eers weer om 05:00 die volgende oggend terug.

NET SOOS BY DIE ANDER kampe moet ’n mens jou oë oophou vir goggas en gediertes in die kampplek. ’n Meter lange vurkmerksandslang het kom oë wys.

Al is hy nie regtig ’n bedreiging vir kampeerders nie, voel ’n mens ’n bietjie anders oor ou vuilbaard... Ja, ’n mens se broek bewe behoorlik wanneer jy om middernag wakker word van ’n brul en dit voel of hulle om jou staanplek saamdrom. Die kamp met die private staanplekke het darem ook ’n heining om soos die eerste kamp s’n.

Hierdie staanplekke is ook baie naby aan die heining, en wanneer jy by jou tent uitloer en die bosse in skyn, staar ’n hele paar pare blink oë in jou rigting.

Kortliks | Nossob

Kampplek: 20 gewone staanplekke ver uitmekaar op ’n vlakte met koeltebome, en 10 luukse staanplekke, elk met hulle eie badkamer en ’n afdak vir koelte.

Ablusiegeriewe: Netjiese geriewe langs die eerste kamp met sy 20 staanplekke, en eie geriewe by die luukse staanplekke.

Prys: Afhangend van die seisoen en ’n gewone of luukse staanplek R360-R715 p.n. vir die eerste 2 mense. Daarna R94-R170 p.p. (R47-R85 vir kinders). Kampeerders sonder ’n Wild Card betaal ook ’n bewaringstarief van R96 p.p.p.d. (R48 vir kinders). Hoogstens 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 054 561 0903 (Nossob), 012 428 9111 (sentrale besprekings); reservations@sanparks.org

Afstand na Twee Rivieren: 158 km (4½ uur se ry).

GPS: S25.421411 E20.597278

Ry & SleepDie swembad is langs die eerste kampdeel en soortgelyk aan die een by Mata Mata.

Nossob
Adéle en Jasper Dreyer en hulle seun, Josua, kom van Port Elizabeth en kamp met hulle 2007 Toyota Hilux V6 4.0 met ’n daktent op hulle RhinoCab-kappie asook ’n koepeltent.

“As gesin het ons die eerste keer in 2013 in die Kgalagadi kom kamp. Ons dogter, Dominique, was ook saam en ons het ’n draai gemaak by al drie die kampe. Sedert 2015 kamp ons elke Desember hier. Dit voel of die mense wat by Nossob kamp, langer staan as by die ander kampe.”

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook