MET DONDERWEER LATER. ’n Laatsomerreënbui trek deur die Visriviervallei suid van Cradock. Hierdie foto is geneem van die Tarkapas af op pad na die plaas Blomfontein, en kyk uit oor die Mortimeromgewing.

Dirkie Saad is nie in sy kantoor op Cradock nie, maar iemand gee sy nommer en ek bel hom uit mý “kantoor” – die binneruim van Weg se Duster. Die saak is reg, laat weet Dirkie.

Ek ry oor die Visrivier en draai by die treinstasie suid met ’n teerpad wat verby besproeiingsplase loop totdat die teer ophou net anderkant wat oor is van Halesowen se stasiegeboue.

Dan sien ek die afdraai na Buffelshoek Dirosie Lodge. “Dirosie” is ’n kombinasie van Dirkie en sy vrou, Rosie, se name. Cradock se boere koop onder meer saad by Dirkie, vandaar die bynaam Dirkie Saad – sy van is eintlik Visser.

Hy het die plaas Buffelshoek vier jaar gelede gekoop.

“Die eerste jaar het ons net draad gespan en pad gebou,” vertel hy nadat ons blad geskud het.

Nou is hier selfsorgkamers, ’n ruim restaurant (die geliefde Cradock-sjef Pieter de Kock kook deesdae hier), trouplek én ’n rugbyveld.

Die Cradockers Abigail Duvenhage en Fanie Viviers kyk van Buffelskop af uit in die rigting van die Visriviervallei.

Die rugbyveld se gras moet nog uitgroei (gelukkig is saad nie ’n probleem nie) en die pale moet nog geplant word.

Dirkie is ’n groot aanhanger van die plaaslike landbouskool, Marlow, en sien in die toekoms dat spanbounaweke hier gehou word. Hier’s ’n groep gaste wat teen Buffelskop wil uitry om die uitsig te geniet.

Die Suid-Afrikaanse skrywer Olive Schreiner, bekend om haar boek The Story of an African Farm (1883) en haar verset teen die Britse imperiale beleid rondom die aanbreek van die 20ste eeu, lê begrawe in ’n klipsarkofaag bo-op Buffelskop.

Ons klein konvooi bakkies klim van die valleivloer teen die netjiese bergpad uit. Die Oos-Kaap het deesdae só baie wild dat jy lankal nie meer Krugerwildtuin toe hoef te ry as jy ’n kameelperd wil sien nie.

Halfpad na bo sien ons wraggies Dirkie se paar kameelperde, wat op die kalerige berghang soos vuurtorings uitstaan. (Jy hoef ook nie Suid-Amerika te besoek om ’n alpakka of llama te sien nie – Dirkie het ’n paar van elk op die plaas.) Waar die pad eindig – nog sowat 500 m duskant waar die igloe-agtige sarkofaag staan – is Dirkie besig om ’n “restaurant” te bou.

Die Oos-Kaap het deesdae só baie wild dat jy lankal nie meer Krugerwildtuin toe hoef te ry as jy ’n kameelperd wil sien nie.

Hy lag self vir sy ambisieuse plan. Hy wil graag van tyd tot tyd mense hier bo kan onthaal. Ek gaan staan op die rand van die plato’tjie. Oral rondom my lê ’n landskap waarmee ek vertroud is – ek is op Cradock gebore.

Voor my, na die ooste toe, lê die Tarka-wyk in die verte. Ons plaas lê dáár iewers in ’n kloof versteek. Die N10 – net anderkant die Visrivier – was die pad waarmee ons skool toe gery het, Somerset-Oos toe.

Maar tog wonder ek: Ken ek regtig my eie agterplaas? Dis wat ek padlangs wil uitvind oor die volgende paar dae.

Kom trou in die Karoo

Van Dirkie-hulle af volg ek die R390-grondpad verder suidwaarts. Hierdie roete loop parallel met die Visrivier tussen Cradock en Kookhuis en is ’n goeie alternatief as jy nie die N10 wil ry nie.

Mortimer is ’n plaasgemeenskappie – hier staan nog ’n paar geboue, selfs ’n koöperasie. Net anderkant die dorp draai ek berg-in en verlaat die vrugbare Visriviervallei. Ek hou stil en klim uit om foto’s te neem.

Later kom ’n bakkie verby – dis Lani Lombard, eienaar van True Living (ook bekend as Lani’s Farm Kitchen), ’n gewilde eetplek op Cradock. Ons gesels vinnig en dan ry sy voort dorp se kant toe – hulle plaas is verder op die pad.

Toe ek klein was, het ’n boer dalk een keer per week dorp toe gery. Deesdae het baie boere, en veral boervroue, ook besighede op die dorp, en hulle pendel gemaklik tussen dorp en plaas.

Die Tarkapas doem voor die Duster op. ’n Laatsomerdonderstorm (dis Maartmaand) trek deur die vallei agter my. Ek hou bo in die pas stil en hou die storm dop. Dit lyk of Dirkie reën kry.

Die bui trek van wes na oos, daar in die rigting van die Arthurmeer (dis eintlik net ’n dam) – my ma kry dalk ook nou-nou reën op die plaas. ’n Entjie verder draai ek in by Blomfontein: Sowat 4 000 roosbome pronk in die tuin wat só groot is dit voel soos ’n park in ’n dorp.

“Ek is mal daaroor om met rose te werk,” vertel Reneé Schoeman. “Dit is my sielskos.”

Dit is net wanneer ’n mens siel tot jou daaglikse arbeid voeg dat jy met iets soos Blomfontein vorendag kom. Dié trouvenue het vinnig ontwikkel tot een van die bekendstes in die Oos-Kaap.

Reneé en Ben Schoeman, Blomfontein Reneé: “Ek geniet ons gaste as hulle so sit en kuier op ’n trounaweek. Maar wanneer hulle weg is, geniet ek weer die stilte. Baie oggende staan ek op en sit lank op die stoep met ’n koppie koffie om daai stilte te geniet.”

Byna 30 troues word jaarliks hier gehou, met tussenin ook ’n paar konferensies. Hier is blyplek vir al die gaste, ’n groot onthaalsaal, ’n kerkie vir die jawoord, tuine en grasperke vir kuier, koedoes en njalas in ’n aangrensende kamp waaroor gaste kan oe en aa.

“Jy ry tot hier, en dan ry jy nie weer nie,” som Reneé dit op.

Toevallig is die Schoemans se seun, Paul, ook tuis. Paul, beter bekend as Tier, is ’n losvoorspeler vir die Cheetahs.

Hulle het ’n kort pouse in hulle Pro14-toerprogram, en nou kom geniet hy ’n bietjie die veld. Sedert ek ’n kind was, het boerdery verander. As jy vandag ’n suksesvolle boer wil wees, moet jy verskeie plase besit of huur – en jou boerdery afwissel.

Jy kort besproeiing sodat jy lusern kan aanplant, pekanneute as jy die water het, dalk ook volstruise grootmaak en dan nog skaap boer, én angoras vir wanneer die sybokhaarprys goed is, én ’n beesplaas iewers in die berge waar die jakkalse die skape te veel roei. Of jy kan ’n trouvenue begin, soos Reneé en haar man, Ben.

Dit was ’n dapper stap, maar dit wys jou wat kan gebeur as jy “ja” sê vir jousélf.

Van klowe en berge

Vroegdag ry ek saam met Ben en Paul uit teen ’n bergpad: koedoes, rooiribbokke, vlakvarke.

Ben ken die veld: Dronkgras, vingergras, aarbossie, terpentyngras, kapokbossie. Van bo in die berg maak nuwe klowe oop. Hy wys waarheen ek vandag beplan om te ry, waar Witmoskloof se pad loop; in die verte is die bome bo-op Bosberg (waaragter Somerset-Oos skuil) sigbaar.

Als hierdie kant toe is Swaershoek.

Die berge hier het baie name. Daar by Mortimer is dit die Gannahoekberg. Wes van die Swaershoek is die Bankberg. Suid daarvan Bruintjieshoogte, verder Coetzeesberg, Bouwershoekberg, Tandjiesberg.

Dan begin die Sneeubergreeks. Dit krul met ’n wye veeg van naby Graaff-Reinet af noordwaarts, oor die Wapadsbergpas en dan wes na waar die spits van die Kompasberg oor Nieu-Bethesda waghou. Tussen die voue van al hierdie berge lê klowe. Wanneer jy ’n kloof binnery en die berge begin om jou toemaak, is dit asof jy ’n geheime wêreld binnery.

Die natuur skuif nader. Jy kan jou eie eggo hoor as jy roep. Van Blomfontein af ry ek klooflangs. Die pad raak smaller, verby Lani-hulle se plaas. Ek kry haar seun Louwrence en sy vrou, Jeanette, langs die pad waar hulle besig is om ’n angorabok uit ’n stuk doringdraad te bevry. Nou en dan maak ek ’n hek oop. Weerlig knal naby en ek draf vinnig terug kar toe.

Wanneer jy ’n kloof binnery en die berge begin om jou toemaak, is dit asof jy ’n geheime wêreld binnery.

’n Paar los druppels val. Die lug ruik na stof, ysterklip wat afkoel, en grond (en so ’n bietjie dassiepiepie hier tussen die stapels).

Ek kom by nog ’n plaaswerf aan, uitgelê met terrasse, tipies van hierdie bergplase. Voor die huis staan jakarandas, en eenkant olyfbome.

Anton en Katrina Nel boer op Witmoskloof met angoras, merino’s en vleisbeeste. (Hulle bied ook akkommodasie in ossewaens)

Hulle was al in 1991 gekys toe ons saam op skool was by Gill-kollege op Somerset-Oos. In 2000 het hulle getrou en het nou twee jong kinders. Ons het mekaar lanklaas gesien, en omdat dit middagete is, nooi hulle my om saam te eet, om ’n geelhouttafel wat Anton se ouma s’n was.

’n Smous het dit destyds per wa kom aflewer. Vandag se boere hoef nie meer te wag vir ’n smous om goed te kom aflaai nie. Almal het bakkies en kan binne ure in Port Elizabeth wees.

Met die internet is niks buite bereik nie. Jy neem ’n foto van ’n spilpunt-onderdeel en WhatsApp dit na die besproeiingsplek op die dorp om te hoor of hulle só een het. Ná ete mik ek vir die hart van Swaershoek.

Die bordjie is onleesbaar geroes, maar die padkaart sê dis die Tarka Botha-pas. Dit is ’n agterpad wat enige Weg-leser se petrolpedaal-tone sal laat krul. Dis spekboom en euphorbia, klipstapel en afgrond. Ek sien ’n duiker, ’n strepie springbok en bloukraanvoëls. My bestemming is Grootvlakte, tuiste van Jac en Rina Jordaan, boerbokboere.

Jac was op sy dag ’n woelige skrumskakel. Sy arm is hoeka in ’n draagband – ’n ou rugbybesering wat op 40 weer kom spook het.

GEBOU OM TE HOU. Jac Jordaan in ’n ou gebou (lank gelede was hier ’n polisiebuitepos) op die plaas Klip­kraal, in die Swaershoekdeel van die distrik Somerset-Oos.

Jac wil my ’n ou Jordaan-familiegraf gaan wys van die voorvader van al die “swaers” van Swaershoek. Dis op die buurplaas Klipkraal. Weer ry ons die berge in. Op Klipkraal gesels Jac met die plaas se enigste inwoner, Day Sargeant, ’n veewagter.

“Hoe lyk dit in Uil se Kloof?” vra Jac. “Hy’t ook ’n skaap,” antwoord Day.

“En Spitskop?”

“Spitskop is baie mooi nou.”

Day ken dié klowe soos g’n ander mens nie. Jac het verskeie stukke grond en maak staat op die oë en ore van sy werkers en plaasbestuurders om ’n vinger op die pols van sy boerdery te hou.

Ons kom tot stilstand voor die graf van Paul Abraham Jordaan (1863-1913) en sy vrou, Maria Aletta Catherina (van Niekerk) Jordaan (1866-1925).

Hulle het ses dogters en vier seuns gehad. Toe almal in die streek met ander families begin trou, het die storie begin loop dat almal in daardie hoek swaers is – vandaar die naam Swaershoek.

Facebook en Olof is Dubai toe

Ek slaap die aand in Schoongesicht se plaashuis, Jac-hulle se selfsorgplek wat ’n entjie verder in die pad is van hulle woonhuis op Grootvlakte. (Nog Jordaans, Tollie en Karen, het blyplek op ’n plaas langsaan wat ook Grootvlakte genoem word – sien verblyfgids.)

Ná ontbyt ry ek na die R63-teerpad en draai dan regs in die rigting van Pearston. Jac het ook grond naby Pearston en hy is al vooruit soontoe. Hy moet dringend 522 boerbokke Kuruman toe stuur en soek nou geskikte bokke uit.

Die mark vir goeie gehalte boerbokke is groot. Jac-hulle kan nie voorbly nie. “Net nou die dag email iemand uit Rusland en vra vir 14 000 boerbokke!” vertel hy. “Suid-Afrikaners, Australiërs en Nieu-Seelanders eet skaap, maar die res van die wêreld eet bok.”

Boerbokke in die kraal op Wilgerfontein, Pearston.

Op die plaas Wilgerfontein aangekom, kry ek vir Jac, Bennie du Randt (plaasbestuurder) en Johnny Henderson (’n onafhanklike inspekteur van die SA Boerboktelersvereniging) saam met ’n span werkers (en ’n skaaphond en ’n kat) in die kraal.

Johnny help besluit watter bokke kry ’n kaartjie Kuruman toe. Hy kyk na die diere met die kritiese oog van beoordelaars wat na die roetines van Olimpiese gimnaste kyk.

“Daai twee,” sê hy, en die werkers spring om die gekose twee te vang. “Dié een het ’n mooi nekaansluiting.”

“Dis Stallone se broer se dogter,” sê Jac.

Teen hierdie tyd weet ek waarvan hy praat: Stallone was een van sy top-stoetramme. Jac se ramme het name soos Facebook, Instagram (verwant aan mekaar), Olof en Klipdrift (ook verwant).

“Facebook en Olof is Dubai toe,” verduidelik hy. “Maar Instagram is dood.”

Cowgirls in die Karoo

Noord van Graaff-Reinet draai ek af op die Erasmuskloofpad. Ek het seker al honderd keer hier verby gery, maar vandag is wraggies die eerste keer dat ek tyd het om te kyk wat op dié pad aangaan.

Teen die hange staan spekboom. ’n Springbok-windpomp. Die plaas Broederstroom. Aalwyne so hoog soos kameelperde. Dassies oor die pad. By Nuweland kom ’n boer op ’n motorfiets van voor af.

Hy hou sy breërandhoed met een hand vas terwyl hy ry. Sy snor en kraaghemp wapper in die wind. Dan ’n plaas met een van die mooiste name in die land: Opreisfontein.

Die pad klim hoër, voor my troon die Nardousberg uit – as dit in die winter hier rond kapok, dan bly die wit die langste lê teen die skaduhang van Nardousberg. Ek slaap vanaand by Waterval Farmstay, waar Ansie Malherbe en haar honde, kat en meerkat genaamd Stinkie (“om ’n rede”) my verwelkom en na my huisie wys.

TUIS. “Dis vir my ’n voorreg om weer op my geboorteplaas te kon kom bly,” vertel Ansie Malherbe van Waterval, Graaff-Reinet. “Ook om my kinders hier groot te maak. Ek geniet die vryheid hier. En met ons gasteplaas is dit nou vir my lekker om dit met ander mense te deel."

Laatmiddag stap ek die halwe kilometer kloof-op na die waterval wat die plaas sy naam gee. Vandag loop net ’n dun straal water oor die enorme klipbank. Ek gaan lê op my rug teen die aarde, en luister na die suidewind wat deur die populiere roer terwyl wolke bo my wapper.

Dié rustigheid is die beste ding van ’n plaasvakansie. Kies ’n kloof, enige kloof, en jy gaan jou vrede daar vind.

Die Gryshuisie by Waterval Farmstay, Graaff-Reinet.

Geen van die plase wat ek sover besoek het, is wat jy ’n halwe eeu gelede as ’n tipiese boerderyopset sou beskou nie.

Op Buffelshoek is ’n rugbyveld; Blomfontein verbind mense in die eg; die Jordaans van Swaershoek gesels met Russe op e-pos; en op Waterval doen Ansie en haar man, Johan, dinge ook anders.

Johan is nie nou hier nie. Hy werk soms elders as ’n politiekerisikokonsultant. En Ansie het ’n doktorsgraad in die geskiedenis – nie wat jy verwag Meatmaster-boere diep in die berge op hulle visitekaartjies sou skryf nie.

My volgende bestemming is ook ongewoon: Karoo Ranching. Ek het hulle ’n ruk gelede op Instagram raakgesien: Koel foto’s van boere aangetrek soos cowboys.

Ek verlaat Waterval, en op pad uit sien ek ’n waaierstertmeerkat, dan twee kolganse en bruineende op ’n plas water, en later twee bloukraanvoëls wat omkyk-omkyk wegstap. Padlangs staan elke veldblom wat kan in blom.

Ek bereik die bopunt van ’n naamlose pas teen die skouer van Nardousberg, hou stil, klim uit. ’n Kloof agter my en ’n kloof voor waarin die pad nou afdaal. Dit het gereën – soms ry ek deur plasse, en later het die pad só verspoel dat ek eers moet pad bou om die Duster oor die terrein te kry.

Padlangs staan elke veldblom wat kan in blom.

Ek bereik Letskraalstasie en draai links af: nou is die pad rofweg parallel met die treinspoor (wat van Middelburg se kant af Graaff-Reinet toe loop); albei is ingedruk in dieselfde kloof as die boloop van die Sondagsrivier.

Julie Truter van Karoo Ranching het bestuursrekenkunde op Stellenbosch gestudeer. Ná ’n ruk in Kanada het sy in Suid-Afrika kom werk en haar eie maatskappy begin.

“Maar soos die jare aangestap het, het ’n konflik binne my begin woed,” vertel sy op Elandskloof se stoep. “Ek was ’n plattelandse meisie wat uit die sakewêreld wou ontsnap. My pa, Jimmy, wat sy hele lewe lank al boer, speel ’n groot rol in my lewe. My broer, Andrew, boer ook. Hierdie plaas is eintlik my ma, Dickie, s’n. In 2014 het ek Elandskloof se plaaswerf begin huur. Ek het die geboue begin regmaak en Karoo Ranching begin.”

“Ek ‘ly’ aan ernstige optimisme, en my idee met Karoo Ranching is om dit as platform te gebruik om mense se persepsie van die boerderybedryf in Suid-Afrika te verander. Die stereotipes van boere lok nie nuwe mense na die beroep nie.”

GEROEP DEUR ’N DROOM. Julie Truter van Karoo Ranching, by haar pa, Jimmy, op die plaas Elandskloof, Graaff-Reinet. Julie het plaas toe gekom ná ’n droom: “Ek het gedroom ek het net 99 dae oor om te leef. Dit was ontnugterend, en ek moes myself vra: As dit die geval is, wat wil ek met my oorblywende dae doen? My antwoord was eenvoudig: Ek wil boer.”

Vandag doen Karoo Ranching ’n hand vol dinge: hulle hou ’n filmfees waar fotograwe en enige belangstellendes ‘cowboys’ op perde kan afneem terwyl hulle skape of beeste bymekaar maak.

Hulle hou ook spanbousessies vir maatskappye. “As jy hier aankom, mag jy nie brands dra nie. Niks se ge-‘Nike’ groot op jou T-hemp nie. Geen tekkies nie. Jy moet die régte klere dra. ’n Cowboy-hoed. Stewels. Op dag een leer ons jou dat die perd jou nie gaan doodmaak nie. Teen dag drie is jy in die kraal en leer hoe om ’n skaap te vang...”

Die laaste kloof Van Elandskloof af volg ek die grondpad terug teer toe. Ek vat die N9 noord en draai dan oos op die R61. Ek ken hierdie stuk pad baie goed, want dis my gereelde roete tussen Cradock en Kaapstad.

Wapadsberg oor, dan verby wild- en veeplase. Blesbokke, dalk selfs ’n swartwitpens. Wit, swart én gewone springbokke. Net voor die Bergkwagga- nasionale park draai ek af op die Samenkomstpad. Ek ry tot waar die pad by Groot-Samenkomst verdeel, en volg die vurk na links in die rigting van die Iceberg Lodge.

Hier is oral Jordaans, maar hulle is, anders as Jac op Swaershoek, merinoboere. Japie (eintlik bekend as “Japs” omdat sy pa ook Japie is) en sy vrou, Nicola, bly op Grootkom, en dis hier waar hulle ’n onbewoonde plaashuis in die Iceberg Lodge omskep het.

STOFPADRUITER. Arnico McGuire op sy perd, Barracks, afgeneem op die plaas Grootkom, Cradock-distrik.

Die aand braai ons saam (skaapstertjies vir voorgereg!), en vroegdag die volgende oggend ry ek ’n draai saam met Japs. Ons gaan kyk na ’n plek waar hulle dalk eendag ’n kampplek wil inrig.

Hulle is die nuwe generasie boere, en vol planne. Met elke boerderygeslag wat kom en gaan, verander die speelveld. Honderd jaar gelede het niemand bakkies of trekkers gehad nie.

Twintig jaar gelede het niemand internet of WhatsApp gehad nie. Die mense van die platteland pas aan – jy móét, as jy wil oorleef in ’n wêreld wat onder jou voete verander.

Daarom maak almal ’n plan B, C of D – en ook vir hulle kinders se toekoms, want die volgende geslag is reeds hier: Nicola en Japs se seuntjie, Zeiss, kyk saam skape. Oorkant die berg by Grootvlakte is Jac en Rina ook onlangs ’n seuntjie, Aldou, ryker.

Maar onderliggend aan dit alles bly die eenvoudige waarheid dat die boere hier wíl wees.

Hulle is lief vir die veld, die diere, die leefstyl. “Ek probeer als sien uit die perspektief van die berge,” het Julie Truter gesê. “Ek is ’n klein miertjie, en eendag gaan ek skielik nie meer hier wees nie.”

Weet voor jy waai

Die meeste van die blyplekke is op grondpaaie wat rybaar is met enige voertuig (enkele plekke is reg langs die teerpad). Bel vooraf om te hoor hoe die paaie lyk.

Stuur ’n WhatsApp as jy iemand nie op sy selfoonnommer in die hande kry nie – ontvangs in die klowe is nie goed nie, maar baie boere het Wi-Fi.

Sommige plekke laat troeteldiere toe – neem in ag dat jy op ’n plaas by mak én wilde diere gaan wees; jou hond moet sulke dinge gewoond wees, anders moet hy tuis bly.

BLY HIER

Die grondpad tussen Waterval Farmstay en Letskraal, distrik Graaff-Reinet.

Buffelshoek Dirosie Lodge: Oornag in selfsorgeenhede teen R350 p.p. wat deel. Halfprys vir kinders jonger as 12 jaar. ’n Draggie braaihout is ingesluit by die prys. Groepe van 10 of meer kan ontbyt bespreek.

Doen navraag oor hulle Sondagmiddagetes (“hompe vleis” word belowe), asook die “restaurant” bo-op Buffelskop waar etes per geleentheid geniet kan word. Troeteldiere aan ’n leiband mag kom. Kontak: buffelshoekdirosielodge.co.za; 060 433 4797

Witmos Oxwagon Camp: Ja, hier slaap jy in ’n ossewa! Hier is 10 ossewaens met slaapplek vir 2 mense elk (selfsorg). Dit kos R1 200 p.n. vir die eerste 2 mense (in een wa), en daarna R400 per ekstra ossewa.

Jy bespreek die kamp eksklusief vir jou groep. Die prys sluit hout in. Geen elektrisiteit nie. Troeteldiere welkom. Kontak: info@oxwagoncamp.co.za; 073 880 0263 (Katrina); 048 886 0630

Mount Marlow Lodge: Die De Wet-familie woon in een van Swaershoek se mooiste hoeke, en hierdie ou plaashuis is die soort plek waar jy jou slap gaan ontspan.

Dit kos R450 p.p. (selfsorg), wat die dienste van ’n skoonmaker insluit. Ry bergfiets en vang swartbaars in die dam. Reël vooraf as jy vir Snippie wil bring – en net as hy of sy maniere het. Kontak: info@asafaris.co.za; 048 886 0668 (Cameron/Cindy)

Mount Marlow

Schoongesicht: Dié plaashuis kan altesame 12 mense huisves en kos R300 p.p. (selfsorg). Hulle is veral gewild in die winter onder biltongjagters, maar ook motorfietsgroepe wat Swaershoek se grondpaaie kom ry. 

Bestel vooraf braaipakke. Gesinne is natuurlik ook welkom – en jou troeteldier ook. Kontak: admin@jacjordaanboerdery.co.za; 073 856 7179 (Jac)

Grootvlakte Lodge: Dit kos R950 p.p.p.n. met aandete en ontbyt ingesluit. In die jagtershuis en en suite-chalets kan Grootvlakte sowat 20 mense huisves. Troeteldiere is welkom. Kontak: tollie@isat.co.za; 042 243 2157; 082 396 6495 (Tollie/Karen)

Samara- private wildreservaat: Hierdie spogreservaat tussen Pearston en Graaff-Reinet bied luukse verblyf vanaf R2 825 p.p. wat deel. Dit sluit al jou etes in, asook twee aktiwiteite per dag. Gaan kyk op die webwerf vir die pryse in die spitsseisoen. Parktarief betaalbaar. Kontak: samara.co.za; 031 262 0324

Melrose Guest Farm: Reg langs die teerpad en ’n ideale oornagplek in dié streek as jy dalk van die binneland af see toe ry en die donker jou inhaal. Selfsorg kos R400 p.p. wat deel in die Spandaukop-eenheid (plek vir 4) en R650 p.p. wat deel (ontbyt ingesluit) in die ander eenhede. Kinders jonger as 12 betaal R550 vir bed en ontbyt. Aandete (bespreek vooraf): R200 per kop. Kontak: melroseguestfarm.co.za; 082 854 8156 (Hanfi)

Waterval Farmstay: Hier is vier unieke selfsorghuisies: Gryshuisie (plek vir 5, R950 p.n. vir die eenheid), Paddadam (plek vir 2, R650 p.n.), Herdershuisie (plek vir 5, R750 p.n.) en Schoemanshuisie (plek vir 4, R850 p.n.).

Elkeen bied iets anders: Schoemans is ’n ou plaashuis uit die 1800’s (’n interessante storie hier – vra dat Ansie, die eienaar, die ou koerantknipsel vir jou wys); Gryshuisie was lank terug onder meer ’n hoenderhok en plaasskool; die Herdershuisie was ’n werkershuis; en Paddam is ’n romantiese plekkie soos min. Jy kry afslag as jy bespreek vir 3 of meer aande. Hier is kort staproetes en perde om te ry. Wi-Fi beskikbaar by die opstal. Kontak: watervalfarmstay.co.za; 049 840 0050

Waterval Farmstay

Buccara Wildlife Reserve: Dit was voorheen Clifton Estate. Hier is drie luukse lodges en kos vanaf R950 p.p. wat deel, met ontbyt. Aandete: R250 p.p. Middagete: R150 p.p. Selfsorg: R850 p.p. (BTW is nie ingesluit by hierdie pryse nie.) Wildritte is beskikbaar. Kontak: buccara-africa.com; 060 555 5548 (Chris)

Die Ramstal & Opreisfontein: Die De Klerks besit die plaas Uplands waar Die Ramstal geleë is, en ook Opreisfontein, reg langsaan. Verblyf is in ’n kombinasie van losstaande huisies of kamers in ’n groter huis. Jy kan tuisgaan by die een of die ander – dit kos R300 p.p. (selfsorg).

Motorfietsryers slaap gereeld hier wanneer hulle die Erasmuskloofpad kom ry. Jy kan vooraf reël vir etes of braaipakke. Kontak: opreisfontein@blueskysa.com; 082 623 9374 (Adri)

Letskraal: Hierdie geskiedkundige opstal is meer as 200 jaar oud en was tot in 1838 die Voortrekkerleier Andries Pretorius se woning. Selfsorg teen R350 p.p.p.n. (as julle 3 of meer mense is) of R550 p.p.p.n. (vir 2 mense). Hier is slaapplek vir 7 mense. ’n Minimumverblyf van 3 nagte is verpligtend vir ’n bespreking. Bring ’n flits of drie saam, want hier’s geen krag nie. Troeteldiere is welkom. Kontak: letskraal.co.za; 078 482 2387 (Johan/Rina)

Glen Harry-wildreservaat: Hierdie privaatreservaat bied luukse verblyf teen R2 250 p.p wat deel met al jou maaltye, sekere drankies en een wildrit per dag ingesluit. Jy kan stap of bergfietsry. Kontak: kat@glenharrygamereserve.com

Denmark: Dié gasteplaas van die Van Heerdens is reg langs die R61-teerpad en ’n perfekte oornagplek as jy nie ver grondpad wil ry nie. Jy kan ook maklik dagbesoeke na die Bergkwagga- nasionale park doen. Selfsorgkamers teen R250 p.p. (doen navraag oor afslag vir klein kinders), backpackerstyl-slaapplek teen R150 p.p. en kamp teen R100 p.p. Hier’s ’n plaasdam vir swem, braaiplek en gratis internet. Reël vooraf as jy jou troeteldier wil saambring. Kontak: melster@igen.co.za; 082 044 8955 (André/Nicolene)

Iceberg Lodge: Hierdie selfsorghuis kan tot 13 mense huisves en kos R350 p.p.p.n. Jy kan vooraf etes bespreek, asook braaipakke (hier’s ’n ordentlike vuurmaakplek waar jy met jou rug uit die wind kan sit). Soos die naam aandui, raak dit koud in die winter – as jy gelukkig is, sneeu dit selfs! Troeteldiere is welkom. Kontak: iceberg1431lodge@gmail.com; 048 881 3183 (Japs/Nicola)

TROU HIER

Blomfontein

Blomfontein

Blomfontein is uitsluitlik vir gesellighede soos troues en konferensies, maar as jy ’n groot groep bymekaarkry vir iets soos ’n 50ste verjaarsdagmakietie, is jy welkom. Kontak:blomfontein.co.za; 076 639 9311 (Reneé)

VERBREED JOU HORISONNE HIER

Karoo Ranching: Dit is nie oop vir oornagbesoekers nie, maar wel vir groepe van minstens 10 mense (maksimum 20) wat vir 2 of meer nagte bespreek.

Op die kalender vir 2018: Filmfees (13-17 Junie), Perdrysafari (16-19 Augustus), Beestrek (18-21 Oktober). Kontak: karooranching.co.za; 076 984 4695 (Julie)

Nog blyplekke by graaffreinet.co.za, tuishuise.co.za (Cradock); cradock-info.co.za; mycradock.co.za; somerset-east.co.za (sluit Pearston- en Kookhuis-distrik in).