Woorde: Sophia van Taak, Toast Coetzer, Sam Reinders, Gerda Engelbrecht, Leon Botha en Esma Marnewick

Interaktiewe kaart: Klik op die ikoon om die besonderhede van elke besienswaardigheid, doending, eet- en slaapplek te sien; asook die roete wat jy kan volg.

Dis moeilik om te sê waar presies begin en eindig die Groot-Karoo. Begin dit by Touwsrivier of eers by Laingsburg? En waar is die laaste dorp? Pofadder, Colesberg, Cradock?

“Man, dis alles behalwe die Klein-Karoo,” het iemand eenkeer gesê. Hoe dit ook al sy, die Groot-Karoo is ’n gróót plek. Tog, behalwe vir die SALT-teleskoop en Matjiesfontein is hier nie veel tipiese toeriste-attraksies nie. Dikwels is ’n reis deur die Karoo ’n reis na binne. ’n Mens ry daar rond op soek na die plaas waar jou oumagrootjie gebly het of om te kyk of die skooltjie nog staan waarheen jou pa kaalvoet gestap het... Baie Suid-Afrikaners het iewers langs die pad ’n verbintenis met dié gestroopte landskap en sy gasvrye mense.

Dikwels is ’n reis deur die Karoo ’n reis na binne.

Hier is ’n 11 dae lange reisplan om baie meer as net jouself te vind; maak jou reis langer of korter. Gesels met die mense, koop lamsvleis-pies en drink moerkoffie. En onthou om gereeld stil te hou langs die grondpad. Luister na die getjingel van ’n windpomp of die veraf geblêr van ’n trop skaap. Kyk hoe die koppies en berge bruin-blou-pers raak in die verte. Wag totdat die Groot-Karoo in jou hart en in jou kop kom lê. En dan eers ry jy verder. 

DAG 1&2: Matjiesfontein, Laingsburg en Prins Albert

Matjiesfontein is een van daai plekkies waaroor ’n mens wonder wanneer jy daar verbyskiet, maar selde die moeite doen om by in te loer. Maar vandag gaan jy jou flikker aansit en indraai.

Die Matjiesfonteinstasie se ou hotel en omliggende geboue lê soos ’n repie Victoriaanse kant teen die Karoo-bossies. Die dorpie is net een straat lank, en daarom kan jy dit maklik ná ’n sny melktert by die Koffiehuis of ’n pub lunch by die Laird’s Arms (daagliks van 12 nm. tot 2.30 nm.) te voet bekyk.

Matjiesfonteinstasie

Die Skot James Logan het sy Lord Milner Hotel in 1900 geopen as ’n gesondheidsoord vir veral mense met longkwale wat in die droë Karoo-lug wou kom herstel (soos die skrywer Olive Schreiner).

Nóg gastehuise en -kamers is oor die jare heen aangebou en wanneer ’n mens oorslaap, voel dit asof jy op die stel rondloop van ’n fliek wat in die vorige eeu afspeel: Aan die vlagpaal wapper die Union Jack, en die ou straatlampe, rooi dubbeldekkerbus en broekiekantverandas herinner aan Londen.

Hier’s twee museums: Die Marie Rawdon-museum (genoem na die tweede eienaar, David Rawdon, se ma) in die ou stasiegebou bewaar artikels uit die koloniale era en in die motormuseum kan jy deur die ruite van karre soos ’n 1968 Chevrolet Caprice, ’n 1958 Jaguar MK8 en ’n 1938 Opel Olympia loer.

Terug op die N1-snelweg mik jy vir Laingsburg. Meer spesifiek: die Laingsburg-vloedmuseum. Geen Suid-Afrikaner wat oud genoeg is, sal dié natuurramp van 1981 vergeet nie. Maar jy begin eers werklik ’n idee kry van hoe skrikwekkend die belewenis vir die dorpsmense was wanneer jy deur die fotoalbums blaai, die feite oor die krag van water lees en met die museumkurator, Francis van Wyk, gesels – sy’ t self vir ure op ’n huis se dak gesit en bid dat die bruisende water moet sak.

Laingsburg

Francis kan jou vertel hoe omtrent elke gesin iemand verloor het, hoe die Laingsburgers jare lank in weermagtente en opslaanhuisies gewoon het, en hoe ’n gemeenskap sáám deur ’n onmenslike beproewing kom.

Jy gaan waarskynlik eers laatmiddag by jou blyplek op Prins Albert aankom. Pak af en neem ’n paar diep teue vars Karoo-lug.

Stap af met Kerkstraat (die hoofstraat) en kyk huise, draai in by die Swartberg Hotel se The Green Prince Gin Bar vir ’n G&T-skemerkelkie – vra vir Black Mountain of Six Dogs Gin – albei word gegeur met Karoo-plante.

Sit op die stoep en kyk hoe die dorpie sy vere regskud vir die aand. Sit aan vir ete by The Gallery-restaurant verder af in die straat – die spyskaart wissel na gelang van wat in seisoen is, maar hier sal altyd Karoo-lam in een of ander vorm wees. Anders kan julle huis toe mik en onder die sterre braai.

Swartbergpas, Prins Albert

Pak vroegoggend ’n warmfles met koffie en beskuit en mik vir die Swartbergpas. Jy kan die hele oggend deurbring op die 27 km lange pas met sy vele haarnaalddraaie. Van bo af het jy ’n uitsig oor die Karoo wat jy nêrens anders kry nie en jy het nie eens ’n 4x4 nodig nie – enige tjor sal dit maak, mits jy stadig ry (die fikses onder ons kan dit selfs met ’n fiets uittrap!)

Hou jou oë oop vir klipspringers en selfs ’n rooikat terwyl jy die skerp kinkels ry. Terug op die dorp kan jy mik vir The Sanctuary vir middagete onder die bome.

Hou jou oë oop vir klipspringers en selfs ’n rooikat terwyl jy die skerp kinkels ry.

Die Groot-Karoo lyk dalk na ’n vlakte vol “niks”, maar leer ken dié landskap van nader saam met Richard en Sue Milton-Dean van Renu Karoo. Die Deans (onderskeidelik ’n bekende voëlkenner en botanis) neem jou op ’n een tot twee uur lange ontdekkingsreis in die Wolwekraal-natuurreservaat buite die dorp: Leer hoe lyk melkbos, kraalaalwyn, doringvygies...

Prins Albert is dalk ’n klein dorp, maar dis ’n swaargewig as dit kom by restaurante: African Relish, Simply Saffron, The Real Food Company, Karoo Kombuis en Hendry’s Boulangerie bied almal smaaklike Karoo-cuisine.

Voor jy huis toe gaan om sterre te kyk, mik vir ’n vertoning by The Showroom. Dié art deco-teater met sy wêreldklas ontwerp, beligting en klank lyk of dit verdwaal het op pad Hollywood toe!

Hier’s altyd iets aan die gebeur – in die week wys hier films en oor naweke tree van Suid-Afrika se beste musikante (Valiant Swart, Rocco de Villiers...) hier op. Kyk voor julle vertrek wat skud by showroom theatre.co.za.

Vloedmuseum

Waar? Regoor die Shell Ultra City

Oop: Ma-Vr.: 8 vm.-4 nm.; Sa.: 9 vm.-12 nm.

023 551 1868

Swartberg Hotel: 023 5411 332; swartberghotel.co.za

The Gallery: 023 541 1197; princealbertgallery.co.za

The Sanctuary: 023 541 1114

The Showroom: 023 541 1563; showroomtheatre.co.za

Renu Karoo: 023 541 1828; renu-karoo.co.za (die stap kos vanaf R100 p.p. afhangend van hoe groot die groep is)

BLY HIER

Karoo Khaya

Karoo Khaya, Prins Albert

Dié vier selfsorgkothuise is op ’n kleinhoewe op die dorp. Wandel deur die groentetuin (ja, jy mag pluk vir aandete) en voer die ganse, bokke, hase en ander lede van die vrylopende plaasspannetjie. Kinders sal gaande wees oor die plek. Hier’s ’n klein plonspoel vir hetige somersdae en ’n gemeenskaplike braai-plek. En Tokkie, die worshond, is welkom.

Koste: Vanaf R390 p.p.p.n. 076 372 1666; karookhaya.co.za

Wolvekraal-gasteplaas

Dié gasteplaas is sowat 7 km buite die dorp langs die R407. Elkeen van die 4 kothuise, met slaapplek vir 2 tot 4 mense, het uitsigte oor die Swartberg. Die dekor is keurig en hier’s gawe ekstras: ’n dompelkoffiepot, kaggels en voëlsaad vir tuin-besoekers. Elkeen het ’n ruim boma en stewige houtvoorraad. Jou bure is stilte en sterre. Hier is ook fietsroetes vir beginners en tegniese trappers – vra hulle vir ’n kaart.

Koste: Vanaf R380 p.p.p.n. 072 177 0844; wolvekraal.co.za

Saterdagmarkie

Probeer dinge so beplan dat julle op ’n Saterdag hier is. Jy sal byna almal op die dorp ontmoet – van die plaaslike sjefs en polisie-inspekteur tot die Park Run-span (ja, hier’s een op Prins Albert).

Kry ’n koffie (The Sanctuary se koffiemasjien is hier), trek ’n stoel nader en maak vriende. Soek iets op The Thursday Group se witolifanttafel en koop stukkonfyt van die Weltevrede-plaas (en vars vye in seisoen), vars groente by Piet Pampoen en die beste pannekoeke (R5 elk) aan hierdie kant van die Limpopo by tannie Marie en oom Johan du Toit.

Oop: Die meeste aksie gebeur tussen 9 en 10.30 vm.

Waar? Dis langs die Fransie Pienaar-museum in Kerkstraat (ook ’n besoek werd). Op princealbert.org kry jy allerlei inligting en nog wat. Bespreek blyplek by hulle en kry 5% afslag.

Saterdagmarkie, Prins Albert

DAG 3: Karoo- nasionale park

Maak die koelsak vol lekkernye voordat julle vertrek. Loer in by Gay’s Guernsey Dairy in Kerkstraat vir komyngegeurde kaas en The Lazy Lizard vir ’n vars brood en by O for Olive vir olywe op die Swartrivierplaas langs die R353 op pad na die N1.

Die Karoo- nasionale park sit amper soos ’n voorstad van Beaufort-Wes net buite die dorp. Van die hek af ry jy ’n kilometer of wat met ’n teerpad tussen die rantjies deur tot by ’n klompie chalets en die kantoor.

Langs die kantoor is ’n aandenkingswinkel wat terselfdertyd ’n groentewinkel, slaghuis, drankwinkel, boekwinkel en bakkery in die kleine is. Dis oop van 7 vm.-8 nm.

’n Mens is geneig om altyd na die groter wild in ’n reservaat te soek, maar skilpaaie is omtrent ereburgers in dié geweste. Hier kom vyf skilpadspesies voor, wat dit die bewaringsgebied met die meeste soorte skilpaaie ter wêreld maak. Wees op die uitkyk vir die ploegskaarskilpad, die Karoopadloper en die knoppiesdopskilpad. In die park se kampplek sien ’n mens etlike van hierdie dopdiere.

Karoo- nasionale park

Pa’s en ma’s wat hulle kinders by die skilpaaie afneem en die kinders van die diere se rûe probeer afhou, is algemeen.

Hier is heelwat roetes wat ’n mens in jou motor kan verken. Een van die hoogtepunte is wel nie ’n dier nie, maar eerder ’n knap stukkie ingenieurswerk. Die Klipspringerpas teen die Nuweveldberg uit begin net duskant die kampplek. Dis ’n steil, smal teerpad met netjiese platklipstapels aan die afgrondkant. Kyk jy na die pad waar dit doer bo teen die berg oploop, smelt dit bykans met die omgewing saam.

Die pas is deel van ’n 45 km-sirkelroete. Slegs die pas is geteer en die res van die roete wissel van netjiese grond- tot klipperige pad.

Dié park huisves die meeste van die land se bedreigde bergkwaggas, maar jy sien net hier en daar een. Hulle is maar skugter. So ook die res van die wild. By die draaipunt van die sirkelroete is ’n braaiplek met sitplek en toilette. Braai ’n vinnige worsie vir boereworsrolle voordat julle verder ry.

Terug by die ruskamp kan julle gaan litte losmaak by die opelugfossielmuseum. Dis ’n sirkelstaproete van net 300 m op ’n gemesselde leiklippaadjie. Hier sien ’n mens van die fossieloorblyfsels van oergediertes wat in die omgewing voorgekom het. Dit is netjies in glaskaste uitgestal met ’n inligtings-bordjie langsaan.

Laat die kinders ná die stappie by die swembad los, steek ’n vuurtjie aan en kyk hoe die son die Karoo-koppies groet.

Gay’s Guernsey Dairy

Oop: Weeksdae: van 7-9 vm.; 10 vm.-12 nm. en 4-5.30 nm. Naweke van 7-10 vm. en 4-5.30 nm. 023 541 1274; gaysguernseydairy.com

O for Olive

073 120 1243; oforolive.co.za

Lazy Lizard

023 541 1379

BLY HIER

Karoo- nasionale park

Die meeste van die staanplekke in dié mooi kampterrein is langs mekaar in ’n groot sirkel rondom die ablusiegeriewe uitgelê – hier is ook ’n rolstoelvriendelike badkamer.

Die badkamers en waskamer is in ’n netjiese grasdakgebou, en al is die olyfgroen teëls oud, kan die badkamer nie skoner nie. Die selfsorgchalets lê weerskante van die kantoor met uitsigte oor die omliggende koppies.

Die swembad lê ’n entjie oos van die kantoor. As swem hoog op jou gesin se doenlysie is, maak seker jy bespreek een van die chalets naby (no. 25-28).

Koste

Kamp: vanaf R323 p.n. vir 2 mense, R89 per ekstra persoon, R45 per kind (slaapplek vir 6).

Selfsorgchalet: vanaf R1 428 p.n. vir 2 mense (ontbyt ingesluit), R404 per ekstra persoon, R202 per kind (slaapplek vir 4 en 6 mense).

023 415 2828/9 (parkkantoor); 012 428 9111 (besprekings); sanparks.org

FOSSIELROETE, KAROO- NASIONALE PARK

DAG 4: Loxton

Ry voordat julle die park verlaat die kort sirkelroete (sowat 17 km) verby Lammertjiesleegte. Halfpad is hier ’n swembad by die Bulkraal-piekniekplek waarin die kinders kan afkoel voordat julle die N1 tref.

Ry deur Beaufort-Wes en draai knap ná die Wagon Wheel Country Lodge links op die R381. Die pad klim oor 15 km deur ’n stel steil kinkels met die Moltenopas teen die Nuweveldberg uit. Hou jou oë op die pad; van die draaitjies is knap en die teerpad word ná ’n ent grondpad.

Die R381 tussen Beaufort-Wes en Loxton

Links van jou lê die park en op regterhand behoort jy die Gamkadam te kan uitmaak. Dié dam het lanklaas water gehad; gaan kyk hoe lyk die damwal van nader as jy tyd het.

Die pad slinger deur ’n mooi kloof met ’n paar driffies. Trek af by die piekniekplek en bekyk die wêreld om jou. Dié bene rek is nodig, want wanneer jy eers bo-op die Groot-Eskarp is, lê daar ’n byna pylreguit skof van sowat 80 km tot op Loxton voor.

Nou begin jy die Karoo vóél. Jou gedagtes gaan op toer tussen draadheinings, dor aarde en die mirakels van vetplantjies wat blom. Jy ry die Noord-Kaap binne, en laat die Wes-Kaap agter. Dan is jy op Loxton, met sy boomryke strate en leiwatervore. Jy stap Loxton gou-gou deur. In die middel is die kerk, die koöperasie (brandstof beskikbaar) en Die Rooi Granaat.

By laasgenoemde kan jy koffie drink, eet en aandenkings koop – dis die nieamptelike hoofkwartier van Loxton.

EET (EN BLY) HIER

Die Rooi Granaat

Jy kan maar net gaan sit: Hester van Wyk en haar bekwame span sorg vir die res. Die afval (voorgesit met roosterkoek) is gewild teen R85, maar ook die wildspastei (met rys, ingelegde kwepers, beetslaai en kerriebone) teen R125. Régtig honger? Bestel die Allegaartjie (R135): skaaptjop, boerewors, spek, eiers en tuisgebakte brood. Die restaurant het blyplek langsaan.

Koste: Vanaf R750 p.n. vir 2 mense. Die gesinskamer: R1 500 p.n. (slaapplek vir 4). Jou hond mag saamkom as jy die selfsorgeenheid bespreek.

Restaurant: Elke dag van 8 vm.-9 nm.

Waar? Dis op regterhand soos jy inry van Beaufort-Wes se kant af, net voor jy in die kerk vasry. 082 805 2982 (Hester); dierooigranaat@gmail.com; “Die Rooi Granaat” op Facebook

Jakhalsdans

’n Besonderse gasteplaas met luukshede soos DStv en (in een van die huise) lugreëling. Bestel maaltye of braaipakke (doen dit wanneer jy bespreek, of minstens vyf dae voor jou aankoms). Stap in die veld, ry fiets, ry perd of hengel in die dam (vra of die dam vol is).

Koste: Die Langhuis: vanaf R390 p.p. wat deel indien julle meer as drie mense is (plek vir tot 6). Ou Opstal en Skeerdershuis vanaf R690 p.p. wat deel.

Waar? 7 km buite Loxton langs die pad na Beaufort-Wes. 082 875 3339; 082 891 0481; jakhalsdans.co.za

DAG 5 & 6: Carnarvon-kontrei

Van Loxton af ry jy teerpad noordwaarts na Carnarvon. Die pad is stil – as jy gelukkig is, sien jy drie bakkies en een koerierwa. Wees op die uitkyk vir bleeksingvalke op die pale. Hulle is die bespieders van die Karoo. Hulle sien jou.

As jy vergeet het om op Loxton tenk vol te gooi, gaan draai op Carnarvon by die vulstasie in. Doen jou inkopies by die Spar, want jy gaan vir die volgende twee dae nie naby ’n winkel wees nie.

Indien dit ’n Vrydag of Saterdag is, eet middagete by Lord’s Kitchen – hulle is veral bekend vir hulle pizzas – waar anders kan jy smul aan ’n Karoo-lamspizza met babatamaties, babaspinasie, sampioene en lamsboud-blokkies in ’n taai roosmarynsous (R140). Dié plek is op ander dae slegs oop vir aandete.

Ry daarna met die R63 weswaarts uit die dorp. Volg dit vir 30 km en draai regs na Stuurmansfontein. Sowat 24 km se grondpad later bereik jy Pieter en Charmaine Botha se opstal waar jy inklok.

As jy reeds voel jy is nou ver in die wêreld, Kittie, gaan dit jou verstom om uit te vind dat jy nóg enkele kilometer verder eers Stuurmansfontein kry.

Die laaste paar kilometer is pure plaaspad, maar jy kan daar kom met ’n gewone kar (indien jy onseker is, los jou kar by die Bothas se opstal en hulle vat jou verder).

Stuurmansfontein se hoofopstal is ’n dubbeldoor-korbeelhuisie wat uit die laat 1700’s dateer. Omdat hier nie groot bome was waarvan die destydse pioniersboere planke kon saag nie, was die enigste boumateriaal klip – só het die unieke korbeel-boustyl ontstaan.

Jy slaap twee aande hier, want by Stuurmansfontein gaan jou ganse lyf tot stilstand kom. Gaan stap in die rivierloop verby murasies en soek rotstekeninge stroomaf. Vat aan klippe. Lê op ’n rotsplaat. Maak later vuur in die asbosskerm. Voel saans hoe die Melkweg op jou neerstuif.

BLY HIER:

Stuurmansfontein

Stuurmansfontein

Tussen die ruim korbeelhuis en die klipskuur daarnaas is hier slaapplek vir 8 mense. Hier is nie krag nie, maar wel gas vir warm water en die yskas. Lees saans jou boek by kerslig. Jy kan vooraf ’n piekniekmandjie by Charmaine bestel (R260 p.p.) as jy nie self kos ingepak het nie. Dit sluit vleis, brood en bykos in. Troeteldiere is welkom.

Koste R950 vir een tot twee persone, daarna is dit R350 p.p. ekstra. Kinders 4 jaar en jonger bly gratis.

Waar? 54 km buite die dorp, rigting Williston. 053 382 6097; stuurmansfontein@gmail.com

Joosteswerwe-gasteplaas

Op hierdie skaapplaas kan jy perd ry en rotskuns bekyk. Die groot plaashuis (slaapplek vir 10) kos R900 vir die eerste persoon, daarna R100 per ekstra persoon per nag.

Die Klip Kar Suite (geskik vir 2 volwassenes en 2 kinders) kos R600 vir die eerste persoon, en daarna R100 p.p. Jy kan ook kamp (met krag, 4 staanplekke): R450 p.n. vir 4 mense, daarna R100 p.p. ekstra (maksimum 6 per staanplek). Bring die hondekinders. Waar? Volg die R384-teerpad van Carnarvon af na Vosburg vir 43 km. Draai dan op grondpad vir nog 14 km. 

078 606 0706 (Marje); joosteswerwe@gmail.com

Lord Carnarvon-gastehuis

Dit word deur die mense van Lord’s Kitchen bedryf. Hier is vyf huise, almal netjies gerestoureer. Koste Dubbelkamers: vanaf R700 p.n. (met ontbyt)

Waar? Daniëlstraat 10

Kontak: 082 780 4209 (Pieter); lordcarnarvonguesthouse.co.za

DAG 7 & 8: Williston en Sutherland

Terug op die R63 hou jy wes vir 61 km en draai dan op die Bakensklip-grondpad. Hou vir sowat 14 km aan, tot by ’n T-aansluiting langs ’n baalstoor met rooi stutte en ’n sinkdak. Draai regs en ’n kilometer verder links by die plaas Langbaken. Kyk, nog ’n korbeelhuisie! En ook: jerseykoeie. In die Karóó?

Peter en Francy Schoeman boer hier en Francy is ’n kranige kaasmaker. Van haar kase is vroeër vanjaar by die SA Suiwelkampioenskapsbyeenkoms as topprodukte aangewys – jy gaan die kaasproe (R110 p.p.) baie geniet!

Onthou net om ’n paar dae voor die tyd ’n afspraak te maak. Van hier af is dit 30 km verder met dieselfde grondpad tot waar dit weer by die R63 aansluit en dan lê Williston net om die draai. Die R63 word Lutzstraat – kyk op ’n hoek op regterhand uit vir die restaurant Manna.

Kry ’n tafel op die stoep van waar jy die dorp se bedrywighede kan dophou, of binne onder die lugversorging. Die spyskaart is gróót en die porsies nog groter. Oorweeg gerus die lamskenkels (R155).

Gaan maak ná ete gou by Die Ark ’n draai om die Williston Mall te besoek – volg die aanwysers uit Lutzstraat. Die eienaars, Pieter en Elmarie Naudé, is kunstenaars en hulle eiendom is tjokvol kunswerke, ou motorwrakke, tuinbeddings en snuistery. Hier kan ’n mens sommer lank vashaak en alles van appelkosies en gemmerkoekies tot ’n laphoed en ’n draadkar koop!

Volg die R63 uit Williston en draai net ná die brug links op ‘n grondpad na Sutherland. Ná ’n paar dae van meestal teerpad ry, kan jy nou weer ’n slag die ruit afrol, jou elmboog laat uithang en in die truspieëltjie kyk hoe die stof agter jou kar uitdwarrel. Vat dit rustig en hou jou kamera gereed. Tussen hier en Sutherland lê sowat 130 km se mooi grondpad en fotogeleenthede.

Ná ’n paar dae van meestal teerpad ry, kan jy nou weer ’n slag die ruit afrol, jou elmboog laat uithang en in die truspieëltjie kyk hoe die stof agter jou kar uitdwarrel.

Sowat 3 km ná die afdraai kan jy uitkyk vir ’n heel ongewone plaasnaam: Winkelhaak. En 30 km verder wag nog ’n mooi foto – afhangend hoe jy die son vang: Hou stil en kyk wes. Doer in die verte staan ’n paar windpompe, en laatmiddag rus hulle statig in die sonsondergang.

Hierdie agterpad lewer nog ’n paar mooihede op: die plaas Vleikraal se ougat padaanwyser, en nes jy oor die Rietrivierbrug gery het en die hoogte anderkant vat, staan die oorblyfsels van stokou klipkrale op linkerhand. Af en toe verras ’n oordadige plaat turksvye jou. En sowat 85 km van waar jy die teerpad verlaat het, ry jy deur ’n laning bloekombome, met kort daarna ’n eienaardige hangbruggie op links. Dis so smal, dit laat jou wonder of enigeen dit daaroor waag!

Van hier af is dit nog sowat 35 km tot op Sutherland. Niemand sal jou kwalik neem as jy laatmiddag op ’n stil Sutherland kom en wonder waaroor die bohaai oor dié klein dorp met sy stofstraatjies gaan nie. Sutherland is soms skugter met nuwelinge. Draf gerus in by die Sutherland Mall. Ja, hier ís ’n mall, met konfyt en handvlytwerk. Koop die resepteboek wat deur die dorp se ouetehuis uitgegee is.

Eet die aand ’n stewige bord kos in die Karoo-Kombuis in die Sutherland Hotel voordat jy Jurg Wagener se vertoning oor die konstellasies bywoon op die Sterland-gasteplaas. Jurg hou jou ’n uur lank besig met video’s, foto’s en sy droë humorsin voordat jy die kans kry om die hemelruim deur sy reuse-teleskoop van naderby te besigtig. Trek wárm aan. 

SALT, Suid-Afrikaanse Sterrewag

Vandag is die gróót dag, die rede waarom jy na dié sterredorp gekom het: die Suid-Afrikaanse Sterrewag! Jy moes jou toer hierheen al bespreek het vóór jou reis – hier is twee begeleide toere, om 10.30 vm. en 2.30 nm., en dit duur sowat twee uur. Beplan dus die res van jou dag hier rondom. Op die toer kan jy sien hoe lyk 91 spieëls wat saam ’n deursnee van 11 m vorm – dis die SALT-teleskoop!

Ry terug dorp toe en af in die hoofstraat. Parkeer oorkant die NG Kerk. Talm ’n rukkie by dié imposante sandsteenkerk, wat op ’n manier die spil is waarom die dorp ontwikkel het. Sutherland is in die 1850’s gestig nadat die gemeente van die NG kerk Worcester afgestig is, en is na ds. Henry Sutherland van Worcester genoem.

NG Kerk, Sutherland

Die gebou in die hoofstraat is die gemeente se tweede kerkgebou, en is deur die argitek Charles Freeman ontwerp. Die hoeksteen is in 1899 gelê, maar voordat die voltooide kerkgebou in 1901 ingewy kon word, is die krygswet afgekondig en is die gebou deur Britse troepe beset. Die troepe het die gebou tydens die Anglo-Boere-oorlog taamlik verniel, en van hulle name kan steeds in die kerktoring gesien word. (As jy die kerkgebou wil besoek, kontak Jannie du Plessis by 071 136 7468.)

Siende dat jy reeds in ’n gewyde bui is, stap van hier af na die Louw-museum in Jubileestraat – die huis waar die Afrikaanse digters N.P. van Wyk Louw en W.E.G Louw grootgeword het. Hier is ook uitstallings van die ingenieur Henry Olivier wat damme wêreldwyd help ontwerp het, onder meer die Kariba- en Cahora Bassadam.

Die museum is nie altyd oop nie; maak vooraf ’n afspraak met Rykie Louw (nie familie nie) by 023 571 1131 – ’n toer kos R20 p.p.

Vir aandete kan jy by die Blue Moon-restaurant in ’n sandsteenhuisie wat meer as 100 jaar oud is, aansit vir “Knus Kos” – dis nou tradisionele geregte soos bees- of lamstert, lamskerrie, bobotie of varkrib.

Onthou om later as jy uit jou kar uit by jou blyplek klim, vir oulaas na die sterrehemel te kyk voor jy by die deur instap.

Lord’s Kitchen, Carnarvon: 082 780 4209 (Pieter)

Manna, Williston: 053 391 3000

Die Ark, Williston: 053 391 3659

Karoo-Kombuis, Sutherland: 023 571 1096

Langbaken-kaasplaas: 053 391 4161 (landlyn); 082 346 5780 (slegs WhatsApp)

Sterland-sterrekykery

Koste:

Weeksaande: R120 p.p. en R150 p.p. oor naweke

Bespreek: 082 556 9589; sutherlandinfo.co.za

BLY HIER

Doekvoet-gastehuis

Dié selfsorghuis met slaapplek vir vyf in ’n oop-planvertrek is goeie waarde vir geld. Dis deel van die Sterland-gasteplaas. Hulle bestuur nog ander huise op die dorp en die Sterland-woonwapark.

Koste: Vanaf R790 p.n. vir 2 mense.

082 556 9589; sutherlandinfo.co.za

Kambrokind-gastehuis

Dié netjiese gastehuis in die hoofstraat het ses en suite-kamers waarvan een ’n gesinskamer met ’n klein kombuis en slaapplek vir vier. Hier’s ’n kaggel in die gemeenskaplike sitkamer en elektriese komberse én verwarmers in die kamers.

Koste: Vanaf R470 p.p. wat deel.

023 571 1405; sutherlandaccommodation.com

DAG 9 & 10: Tankwa-Karoo

Draai 3 km suid van Sutherland regs by die Ouberg- Bo-Visrivier-bordjie. Ná sowat 5 km gaan jou selfoonsein verdwyn. En die kanse is goed dat jy vandag die enigste voertuig op die Oubergpas gaan wees. Sorg dus voor jy uit Sutherland vertrek dat jou noodwiel en dinge in orde is, want jy gaan nie vir Outsurance kan bel nie.

Sowat 40 km later beduie ’n Ouberg-bordjie jou na links. Wees op die uitkyk hiervoor, anders skiet jy Middelpos toe. Van dié afdraai af klim die grondpad geleidelik tot by ’n padteken wat ’n hengse afdraande aandui – Oubergpas.

Ry stadig by die stuk of agt haarnaalddraaie af, maar kyk tog so nou en dan op na die Roggeveldberg alkante van jou. Doer onder lê Suid-Afrika se Namib-woestyn: Die Tankwa-Karoo, een van die mooiste, stilste en mees verlate dele van die land.

Moenie na die Tankwa-Karoo- nasionale park ry sonder ’n kaart nie – laai een af by sanparks.org. Van die paaie hier rond kry jy nie op ’n gewone kaart nie.

Meld aan by die ontvangskantoor en ry dan na die Elandsberg-wilderniskamp. Wees rustig die middag, sit op die stoep of swem in die plonspoel. Kyk sommer net hoe die middag verbygaan... dalk kom groet ’n rooivlerkstreepkoppie.

Tankwa-Karoo-nasionale park

As julle ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte het, ry laatmiddag uit na die Elandsberg-uitkykpunt – anders kan julle die 4½ km soontoe stap.

Van hier af lê die middelste kol van die park onder jou soos ’n landkaart: Voor jou lê Sterretjiesberg en regs Pramberg (ja, dit lyk soos wat jy dink) met ’n grondpad wat soos ’n dun, wit slakstrepie oor die landskap loop. Haal diep asem en neem ’n foto in jou kop wat jy kan oproep wanneer die lewe dol raak.

Kyk, jy kom nie Tankwa toe om ’n gros diere op jou lys af te merk nie. Jy kom vir wyd kyk en om net te wees.

Hier is wel sebras, bakoorjakkalse, gemsbokke, springbokke en elande in die park. Die park is ook gewild onder voëlkykers op soek na voëls wat net in die Karoo voorkom, soos die groenbossanger en Karoolangbeklewerik. Hier is wel ’n ander ongewone gesig: Die Oude-baaskraaldam – die mense hier sê die dam stoot sowat 7 km in die rivier op – lê soos ’n reuse-spieël in die halfwoestyn (’n mens kan vir ’n oomblik dink dis ’n oorblyfsel van die AfrikaBurn-fees).

Jy kom vir wyd kyk en om net te wees.

Ry ’n sirkelroete deur die park na dié dam toe verby die Volmoesfontein-kampkol en Springbokvlak totdat jy die fortagtige Tanqua Guesthouse in die verte sien – Sanparke se kaart dui afstande aan.

Moet nou nie sambrele en dekstoele by die dam verwag nie. Ry tot by die oewer en stap ’n bietjie rond – wees op die uitkyk vir grootflaminke, bloubekeende en lepelaars.

Hou wes met die dam aan jou linkerkant tot waar die pad aansluit met die pad wat ontvangs toe en uiteindelik weer terug na julle slaapplek loop. By die huis gekom, steek ’n vuurtjie aan en wag vir die jakkalse om te begin roep.

BLY HIER

Tankwa-karoo- nasionale park

Die selfsorghuise in die Elandsberg-wilderniskamp is gebou in ‘n ode aan die uitsigte – die vensters is byna so groot soos deure en die hele voorkant is stoep (mét ’n plonspoel!).

En dis so gebou dat jy nie jou buurman sien nie. Hier is nie elektrisiteit nie, maar gas en die son sorg vir ’n stoof, yskas en warm water.

Koste: Vanaf R1 312 p.n. vir 4 mense by Elandsberg. Hier is kampplekke en goedkoper blyplek in die park. Boskampe met geen geriewe: R137 p.n. vir 2 mense, R65 per ekstra persoon, R33 per ekstra kind (slaapplek vir 15).

Private kampplekke met eie kombuis en ablusie (geen krag): vanaf R354 p.n. vir 2 mense, R152 per ekstra persoon, R76 per ekstra kind (slaapplek vir 6). Selfsorgkothuise: vanaf R737 p.n. vir 2 mense, R263 per ekstra persoon, R132 per ekstra kind (slaapplek vir 2 tot 9).

Watter voertuig moet ek ry?

Ons het die park al in ’n Polo besoek, maar speel eerder veilig en ry ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte.

En bel vooraf om te hoor oor die toestand van die paaie – ná reën kan van die paaie verspoel wees.

027 341 1927 (parkkantoor); 012 428 9111 (besprekings); sanparks.org

DAG 11: Calvinia

Daai Roggeveldberg wat jy nou al twee dae lank van jou stoep af bewonder... vandag ry jy hom uit. Die Gannagapas lê soos ’n luislang al teen die hange van dié berg. Jy klim stadig-stadig tot by ’n uitkykpunt. Onder in die vallei lyk dinge dor, maar hier van bo af kan jy sien hoe die groen lope van die ondergrondse riviere oor die landskap kronkel.

Dié pad kom uiteindelik by Middelpos uit. Koos van der Westhuizen en sy vrou, Helena, besit min of meer die hele dorpie wat bestaan uit ’n hotel, winkel (Die Winkel), petrolstasie, polisiestasie, laerskool en ’n handjie vol huise.

Bel Helena vooraf en bespreek middagete by die Middelpos Hotel. Sy maak heerlike Sondagkos: boudvleis, bobotie, kwepers, rys, geroosterde groente en gebraaide aartappels.

’Raait, tyd vir aanstoot. Klim op die R354 en dan die R27. Soos wat jy Calvinia uit die ooste nader, sien jy die mooi lyne van die Hantamberg op regterhand en sy ewe aanskoulike buurman, die Rebunie, aan jou linkerkant.

Nét voor die dorp, daar waar jy die 80 km/h-bordjie en die enetjie wat jou waarsku teen ’n spoedkamera al kan sien, staan twee windpompe mooi in lyn met die Rebunieberg. Onthou hierdie plek, want vanaand wanneer die son sak, is dít die toneel wat jy met jou lang lens wil kom afneem.

Soos wat jy Calvinia uit die ooste nader, sien jy die mooi lyne van die Hantamberg op regterhand en sy ewe aanskoulike buurman, die Rebunie, aan jou linkerkant.

Sover dit dorpsmuseums aangaan, is Calvinia s’n ’n ware uitskieter. Oral in die Karoo was die Joodse sakemanne in die vorige eeu groot rolspelers in die ontwikkeling van ’n dorp. Die plattelandse Jode het oor die jare weggetrek en Calvinia se ou sinagoge huisves deesdae die museum.

Dis ’n mooi gebou waarin baie van die oorspronklike elemente behoue gebly het. Die uitstallings leer jou van Calvinia se bekendes (soos die skrywers Anna M. Louw en Rona Rupert) en hoe mense vroeër jare in dié distrik geleef en geboer het.

Een van die hoogtepunte is ’n opgestopte skaap wat in 1975 meer as 6 maande soek was en toe uiteindelik met ’n vag wol van 15 duim (38 cm) lank gevind is! Foto’s, dokumente en selfs die loopringe van die bekende Lombard-vierling is ook op uitstalling.

Nou is dit seker al tyd om daardie sonsondergangfoto van die Rebunieberg te gaan neem. En daarna kan jy by die Blou Nartjie in Waterstraat (reg agter die rooi posbus) gaan aansit vir jou laaste stewige bord Karoo-kontreikos. Dis ’n gewilde eetplek; bespreek dus vooraf. Die biltong-en-sampioensop (R85) of pofadders (R40) is ’n heerlike voorgereg, waarna jy solank kan regskuif vir daardie lamspastei (R85), lamskenkel (R120) of skaaptjoppies (R140). Jou Karoo-reis eindig hier. Môre is dit die langpad terug huis toe. Dankie, Groot-Karoo, vir jou sterre, stilte en skaapvleis.

Blou Nartjie: 027 341 1263

Middelpos Hotel: 027 341 2507

Calvinia-museum

Waar? Kerkstraat 44

Toegang? R10 p.p. (R5 per kind)

Oop: Weeksdae van 8 vm.-5 nm. 027 341 1043

Kry padkos

Skaf voor jy ry ’n paar Karoo-eetgoed aan: ’n flessie konfyt by die Hantam Huis se spenswinkel en ’n rol wors van Calvinia Vleis (027 341 1073) net langsaan.

Ry om die blok na Stiglingstraat en kry ’n varsgebakte brood (sowat R10) of ’n lywige skaapvleispastei (R30) by die Calvinia Bakkery. Plaas jou bestelling vooraf by 027 341 1423.

BLY HIER

Die Hantam Huis se eienaars, Erwin en Alta Coetzee, het verskeie ou nagmaalkamers en dorpshuise op Calvinia gerestoureer. Die keurige dekor en meubels (regte koperkatels, houtmeubels en ’n bokvelletjie op die vloer) sorg nie net vir ’n mooi blyplek nie, maar ook ’n atmosfeer wat jou terugvoer na ’n vervloë tyd.

Die Knegtekamer, Hantam Huis

Koste: Selfsorg: vanaf R300 p.p.p.n.; bed-en-ontbyt: vanaf R395 p.p. wat deel.

Waar? Die meeste huise is in Water- en Hoopstraat. Ontbyt word bedien by die Hantam Huis-restaurant. 027 341 1606; calvinia.co.za

Sonsaktyd op Calvinia

HOU FEES!

Williston

Op die laaste naweek van Augustus word hier Winterfees gehou. Die Ark word dan in ’n karnaval omskep met stalletjies, speletjies, plaaslike kunstenaars wat die snare tokkel, lekker Karoo-kos en selfs ’n draadkar-grand prix! 

053 3913 659

Calvinia

Óók laat in Augustus is dit tyd vir die Hantamfees – ’n jôl met die Klipwerf Orkes se musiek, ’n veeskou, sterkmankompetisie, fietswedren, rieldanse, trekker-optog, skaapribbetjies, skaaptjoppies, skaapboud...

Bespreek nou al jou verblyf vir volgende jaar, die dorp raak gou vol!

hantamvleisfees.com