Bykomende verslaggewing: Toast Coetzer

Wat gaan ek sien?
  • Maun
  • Moremi-wildreservaat
  • Okavangodelta
  • Khwairivier
  • Chobe- nasionale park
  • Savuti
  • Linyantimoeras
  • Choberivier
  • Kasane

Laai die kaart hiér af.

DAG 1: Maun

As ’n hele dag se ry jou nie afskrik nie, sal dit uit Gauteng ’n láng dag vat om tot op Maun te ry, en van Kaapstad af twee volle dae (twee of drie maak meer sin).

Vertoef dus eers ’n dag op Maun voordat jy die gramadoelas aanpak. Maak jou inkopielys terwyl jy aansit vir ontbyt by die Tshilli Farmstall op die hoek van die Sir Seretse Khamapad en Motshabastraat. Probeer die Full Tshilli Farmstall-ontbyt met ’n glas van die bobaas yskoffie.

Maun het twee Spar-supermarkte en ’n Clicks-apteek waar jy al jou inkopies kan doen. Tent in jou oprit vergeet? Klop aan by Kalahari Kanvas in Mathiba I-straat, of by die Landmark langs die Sekgomapad. 

Of jy nou hou van hoender of lam, by die Beef Boys Meat Market en Delta Meat Deli kan jy vleis koop. Jy kan sommer krokodil- en tarentaalvleis koop as jy avontuurlustig is! (Jy is. Probeer dit.)

Albei die slaghuise kan bevrore pakkies maak wat jy net kan kom optel (kontak hulle ’n week vooraf). Jy kan ook vars vrugte en groente bestel. 

Teen middagete behoort al jou inkopies klaar te wees. Bederf jouself met ’n middagete by Marc’s Eatery. Bestel ’n frikkadeltoebie (P60) of ’n wildsvleisburger (P80). Dis eers weer op Kasane waar iemand anders vir jou gaan kos maak.

Kamp by die Island Safari Lodge langs die Thama-lakanerivier aan die noordekant van die dorp. Die staanplekke het kragpunte, hier is skoon ablusieblokke met warm water en selfs ’n restaurant.

Al sit jy in jou kampstoel en oor die rivier kyk, herinner die gebalk van donkies en blaffende honde jou dat jy op ’n dorp is. Trouens, die nabygeleë kroeg hou dalk ’n ABBA-aand, en Debonairs lewer pizzas af in die kampterrein. Van môre af is dit egter ’n gans ander storie.

The Tshilli Farmstall: 00 267 684 0940

Beef Boys Meat Market: 00 267 686 4771; beef-boys.com

Delta Meat Deli: 00 267 686 1419; deltadeli@yahoo.com

Marc’s Eatery: 00 267 684 0883; marcseatery.com

BLY HIER

Old Bridge Backpackers: Kamp kos P100 p.p. Kinders jonger as 12 betaal halfprys. Safaritente (met en suite-badkamer) vanaf P345 p.n. 00 267 686 2406; maun-backpackers.com

Audi Camp Kamp: kos P110 p.p. en P80 p.n. vir ’n kragpunt. Koepeltente kos P240 p.n. vir 2 mense en ’n selfsorghuis kos P2 900 vir 10 mense wat die huis deel.

00 267 686 0599; audisafaris.com

Island Safari Lodge: Kamp kos P160 p.p. Halfprys vir kinders jonger as 12 en gratis vir jonger as 5. Gesins-eenheid vir 2 volwassenes en 2 kinders: P1 730 p.n.

00 267 686 0300; islmaun.com 

DOEN DÍT:

Bekyk die Okavangodelta uit die lug Hier is verskillende operateurs wat vlugte aanbied. Dis meer bekostigbaar as jy vyf mense bymekaar kan kry. Weg vlieg gewoonlik saam met Air Shakawe airshakawe.com; 00 267 686 3620 (sowat R5 206 vir 5 mense).

BESPREKINGS

’n Mens moet soms Job se geduld hê om plek te bespreek in die kampplekke in die Moremi-wildreservaat en die Chobe- nasionale park. Drie private toeroperateurs bestuur ál die kampplekke in die twee parke:

• SKL Camps bestuur Savuti, Linyanti en Khwai. Kamp kos R250 p.p. en R125 per kind 8-17 jaar, R60 vir kinders 5-7 en gratis vir die kleinspan.

00 267 686 5365; sklcamps.com

• Kwalate Safaris bestuur Xaxanaxa, South Gate en Ihaha. Kamp kos P185 p.p. En P98 vir kinders 6-17 jaar.

00 267 686 1448; kwalatesafaris.com

• Xomae Group bestuur Third Bridge. Kamp kos US$30 p.p. En halfprys vir kinders 8-17 jaar oud.

00 267 686 2221; xomaesites.com

• Op die Xomae Group se webwerf kan jy met jou kredietkaart betaal, maar SKL Camps en Kwalate Safaris moet via EFO betaal word na ’n Botswana-bankrekening wat soms ekstra bankkoste kan meebring.

As die proses omslagtig klink, kontak Louis Milne by Swampland Safaris. Hy is op Maun en kan teen ’n billike tarief die besprekings namens jou doen. 

00 267 71 23 4300; swampland-safari.com

Cam’s Corner naby die Magotho Camp maak van die Khwairivier ’n kwaai draai en is ’n gewilde plek vir olifante en ander diere om te kom drink.

DAG 2: Third Bridge

Staan vroeg op, ons gaan Moremi toe! Volg die pad noord in die rigting van die dorpie Mababe. Draai ná sowat 49 km links na die Moremi-wildreservaat.

Meld aan by South Gate (ook bekend as die Maqwee-hek). Vra ook by die hek na die toestand van die brûe, asook die waterkruisings. Verminder jou banddruk by die hek; die paaie is sanderig in Moremi. Tog is dit die waterkruisings waarvoor die park berug is. Moremi is die enigste plek waar jy met jou voertuig die uitlopers van die Okavangodelta kan verken. Die delta word gevoed deur die Okavangorivier wat in Angola ontspring. Die watervlak hang af van hoe baie dit in die laatsomer in Angola gereën het en watter tyd van die jaar jy die delta besoek. Talle seisoenpaaie is onbegaanbaar wanneer die waters die delta bereik. Moet dus nie kanse waag nie – hou op die droë paaie.

Sowat 4 km van die hek af draai van die hoofpad links na die skaduryke Mokhutshomo-piekniekplek. Hou hier stil vir middagete.

Third Bridge
Third Bridge is die langste (en stewigste) van die vier paalbrûe in Moremi. Vra by die hek wat die toestand van die brûe is. Die kampplek is net anderkant die brug en as dit stukkend is, gaan jy ’n wye ompad moet ry.

Tot by hierdie piekniekplek ry jy meestal deur grasveld (wees op die uitkyk vir luiperds), maar sodra jy by die piekniekplek wegtrek, is jy die eerste keer teenaan die Okavangodelta. Trek af by die Mogogelo-poele se uitkykpunt of die Letlhaka-uitkykpunt voordat die pad weer terugswenk na die hoofpad. Soek rondom dié uitkykpunte na jou eerste seekoei in die poele. As die poele begin droog raak, drom visarende hier saam om ’n vis wat in die modder spartel vas te trek.

Draai links wanneer jy weer by die hoofpad aansluit en ry nog 36 km tot by die Third Bridge-kamp. Maak reg vir jou eerste waterkruisings, asook First Bridge en Second Bridge – twee paalbrûe oor dieper kanale.  Third Bridge het groot staanplekke onder skadu-bome. Nadat jy kamp opgeslaan het, kan jy al jou vuur aansteek en sit en uitkyk oor die lagune, of wild soek rondom die Mbomo-eiland. 

Onthou: kampe in Moremi en Chobe het geen heinings nie. Ratels, olifante, hiënas en selfs leeus is óral. Ek het een aand byna ’n toon aan ’n voorbarige hiëna afgestaan by die South Gate-ruskamp. Op pad na die badkamer het ek my groottoon teen ’n klip gestamp. Later die aand staan ek langs die voertuig in die kamp toe ek ’n warm geblaas op my voet voel – ’n hiëna wat aan my toon ruik! Wees versigtig en dra skoene.

PARKTARIEWE

Die Moremi-wildreservaat en Chobe- nasionale park het dieselfde parktariewe. Suid-Afrikaners betaal P120 p.p. en halfprys vir kinders tussen 8 en 17 jaar. Dis P50 p.d. vir ’n voertuig.

Hou genoeg kontant byderhand, want hier is geen kaartgeriewe nie.

Parktye: April en September 6 vm.-6.30 nm. Oktober tot Maart: 5 vm.-7 nm. (Dit geld ook die A33-deurpad tussen die Ngoma-grenspos en Kasane, want die pad loop deur die Chobe- nasionale park.)

BLY HIER

As jy nie plek kan kry by Third Bridge nie, bly by die South Gate-kamp. 

Third Bridge word bestuur deur die Xomae Group (sien inligting bo by 'Besprekings').

South Gate word bestuur deur Kwalate Safaris (sien inligting bo by 'Besprekings').

DAG 3: Xaxanaxa

Eet ontbyt by jou kampplek, pak die kar en mik vir die Xaxanaxa-kampterrein 17 km verder. As jy van die hoofpad afwyk, is daar egter ’n web van paadjies om te verken. As jy enigiets sleep, gaan slaan eers jou kamp op by Xaxanaxa voordat jy dié paadjies aanpak.

Jy het seker al die braaivleisvuurfeite oor die delta gehoor – dis een van die grootste binnelandse deltas ter wêreld en amper so groot soos Swaziland... Maar as ’n mens hier rondry, is dit dikwels die kleiner details wat jou bybly: Rooiborsbyvreters wat langs jou vlieg om goggas te vang wat padgee vir jou voertuig, of die lechwes wat mekaar deur enkeldiep water jaag. Ry dus stadig en soek diere by die Lion Den- en Maya-pan. As jy skrikkerig is vir die seisoenpaaie, bly op die hoofpad en hou stil by Jessie se Seekoeipoele sowat 5 km voor Xaxanaxa.

Gaan sit laatmiddag by die Paradise Pools-watergat (sowat 6 km oos van die kamp) en kyk wie kom suip, of gaan op ’n bootrit. Die Xaxanaxa-bootstasie is stapafstand van jou tent af, en aangesien die kampplek teenaan die Xaxanaxa-lagune geleë is, is jy dadelik op die oopwater.

Die bootritte is duur (P1 200 per boot vir 2 uur), maar elke boot kan tot 8 mense dra. Vra jou buurman om te help boot volmaak. Sê vir hom ’n mens moet die delta darem ’n uur of wat verken sonder die gestamp en skud van ’n bakkie.

Op ’n bootrit gly ’n mens oor die spieëlgladde water en soek vir ’n lelkraanvoël, visarend en saalbekooievaar terwyl die son oor die delta sak.

BLY HIER

Xaxanaxa word bestuur deur Kwalate Safaris (sien inligting bo by 'Besprekings').

DAG 4 &5: Khwairivier

Val vroeg in die pad in die rigting van North Gate (ook bekend as die Khwai-hek), 44 km van Xaxanaxa af. Eers ry jy deur oewerwoude en mopanievelde totdat jy ná sowat 25 km al langs die Khwairiver ry.

Kyk mooi na links en regs op die stuk pad: Olifante en selfs seekoeie kom soms blindelings oor die pad gehardloop. Bly uit hulle pad!

Stop by die Dombo-seekoeipoel (afdraai by S19.19968 E23.65447). Rek jou bene by die uitkykstellasie, of gooi spek en eiers op die Weber vir ’n bosbrekfis. 

Verlaat Moremi by North Gate en ry oor die Khwairivier na die gelyknamige dorpie Khwai. Hier is twee klein winkels waar jy ’n pakkie tjips en ’n Coke kan koop, en dalk selfs ’n bier (geen brandstof nie).

Ná 17 km op die hoofpad uit Khwai draai jy regs na die Magotho-kampplek. Die hele gebied noord van die Khwairivier sowel as dié kampplek word bestuur deur die Khwai Development Trust.

Jy’s buite die park, maar hier loop gereeld leeus en ander wild is volop. Die 14 staanplekke is ver uitmekaar en nie omhein nie. Toe ek daar aankom, het drie wildehonde ’n rooibok tussen die staanplekke gejaag!

Magotho was eens ’n wilderniskamp met geen geriewe nie, maar daar is nou ’n klein ablusieblok met spoeltoilette en ’n koue stort. Die kampplek is heelwat stiller as dié in die park. Selfs al is hier ander kampeerders, is die staanplekke só ver uitmekaar jy voel steeds asof jy jou eie stuk wildernis het.

Nadat jy jou tent opgeslaan het, gaan draai by Cam’s Corner (S19.12551 E23.87560) en kyk hoe die son oor die Khwairivier sak.

’n Mokoro is een van die beste maniere om die delta en sy kanale te verken. ’n Mens sit op die watervlak, daar is geen gedreun van ’n enjin nie, en ’n bekwame paalman weet hoe om seekoeie te systap.

Jy kan nie die delta verlaat sonder om die waterweë uit ’n mokoro te verken nie. Reël vroegoggend met Swampland Safaris en ontmoet ’n paalman naby die dorpie Khwai. ’n Rit kos P450 p.p en duur sowat twee uur.

Ry ná die mokororit oor die brug terug binne die park by die North Gate om die wildroetes aan die oostekant van die park te verken. Dié gebied het hope wild.

Ry dan weer die park binne by die North Gate om die wildroetes aan die oostekant van die park te verken. Dié gebied het van die meeste wild in die park. As jy die park binnery, moet jy weer ’n dagtarief betaal. Spaar die geld en verken eerder die paaie rondom die noordoewer van die Khwairivier buite die park. Hier is jy buite die delta waar water nie so wyd lê nie; dus is die wild geneig om naby die Khwairivier te hou. Ry tot by die Motsaa-pan en terug (35 km heen en weer). Jy mag dalk jou tent van die Motsaa-pan af sien; Magotho is anderkant die rivier. 

Sluit die dag af in ’n mokoro met net die geswiesj van ’n paal deur die water wat dalk onderbreek word deur die gekwetter van watervoëls.

BLY HIER

Magotho Camp Kamp kos P350 p.p. en halfprys vir kinders jonger as 12 jaar. Die kamp word bestuur deur die Khwai Development Trust. 00 267 680 1211; khwaitrust.co.bw

Khwai-ruskamp word bestuur deur SKL Camps (sien inligting bo by 'Besprekings'). 

Mankwe Campsite: Kamp kos P300 p.p. en halfprys per kind tussen 2 en 12 jaar.

079 510 2203 (WhatsApp); wildsideafrica.net

DAG 6: Savuti

Pak vroeg op en ry in die rigting van Savuti. Draai links by die vurk, terug na die hoofpad (S19.15841 E23.92154) verby die Pankwa-watergat. Draai regs by die hoofpad en ná 2 km weer links na die Mababe-hek. By die Mababe-hek is jy nou amptelik binne die Chobe- nasionale park, maar dié deel van die park staan bekend as Savuti. Van die Mababe-hek af is dit nog sowat 45 km se ry langs die Sandrifpad tot by die Savuti-ruskamp.

Die pad is sanderig met die Mangwikhwe-sandrif aan die westekant, en die oop savanne oos van jou.

As jy na ’n kaart kyk van Savuti, kan jy verskoon word as jy gedink het dis ’n waterryke gebied. Met name soos die Savuti-kanaal, Savuti-meer en Savuti-moeras, lyk dit asof jy met ’n duikbril hier moet rondry.

Die werklikheid is egter dat die water van die Chobe-rivier net een keer elke paar dekades hier ’n draai kom maak, en dat die enigste water wat jy hier sien, by watergate is. 

Die Sandrifpad tot by die Savuti-ruskamp neem sowat drie tot vier uur en die mooier Moeraspad sowat vyf uur. Die ruskamp se ablusieblok lyk soos ’n klein fort om vandalistiese olifante te keer om hulle dors te kom les deur die watertenks te vernietig. Indien moontlik, bespreek kampplek 2, 3 of 4. Hulle kyk almal uit oor die Savuti-kanaal (kampplek 1 ook, maar dis teenaan die personeelblyplek). Slaan die tentpenne diep in en pomp jou matras ékstrahard, want hier slaap jy twee aande. 

Verken die middag die Savuti-vlakte noord van die kampterrein. Ry oor die staalbrug na die Savutimeer (droog), en dan na Harvey se Pan.

Ry na die Quarry Hill voordat jy terugskiet kamp toe. Om bo-op die heuwel te kom het jy hare op jou tande nodig. Dis ’n steil, klipperige klim met jou 4x4. Van hier af kan jy sien hoe groot en plat die landskap van die Chobe- nasionale park is met net die heuwels rondom Savuti wat uitstaan, asook ’n klomp kremetarte direk noord. Ry hierna na die einste kremetarte – dis sowat 2,5 km van die Quarry Hill tot by die Boabab-eiland. 

Steek terug by die kamp jou vuur aan voordat die son sak, want wilde diere gáán kom kuier! Toe ek laas hier gekamp het, het ’n hiëna ons wasbak weggedra terwyl twee reuse-ooruile in die boom bo ons vir mekaar sit en koer het. Wie’ t nou Netflix nodig?

Savuti
Savuti is ’n paradys vir roofdiere. Water is hier nie so vrylik beskikbaar soos in die delta nie en diere moet soms noodgedwonge na watergate gaan om hulle dors te les. Span vir ’n ruk by een van die watergate uit en die kanse is goed dat jy roofdiere soos leeus gaan sien.

DAG 7: Savuti

Maak rustig ontbyt by jou tent voordat jy weer agter die stuur inskuif. Savuti is een van daai plekke waar jy die hele park kan platry om diere te sien óf op een plek stil kan sit en wag dat hulle na jou toe kom. As jy nog nie moeg gery is nie, kan jy die Olifantsnelweg al die pad deur die Savuti-moeras vat verby die Xgana-pan na die Jakkals-eilande en terug of jy kan by die Sexaxamba-pan jou kar parkeer en wag. Daar is ’n piekniekplek onder ’n groot kremetart naby die pan waar jy kan bene rek en ’n toebroodjie eet as die wag te lank raak.

Ry ook in die Savutikanaal af, maar maak gereed om ’n ruk te wag as ’n trop olifante die pad vol staan.

Wees op die uitkyk vir luiperds rondom die heuwels soos Twin Hills, Sable Hills en Gobatsaa Hill (ook bekend as Leopard Rock), en gaan loer wie kom drink by die Kwandopan naby die Twin Hills, die Pitsi-panne net suid van Gobatsaa Hill en die Rhinovlei-watergat.

Vir ietsie anders, stop by die bord aan die oostekant van die Bushman Painting Hill (S18.59384 E24.07943) waar jy kan uitklim en teen die heuwel uitklouter om na rotstekeninge te kyk. Die heuwel is sowat 4 km suid van die ruskamp. Savuti is soos geen ander plek in Botswana nie. Jy gaan meer diere sien naby die Choberivier, maar hier voel dit wílder. 

BLY HIER

Savuti word bestuur deur SKL Camps (sien inligting bo by 'Besprekings')

DAG 8: Linyanti 

Wanneer jy vanoggend jou kar pak, maak alles ékstra-stewig vas en blaas jou bande nóg so ’n bietjie af. Vandag gaan rof wees. Draai ná die staalbrug links in die rigting van Linyanti. 

Tussen jou en Linyanti lê die Magwikhwe-sandrif, en om oor dit te kom gaan jy deur diep sand ry. Anders as by Savuti, is die Linyanti-moeras allesbehalwe droog.

Die moeras is ook waar een van Botswana se riviere se naam verander: Voor die water by dié moeras invloei, is dit die Kwandorivier (in Namibië), in die moeras is dit die Linyantirivier, en as dit uitvloei, word dit die Chobe. 

Hier is nie baie wildkykroetes nie. Verken die 8 km-oewerpad waar ’n paar uitkykpunte lê. Jy het geskud en gestamp al die pad hierheen; saal eerder die res van die dag af by jou kampplek. Die Linyanti-kamp is die verste en stilste hoekie van die Chobe- nasionale park. Hier is net vyf staanplekke en almal is teenaan die water.

Olifante en selfs wildehonde word dikwels in die kampplek gewaar – jy hoef nie eens uit jou kampstoel op te staan nie. Geniet die afsondering, môre is dit weer terug “beskawing” toe. 

BLY HIER

Linyanti word bestuur deur SKL Camps (sien inligting bo by 'Besprekings').

Sebras en ander wild wei dikwels in die Chobevloedvlakte naby die Muchenje Campsite & Cottages. Hierdie deel van die Choberivier val net-net buite die nasionale park en dis nie ongewoon om wilde diere tussen beeste te sien wei nie (die beeste kom van Namibië se kant af).

DAG 9: Muchenje

Volg van Linyanti af die pad langs die grens van die park vir sowat 30 km, en draai dan links na Kachikau waar die teerpad weer begin. Stop en pomp die bande weer stywer. Koop ’n yskoue Coke by die eerste winkeltjie (as jy net een keer in jaar ’n Coke drink, drink hom hier).

Hoewel jy nou deur dorpies ry, kan jy steeds olifante teëkom – moenie jaag nie. Van Kachikau af ry jy deur Kavimba. Trek af by die Kavimba Gateway, waar geskiedkundige kremetarte staan. Volgens oorlewering het die stigters van Kavimba jare gelede onder dié einste bome gekamp. Loer op Mabele in by die Lwaavo Art & Culture Centre, waar mooi grasmandjies verkoop word.

Voordat jy aanklop by Muchenje Campsite & Cottages, gooi eers brandstof in by die nuwe Puma-vulstasie buite Muchenje.

Duik in die swembad by die Muchenje Campsite & Cottages, en kuier op die dek wat uitkyk oor die vloed-vlakte. In die laatsomer kom die water tot teenaan die dek, maar in die droë seisoen is hier skaars ’n plassie.

BLY HIER

Muchenje Campsite & Cottages: Kamp kos P180 p.p. ’n Selfsorgkothuis P970 p.n. vir 2 mense. Selfsorgtente P620 p.n. vir 2 mense.

00 267 75 007 327; muchenjecampsite.com

Mwandi View: Kamp P190 p.p. Tenteenhede P1 300 p.n. vir 2 mense. 

00 267 75 579 025; mwandiview.com

Die kampplek by Savuti (net soos alle kampplekke in die Moremi-wildreservaat en die Chobe- nasionale park) is nie omhein nie. Pak jou kos ver weg en moet niks laat rondlê vir hiënas nie.

DAG 10: Ihaha

Die gedeelte van die Chobe- nasionale park noord van die A33 staan bekend as die Chobe-rivierfront. Massiewe troppe sebras, buffels en olifante drom saam rondom die standhoudende rivier. Roofdiere is ook volop.

Hoewel die paaie steeds sanderig is, is dit baie makliker om hier rond te ry as in Moremi of Savuti. Ry by die Ngoma-hek in langs die westelike punt van die A33 en stop by die Mopororo-uitkykpunt wat oor die hele Chobe-vloedvlakte uitkyk.

Die hoofwildkykpad deur dié deel van die park loop na aan die rivier, maar daar is kleiner seisoenpaaie wat soms tot teenaan die water loop.

Ry deur die Maribou-deurgang tot by Ihaha, die enigste kampplek hier rond. Tussen Ihaha en die Sedudu-hek by Kasane word die paaie in die park ál besiger met wildkykvoertuie van die lodges op die dorp.

Eet middagete by die Serondela-piekniekplek, ry ’n draai om die Puku-vlakte en terug na Ihaha om jou tent op te slaan. Daar is min kampplekke in Botswana wat só baie wild en voëls in en om die kamp het soos Ihaha, en al tien staanplekke kyk uit oor die Choberivier. 

Dit is egter ’n jammerte dat die geriewe in die laaste paar jaar agteruitgegaan het, en dat daar klagtes is van diefstal deur mense wat met mokoro’s uit Namibië met die rivier kom. As jy hier kamp, maak seker jou waardevolle besittings is veilig, en moenie jou tent onbeman los nie.  As jy bekommerd is oor veiligheid by Ihaha, slaap ’n ekstra aand by die Muchenje Campsite & Cabins, of op Kasane. Jy kan dan steeds die gebied rondom Ihaha as ’n dagbesoeker verken.

BLY HIER

Ihaha word bestuur deur Kwalate Safaris (sien inligting bo by 'Besprekings').

Die staanplekke by die Ihaha-ruskamp kyk uit oor die Choberivier en sy vloed-vlakte. Dié rivier is die grens tussen Botswana en Namibië; moet dus nie skrik as daar in die middernagtelike ure weermagvoertuie verby jou tent ry nie – hulle patrolleer die grens.

DAG 11: Kasane

Kasane is ’n skielike gewoel ná tien dae in die wildernis, maar dis vir ’n slag lekker om in ’n eetplek te sit en ’n bord kos (wat nog te sê van ’n cappuccino!) te bestel. Ons gunstelinge is The Coffee Buzz (vir ontbyt en koffie), The Old House (bespreek vooraf vir aandete) en PPCC (dit staan vir Pizza Plus Coffee & Curry – jy kan omtrent énigiets hier eet!).

Kasane lê uitgestrek langs die Choberivier. Vlakvarke drentel in die straat rond en dis nie ongewoon dat seekoeie saans gesien word nie. In party dele van die dorp – waar ’n loopgang toegang tot die rivier verskaf – kan jy selfs olifante en buffels teëkom! Kasane se sjarme lê juis in hoe knus mens en natuur langs mekaar leef.

Hier is supermarkte, banke, vulstasies, ensovoorts. Vandag is die dag om jou spens aan te vul, jou motor te laat versien indien nodig, en besprekings te maak vir die volgende paar dae se aktiwiteite. Besoek die geskiedkundige kremetart voor die polisiestasie – dit het deur die jare heen as tronk én poskantoor gedien.

Indien jy by die Chobe Safari Lodge kamp, is die winkels binne loopafstand, maar andersins sal jy moet ry. Kasane se buurdorp is Kazangula, ’n grensdorp waar swaar voertuie deur grensposte na Zimbabwe en veral Zambië beweeg. Die Kazangula-veerboot word steeds gebruik om voertuie oor die Zambesirivier van Botswana na Zambië te vervoer – dis interessant om dop te hou.

’n Nuwe grenspos en brug oor die rivier word tans gebou, en dis dalk al voltooi teen die tyd dat jy daar kom.

BLY HIER

Chobe Safari Lodge 00 267 625 0383; underonebotswanasky.com

Thebe River Safaris 00 267 625 0995; theberiversafaris.com

RESTAURANTE

The Coffee Buzz is op dieselfde perseel as Kalahari Tours, aan die rivier se kant van die hoofstraat (Presidentlaan).

Oop: Elke dag van 8 vm.-4 nm. (Sondae maak dit vroeër toe as dinge stil is.)

thecoffeebuzz.co.za

PPCC is in die hoofstraat, skuins oorkant die Spar-kompleks.

Oop: Ma.-Sa.: 9 vm.-10 nm.; So.: 11vm.-9 nm.

00 267 625 2237

The Old House is langs die hoofstraat sowat 500 m oos van die Spar-kompleks.

Oop: Elke dag van 6.30 vm.-9 nm.

00 267 625 2562; oldhousekasane.com

DAG 12: Kasane

Sonsondergang
Kees en tjommies geniet die sonsondergang oor die Choberivier. Reël ’n bootrit uit Kasane om ook die sonsondergang te geniet.

Bespreek vooraf ’n wildrit Chobe toe. Enigeen van die lodges of kampplekke kan dit vir jou reël. Sommige het hulle eie voertuie en gidse; ander gebruik ’n derde party.

Jy kan natuurlik self ook in die park rondry, maar vat vandag ’n bietjie af en laat iemand anders die bestuurwerk doen. Daar’s opwinding in die lug wanneer jy agter-op die wildkykvoertuig by die parkhek aankom – wat gaan julle sien? Onthou om ’n warmding te bring, want dis koud soggens.

Jy volg ’n sirkelroete van die hek af na die rivieroewer, en nadat jy bene gerek en die badkamer besoek het by die Serondela-piekniekplek, draai jy terug. Leeus word gereeld gesien. Jy behoort teen elfuur terug in Kasane te wees – nét betyds vir ’n laatontbyt.

Lê laag deur die middel van die dag. Vanmiddag gaan jy op ’n sonsondergangvaart, maar dis véél meer as dit!

’n Vaart op die Choberivier is uniek. Waar anders in die wêreld kan jy op ’n boot in ’n kampstoel sit met ’n koue bier of koeldrank in die hand, en rustig sit en kyk na olifante, buffels en seekoeie?

DOENDINGE

Bespreek wildkykritte en riviervaarte by die lodge waar jy tuisgaan.

Pryse wissel, maar jy kan reken op omtrent P295 p.p. vir die wildrit (3 uur), P285 p.p. vir die bootvaart (3 uur), met afslag vir kinders jonger as 12. Dit sluit nie die parktariewe in nie.

VICTORIAWATERVAL

Indien jy nog nooit by die Victoria-waterval was nie, bespreek vir dag 13 ’n toer soontoe. Hoewel jy in jou eie voertuig kan ry, is dit slim om eerder by ’n georganiseerde toer aan te sluit.

Jy word vroegdag by jou blyplek op Kasane opgepik, deur die grens geneem (jy het net jou paspoort nodig), en word tot op die dorpie Victoria Falls geneem, waar jy by die ingangshek van die waterval afgelaai word.

Jy het drie uur om by die waterval deur te bring – stap rustig van een uitkykplek na die ander. Bring ’n reënjas saam, en iets soos ’n handdoek om jou kamera mee te beskerm. Geniet daarna middagete iewers op die dorp. Ons keuse is The Lookout Café. Die uitsig van hier af is onverbeterlik – jy kyk uit oor die Batokaravyn stroomaf van die waterval. Die brug wat oor die Zambesi span, rond die prentjie af. In die namiddag word jy teruggeneem na Kasane.

(Met jou eie voertuig moet jy duur oorgrenstariewe – tot R1 000 – betaal. Dis nie die geld werd net vir een dag in Zim nie.)

Koste: Sowat P780 p.p. Die meeste hotelle of lodges kan die uitstappie vir jou reël. Dit sluit jou vervoer in, maar nie middagete nie. Kinders jonger as 12 kry afslag. 

DAG 13: Kasane

Vir ernstige fotograwe is ’n goeie afwisseling op die riviervaart om vandag op ’n vaart saam met Pangolin Photo Safaris te gaan. Jy’s in ’n klein bootjie, en sit op ’n stoel wat 360 ° kan draai – én jou kamera het ’n monteerarm; dus gaan jou lang lens jou nie lam maak nie.

Besit jy nie ’n groot kamera en lens nie? Jy kan Pangolin se toerusting gebruik – ná afloop van die toer hou jy die SD-kaart met ál jou foto’s. Die groep bied ook oggendvaarte aan – dis wonderlik stil, want die meeste groot bote vaar smiddae uit. Jy het ook ’n fotografiegids aanboord wat jou help met kameraverstellings, en jou bootkaptein weet waar élke klein visvangertjie sit. Mooi foto’s is gewaarborg.

Indien jy saam met kinders reis, neem hulle na die CARACAL Centre waar diere gerehabiliteer word. Jy kan sien hoe word die nagapies gevoer, en daar’s vlakvarke, muishonde, en dalk ’n aasvoël of drie. Dis opvoedkundig én prettig!

Die Choberivier is deel van die ontspanningskultuur op Kasane. Selfs al bly jy iewers in ’n kampplek, keer niks jou om op ’n “toer” te gaan van al die lekker uitkykdekke – met ’n kroeg en restaurant – oor die rivier nie.

Jy kan by die meeste van die lodges langs die rivier instap en by ’n tafel gaan sit wat oor die rivier uitkyk. Ons gunstelinge is die Chobe Safari Lodge en Cresta Mowana Safari Resort & Spa. Hou die bootverkeer dop, bring jou verkyker om ’n voël te identifiseer en geniet jou laaste ure in dié wilde, vriendelike plek.

DOENDINGE

Pangolin Photo Safaris: ’n Vaart op die rivier kos US$130 p.p. en sluit in die gebruik van ’n kamera, ’n SD-kaart met jou foto’s wat jy kan hou, drankies, en parktariewe. Die goeie nuus is Weg-lesers kry 50% afslag! Hoe eis jy die afslag? Sê net jy’s ’n Weg-leser!

Caracal Centre: ’n Begeleide toer kos P65 p.p. Halfprys vir kinders jonger as 12 en gratis vir 6 jaar en jonger. Dis aan die westekant van Kasane – vra dat iemand vir jou die pad beduie. Oop: Elke dag van 9 vm.-5 nm.; caracal.info

ONTHOU:
Botswana was teen druktyd nie oop vir Suid-Afrikaanse toeriste nie, maar beplan jou volgende vakansie met hierdie gids. Van die inligting kan verander, maar die roete is tydloos.
4x4-wenke:

Jy gaan deur baie water ry in Moremi, en baie sand in Savuti. Hier is ’n paar wenke as jy nog net op sypaadjies met jou 4x4 geparkeer het.  

Water:

Stel vas hoe diep die water is. Gewoonlik kan jy deurstap, maar dit is nie altyd moontlik in die delta nie, want daar is goed in die water wat jou wil vreet. 

Kyk of daar spore in die water in lei. Dis ’n slegte teken as iemand nog nie vandag voor jou deur die water gery het nie. 

Wag. Safarivoertuie ken die waterkruisings. As jy geduldig is, sal daar een verbykom en jy kan die lyn sien, asook die diepte. 

Kyk waar jou enjin se inlaat is en maak seker dat jou voertuig nooit só diep in die water is dat water by die inlaat invloei nie. 

Span ’n seil oor die neus van jou voertuig om te keer dat daar baie water voor by die neus inkom. 

Maak jou veiligheidsgordel los en jou ruite oop. As jy die diepte van die water só lelik onderskat het dat jy handdoek moet ingooi, moet jy so vinnig as moontlik uit die voertuig kan kom.

Gebruik jou laestrekratte (tweede rat) sodat jy krag in die water het, maar ook genoeg momentum.  Handhaaf dieselfde spoed in die water sodat daar ’n boeggolf voor jou voertuig vorm. Bly agter hom. 

Sand

Die belangrikste ding om te doen wanneer jy op sand ry, is om banddruk tot rondom 1,2 bar te verlaag. Pak jou banddrukmeter in saam met jou paspoort – dis hoe belangrik dit is. ’n Kompressor om jou bande later weer styf te pomp is net so waardevol.

Bly waar moontlik in die spore waar ander voertuie reeds gery het. 

Moenie vinnig versnel of rem nie. As jy vassit in die sand, is daar ’n paar goed wat jy kan probeer voordat jy begin grawe: Probeer eers die voertuig in trurat sit en agteruitry; laat nog lug uit die band as dit nie werk nie. Jy kan die bande tot 0,5 bar afblaas indien nodig.

Probeer ook om klippe en takke (maak seker daar is nie skerp punte nie) onder die wiele te pak vir ekstra trekkrag.

Bring ’n sandleer saam as jy een het – dit werk soos ’n bom. As dit steeds nie werk nie, gebruik ’n wenas om die voertuig uit te trek, of laat ’n ander voertuig help.

Moremi
Soms is die brûe in die Moremi-wildreservaat beskadig, soos hier by First Bridge. Dan moet jy ’n pad óm die brug vind – moenie uit jou voertuig klim as jy nie saam met ’n gesoute gids of veldwagter reis nie.

WEET VOOR JY WAAI

Geld: Die meeste van die blyplekke se pryse is in pula. Randkoste kan dus afhang van die wisselkoers. Tussen Maun en Kasane is daar nie winkelsentrums nie, maar bring genoeg kontant saam vir parktariewe en ander dinge. Die man wat hout langs die pad verkoop, het nie ’n kaartmasjien nie. Teen druktyd was P1 = R1,50.

Hout: Gepraat van hout; pak genoeg hout op jou dakrak voordat jy ’n park binnery. Sommige van die kampplekke binne die parke sal hout te koop hê, maar jy gaan tot vier keer meer betaal. Jy mag nie hout in die veld optel nie. 

Brandstof: Moenie dat dorpies soos Khwai, Mababe en Kavimba op ’n kaart jou flous nie; die eerste vulstasie nadat jy uit Maun ry, is die Puma-vulstasie naby Muchenje. Vat vier tot agt jerrykanne saam sodat jy nie net genoeg brandstof het om van punt A na punt B te ry nie, maar ook wild kan gaan soek.

Kos: Net soos brandstof gaan jy nie plek langs die pad kry om kos te koop nie. Maak op Maun seker jy het genoeg om te eet vir die res van jou toer. Wees versigtig met vars vrugte rondom jou kampplek; olifante sal dit kom gaps. 

Kommunikasie: Selfs met ’n Botswana-SIM-kaart gaan jy geen ontvangs in die parke hê nie. Die parke is nie só verlate dat jy ’n week moet wag vir iemand om jou te vind as jy iewers vasgesit het nie, maar huur ’n satellietfoon as jy bekommerd is daaroor. Kontak Louis Milne by Swampland Safaris. Jy kan die foon op Maun kry en op Kasane inhandig. Jy kan Louis ook in ’n noodgeval bel. 00 267 71 23 4300; swampland-safari.com

Beste tyd van die jaar: Daar is nie ’n verkeerde tyd om die roete te ry nie. Die nat seisoen tussen November en Maart is die beste tyd vir voëlkykers. Aan die begin van die droë seisoen – tussen April en Oktober – bereik die vloed die Okavangodelta en hoewel dit nie reën nie, is daar baie water in Moremi. Die beste tyd om wild te sien is net voor die nat seisoen begin. Die tekort aan water veroorsaak dat diere saamdrom rondom watergate, veral in Savuti. 

Navigasie: Dis moeilik om op die hoofpaaie deur die parke te verdwaal. As jy egter van die kleiner en seisoenpaaie wil verken, moet jy Tracks4Africa op jou GPS hê, of ’n goeie kaart (soos dié in Weg se Botswana-gidse).

Is dit veilig? Behalwe by Ihaha is die kampplekke veilig. Daar is wel bobbejane en ape wat lang vingers het; maak dus seker alles is gesluit. Hiënas en selfs olifante sal ook ’n kans vat. Onthou – hier is geen heinings nie.

Kinders: Ons raai aan dat jy nie jong kinders saamneem nie – oral is ’n hiëna of wildehond. As jy wel jou kinders saambring, maak seker hulle bly heeltyd naby die tente en kampvuur en stap nooit sonder ’n volwassene ablusieblok toe nie. 

Malaria: Hierdie is ’n malaria-gebied – tref dus voorsorg. water Die meeste van die kampplekke het lopende water, maar bring ’n paar kanne drinkwater saam vir die wis en die onwis. 

Lig: Maak seker jy vat goeie flitse en kopligte saam


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook