Laai die kaart af in PDF-vorm.

Dag 1 & 2: WITSAND

Waar die sand (soms) brul

Witsand

Die Witsand-natuurreservaat gáán in jou hart kruip. Dis ’n plek van klein plesiere: Om die vuur sit, in die veld stap, die sand tussen jou tone voel. Begin jou vakansie met twee aande hier sodat die Kalahari die stadsgewoel uit jou gemoed kan wegtoor (of eindig jou roete hier om die genot uit te rek).

Hier loop nie gevaarlike diere rond nie; dus kan jy enige plek in die reservaat stap. Dis soos om by jou oom-hulle op die plaas te kuier. Google voor die tyd hoe ’n ietermago se spoor lyk, want Witsand is een van die beste plekke in die land om hierdie skaars dier te soek.

Dis ’n plek van klein plesiere: Om die vuur sit, in die veld stap, die sand tussen jou tone voel.

Brulsand is waarvoor die reservaat bekend is – dié verskynsel is meer algemeen in die warm somermaande wanneer die sand droog en warm is en deur die wind aangeblaas word en sodoende “brul”. In die winter kan jy steeds die wit sandduine uitklim, sommer net vir die uitsig van bo af.

Indien jy nie hou van stilsit nie, kan jy duinplankry – jy huur ’n plank by ontvangs. Witsand is ook die ideale plek om dié sportsoort vir die eerste keer te probeer: Hier’s niemand wat vir jou gaan lag wanneer jy holderstebolder val nie! Jy kan ook ’n bergfiets huur en hier’s ’n swembad.

Die ruskamp se verblyf lê wyd: Jy voel nooit op ’n hoop gedruk nie. Hier is nie ’n restaurant nie; maak dus seker jy bring alles saam (die winkel by ontvangs verkoop wel die nodigste én ’n paar praktiese aandenkings soos hoede, hemde en waterbottels).

Kontak: 083 234 7573; witsandkalahari.co.za

Dag 3: AUGRABIES

Laat hy val waar hy wil!

Ry tot by Groblershoop, draai noord op die N10 en swenk saam met die Oranje se kartels aan Upington toe. Jy’s nou in die hartjie van die Groen-Kalahari, waar sowat 10% van Suid-Afrika se druiwe verbou word vir grotendeels soetwyn, tafeldruiwe en rosyntjies.

Volg uit Upington die N14 wes – jy sal ’n groot toring met ’n wit lig aan sy bopunt op regterhand gewaar. Dit lyk soos ’n Bond-booswig se hoofkwartier, maar is eintlik die Khi Solar One – ’n sonkragstasie waar hektaar op hektaar vol spieëls sonlig (en hitte) na die toring kaats en water dan in stoomkrag van 50 megawatt omgeskakel word. Anders gestel: genoeg elektrisiteit vir 4 000 huishoudings! Maar moenie só hard hieroor dink dat jy die “Welkom in Keimoes”-bordjie miskyk nie – De Werf-restaurant is net daar op regterhand.

Augrabies.

Maak ’n draai by die inligtingsvertrek langs die restaurant waar jy deur boeke en albums oor die Kalahari kan blaai. Hier leer ’n mens meer oor die geskiedenis van die streek, die landbou en ook ander blyplekke en doendinge wat jy vir jou vólgende Kalahari-besoek in gedagte kan hou.

Net verby De Werf draai jy regs op die N14 na Kakamas, en skaars 1 km verder sal jy op linkerhand een van die laaste bakkiespompe sien. Hier in die Groen-Kalahari het die boere reeds in 1882 ’n agtermekaar kanaalstelsel aangelê om water uit die Oranjerivier te keer. Bykans elke huis het só ’n soort pomp gehad waarmee water uit die kanaal na hoërliggende grond geskep kon word. Dié slim waterwiele is in 1987 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en die replika wat hier staan, beeld goed uit hoe die meganisme werk.

Kontak 054 461 1635; dewerflodge.com

Nou is dit voet in die hoek na waar die waters raas. In die Augrabieswaterval- nasionale park stort die Oranjerivier 56 m na benede tot in ’n rotsravyn wat soos die Suezkanaal in die landskap uitgekerf lê.

Klipspringer

Die ruskamp is by die waterval geleë, en netjiese paadjies lei jou na verskeie uitkykpunte (met veiligheidsrelings) stroomaf, regoor, en stroomop van die waterval. Jy gaan kyk ook nie net een keer nie. Dis ’n ritueel waaraan besoekers veral vroegdag en laatmiddag deelneem: waterval toe stap. In die middel van die dag kan dit baie warm word – wag dus vir wanneer dit koeler is. 

Dis ’n ritueel waaraan besoekers veral vroegdag en laatmiddag deelneem: waterval toe stap.

Padlangs sien jy dassies by die gros én veelkleurige Augrabies-platakkedisse. Moenie laasgenoemde vlak kyk nie: Dis ’n skaars reptiel wat net van Augrabies langs die Oranjerivier tot omtrent by Pella voorkom. Gaan lê op jou maag en kyk of jy ’n lekker foto van een kan kry!

Eintlik is Augrabies se grootste trekpleister nie die waterval nie, maar die ravyn wat omtrent 15 km stroomaf strek. Gee jouself minstens drie uur (die middag as jy aankom, of die volgende oggend) om rustig te ry – met ’n stop om na die Maanrots en die Swartrante te kyk – na ’n paar van die ander uitkykpunte stroomaf. 

Kontak:  012 428 9111 (besprekings); sanparks.org

Dag 4: RIEMVASMAAK

Baai in die maanlig

Die beste pad Riemvasmaak toe is 95 km lank en vat jou met ’n láng draai terug deur Kakamas. 

Riemvasmaak in die Moloporivierloop
Riemvasmaak se warmwaterswemgat

Riemvasmaak se swemplekke (buiten die bron is hier ook ’n kouewaterswemgat 100 m in die kloof af) en kampterrein lê in die droë loop van die Moloporivier met hoë kranse aan weerskante. Soek vir arendneste teen die hange terwyl jy op jou rug dryf. Dis taamlik beskut teen die wind hier in die kloof; jy sal ná aandete weer in die warm water wil kom sit totdat jou vingerpunte rosyntjie trek, met die maan en die sterre vir geselskap.

Kontak: www.riemvasmaak.co.za

Dag 5: KOPPIESKRAALPAN

’n Aandjie op ’n ander planeet

Nog een vinnige plons en dan moet jy maar aanstoot – Koppieskraalpan lê ver. Maar eers: ’n lekker bord mieliepap by Berg en Dal aan die buitewyke van Riemvasmaak.

Dié oulike restaurant behoort aan Norbert Coetzee, ’n veldgids van Voetspore-faam, en wanneer hy nie self hier is nie, staan Jane Louw en Ridi Mapikana (skoonsusters) aan die stuur van sake. Dis ’n vrolike, informele plekkie, etes word in ’n mengelmoes breekware bedien en jy kan van ’n roosterkoek en ’n glas melk tot ’n bord groenboontjiebredie met slaai en rys bestel. Maar daai mieliepap... Dis diép lekker!

Terwyl jy op die stoep sit en smul, vertel Jane en Ridi jou Riemvasmaak se storie: Die Suid-Afrikaanse weermag wou die gebied in die jare 70 gebruik vir wapentoetse en die oorspronklike inwoners is toe verplaas na Mier naby Askham, dorpe in die Oos-Kaap, asook Khorixas in Namibië. Sedert 1994 kon baie van die Riemvasmakers weer teruggekeer. Maar die mense kry swaar – buiten die warmwaterbron is die naaste werkgeleenthede op Kakamas. Ondersteun hulle gerus en koop ook sommer ’n suurdeegbrood (R20) voordat jy ry.

Inkbospan se wit kamele
Jane en Ridi, Berg-en-Dal

Van Berg en Dal af ry jy 27 km tot by ’n T-aansluiting waar jy links draai en 15 km verderaan weer links draai. Hou 43 km noord tot by Lutzputs waar die pad ’n skerp draai maak en 11 km verder die N10 kruis. Vandag begin jy daardie regte Kalahari-gevoel kry soos wat die landskap om jou al hoe platter en oper strek, met duine oortrek van boesmangras en suurgras en af en toe ’n aswit soutpan.

Wees op die uitkyk vir bakoorjakkalsies – hier’s báie van hulle op die paaie!

Hou maar net aan so al noord; 22 km anderkant Noenieput draai jy regs. Thinus en Landa Conradie se plaas, Inkbospan, is 67 km verderaan op linkerhand.

Wees op die uitkyk vir bakoorjakkalsies – hier’s báie van hulle op die paaie!

Soos die naam suggereer, is daar op hierdie plaas ’n pan. Die een waar jy egter vanaand kamp opslaan, is op Koppieskraalpan, die aangrensende plaas wat aan Landa se ouers behoort. Dis nog sowat 25 km van die werf af. Thinus sal vooraf sorg vir ’n puttoilet en genoeg hout. Daarna is julle stoksielalleen op dié vlakte van 100 km², met geen ander tekens van lewe nie.

Gaan stap ’n ent, pak ’n vuurtjie wanneer jy terugkom en geniet dan die tjoepste stilte wat jy al ooit gehoor het. Dis net so goed julle sit vanaand saam met die Klein Prinsie op sy planeet – voorwaar ’n ervaring wat jy nie gou weer sal teëkom nie.

Weet voor jy waai

Koste Kamp: R100 p.p.p.n. en ’n groot sak kameeldoringhout kos R50. Landa verkoop braaipakke (2 tjops en ’n stuk wors) teen R70 p.p.; bestel vooraf. Naby Inkbospan se werf is ook ’n paar basiese jagtershuisies te huur teen R200 p.p.p.n.

Kontak 083 564 4613 (Landa); koppieskraal@gmail.com

Dag 6: KALAHARI TRAILS

Maak maats met ’n meerkat

Pak rustig in (daardie kameeldoringkole van gisteraand is dalk selfs nog warm genoeg om ’n brekfisvuurtjie aan die gang te kry) en geniet vir oulaas die niksheid voordat julle op Inkbospan gaan groet.

Die Conradies boer met sussex-beeste en verskeie skaaprasse soos meatmaster, dorper en swakara.

Meerkatte en spoorsny, Kalahari Trails.

Koop sommer hier ’n vleisie vir die volgende paar aande se braai, want Kgalagadi-inkopies is dúúr. Onthou ook om die vorige dag reeds met die Conradies te reël indien jy ’n draai deur die veld wil ry. Hier loop nog ’n troppie nasate van die kamele wat die berede polisie in die ou dae in hierdie duineveld gebruik het op hulle plaas. Thinus kan jou uitneem na waar die ou os, Venter, en sy kudde hou.

Hou noord oor die R31 in die rigting van die Kgalagadi-oorgrenspark. Kalahari Trails lê ’n hanetreetjie af in die pad op linkerhand. Onthou om die hek agter jou toe te maak, want die hans gemsbok, Houdini, glip alte graag uit.

Die gastehuis is glad nie luuks nie, maar het karakter soos min. Dit voel asof jy in ’n lekker ou losieshuis tuisgaan, met talle kamers van verskillende groottes, krane wat op ’n koue oggend al stotterend lewe kry, ’n selfsorgkombuis met gasstowe en ’n sitkamer vol tydskrifte uit die jaar toet. Nee wat, hier steur niemand hulle aan fieterjasies nie: Maak jouself tuis!

Kalahari Trails is prof. Anne Rasa se wildreservaat. Dié wetenskaplike is oorspronklik van Wallis, maar het – ná ver draaie die wye wêreld oor – hier in die Kalahari beland om navorsing oor ’n dwergmuishondspesie te doen. En hier’s sy nog steeds – 20 jaar later!

Sy kan jou avontuurlike stories van haar jare in die veld vertel, maar deesdae is die professor meer rondom die huis waar sy omsien na die rehabilitasie van meerkatte wat as troeteldiere aangehou is en weer in die natuur moet leer aanpas. Een van die meerkatkolonies hou hier op die werf (’n mens kan die gate wat hulle oral grawe, nie miskyk nie!) en teen laatmiddag sit die prof gewoonlik op haar agterstoep en geniet die laaste son saam met haar kroos terwyl sy vir hulle fyn vleisies voer. Stap gerus dan oor – dit kos R100 p.p.

Vanaand pak jy weer ’n groot, gesellige kameeldoringhoutvuur in die lapa agter die kombuis. Luister fyn – watter uiltjie roep daar?

Weet voor jy waai

Koste Kamp: R100 p.p.p.n. Dubbelkamer met ’n gedeelde badkamer: R400 p.n. En suite-gesinskamer: R600 p.n. (slaapplek vir 3). Die losstaande chalet is privaat: R1 000 p.n. (slaapplek vir 4).

Kontak 054 511 0900; 072 277 2377; kalahari-trails.co.za

Wat nog? Hier hou nie roofdiere by Kahalari Trails nie, maar wel ’n horde wildspesies en sowat 200 voëlspesies. Die wildritte, nagritte en skemerkelkieritte kos elk R200 p.p.

Die begeleide duinetoer (R150 p.p.) wat ’n mens te voet saam met ’n veldgids doen, is ’n ervaring soos min: Jy leer hoe kameeldorings met die noordewind se hulp vir mekaar feromoonboodskappe stuur, wat die gemsbok se eetgewoontes is, hoe die bloukopkoggelmander wys daar’s reën op pad, watter skerpioen vroeër hier verby is en, ja wraggies – kyk, hier’ t hy iets gevang en gevreet. Bespreek vooraf.

Goed om te weet: Kgalagadi-oorgrenspark

Al drie ruskampe het ’n swembad, vulstasie, en ’n winkel met alles van ys en vleis tot tandepasta en sjampoe. Twee Rivieren het ook ’n restaurant en kiosk met wegneemetes.

Bespreek nou! Hou in gedagte dat die park gewild is: Indien jy in ’n skoolvakansie wil kom, moet jy minstens ’n jaar vooruit bespreek. Jy kan, soos by ander Sanparke, spesifieke huisies probeer bespreek – die versoek moet direk aan die ruskamp gerig word.

Waarmee ry ek? Die park beveel ’n voertuig met ’n goeie grondvryhoogte aan, maar hier is wel toeriste wat met gewone sedans rondry.

Koste Bewaringstarief: R82 p.p.p.d. en R41 per kind jonger as 12. (Gratis vir Wild Card-houers.)

Kontak 012 428 9111; sanparks.org/kgalagadi

Dag 7: MATA-MATA

Kgalagadi, hier kom ons!

Vanoggend ry jy Kgalagadi toe. Die Twee Rivieren-hek is maar 37 km van hier af, maar jy wil sekerlik nog vandag ’n paar wildkykdraaie ry voordat die son sak. Wees op die uitkyk vir versamelvoëlneste en witrugaasvoëls op die boomtoppe en maak eers ’n draai by die Kgalagadi Lodge. Hier’s ’n winkel met ’n bakkery waar jy vars brood en rolletjies kan koop en ander interessante goete soos blouwildebeeswors (R60 per pak) en gemsboksosaties (R150/kg). Hier’s ook ’n fênsie restaurant met ’n uitsig oor Botswana as jy lus het vir ghrênd kos en ’n Kalahari-boetiekbier (Puff Adder Weiss of Meerkat IPA) voordat julle die gramadoelas invaar.

Die Twee Rivieren-hek is ook ’n grenspos, maar dinge verloop geolie en dit behoort nie lank te vat om in te teken en ’n padkaart te kry nie.

Die pad na Mata-Mata is een van die hoofwildkykroetes – ry dus stadig en laat die kinders diere afmerk.

Die Auchterlonie-piekniekplek lê bo-op ’n rantjie en is ’n gawe eerste stilhouplek. Van hier af het jy ’n wye uitsig oor die droë Auobrivierbedding. Jy kan dus van ver af sien of ’n trop blouwildebeeste of springbokke op pad is na die gelyknamige watergat onder in die rivierloop.

Auchterlonie-piekniekplek.

By Auchterlonie is ’n opelugmuseum waar jy ’n idee kan kry van hoe die eerste boere en boorgatwagters destyds gelewe het. Hier’s ’n ou kliphuisie, veekraal en smidswinkel. Jy kan net dink hoe bly hierdie mense moet gewees het as hulle die stofwolkie gesien het van ’n kuiergas wat in die verte aankom.

Deesdae kan besoekers onder houtdakkies ’n worsie braai vir middagete en die stil landskap bespied. Hier is ook toilette.

Van hier af is dit nog sowat 80 km tot by Mata-Mata. Jy wil nie te laat by die ruskamp aankom nie: Jy wil immers gou Namibië toe stap nadat jy afgepak het – onthou jou paspoort. Die Sitzas-padstal is sowat 200 m van die Mata-Mata-grenspos af. Hier kry jy allerhande padstal-staatmakers soos biltong, droëwors, koeksisters, beskuit en ingelegde vye. Hulle verkoop ook lamstjops teen R75-R90 per kg, wat heelwat goedkoper is as die park se pryse.

Ry laatmiddag uit na die Sitzas-watergat (dis nou weer aan die SA kant) sowat 8 km van die ruskamp af en parkeer onder die groot kameeldoringboom. Die watergat is ’n bietjie ver, maar langlensmanne behoort hierdie tyd van die dag ’n paar mooi foto’s te kan neem.

Ná julle laatand gebraai het, kan ’n mens in die skuiling langs die kamp se watergat gaan sit. Hier kom drink dalk ’n yslike trop gemsbokke onder die spreiligte – dis vermaaklik om die majestueuse bokke dop te hou terwyl hulle voetjie vir voetjie nader kom en hulle mal skrik vir die geringste geluid. (Dis net ’n rooijakkals, ouens.)

Dis vermaaklik om die majestueuse bokke dop te hou terwyl hulle voetjie vir voetjie nader kom.

Die Mata-Mata-ruskamp is klein – hier’s net 20 staanplekke. Bederf julle gesin met ’n luukse selfsorghuisie teen die rivieroewer, dan draf die jakkalse sommer neffens julle stoep verby.

Weet voor jy waai

Koste Kamp: vanaf R305 vir 2 mense, R88 p.p. wat bykom en R44 per kind (slaapplek vir 6). Selfsorghuisies: vanaf R1 015 p.n. vir 2 mense tot R2 805 p.n. (rivieruitsig) vir 4 mense.

Kontak 054 561 0907

Dag 8: NOSSOB

’n Dag vir leeus

Nossob-maanhaar.

Van die reservaat se beste watergate lê vandag langs drie kort sirkelpaadjies aan die noordoostelike kant van die hoofpad: Dalkeith, Veertiende en Dertiende Boorgat... Ry stadig en draai by elkeen in. Jy sien die watergat wat voor jou in die rivierbedding lê met die rooi duine in die verte.

Op pad ry jy verby kameeldoringbome met groot stukke grasveld tussenin. Jou kanse is goed om springbokke, gemsbokke of wildebeeste te sien wei en jy’s bykans gewaarborg om kameelperde hier rond te gewaar. In 1991 is agt kameelperde “ingevoer” van die Etosha- nasionale park af; deesdae is hier sowat 60 kameelperde in die Kgalagadi.

Draai ná die Kamqua-watergat af op die Hoër Duinepad. Buiten ’n eensame gemsbok en ’n verdwaalde volstruis of twee is hier gewoonlik nie veel diere nie. Maar die grondpad is mooi en lê soos ’n wit lint op die oranje duine.Hier’s jy nou ín die Kalahari-woestyn!

Dié pad verbind die Auobrivierpad met die Nossobrivierpad. Sodra jy op die Nossobpad is, mik vir die Dikbaardskolk-piekniekplek.

Wees by die piekniekplek op die uitkyk vir rooiborslaksmanne, kleinglansspreeus en spekvreters in die kameeldoringbome terwyl jou worsie op die kole sis. En betrag die landskap om jou – ’n troppie springbokke suiker dalk in die rivierloop verby en daai bossies wat lyk asof dit beweeg, is waarskynlik ’n meerkatkolonie wat rondsnuffel vir kos.

Van Dikbaardskolk af mik jy nog verder die vergetelheid in. Dink ’n bietjie aan die kaart van Suid-Afrika en in watter verafgeleë hoekie julle nou die Nossob-ruskamp nader. Ondanks dié ruskamp se ver-in-die-wêreld-faktor is dit bykans heeljaar volbespreek. Die rede? Nossob is leeuwêreld – tot so ’n mate dat die ruskamp se hek te alle tye gesluit word. Daardie foto’s van ’n spul leeus wat sommer so in die pad lê? Dit word gewoonlik op die paaie rondom dié kamp geneem. Sodra julle afgepak het, gaan maak ’n draai by die ruskamp se skuiling wat oor die droë Nossobrivierbedding uitkyk.

Terwyl die son sak, moet jy jou ore gespits hou: Die gebrul kan enige tyd begin!

Weet voor jy waai

Koste Kamp: vanaf R305 vir 2 mense, R88 p.p. wat bykom en R44 per kind (slaapplek vir 6). Luukse kampplekke: vanaf R600 p.n. vir 2 mense, R150 p.p. wat bykom en R75 per kind (slaapplek vir 6). Selfsorghuisies: vanaf R1 065 p.n. vir 2 mense tot R2 805 p.n. (rivieruitsig) vir 4 mense.

Kontak 054 561 0903

Dag 9: TWEE RIVIEREN

Stadig maar seker huiswaarts

Staan vroeg op en gaan drink ’n oggendkoffie by die skuiling. Dis sowat vier en ’n half uur se ry tot by Twee Rivieren, maar sit minstens sewe uur opsy. Wie weet wat wag by die watergat! Vat die Marie se Draai-afdraai – die Marie se Gat-watergat lê langs dié 11 km-sirkelpad. Leeus en jagluiperds word gereeld hierlangs gewaar.

Twee rivieren

Afhangende van hoe opwindend die wildkyk langs die pad is, hou stil by die Dikbaardskolk- of Melkvlei-piekniekplek, nog sowat 60 km verder, en eet julle toebroodjies onder die kameeldoringbome. Wees op die uitkyk vir gompoue in die Melkvlei-omgewing.

Hou die rantjies aan jou regterkant dop terwyl jy suid ry, veral in die omgewing naby Twee Rivieren – daar staan dalk ’n leeu of jagluiperd wat die droë rivierloop bespied vir ’n paar niksvermoedende springbokkies.

Omdat dit die meeste besoekers se eerste óf laaste oornagplek in die reservaat is, is die kampplek gewoonlik nogal bedrywig. Die paar selfsorghuisies (no. 1-8) wat heel agter in die hoek van die ruskamp teen die draad staan, is meer privaat. Die swembad is ’n welkome lafenissie ná die lang dag in die motor.

Weet voor jy waai

Koste Kamp (sonder ’n kragpunt): vanaf R265 vir 2 mense (slaapplek vir 6), en R305 p.n. met ’n kragpunt. Selfsorghuisies: vanaf R1 120 p.n. vir 2 mense.

Kontak 054 561 2000

Dag 10: VANZYLSRUS

Een laaste Kalahari-‘classic’

Die Samevloeiing-watergat is sowat 5 km van die ruskamp af. Neem vroegoggend stelling in met ’n koffie en wag vir ’n rooijakkals of ’n vaalboskat wat ná die nag se jag sy dors kom les.

En selfs al fladder hier net ’n paar tortelduiwe en kelkiewyne rond, geniet ’n mens die eenvoud van dié plek waar diere nog die oorhand het.

Pomp jou bande voordat jy by die reservaat uitry en hou dan reguit verby Kalahari Trails (baai, Houdini!) tot by Andriesvale se groot kruising. Draai hier links op die R31, en voor jy nog in vierde rat is, sal Ant Koera se Plaaskombuis op regterhand verskyn. Nou’s jy in vir ’n groot bederf!

Tannie Koera Steenkamp mág maar kook, en hier by haar veldrestaurant gebeur alles op die vuur. Om vir middagete aan te sit moet jy vooraf bespreek (en ’n groep van minstens drie mense wees). Terwyl almal in die kookskerm aan ’n roosterkoek sit en peusel, tower die tannie die lekkerste maaltyd uit die swartpotte op: wild- of skaapvleis, groente, stampmielies of rys... jy gaan jou vingers aflek!

Gooi brandstof in op Askham. Draf dan gou by die Diamond T-koffiewinkel aan die onderpunt van Askham se hoofstraat in vir ’n vinnige koffie en ’n sny melktert of koek (as jy hoegenaamd nog ’n gaatjie het!).

Goed om te weet: Ant Koera se Plaaskombuis

Koste R120 p.p. vir middagete. Jy kan ook vroeër in die dag hier inswaai vir ontbyt soos ’n omelet en wors of ’n roosterkoek en koffie.

Kontak 083 588 8346 (tannie Koera); auntkoera@gmail.com

Wat nog? Jy kan hier kamp teen R150 p.p.p.n. Hier’s spoeltoilette en ’n buitestort waarvoor die water (natuurlik) in ’n swartpot gekook word.

Diamond T-koffiewinkel

Moenie huis toe ry sonder om een van hulle wildsvleispasteie (R35) te bestel nie.

Oop Ma.-Vr. 8 vm.-5 nm.; Sa. tot 1 nm.

Kontak 054 511 0025

Ant Koera se Plaaskombuis

Vanzylsrus is nog ’n goeie 150 km se grondpad ver. Maar nes jy begin moedeloos raak, gewaar jy die padteken in die lang gras: Ontspan, dit is Vanzylsrus.

Draai by die stopstraat links en daar’s hy: hierdie uithoekie van ons land se oase.

Vanzylsrus-hotel.

Die Vanzylsrus-hotel is legendaries: Teen die kroegmure is geraamde artikels oor die geskiedenis van dié dorpie, die groot geeste wat hier deur is, die rugbyspanne en ook die verhaal van Attie en Dina Lubbe wat in die jare sestig die beskeie Gemsbok-hotel hier begin het. Jy sal waarskynlik ook ’n jaggroep of vier in die kroeg aantref.

Hier’s ook ’n soort Hall of Fame waar besoekers boodskappe op bronsplaatjies laat – mense soos Giel Coetzee (“Vredenburg se Bul”), Ansa en Phillip van der Merwe (“Lekker my lam, lekker!”) en ene Riaan en Gys wat hulle kuiertjie opgesom het as “Nie hier vir ’n lang tyd, hier vir ’n goeie tyd”.

Deesdae is die hotel Elbie en Petro Jonker s’n en hulle het die plek só keurig en gesellig ingerig dat jy waarskynlik reeds vanaand al begin uitwerk wanneer julle weer hier kan kom draai. Maar moenie vrees nie – die Kalahari gaan nêrens heen nie. Bestel die springbokfilet met ’n roomsousie, groenbone, kapokaartappels en soetpatats (R130), gee daai jolige jagters hulle sin en drink saam ’n biertjie, en geniet die Kahalari se groot hart vir oulaas.

Weet voor jy waai

Waar? Olivierstraat 27.

Koste ’n Dubbelkamer (met ’n mooi versierde en suite-badkamer – Petro se ma, Lenie, is die mosaïek-kunstenaar): R590 p.n. (R750 vir een persoon). Gesinskamer: R2 000 vir 2 persone, of R490 p.p. vir 3 of meer mense. (slaapplek vir 4). Ontbyt ingesluit by al die pryse.

Kontak 053 781 0201; vanzylsrushotel.com