Foto’s Verskaf

Jy en jou ander helfte het nog altyd die buitelewe op julle eie geniet, maar nou het die pienkvoet opgedaag en dis net ’n kwessie van tyd voor julle dié klein bondeltjie vreugde aan die wonder van die natuur wil bekend stel.

As jy jou kleinding van vroeg af gewoond wil maak aan kamp, is dit ’n goeie plan om ’n paar van hierdie dinge saam te ry, ongeag of dit ’n pasgebore baba of ’n peuter is.

Toerusting

NIPPER BABY-SPEELMAT

Maklik op die mat

Jy moet natuurlik baie versigtig wees waar jy jou klein babatjie neersit om te speel. Die beste raad is om hulle besig te hou: Op dié speelmat met sy oerwoudtema is daar verwyderbare speelgoed wat van die boog bo die kleintjie se kop hang. Hulle sal nie net lekker besig bly nie, maar in die proses sommer ook hulle oog-handkoördinasie verbeter.

Prys: R600 by Takealot.

Ry & Sleep sê
Die vervaardiger sê die mat is ontwerp om die baba se brein te stimuleer. En boonop pas dit heel gaaf by die omgewing in die kampterrein!


Toerusting

CAMP COVER-SITPLEKBÊRESAK

Elke ding op sy plek

Mense soos ons sien daarna uit om in die pad te val, maar die kleintjies is nie so gaande oor al die ure in die kar nie.

Maak die lewe vir hulle ’n bietjie makliker met hierdie bêresak wat jy oor die agterkant van die voorsitplek hang. Dit het plek vir enigiets van kryte, boeke en speelgoed tot elektroniese katoeters en peusel- en drinkgoed. Die sak word van skeurvrye materiaal gemaak en het swaardiens ritssluiters wat nie ná jou eerste twee toere die gees gaan gee nie.

Prys: R231 by Camp Cover.

Ry & Sleep sê
Jy gaan baie dankbaar wees as jy sien hoeveel minder van ’n gemors die agtersitplek is met dié meneer in die kar. 


CHELINO TIFFANY LUX-KAMPBEDJIE 

Lekker slaap

Die eerste en belangrikste reël van kamp is om seker te maak die plek waar jy jou kop neerlê, is kort ná jou aankoms opgeslaan. Dieselfde geld vir jou baba, maar dié ovaalvormige bababed is meer as net ’n slaapplek vir ’n baba: Jy kan hom verstel soos die kleinding groei en hom nog ’n ruk lank gebruik voor jy moet opgradeer tot ’n groter kampbed.

Hy het ook ’n klein radio wat musiek speel én speelgoed bo die baba se kop.

Prys: R2 000 by Takealot. 

Ry & Sleep sê
Die uitvoutafeltjie is ’n gawe plek om jou kleintjie se doek te ruil.

OZTRAIL JUNIOR-EETSTOEL

Dis etenstyd!

Jy het al jou dae gehad om jou bloedjie in ’n vaste roetine te kry rondom etenstyd – en ’n groot deel daarvan behels dat die kind in ’n eetstoel sit en rustig raak. Niemand verkwalik jou dus dat jy nie daardie roetine wil omverwerp wanneer julle kamp nie. Met dié eetstoel van Oztrail is dit nie nodig nie. Hy weeg maar 3,2 kg, maar kan tot 80 kg dra. Boonop is die tafelblad van plastiek, wat beteken jy kan dit maklik skoonvee.

Prys: R795 by Camp & Climb.

Ry & Sleep sê
Hy het ’n veiligheidspen wat verhinder dat die stoel opvou terwyl die kleintjie daarin sit.


INTEX GATOR-SWEMBAD

Watersports

Van die kampterreine en oorde laat nie kinders in hulle swembaddens toe wat nog nie uit die doeke is nie. Met hierdie opblaasswembad kan jy jou baba ure lank besig hou terwyl jy hom fyn dophou. Hy het selfs ’n skerm wat jy oor die water kan trek sodat die kleintjie nie heeldag in die son is nie.

Prys: R900 by Takealot. 

Ry & Sleep sê
As jy jou eie swembad kampterrein toe bring, hoef jy nie een van daardie duur swemdoeke vir jou jonge aan te skaf nie.

TOMMEE TIPPEE-VRIESKASPOTJIES

Eetgoed in ’n japtrap

Wanneer jou kleintjie die bottel verruil vir vaste kos, besef jy gou die waarde van goeie houers waarin jy die fyngemaakte vrugte en groente kan bêre. Hierdie potjies hou 60 ml – ’n kwartkoppie – en is ontwerp om gevries te word. Jy kan dus jou kind se kos vooraf berei en dit dan in die vrieskas los tot dit amper etenstyd is.

Prys: R160 by Baby Boom.

Ry & Sleep sê
Die potjies is werklik veelsydig: Dit is geskik vir jou skottelgoedwasser, mikrogolfoond én steriliseerder.


POD DELUXE-BABADRASAK VAN ORGANIESE HENNEP

Soos ’n kangaroe

Dis geen probleem om ’n pap babatjie rond te dra nie, maar wanneer hulle ’n bietjie groter word, raak dit moeilik om hulle die heeltyd in jou arms te hou.

Hierdie drasak word in Suid-Afrika van organiese hennepmateriaal gemaak. Dit is nie net sterk nie, maar ook sag en gemaklik. Jy kan jou baba op jou rug, heup óf voor jou dra. Die sak het ondersteuning vir die kleintjie se nek en kop, en ’n verwyderbare kappie vir wanneer die kind slaap.

Prys: R1 550 by Faithful to Nature. 

Ry & Sleep sê
Die sak is reg vir babas van 6 maande tot 3 jaar.


ATLASWARE-1 l-FLES

Slaggereed

Iemand gaan in die middel van die nag moet opstaan om die baba se bottel te maak. As jy een van hierdie flesse het, hoef jy nie met jou dikgeslaapte oë vir die gasstoof te wag nie, want hy hou die water ure lank warm. Kook dit voor jy gaan slaap, en daardie middernagbottel kan nie makliker nie.

Prys: R600 by Outdoor Warehouse.

Ry & Sleep sê
Ja, daar is goedkoper flesse op die mark, maar jy gaan ver moet soek vir die Atlasware-reeks se gehalte en waarde vir geld.


Toerusting

KIDS ESSENTIALS-OPVOUBAD

Kom laat ons bad

Kampeerders hou van goed wat opvou en netjies weggebêre kan word sonder om te veel plek op te neem. Hierdie bad – een van die belangrikste dinge vir jou kleinding – val netjies in daardie kategorie. Hy vou plat op, pak maklik weg en het selfs ’n haak waaraan jy hom kan hang om droog te word.

Prys: R680 by Baby Boom.

Ry & Sleep sê
Die badprop is hittesensitief en wys vir jou wat die ideale temperatuur vir jou baba se badwater is.


SOPURE-ONTSMETTINGSPROEI

Kap die kieme

Die hele wêreld het die afgelope ruk opnuut geleer hoe belangrik persoonlike higiëne is. Wanneer jy kamp, is dit ewe belangrik om jou kinders te beskerm, veral as julle in die middel van nêrens is.

Kleuters en peuters sit enigiets in hulle mond; gebruik dus dié ontsmettingsproei in die kampterrein om van enige kieme ontslae te raak. SoPure se reeks ontsmettingsmiddels is veilig omdat dit oorwegend gemaak word van natuurlike produkte.

Prys: R60 by Faithful to Nature.

Ry & Sleep sê
Die maatskappy verkoop ook ’n fopspeensteriliseringsmiddel vir R60.


THULE COASTER XT

Sleep hulle saam

Die Sweedse maatskappy Thule vervaardig ’n reeks sleepwaens vir jou fiets. Dit is nou vir aktiewe ouers wat wil hê hulle kleingoed moet saamkom wanneer hulle ’n nuwe roete verken of sommer net die plaasmark besoek.

Die Coaster XT is een van die meer bekostigbare modelle, wat beteken jou begroting is veilig, maar jy het nietemin plek vir twee kleuters wat saam 45 kg weeg.

Daar is ook pakplek vir al die kinders se goedjies.

Prys: R7 000 by Thule. 

Ry & Sleep sê
Die wa het ’n neuswiel en jy kan dus die Coaster XT rondstoot as jy hom nie sleep nie.
Inligting

Thule thulestore.co.za

Outdoor warehouse outdoorwarehouse.co.za

Takealot takealot.com

Baby Boom babyboom.co.za

Camp Cover campcover.coza

Faithful to Nature faithful-to-nature.co.za

Camp & Climb campandclimb.co.za

Chelino chelino.co.za